Afrikaanses is dood. En Afrikaners dan?

“Afrikaanses het ʼn stille dood gesterf,” skryf Tim du Plessis onlangs. Afrikaanses, sê hy, was ʼn “bedremmelde woord” om wit en bruin in ʼn goedaardige poging saam te snoer in ʼn naatlose gemeenskap, omdat te veel bruin Afrikaanspraters hulself nooit as “Afrikaners” sou beskou nie. Verder was dit ook ʼn poging van sommige Afrikaners om deur middel van ʼn naamsverandering ontslae te raak van ʼn verlede wat hulle skaam gemaak het.

Maar dit was alles tevergeefs, skryf hy verder, want 20 jaar na die skepping, Afrikaanse, is Afrikaners steeds hier. “Niemand het ons nog ooit as “Afrikaanses” gesien nie. Nêrens nie.”

Maar wie is dan Afrikaners? “Maklik: Almal wat wil wees en sodanig aan hulself dink.” Tot sover Tim.

Aansig op Tafelberg en -baai (c. 1785)

Met bykans twee dekades van die “Afrikaanses”-eksperiment agter die rug, is dit duidelik dat ʼn taal nie al is wat ʼn gemeenskap definieer nie. Nie almal wat Afrikaans is, assosieer – of word geassosieer – met die term, Afrikaner, nie. Dis baie soos dat nie almal wat Engels praat Engels is of almal wat Spaans praat Spaans is nie. Terselfdertyd moet ʼn mens in gedagte hou dat daar duidelik geen finale definisie is om met harde skeidslyne te bepaal wie nou Afrikaners is en wie nie – dis eerder iets wat met verloop van tyd ontluik, hervorm, na vore tree, spontaan en met ʼn groot mate van self-assosiasie en oorvleueling met ander identiteite.

Maar aangesien daar nou wel ʼn gemeenskap soos Afrikaners is, is dit dalk aangewese om die toekomstige lewenskragtigheid van hierdie gemeenskap in oënskou te neem. Gemeenskappe kom en gaan al vir baie jare – en dat in hierdie geval Afrikaners nou darem Afrikaanses oorlewe het, is nog geen waarborg dat dit ook ander struikelblokke kan oorkom en blywende betekenis en uitlewensruimte sal bied aan sy gemeenskapslede nie.

Wat is die bestaansvoorwaardes vir ʼn Afrikanerkultuurgemeenskap? Die Groot Debat gaan ʼn paar mense vra om hul mening hieroor te waag.

Lees Maretha Maartens, Isak Burger en Christo van der Rheede se reaksie.

‘Afrikaanses’ aan’t uitsterf

Tim du Plessis

Tim du Plessis, Rapport, 10/12/2011

Afrikaanses het ’n stille dood gesterf, so lyk dit.

Nie die mense wat die taal praat nie, wel dié bedremmelde woord wat circa ’94 uitgedink is om ’n belangrike deel van die groep te beskryf wat Afrikaans praat.

’n Deel van die poging was goedaardig. Dit wou wit en bruin Afrikaanspraters saamsnoer in ’n “naatlose” gemeenskap. ’n Hele paar geslagte bruin Afrikaanspraters sou hulle nooit sover kry om hulle as “Afrikaners” te beskou nie.

Daarvoor is veels te veel weggestamp en afgejak in die verlede. Die Afrikaner-nasionaliste se konstitusionele knoeiery in die ’50’s om bruin mense die stemreg te ontneem, was hiervan die ergste.

Dan volg die Afrikaanse kerke se toeklap van die kerkdeure vir mense wat in dieselfde taal as hulle gebid het. Maar nie wit was nie.

In die hoogbloeijare van apartheid, selfs tot kort ná die einde daarvan, het mense en leiers in die naam van Afrikaners dinge gedoen wat die groep beklad het. As jy ’n Afrikaner was, was die aanname: Skuldig tot die teendeel bewys is.

Skuldig aan vooroordeel gegrond op velkleur, aan onverdraagsaamheid op haas elke terrein, aan onwilligheid om te deel en aan ’n nare chauvinisme.

Nie naastenby alle Afrikaners was voor die voet so nie. Maar hulle was die slagoffer van die einste stereotipering wat baie van hulle self so tot ’n kuns vervolmaak het: Om eienskappe aan ’n groep toe te dig en dan die individu aan die hand daarvan te oordeel en te beoordeel.

Om Afrikaners “Afrikaanses” te maak, was ook ’n poging van ’n groep Afrikaners wat gedink het hulle sal die skandvlekke van die verlede laat verdwyn as hulle die benaming “Afrikaner” kan laat verval.

