Afrikaner-identiteit – weet ons nog wie ons is?

bennie-van-zyl-tlu-sa

Bennie van Zyl van TLU SA. Foto: Facebook.

Die tye waarin ons leef, is baie deurmekaar. Daarmee saam het ons ‘n regering in Suid-Afrika wat ‘n eie agenda het om die samelewingsorde te herrangskik volgens hul idioom. Dit kan gesien word in hul Strategy & Tactics, die Nasionaal-Demokratiese Rewolusie en hul Vryheidsmanifes (Freedom Charter).

Hierdie aanslag op daardie waardes wat die Afrikanervolk deur sy geskiedenis gevestig het as die onderskeidende eienskappe, het in die laaste jare vervaag en het Afrikaners moontlik verward geraak oor wie en wat hulle was, is en ook wat die toekomsvisie behoort te wees. Dit is krities belangrik dat Afrikaners hulself vandag akkuraat moet identifiseer. Diegene wat met dieselfde eienskappe identifiseer, sal outomaties met mekaar as Afrikanervolk assosieer.

Volkere is ‘n werklikheid wat oor die wêreld gevestig is en so is dit ook in Suid-Afrika. Daar is onderskeidende eienskappe wat op elke volk van toepassing gemaak kan word wat hulle onderskei van ander volke. Uiteraard sou individue selfs ander eienskappe kon toevoeg. Daardie eienskappe wat die Afrikanervolk deur die jare gevestig het as dit wat identiteit definieer, kan kortliks soos volg gemeld word:

  1. Geloofsbeskouing – die geloof in God Drie-enig soos geopenbaar in Sy Woord, was sedert die ontstaan van die Afrikanervolk die grondslag. Hierdie Christelike geloof is die fondament waarop die waardestelsels ontwikkel. Dit sal, onder meer, bepaal hoe ons met mekaar en ook met ander sal omgaan.
  2. Die Afrikaner is vanuit sy oorsprong etnies wit. Soos enige ander volk, behoort die Afrikaner trots te wees op wie en wat hy is en behoort te wees.
  3. Die Afrikaner se moedertaal is Afrikaans – ‘n taal geskoei in die harde werklikheid van die lewe aan die suidpunt van Afrika.
  4. Die kultuur-historiese erfenis van die Afrikaner wat bestaan uit ‘n bepaalde opgetekende skeppende geskiedenis waarvan die mooi en goed ons behoort te rig vir die toekoms. Die herdenking van die verbintenisse van die verlede, soos die onderskeie geloftes, is ‘n deel van die erkenning van dit wat vir ons kosbaar is. Die daarstel van ʼn kultuur deur die eeue en die voortdurende ontwikkeling daarvan wat onderskeidend is.

Kultuur kan gesien word as die somtotaal van die menslike handeling. Vir die Afrikaner sal hierdie kulturele ontplooiing wees, dít wat geskep word in opdrag van God en volgens Sy verordeninge. So het die Afrikaner deur die eeue ʼn eie kultuurleefwyse daargestel wat uniek is.

God het in Sy Woord ‘n kultuuropdrag gegee waarvolgens ons moet skep vir die toekoms. Gen. 1: 28 “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit…” en Gen. 2:15: “Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas.” Dit is ’n positiewe, opbouende opdrag: Bewerk en bewaar.

Die Afrikanervolk het hierdie opdrag deur die eeue juis as gevolg van sy gebondenheid aan die verordeninge van God sy eie gemaak.

Alles wat die mens doen is kultuurskeppend. Aktiwiteite soos braai, rugby kyk, jag, koffie en beskuit maak, is deel van die Afrikaner se kultuur, maar ook die toepassing van die jongste tegnologie. Dit is die leefwyse en aktiwiteite waarmee ‘n Afrikaner hom of haar kan vereenselwig saam met mede-Afrikaners.

Maar die kultuurleefwyse alleen is nie waaroor Afrikanerskap gaan nie. Ander volksgroepe deel met ons sekere kulturele aktiwiteite, soos, rugby (kyk en speel) of jag. Net so het ons kultuurleefwyses gaan leen by ander kultuurgroepe, soos kerrie en rys en bobotie. Wat belangrik is vir elkeen ten opsigte van die bydrae tot die uitbouing van daardie leefwyse waarmee ons mekaar mee kan en wil assosieer, is of dit skeppend en opbouend is. Elkeen moet hom-/haarself toets of ‘n bydrae positief of negatief is, gemeet aan die waardestelsels wat uit die Woord gehaal is.

Die kultuurlewenswyse wat gedeel word met ander volkere is nie alleen bepalend of ons in dieselfde volksgroep as ander persone is nie. Die individu se posisionering om te kan assosieer met ander lede van die volk, sal inhou dat daar oor al die punte skakeling moet plaasvind. Daardie persone wat uit innerlike oortuiging hierdie eienskappe deel, sal wil assosieer met ander volksgenote.

