“Afrikaanse studente moet nóú opstaan”

puk

NWU Potchefstroomkampus

Die stelling op die tafel is dat koshuise te wit is op die Noordwes-Universiteit se Puk-kampus in Potchefstroom en dat radikale normalisering moet plaasvind sodat die land se demografie weerspieël kan word.

Verder word daar ook in Rapport berig dat die verslag stel: “Die komitee het ook bevind dat die omstrede saluut en ontgroeningsbestuur nie die gevolg van fascisme en Nazisme is nie, maar dat dit wel deel van diepgewortelde tradisies is wat gedryf word deur mense wat “nie die vermoë het om aan te pas by ʼn nuwe omgewing wat gegrond is in die Grondwetlike waardes van menswaardigheid en gelykheid nie”.

Ek verskil fundamenteel met die bogenoemde en beskou dit as gevaarlike stereotiperings rondom wit mense en Afrikaanse mense in besonder. Die redenering impliseer dus dat sodanige gedrag eie is aan wit mense en spesifiek Afrikaanssprekendes. Die aanname dat Taal en kleur aan mekaar gekoppel kan word in Potchefstroom is ook foutief, want dit is nie net wit mense wat Afrikaans praat nie.

Die studente van die NWU se Potchefstroomkampus word week in en week uit deur sekere media uitgebeeld as Nazi’s en ons hele kampus word geëtiketteer met ʼn kultuur van onvermoë om te verander. Dié etikettering laat gerieflik uit dat dieselfde studente wat so uitgebeeld word ook die studente is wat by 84 gemeenskapsprojekte betrokke is, dat hierdie die studente is wat jaarliks meer as R1 miljoen aan liefdadigheid uitbetaal om maar net ʼn paar te noem.

Afgesien hiervan word daar ook duidelike pogings aangewend om die Potchefstroomkampus van die NWU te isoleer. Die feit is egter dat ons as studente van die Potchefstroomkampus baie trots is op die NWU en die instelling se goeie naam en reputasie hoog op prys stel. Ons is dankbaar om Afrikaans as onderrigtaal te besig en ons sal saamwerk om die hele NWU te verbeter. Moenie die bydrae wat hierdie “slegte” studente tot die NWU en tot die land maak, gerieflik miskyk nie!

Wanneer daar gepoog word om instellings van hoër onderrig op ʼn politiese wyse te “transformeer” verloop die proses gewoonlik as volg:

1. Begin by die koshuise en verander alles. Nie op grond van getoetsde regspraak of universeel aanvaarde norme nie. Nee, verander want dit is wat in hierdie ideologie inpas. JBM Hertzog-koshuis by die Universiteit van die Vrystaat is ʼn voorbeeld hiervan.

2. Volgende word die Taal wat daar gepraat word aangevat en die spanning hoop op, so die invalshoek verskuif dan na toegang, in plaas van Taal. Die Taal word dan uitgebeeld as ʼn hek wat toegang belemmer en moet gevolglik aangespreek word. In hierdie geval is dit belangrik om te onthou dat Afrikaans ook ʼn amptelike Taal ingevolge ons Grondwet is en dat ʼn hoëronderriginstelling soos die NWU Potchefstroomkampus ʼn nasionale bate is.

Studente kom nie hierheen net vanuit ons onmiddellike omgewing nie. Studente van die Oos-Kaap, Noord-Kaap en Wes-Kaap kom juis hierheen om in Afrikaans onderrig te word, want die hoeveelheid plekke waar dit kan gebeur raak al hoe minder.

3. Polities gemotiveerde optogte word uitgelok deur mense wat nie konstruktief kan deelneem aan gesprekke en visionêre beplanning nie. Hierdie is ʼn universiteit, ʼn tuiste vir hoërorde-denke, maar steeds laat ons onsself ophou met ideologie in plaas daarvan om hierdie groot vraagstuk in Suid-Afrika te probeer beantwoord, want daar is nog geen antwoord hierop nie.

Hierdie eenvoudige driestap-benadering het al by verskeie instellings groot veranderings teweeg gebring soos onder andere die verpligte ontbinding van die Universiteitsraad of die aanstelling van ʼn administrateur.

Afrikaanse studente kan nie net stilsit en bloot aanvaar dat daar met ons as jongmense se kultuur en herkoms poppekas gespeel word nie. Dit is gek om te redeneer dat, aangesien ek Afrikaans is, ek nie kan verander nie en vasklou aan ʼn bepaalde verlede soos uitgebeeld deur die Onafhanklike Eksterne ondersoekspan.

Ek kan myself nie vereenselwig met hierdie tipe van stereotipering nie.

Wat die daarstel van die ideologie met betrekking tot verteenwoordiging van nasionale demografie in koshuise betref, vra ek myself die volgende twee vrae af: “Moet elke deeltjie van ʼn groter prent die geheelbeeld verteenwoordig? Of moet gedeeltes van ʼn prent nie juis saam die geheelbeeld vorm nie?”

Ek doen hiermee ʼn beroep op alle jongmense wat deur stellings soos dié geraak word om nie maar net toe te laat dat die debat namens jou gevoer word nie, maar om daaraan deel te neem op ʼn konstruktiewe manier.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Heleen vd Merwe ·

Hierdie is niks anders as omgekeerde rassisme nie. Die Mafikengkampus laat geen plek vir afrikaanse blanke studente nie. Wat is verkeerd met n blanke afrikaanse universteit,waar die blankes buitendien ver in die minderheid is. Dis uiters korrup om jou nasie se getalle te gebruik net om ontslae te raak van n presterende minderheid wat n groot verskil maak in die welstand vd.land. Hoekom sulke absurde reels van demografie afdwing? Waarom die afrikaner blanke nie n plekkie in die son gun nie. Waar dink hulle sou hulle vandag gewees het sonder die insette van die blanke afrikaner. Hulle moet oppas God is ook God van die blanke afrikaner en Hy slaap nie.Mens maak nie onreg met groter onreg reg nie.

