‘Afrikaner hier om te bly en homself te laat hoor’

Willie Spies, Afriforum-regsverteenwoordiger

~ deur Nico Strydom

Willie Spies, AfriForum se prokureur, het tydens ʼn FAK-simposium oor die Julius Malema-haatspraaksaak, gesê Afrikaners het met dié saak die lyn getrek en gesê genoeg is genoeg. Hy sê Afrikaners het besluit hulle sal nie langer ʼn slaansak wees nie en dat hulle die pad met oorgawe geloop het.

Die simposium het ten doel gehad om nuwe vrae wat deur die uitspraak meegebring is te antwoord. Kan die bevel werklik doeltreffend afgedwing word? Het die saak en die bevel nie dalk net olie op die vuur van Malema gegooi nie en is die ANC nie dalk as gevolg hiervan die harnas ingejaag teen die Afrikaners nie? Was dit wys om hoegenaamd ʼn regstryd oor hierdie kwessie aan te knoop en was ander weë nie dalk aangewese nie? Hoe lyk die toekoms van hierdie saak gegewe die vooruitsigte van appèl?

Spies het begin deur die agtergrond te skets van die burgerregtegroep AfriForum. “AfriForum is in 2005 gestig as ʼn artikel 21 maatskappy. Die maatskappy het ʼn burgerregte manifes wat se uitsluitlike doel is om die grondwet en ander wetgewing prakties te maak en dit op te eis op ʼn manier om wetgewing in die proses te verander. Spies sê dit word gedoen deur hetsy petisies, veldtogte, geldinsameling of regsaksies. Hy sê AfriForum maak toenemend gebruik van die howe om dié regte af te dwing.

Spies sê toe die Malema-saak in Maart verlede jaar begin het, het hy nie verwag dat dit van dié omvang sou wees nie. Hy sê die Sunday Times het in Maart verlede jaar berig dat Malema die woorde “dubula iBhu nu” tydens ʼn partytjie in Pietersburg gedreunsing het. “Eweskielik het die Sunday Times die liedjie gepubliseer en gesê wat die woorde beteken en dit het ʼn skokgolf onder ons mense te weeg gebring”.

Spies sê baie mense was vir lank onder die indruk dat ons 17 jaar gelede ʼn ooreenkoms aangegaan het. “Daai ooreenkoms is ʼn wonderlike skikking wat vrede op die land laat neerdaal het, wat ʼn proses van nasionale versoening, van nasiebou, van diversiteit, eenheid en al die goed tot gevolg gehad het en ons gaan mos as deel van die ooreenkoms oor en weer sekere aanpassings maak, amper soos ʼn huwelik.” Hy sê dit was ʼn geval van ʼn gee-neem verhouding waar daar toegewings gemaak is om mekaar op ʼn manier te vind en bymekaar aan te pas. Hy sê dit het gelei tot die finale grondwet van 1996 wat onder meer die reg op vryheid van spraak beskerm. Spies sê die grondwet sê duidelik dat die reg op vryheid van spraak nie gebruik kan word om haat en geweld aan te moedig deur een groep teenoor ʼn ander nie.

Spies het onder meer verwys na die gehate K-woord en dat dit hierna nie meer deur Afrikaners gebruik is nie. Hy sê mense wat aangehou het om dit te gebruik het hulle vasgeloop in die reg en is deur ander kwalik geneem vir die gebruik daarvan. Spies sê die algemene aanvaarding was “hier is ons nou in ʼn stelsel van leef en laat leef. So ek dink vir die groot massa Afrikanermense spesifiek, wat vir die eerste keer hierdie berig gelees het oor ʼn liedjie, wat as dit vertaal word sê skiet die boere, die boere is rowers, die boere is verkragters hulle is honde wat doodgemaak moet word, vir enige mens wat dit gehoor het, was dit soos ʼn hou tussen die oë”.

Spies het daarop gewys dat die Afrikaner bereid was om toegewing te maak, soos om nie die K-woord te gebruik nie en dit aanvaar het as iemand daaroor vervolg is. Hy sê dit was dus net reg om ʼn invloedryke leier aanspreeklik te hou vir sy haatwoorde. Spies sê toe AfriForum aanvanklik besluit het om Malema aan te kla, het hy verwag die saak sou vinnig oorwaai aangesien die reg duidelik is hieroor. Hy sê sy was verbasing was egter groot toe talle onafhanklike kommentators hulle stem hierby gevoeg het en onder meer gesê het dis nie die regte ding om te doen nie, dat dit vir Malema ʼn platform gee en maak dat die land verdeel word. “Dit was vir my verstommend. Ek dink elke Afrikaner het die afgelope 17 jaar vir homself gesê daar is ʼn ooreenkoms gesluit wat behels dat sekere toegewings van weerskante gemaak word. Ons het die toegewings gemaak, dis mos net reg dat die toegewings van die ander kant af ook verwag word.”

