Afrikaanse skole wat verengels – wat moet ons doen?

Alana Bailey.

Die verandering van ’n skool se taalbeleid is vir die Afrikaanse taalgemeenskap, maar veral ook vir die ouers en kinders wat direk hierdeur geraak word, ’n emosionele saak. Ouers wat sterk oor moedertaalonderrig voel, moet dus daarteen waak dat omstandighede ontstaan wat só ’n verandering onafwendbaar maak.

Voordat ons oor dié omstandighede gesels, is dit nodig om te beklemtoon dat moedertaalonderrig die beste onderrig is wat enige mens kan ontvang. Daar is soveel redes waarom dit die geval is, dat dit afsonderlike artikels regverdig. AfriForum het al vele kere hieroor geskryf en sal weer in aanloop tot Internasionale Moedertaaldag (21 Februarie) hieroor skryf. Vir die doel van hierdie skrywe beklemtoon ons egter nou net die belangrikheid daarvan.

Tweedens moet ’n mens onthou dat moedertaalonderrig ’n internasionaal erkende reg is wat ongeag die ras van die sprekers geld. Internasionale opvoedkundige instellings soos UNESCO het al herhaaldelik verduidelik dat die rasse van moedertaalsprekers van bepaalde tale in ’n gebied mag verskil, maar dat wanneer die sprekers hulle reg tot moedertaalonderrig opeis, dit nie as rassisme beskou kan word nie.

Die eis vir moedertaalonderrig kan egter nie in isolasie gesien word nie, maar wel in samehang met praktiese oorwegings en uitvoerbaarheid. So moet die taal reeds ontwikkel en gestandaardiseer wees tot op die vlak van onderrig waar dit opgeëis word. Daar moet bevoegde persone wees wat die onderrig in die taal kan aanbied en die aanvraag moet voldoende wees.

Wat Afrikaanse onderrig betref, lewer drie sake probleme op. In die eerste plek word Afrikaanssprekende kinders minder as gevolg van onder meer krimpende gesinne en emigrasie. Tweedens is daar areas waar daar ’n groot aanvraag vir Afrikaanse onderwys is, maar die departement van basiese onderwys bou nie voldoende nuwe skole nie. Privaatskole ontstaan om die behoefte aan te spreek, maar is nie noodwendig vir alle ouers bekostigbaar nie, of sukkel om volhoubaar voort te gaan. Derdens verander die demografie van omgewings en as gevolg daarvan neem die Afrikaanssprekendes in sekere gebiede af, sodat skole begin leegloop.

Hoe hou ’n Afrikaanse gemeenskap hul skool se taalbeleid Afrikaans en voorkom dat dit verengels?

In die eerste plek moet die skool so vol moontlik met Afrikaanse kinders gehou word. Ek was onlangs by ’n skool wat byna ’n eeu oud is. Die buurt waarin dit geleë is, het deur die jare van ’n woongebied na ’n nywerheidsgebied verander. Die ouers, kinders en personeel is egter so lief vir die skool (wat terloops puik presteer) dat hulle besluit het om die deure oop te hou en die Afrikaanse taalbeleid ten alle koste te behou. Skoolbussies ry daagliks in ’n radius van meer as 100 kilometer om Afrikaanse kinders daarheen te vervoer. Die skool bly vol en floreer akademies. Ten spyte daarvan dat dit onder die omstandighede moeilik is vir kinders om aan naskoolse aktiwiteite deel te neem, word daar steeds planne beraam en is daar ook ’n lewendige sport- en kultuurlewe vir die leerders. Dit verg opofferings en harde werk, maar die saak is van groot genoeg belang vir die gemeenskap dat dit so hanteer word.