Klaaste ·

Persoonlik dink ek ons het ‘n Afrikaanskampus nodig. Ek verstaan dat alle tale, rasse en kulture respekteer en uitgeleef moet word, maar hoe regverdig ons dit deur Afrikaans weg te neem, dit is ook ‘n taal,amptelike taal as ek mag byvoeg, bestaan ook uit rasse en het ook kulture wat uitgeleef moet word. Tweedens, mense wat ‘n probleem het met wat op die PUK aangaan is buitestaanders, sien hulle of ons kla? Nee, want ons is die mense wat dag-tot-dag op kampus met mekaar lewe. En dis al wat ek Daaroor te se het.
Klaaste

Janette Labuschagne ·

Alles word so uit verband geruk.

Of jy wit swart of kleurling is as jy verdien om n plek in ‘n koshuis of selfs op kampus te kry gun ek jou dit. As jou akademie en koshuis deelname reg is hoort jy daar, maar om op die ou-end mense te moet uitskop uit n koshuis uit wat goed presteer om plek te maak vir iemand wat se velkleur reg is belaglik en ongehoort.

Alwyn Beetge ·

Trrwyl daar n rewolusie op die strate is en na Tuks, RAU Maties en UV word die studente wakker. Student en jonk wees gaan vereis dat studente n politieke bewussyn kweek. Studente moes lankal verantwoordelikheid neem vir hul eie politieke toekoms.Dit is laat in die dag. Maklik gaan dit nie wees nie.

Afrikaanse Porra ·

Kragtens hierdie wonderlike land se Konstitusie en die Grondwet is daar 11 amptelike tale wat erken is. Indien Afrikaans dan as “apartheids” taal beskryf word, moet Engels as “koloniale” taal beskryf word. My mening is dat indien Afrikaans verwyder word uit die kurrikulum en plekke soos Kovsies, Maties en dies meer slegs in Engels of ‘n ander moedertaal aangebied word, weerspieel dit nie noodwendig die Suid Afrikaanse demografie nie. Los Afrikaans nes dit is of vewyder die wereldstaal (Engels) dan ook van die universiteitsfront af.

Jessica ·

Beeld en Wessels is duidelik daarop uit om Puk se Afrikaansheid te kelder en met ‘n Africanism-monokultuur te laat vervang..

Om dit reg te kry, moet hulle die persepsie inskerp dat Afrikaans aan Puk deur ‘n geheime Nazi-kultuur gedryf word.

Vandaar al Beeld se fiktiewe” bewyse” dat dié kultuur oorheersend op die kampus is.

Fish ·

Stem saam dis goed geskryf. Laat ek n bietjie petrol op die vuurtjie gooi. Ek wil graag wat doen jy as persoon om transformasie te help? Baie blanke studente loop met opgetrekde neusies verby “Engels sprekende” studente daar is niks integrasie as jy nie my taal praat. Help my reg as ek verkeerd is, die is n probleem wat opgelos kan word net almal welkom te laat voel op kampus.

Oud PUK ·

Daar is soveel Engelse Universiteite wat die geleentheid gee om in Engels te studeer. Hoekom die paar universiteite wat nog onderrig in Afrikaans gee ook verander na Engels. PUKKE gaan meer as uit hulle pad om ander talige studente te akkomodeer deur tolkdienste beskikbaar te stel, asook alle handboeke is in Engels. Studente word ook nie aanvaar asgevolg van hulle velkleur of taal nie, maar op grond van krediete. As jy nie in Afrikaans wil klas he of gebruik maak van die tolkdienste nie, hoekom aansoek doen by ‘n Afrikaanse Universiteit. Dit maak helemal nie sin nie.

Pretorius ·

Ek stem nie noodwendig saam met al die kommentaar wat op die stuk gemaak is nie maar as ‘n student aan die NWU se Potchefstroomse kampus, glo ek dat daar plek is vir alle rasse wat daar wil studeer. Die kampus is Afrikaans, ja, maar studente van oral oor ons land kom juis hierheen om in Afrikaans onderrig te ontvang en van daardie student is almal beslis nie net blanke mense nie. Daar is ‘n behoefte in ons land vir so ‘n kampus, en dit is juis vir die rede dat ons kampus soveel geleerdes kan oplewer wat tot ons land kan bydra.

Johan ·

Die inskerping van die kollektiewe skuldkompleks oor die laaste paar dekades gaan hierdie ‘n opdraande stryd maak. Die kinders is/word grootgemaak om te assimileer en the akkommodeer ten alle koste. Ook die algemene minderwaardigheidskompleks van “Engels is superior en jy moet in Engels skoolgaan om dit te maak in die wereld” van die “verligte” Afrikaner is ‘n reuse uitdaging om te oorkom en gaan ook die getalle van mense wat berid is om op te staan wegkalwe want ‘n groot persentasie is nog maar bereid om agteroor te buig en alles te aanvaar in die hoop dat hulle aanvaar sal word en ‘n plekkie in die son gegun sal word in ruil daarvoor. Maar ek stem saam dat aksie soos voorgestel nodig is as die Afrikanerkultuur wil oorleef.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.