Die Afrikaner moet opnuut in hierdie verwarrende tye seker maak dat die eienskappe wat ons onderskei, duidelik in ons saamgedra word. Daardie waardes wat ons by ons voorouers ontvang het en wat ons slyp en vorm tot nóg beter waardes om dit aan ons jeug oor te dra, is ‘n positiewe handeling. Dit is wie die Afrikaner is – dit is nie diskriminerend nie.

Elke volk op aarde as ‘n Godgegewe realiteit kan en moet hulself definieer. Dit is nie vir ons nodig om te assosieer met waardes wat nie vir ons belangrik is en wat nie die toets van die tyd in ons volkswees deurstaan het nie. Ander waardes soos wat ons tans deur die ANC op ons volk ervaar en wat ook op andere afgedwing word, gaan vir seker vorentoe konflik veroorsaak. Ons moet weet wie ons is en nie toelaat dat ons in vreemde vaarwaters gedwing word nie.

Wêreldwyd is nasionalisme besig om op te staan. Volke keer terug na hul wortels en bou rondom dit vir hulle ‘n toekoms. Die vlaag van liberalisme en gelykmaking is besig om klaaglik te misluk (ondanks eietydse wetgewing om dit teen te werk). Dit gaan van ons elkeen afhang oor hoe ons die toekoms tegemoet sal gaan. Dit gaan van ons verg dat ons die hand in eie boesem moet steek. Kom ons kyk opnuut hoe skep ons kultuur – is dit opbouend rondom die regte waardes of is dit afbrekend? Dit sou gewis insluit oor hoe ons met mekaar omgaan en kommunikeer (veral op die sosiale netwerke).

Elke ouer wat die doopbelofte afgelê het se verbintenis is om seker te maak dat ons kinders grootgemaak word om ook skeppende, positiewe kultuurdraers te wees, is vandag van kardinale belang. ‘n Volk wat nie ‘n selfbeskikkingsideaal het nie, sal later assimileer met ander waardes en mettertyd verdwyn. Afrikaners is tans egter vasgevang in ‘n Suid-Afrika waar daar daagliks ervaar word dat die waardes wat geskep en geïmplementeer word, nie iets is waarmee geassosieer kan word nie. Laat ons ook in hierdie huidige werklikheid gaan leer uit die Bybel. Daniël en sy vriende was die beste van almal in die heidenkoning se hof. Die verskil is dat Daniël en sy medegelowiges hulle nie laat meesleur het deur die heidense gebruike en kultuur nie, maar dat hulle vasgehou het aan dit wat hulle van kindsbeen rondom die Woord geleer het. Dit was op die ou end bepalend vir ‘n positiewe uitkoms.

Mag die Afrikaner homself opnuut weer suiwer definieer en dit ook uitleef rondom daardie eienskappe wat ons uniek maak: naamlik ons Christelike geloof, die feit dat ons etnies wit is, ons moedertaal (Afrikaans), kultuurhistoriese erfenis en ʼn eie kultuurleefwyse. Dan sal Afrikaners  opstaan vir die regte waardes en opnuut onsself definieer as ‘n volk wat nie tot eer van mense bou nie, maar om ‘n volk te wees tot eer van God – dit is die mees edele roeping wat ons elk ons eie kan maak.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Bennie Van Zyl

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van die Transvaalse Landbou-unie.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

47 Kommentare

jongste oudste gewildste
onderwyser

Pragtig gestel baie dankie. Staan vas en staan bymekaar.

Dries du Toit

Kry vir Bennie van Zyl in die parlement saam met die VF+

humor

Baie geluk Bennie jou skrywe is Bybels en dus ook calvinisties begrond. Wil die afleiding maak jy het voorheen op die PUK geswot. Sal ons nie so vroeg as moontlik n reuse kongres organiseer met n gepasde tema nie, en al die enersdenkendes as sprekers uitnooi, en sorg dat dit groot dekking op die sosialemedia kry nie. Hieruit sal dan noodwendig positiewe gesindheid en aksies voortvloei. Selfs buitelanders van lande waar nasionalime ontwaak kan ook as sprekers genooi word.

Jimmy

Daar is tweede geslag emigrante kinders in die buiteland wie se Afrikaner oupas en oumas nog hier woon. Hulle tik nie al die boksies nie. Het hulle nou hul Afrikaner status verloor? Indien wel, dan gaan die begrip Afrikaner baie vinnig uitsterf. Voorts, indien ‘n Afrikaner wat in Ventersdorp woon ‘n Bhudis word, gaan hy nou iets ander genoem word? Die lewe is erg ingewikkeld, hoekom maak ons dit nog meer ingewikkeld net om volgens definisies in boksies geplaas te word.

pieter

Welgedaan bennie…jy klink soos n jaap marais man…jou skrywe is puik…