Afrikadag: Afrikaans ʼn geleentheid in uitdagend tye

Deur Karien Brits

‘n Kaart van Afrika in Dakar (Foto: Seyllou/AFP)

Op 25 Mei word Afrikadag gevier. Die tema van die dag is: “Geleenthede in uitdagende tye”. Sestig jaar gelede is die Organisasie vir Afrika-eenheid in Addis Abeba (Ethiopië) op hierdie datum gestig en dit is die voorloper van die Afrika-unie wat in 2002 in Durban gestig is. Dit is op ʼn manier besonders dat Afrikadag in dieselfde maand val waarin ons Afrikaans se status as amptelike taal vier, want geografies gesproke is Afrikaans ook ʼn Afrikataal.

Die fokus van hierdie meningstuk is nie op die politieke sy van die dag nie, maar op ʼn saak wat nie noodwendig die nodige praktiese aandag by die Afrika-unie kry nie: Die tale wat op hierdie vasteland gepraat word en hoe dit in die onderwys aangewend word. Die werkstale kragtens die Grondwet van die Afrika-unie is: “indien moontlik, Afrikatale, Arabies, Engels, Frans en Portugees”. Die webwerf van die Afrika-unie is teoreties in Engels, Frans, Spaans, Arabies en Swahili beskikbaar, maar in praktyk is dit oorwegend Engels. Dit weerspieël iets van die taalsituasie in die onderwys in Afrika.

Volgens ʼn Unesco-beleidsdokument, geskryf deur Adama Ouane en Christine Glanz, is Afrika die enigste vasteland waar die meerderheid kinders skool in ʼn vreemde taal begin. Dit hou katastrofiese gevolge vir hierdie kinders se opvoedkundige en, gevolglik, loopbaansukses in. Een voorbeeld daarvan is die onlangse Progress in International Reading Literacy Study (PIRLS)-verslag. Volgens hierdie verslag kan slegs twee uit tien kinders in Suid-Afrika in graad 4 met begrip lees, en slegs 1% van leerders in graad 4 kon op ʼn gevorderde vlak lees.

Iets wat dalk nie genoeg aandag kry nie, is dat die leerders in graad 6 net in Afrikaans en Engels getoets word. Die ander nege tale val dan weg uit die toets en amper al die Afrikataalsprekende leerders word dan in Engels getoets. Die verskil in toetspunte van Afrikaans in graad 4 en dan weer in graad 6 is beduidend beter. Afrikaanssprekendes lees dus beter in graad 6 as in graad 4. Dit is nie die geval met Engels nie. Daar word nie in die verslag ʼn direkte verband tussen die leesprestasie en moedertaalonderrig gelê nie, maar een van die aanbevelings wat wel gemaak word, is ʼn geteikende fokus op die ontwikkeling van inheemse tale.

Terug na die tema van geleenthede in uitdagende tye. Hoe kan ons tale inspan om uitdagende tye die hoof te bied? Daar word dikwels teen die struikelblokke van taal vasgekyk en in wetgewing word daar agter “indien moontlik” en “ekonomiese haalbaarheid” weggekruip. Die vraag is of ons al bereken het hoeveel ons ekonomies verloor omdat ons nie in moedertaalonderrig belê nie? Daar is dalk iets te sê vir moedertaalonderrig as daar na die goeie prestasies van Afrikaanssprekendes in matriek gekyk word.

Karien Brits is die taalpraktisyn by Akademia met ʼn liefde vir tale en die stories wat die tale oordra. (Foto verskaf)

Kom ons wees meer spesifiek en prakties hier op die eindpunt (of is dit nou die beginpunt?) van Afrika. Afrikaans het die beste op Suid-Afrikaanse bodem gevaar, veral wat die graad 6-uitslae betref, maar Afrikaanssprekendes kan geensins op hulle louere rus nie. Die volgende vyf punte klink dalk vanselfsprekend, maar dit is iets prakties wat ons as Afrikaanssprekendes kan doen om geleenthede te skep in uitdagende tye:

  1. Praat Afrikaans met jou (voorskoolse) kinders in die huis. Hoe groter ʼn kind se woordeskat, hoe makliker sal ʼn kind met begrip leer lees.
  2. Maak seker daar is ʼn boekrak met (Afrikaanse) boeke in die huis. Die boeke moet natuurlik gelees word, maar die kultuur van lees moet ooreenstem met leesprestasie volgens die PIRLS 2016-verslag.
  3. In aansluiting by die vorige punt. Haal die boeke uit die rak en lees vir jou kinders boeke voor. Hierdie voorlees brei jou kinders se woordeskat uit en skep ʼn kultuur van lees.
  4. Woorde wek, maar voorbeelde trek. Maak as volwassene tyd om te lees en ruim tyd in om as gesin saam te sit en lees.
  5. Leer as gesin saam ʼn ander Afrikataal aan. Dit is ʼn goeie aktiwiteit vir jonk en oud, maar dit is ook een van die maniere waarop daar goeie verhoudinge gebou kan word. Akademia bied juis as deel van die NGOS-program Sepedi as gesprekstaal aan.

Daar is baie uitdagings op ons vasteland, maar ons kan dalk op Afrikadag begin om woord vir woord ʼn verskil in ons eie gemeenskappe te maak en as inspirasie te dien sodat ons gemeenskap vir gemeenskap ʼn verskil in Afrika kan maak.

  • Karien Brits is die taalpraktisyn by Akademia met ʼn liefde vir tale en die stories wat die tale oordra.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.