Die tweede punt is die taalbeleid self. Getalle neem dikwels af, of politieke druk om te verengels neem toe. Dan meen die skool dat die probleem opgelos kan word deur toe te stem dat dubbel- of parallelmediumonderrig aangebied word. In die geval van parallelmediumonderrig word daar gewoonlik ook met die plaaslike onderwysdepartement ooreengekom dat die aantal kinders wat in Engels onderrig wil word, beperk sal word. Die departement sal ook onderneem dat die skool met die nodige leermateriaal, aanvullende akkommodasie en personeel ondersteun sal word. In die praktyk sien ons egter byna deurlopend dat dié ondernemings nie nagekom word nie. Soms word die beloofde steun ontvang, maar ná ’n ruk loop dit dood. Ander kere word dit net nooit ontvang nie. In nog gevalle word steun selfs met sake soos skryfbehoeftes en vervoer aan die kinders in die Engelse klasse verleen, maar geen hulp vir Afrikaanse kinders nie (wat uit dieselfde woongebied en maatskaplike omstandighede kom). Dit skep spanning tussen die taalgroepe op die skoolterrein. Om dus te aanvaar dat enige van hierdie ondernemings die Afrikaanse leerders se taalbehoeftes gaan beskerm, is naïef.

Dan is daar die netelige kwessie van die skole se beheerliggame. Ouers laat na om hulleself beskikbaar te stel om in die beheerliggaam van hulle kind se skool te dien, of neem nie deel aan die verkiesing daarvan nie, of neem deel en stem vir kandidate sonder om seker te maak wat diegene se standpunt oor kwessies soos die skool se taalbeleid, naam, tradisies en godsdiensetos is. Wanneer die beheerliggaam dan ’n besluit neem, soos hulle reg is om te doen, maar nie met ouers se standpunt strook nie, is daar groot ontevredenheid en soms selfs regsaksie. Dit is dan selde moontlik om die besluite om te keer, omdat die beheerliggaam demokraties verkies is en bloot hulle verpligting nagekom het.

Dus, as Afrikaanse onderrig in die skool van jou keuse vir jou belangrik is, maak seker dat die skool voldoende Afrikaanse leerders het om enkelmedium- Afrikaanse onderrig te regverdig. As die getalle daal, maak saam planne om te help. Moenie toegee aan druk vir meer tale op die skoolterrein nie, want die internasionaal bewese gevolg is altyd dat die sterkste taal mettertyd die kleiner tale gaan verdring. In die geval van Suid-Afrika is dit Engels, maar elders sluit dit ook tale soos Frans, Spaans en Arabies in. Soms neem dit jare, selfs dekades, maar die uitkoms bly dieselfde.

As Afrikaans as onderrigtaal en die prestasie van Afrikaanse kinders vir ons belangrik is, moet ons genoemde sake deurlopend in gedagte hou en keer voordat dit te laat is om ’n skool se taalbeleid te red.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Alana Bailey

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
piet

My persoonlike gevoel – Moedertaalonderrig op primere vlak tot graad 7 met dien verstande dat Engels so vroeg as doenlik as addisionele taal geneem word. Engels Eerste taal onderrig vanaf graad 8 op hoerskool en naskools. Die besigheidswereld is Engels. As ons wil bybly moet ons Engels uitstekend wees. Ons moet ook in gedagte hou dat ‘n groot persentasie van ons mense waarskynlik in die toekoms oorsee moet gaan werk want hier is nie werk in SA nie (en selfs gaan emigreer). Ons is nie soos Nederland byvoorbeeld nie. Daar kan mense in hul eie taal leer en werk kry… Lees meer »

annie

New Age-Afrikaans: Geradbraakte Afrikaans om almal te please sonder enige Afrikaner- culture? Nee wat, ploeter maar voort. RSG is klaar erg genoeg om handevol antidepressante te wil sluk. Afrikaans kan nie as kamma-wapen ingespan word om ‘n Nuwe Suid-Afrika 11 te begin nie. Soos Einstein gewaarsku het: Doen ‘n som oor op dieselfde manier en die antwoord bly dieselfde.