Afrikaner eerste, dan die res

In sy onlangse bitsige aanval op AfriForum skryf Adriaan Basson, die assistentredakteur van City Press, dat hy net soos Kallie Kriel, aan wie die ope brief gerig is, ʼn wit Afrikaner van Afrika is. Hy gaan voort om te sê: “Ek dink egter ons interpretasies oor wat dit beteken om ’n Afrikaan-Afrikaner in Suid-Afrika te wees, verskil wêrelde, so ook ons menings oor die plek van Afrikaners in 2011.”

Die selfbesturende provinsie Suid-Tirool (in rooi) lê in die noorde van Italië en was tot voor die Eerste Wêreldoorlog deel van die Oostenryks-Hongaarse Ryk.

Verlede Saterdag sit en luister ek na dr Christoph Von Ach, voorsitter van ʼn Orania-ondersteuningsgroep in Suid-Tirool, ʼn grotendeels outonome provinsie in die noorde van Italië, tydens die Orania Beweging se jaarlikse Burgervergadering. Dr Von Ach vertel van die pad wat sy minderheid, die Duitssprekende mense van die provinsie Suid-Tirool, sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog geloop het om deur groter selfbeskikking beheer oor hul eie lot te kon bekom.

Die mense van Suid-Tirool beskou hulself eerstens as Suid-Tirolers. Hul identiteit as Italianers is ʼn geografiese toevalligheid. Tog beskou niemand in Europa hierdie minderheid van sowat 500 000 mense as ʼn groep wat in die pad van ʼn beter Italië of selfs ʼn sterker Europa staan nie.

Na die Eerste Wêreldoorlog is Suid-Tirool by Italië ingelyf en is die Duitssprekende minderheid se taal en kultuur vir dekades deur die Fascistiese regering onderdruk. Suid-Tirool het eers vanaf die 1970’s daarin geslaag om groter beheer oor sy eie instellings en regering te kry.

Tog het die taal en kultuur van die mense van Suid-Tirool sterk gebly. Dr Von Ach skryf dit toe aan ʼn sterk samehorigheid van dié minderheidsgemeenskap na die Eerste Wêreldoorlog. Ten spyte van al die pogings van Italië om Suid-Tirolers van hul taal en kultuur te ontneem, het die teenoorgestelde gebeur en het Suid-Tirolers saamgestaan en moeite gedoen om hul taal en kultuur uit te bou en te bevorder.

Indien jy vir die meeste mense in Suid-Tirool sal vra wie hy is, sal die antwoord vinnig en maklik kom: Südtiroler! Regoor die wêreld is daar vandag minderhede wat stoei met die vraag oor identiteit. Die Baske en Kataloniërs in Spanje, die Franssprekende bevolking in Kanada, die Samis van Skandinawië, die Hongaarse minderheid in Roemenië, die Mapuche-minderheid in Chili en baie ander word almal uitgedaag met die vraag oor watter identiteit eerste gestel moet word.

Daar is toenemend ʼn tendens dat minderheidsgroepe ʼn veelvoudigheid van identiteite erken, maar hul voortbestaan direk koppel aan die belang van die posisie van hul volksidentiteit.

ʼn Professor van die Universiteit van Pretoria, en groot ondersteuner van Orania, noem die afgelope naweek tydens ʼn werkswinkel in Orania, dat Afrikaners juis vir lank teen die idee van ʼn nasionale identiteit gestry het. Vroeë Afrikaners was in hul wese teen kolonialisme en latere Suid-Afrikaanse nasionalisme. Juis daarom was die twee Boererepublieke sterk libertyns van aard en het baie Boere steeds nie van die klein juk van ʼn regering gehou nie! Eers na Uniewording het Afrikaners die Suid-Afrikaanse identiteit opgeneem en juis in die hoop om daardeur weer beheer oor hul eie lot te verkry, soos wat dan ook die geval was tydens die twee periodes van Afrikanerregering wat in 1994 tot ʼn einde geloop het.

Wat egter nie in 1994 gebeur het nie, was ʼn verlies aan juis daardie nasionale identiteit onder Afrikaners. Dit is dan ook hier waar Afrikaners in ʼn ander rigting as die mense van Suid-Tirool beweeg, want toe Suid-Tirool in 1918 deel van Italië geword het, het sy mense geweier om Italianers te word. Toe Afrikaners egter in 1910 deel van ʼn nuwe Suid-Afrika geword het, het hulle die identiteit van Suid-Afrikaners hul eie gemaak en ten spyte van ʼn verlies aan die beheer oor hul eie lot het hulle selfs na 1994 daardie identiteit grootliks behou.