Spies sê AfriForum het besluit om adv. Martin Brassey aan te stel om die saak te behartig aangesien die benadering van regsake koud en klinies moet wees en sonder emosie aangepak moet word. Hy sê Brassey het aan hulle gesê indien hy reg verstaan, beteken dit “Afrikaners trek vandag die lyn”. Spies het ook genoem dat AfriForum se ledetal ontplof het as gevolg van die saak. Hy het benadruk dat AfriForum nie die saak sal stop nie, al beteken dit die saak draai in die appèlhof, die konstitusionele hof of selfs ʼn internasionale hof.

“Die feit van die saak is die Afrikaners het ʼn lyn getrek, die Afrikaners het gesê genoeg is genoeg, ons gaan ons nie as ʼn slaansak laat gebruik nie”. Spies sê daar kan wel argumente wees rakende die detail van die uitspraak soos onder meer die trefkrag en uitvoerbaarheid daarvan. “Die kort en die lank is die lyn is getrek, die sukses sover was ons sin, die mense en die wêreld het kennis geneem die Afrikaner is hier om te bly en ons is hier om onself te laat hoor”.

Op ʼn vraag aan Spies oor die uitvoerbaarheid van die hofbevel, dat “skiet die boer” nie in privaat of openbare hoedanigheid gebruik mag word nie, het hy gesê indien ʼn interdik verleen word teen amper die hele wêreld is daar argumente dat dit dalk te wyd is en ingekort moet word. Hy sê dit neem egter nie die meriete van die saak, dat dit haatspraak is, weg nie. Hy sê om dié rede word daar ʼn president daargestel wat nagevolg behoort te word. Spies sê dit sal interessant wees om na die proses van appèl te sien in watter mate die hofbevel in sy huidige vorm behoue bly. Hy sê dit mag wees dat ʼn ander hof die bevel kan nouer maak. “Die belangrike punt is dat daar klaar ʼn bevel is wat sê dat die tipe van gedrag haatspraak is, en dat dit onaanvaarbaar is en dat dit ʼn bepaalde president skep. Daai president wat geskep is sal ons beskerm ten alle koste”.

Spies sê die uitvoerbaarheid van die hofbevel is ʼn probleem, maar sê dit wys ook daarop dat die probleem nie by die regstelsel as sodanig is nie maar dat dit eerder ʼn politieke gesindheidsprobleem is van die regerende party wat die wette maak. Hy sê die regering wil nie ʼn hofbevel nakom wat spruit uit ʼn wet wat hy gemaak het nie en dat dit iets sê van die mentaliteit van die regering. “Die reg is daar om ʼn norm daar te stel vir die bevolking om na te leef. Dit is jammer dat daai gesindheid skynbaar ontbreek by die ANC. Ons het ʼn pad om te loop wat dit betref.” Hy sê die hofbevel sou maklik uitvoerbaar gewees het indien ons ʼn regering gehad het wat hom gesteur het aan hofbevele. Hy sê dit sou bloot ʼn geval wees van minagting van die hof, ʼn skuldigbevinding en ʼn gepaardgaande straf.

Op ʼn vraag aan Spies rakende die ANC se voorneme om appel aan te teken waarin hulle aanvoer die lied is deel van die party se erfenis het hy verwys na uitlatings wat deur Malema gemaak is tydens kruisondervraging in die haatspraaksaak. Spies sê daar is vooraf besluit daar moet onderskeid getref word tussen die hedendaagse en geskiedkundige betekenis van die dreunsang. Hy sê Malema is gevra of hy net na die verlede wys wanneer hy die woorde dreunsing. Spies sê Malema het dit duidelik gemaak dat hy nie net na die verlede verwys nie maar ook die sogenaamde “dark forces”. Hy sê toe Malema gevra is, wie die sogenaamde “dark forces” is, het hy onder meer verwys na wit kapitaal en mense wat transformasie teenstaan. Spies sê Malema het dit duidelik gemaak dat wanneer hy die woorde dreunsing, hy nie net na die geskiedenis verwys nie maar dit ook gebruik om te verwys na mense wat hy vandag as vyande beskou. “Ongelukkig dink ek voel meeste van ons soos sy vyande en daai vyande het nou die streep getrek”.

Spies sê hy het die ander dag aan ʼn groep bekende sakemanne die saak verduidelik waarna een van die sakemanne aan hom gesê het “dit maak nie saak of AfriForum vorentoe wen of verloor nie, die punt is gemaak en die Afrikaner het sy rug styf gemaak en die lyn getrek. Die wêreld het daarvan kennis geneem en ons het gewys ons hoef nie net op ons rug te lê en te wag dat ons magies gevryf word nie, ons kan ons plek inneem.”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Willie Spies

Willie Spies is direkteur van Hurter Spies Ingelyf en uitvoerende voorsitter van Pretoria FM.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.