Dis dieselfde mense wat ná ’94 wyd en syd loop en vertel het hulle het nooit vir die NP en/of die KP gestem nie, maar altyd Helen Suzman “ondersteun”.

Tot op haar sterfbed het antie ­Helen seker gewonder hoe dit dan gebeur het dat dié stemme nooit gerealiseer het in Prog-setels nie.

Veral in die 13 jaar toe sy alleen in die parlement gesit het.

Dié Afrikaners bluf regtig niemand meer nie as hulle probeer voorgee hulle het nooit die NP en al sy regse uitlope gesteun nie. Hulle hét en almal weet dit.

Baie het ook knus en tjoepstil in die Afrikaanse kerke bly sit toe gekleurde gelowiges uitgehou is en die kerke ’n bedenk­like goedpratery van apartheid gepleeg het.

Maar dit was toe en nou is nou. Die kunsmatig geskepte “Afrikaanses” is op sterwe na dood. Maar die Afrikaners is nog hier.

So inheems soos altyd, so ingeweef in die SA tapisserie soos altyd, so vol draadwerk soos altyd, maar dalk nie meer so stiksienig nie.

En dalk voor ’n unieke geleentheid om waarlik nuut en anders oor hulself te dink en te droom. Ook oor hul verlede. Nie alle goeie Afrikaners was Natte nie. Bes moontlik was van die bestes juis nié Natte nie.

Een naam kom altyd hier op: ­Frederik Van Zyl Slabbert.

Daar is ander ook.

So, wie is dan nou “Afrikaners”? Maklik: Almal wat wil wees en as sodanig aan hulself dink.

Ons is genadiglik verlos van die dae toe selfaangestelde wagters op Sionsmure besluit het wie mag Afrikaner wees en wie nie. Of wat ’n “goeie Afrikaner” is en wat nie.
Velkleur figureer nie. Ook nie godsdienstige onverdraagsaamheid nie. Dis ’n groot tent met oop flappe.

Dit sal interessant wees om te sien of jong mense, sê maar dié onder 35, nog dié “Afrikaner-ding” voel.

En wat hulle sal doen om uiting te gee daaraan. My raaiskoot is hul primêre identiteit is Suid-Afrikaner en dan Afrikaner. Soos dit hoort.

Dalk vir die eerste keer in hul ganse bestaan is die Afrikaners nie betrokke by, of ’n faktor in die meesternarratief wat hom in die sentrale politieke arena in die land uitspeel nie. Meesternarratief is eintlik ’n eufemisme. Dis eerder “warboel van epiese proporsie”.

En die Afrikaners is nie deel daarvan nie, nie as plegers van oneer nie en nie as slagoffers van onheil nie.

Dié storie gaan nie oor ons nie.

En dis goed. ’n Bietjie ballingskap en toekyk van buite is dalk net wat hulle nodig het om ’n nuwe waardeproposisie te ontwikkel.

Niemand het ons nog ooit as “Afrikaanses” gesien nie. Nêrens nie.

Kry ons “nuwe Afrikaners”?

Of droom ek?

(Klik hier vir die oorspronklike rubriek by Rapport.)

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Piet le Roux

Piet le Roux is die uitvoerende hoof en direkteur van die sakeregte-organisasie Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Herman Toerien ·

‘n Paar mense het ‘n paar jaar gelede die mode nagevolg om “as Afrikaners te bedank.” Ironies het baie Afrikaners hierdie mense waarskynlik in die eerste plek nie nas tipiese Afrikaners beskou nie – in elk geval nie tipies genoeg om as Afrikaners te “kwalifiseer” nie.
Jare gelede het my pa sy kroos op ‘n Duitse tydskrif ingeteken, ter wille van die skoolduits. Ek onthou goed ‘n advertensie van ‘n swart man wat ‘n sekere soort sopie wegslaan. Onderaan staan: “Ek drink Jägermeister omdat ek ‘n egter Duitser wil wees.” Dié advertensie het kort voor lank in die stof gebyt – dalk te veel klagtes dat dit politiek-inkorrek was.
Volksidentiteit is nie so maklik om vas te vang nie. ‘n Paar jaar gelede is die eerste volledige Bybelvertaling in Brabants gedoen, en hoewel nader aan Nederlands as Friesies, tog baie verskillend.
Hoe maklik ‘n minderheid in ‘n meerderheid se identiteit opgaan hang waarskynlik grootliks van die kulturele verwantheid af. Die inwoners van Brabant het meer vernederlands en vervlaams as wat die Wale byvoorbeeld vervlaams het.
Die Lappe sal waarskynlik makliker met die Fine assimileer as met die Nore en Swede.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.