Dit bring my terug by Adriaan Basson se brief aan Kallie Kriel. Daar is ʼn sterk stroming van Afrikaners wat hul Afrikaneridentiteit erken, nie omdat hulle dit wil behou of bevorder nie, maar wel vanuit ʼn posisie van skulderkenning en selfbejammering. Dit is ook die groep mense wat oordrewe uitdrukking aan hul Suid-Afrikaanse identiteit wil gee deur die Suid-Afrikaanse vlag op hul motors te vertoon en tydens rugbywedstryde op hul voorkoppe te laat verf. Dit is ook dié groep mense wat soos Basson hulself Afrikaan-Afrikaners noem. Hul liefde vir die nasiestaat en die Afrikakontinent moet opmaak vir die las van Afrikanerskap.

Ek weier om toe te sien hoe my Afrikanerskap as ʼn soort van simbool van selfmarteling gebruik word. Ek sê dit dus hard en duidelik: Ek is ʼn Afrikaner! En ja ek is ook ʼn Suid-Afrikaner en Afrikaan, maar nie omdat dit my wese vorm nie, maar omdat ek noodgedwonge in Suid-Afrika en op die Afrika-kontinent woon.

Basson se verstaan van waar Afrikaners in 2011 moet staan – in diens van die nuwe nasiestaat wat assimilasie van minderhede as voorwaarde vir voortbestaan vooropstel – is dus iets waarin ek nie belangstel nie. Die kamma-identiteit van Afrikaan-Afrikaner staan my nog minder aan. Dit beteken egter glad nie dat ek minder lief is vir hierdie grond en hierdie plek as enige ander groep in hierdie land en op hierdie kontinent nie. Dit beteken ook nie dat ek minder omgee vir die lot van die res van Afrika en Suid-Afrika se mense nie.

Die Afrikaner sal net ʼn toekoms hê as ons onsself kan begin losmaak van ons groot liefde vir die nasiestaat en as ons ons eie identiteit eerste kan stel. En laat ek dit duidelik stel: Dit het niks met velkleur te doen nie, want jou identiteit word nie deur jou velkleur gevorm nie, maar deur jou verbintenis aan ʼn geskiedenis, kultuur, taal en tradisies wat oor eeue hier aan die suidpunt van Afrika gevorm is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

driefontein ·

Deelnemers aan hierdie debat, kan gerus Prof. Danie Goosen se “Oor die republikeinse gedagte” elders hier, lees. Jaco is reg; selfmarteling is taboe, maar beteken nie dat ons blindelings wegdraai nie. Die geskiedenis, soos Jaco en Prof. Goosen, tereg uitwys, moet aanvaar word as deel van ons ontwikkeling en ons moet nie toelaat dat dit bloot afgespeel word as “reg” teen “verkeerd” nie – dit is deel van ons en ek moet myself daarmee versoen sodat ek die praktiese wysheid (vir die toekoms), soos Prof. Goosen uitwys, kan put. Mnr Basson, Mnr Boesak en Biskop Tutu wil dat ons die boetedoening moet voortsit (soos die Duitsers na die WW2), ons “plek moet ken” en nie verdien om kop op te tel nie. Afriforum is een van die beste tekens van hoe vêr ons gevorder het om (met onsself) te versoen, te verwerk en om weer kop op te tel!

Louis Marais ·

Jy moet eers jouself help en as daar iets oorbly dan help jy die ander, hoe moet die Afrikaner die ander help as daar +- 600 000 Afrikaners onder die broodlyn leef. Basson moet sy kop laat lees, en hoekom haal hy vir Nadine Gordimer aan in sy brief, sy is nie eens ‘n Afrikaner nie!

Louis Marais ·

O ja, ek wil net vir AfriForum se dat hulle moet voortgaan met die goeie werk en hulle moet nie hulle laat onderkry deur ‘n paar snotneus seuntjies wat probeer gesig koop by die ANC nie.

TTH ·

Jaco, ek stem saam met jou, te veel mense wil die Afrikaner steeds probeer invleg in een of ander polities korrekte multikulturistiese groepering, dit is alles twak.  Ek ken my identiteit en dit bly on-onderhandelbaar ten opsigte van enige sogenaamde gelykbreker ideologie…

Louis du Plessis ·

Jaco ~

1 Die verskynsel wat jy ontbloot: Dankie dat jy ons weer eens, en uit verskeie oogpunte, waarsku teen die druk wat veelvolkige state uitoefen om minderhede te assimileer.

2 Die beginsel wat ons moet kies: Ons identiteit as eiesoortige volk is inderdaad ononderhandelbaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.