Afrikaner-identiteit – weet ons nog wie ons is?

bennie-van-zyl-tlu-sa

Bennie van Zyl van TLU SA. Foto: Facebook.

Die tye waarin ons leef, is baie deurmekaar. Daarmee saam het ons ‘n regering in Suid-Afrika wat ‘n eie agenda het om die samelewingsorde te herrangskik volgens hul idioom. Dit kan gesien word in hul Strategy & Tactics, die Nasionaal-Demokratiese Rewolusie en hul Vryheidsmanifes (Freedom Charter).

Hierdie aanslag op daardie waardes wat die Afrikanervolk deur sy geskiedenis gevestig het as die onderskeidende eienskappe, het in die laaste jare vervaag en het Afrikaners moontlik verward geraak oor wie en wat hulle was, is en ook wat die toekomsvisie behoort te wees. Dit is krities belangrik dat Afrikaners hulself vandag akkuraat moet identifiseer. Diegene wat met dieselfde eienskappe identifiseer, sal outomaties met mekaar as Afrikanervolk assosieer.

Volkere is ‘n werklikheid wat oor die wêreld gevestig is en so is dit ook in Suid-Afrika. Daar is onderskeidende eienskappe wat op elke volk van toepassing gemaak kan word wat hulle onderskei van ander volke. Uiteraard sou individue selfs ander eienskappe kon toevoeg. Daardie eienskappe wat die Afrikanervolk deur die jare gevestig het as dit wat identiteit definieer, kan kortliks soos volg gemeld word:

  1. Geloofsbeskouing – die geloof in God Drie-enig soos geopenbaar in Sy Woord, was sedert die ontstaan van die Afrikanervolk die grondslag. Hierdie Christelike geloof is die fondament waarop die waardestelsels ontwikkel. Dit sal, onder meer, bepaal hoe ons met mekaar en ook met ander sal omgaan.
  2. Die Afrikaner is vanuit sy oorsprong etnies wit. Soos enige ander volk, behoort die Afrikaner trots te wees op wie en wat hy is en behoort te wees.
  3. Die Afrikaner se moedertaal is Afrikaans – ‘n taal geskoei in die harde werklikheid van die lewe aan die suidpunt van Afrika.
  4. Die kultuur-historiese erfenis van die Afrikaner wat bestaan uit ‘n bepaalde opgetekende skeppende geskiedenis waarvan die mooi en goed ons behoort te rig vir die toekoms. Die herdenking van die verbintenisse van die verlede, soos die onderskeie geloftes, is ‘n deel van die erkenning van dit wat vir ons kosbaar is. Die daarstel van ʼn kultuur deur die eeue en die voortdurende ontwikkeling daarvan wat onderskeidend is.

Kultuur kan gesien word as die somtotaal van die menslike handeling. Vir die Afrikaner sal hierdie kulturele ontplooiing wees, dít wat geskep word in opdrag van God en volgens Sy verordeninge. So het die Afrikaner deur die eeue ʼn eie kultuurleefwyse daargestel wat uniek is.

God het in Sy Woord ‘n kultuuropdrag gegee waarvolgens ons moet skep vir die toekoms. Gen. 1: 28 “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit…” en Gen. 2:15: “Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas.” Dit is ’n positiewe, opbouende opdrag: Bewerk en bewaar.

Die Afrikanervolk het hierdie opdrag deur die eeue juis as gevolg van sy gebondenheid aan die verordeninge van God sy eie gemaak.

Alles wat die mens doen is kultuurskeppend. Aktiwiteite soos braai, rugby kyk, jag, koffie en beskuit maak, is deel van die Afrikaner se kultuur, maar ook die toepassing van die jongste tegnologie. Dit is die leefwyse en aktiwiteite waarmee ‘n Afrikaner hom of haar kan vereenselwig saam met mede-Afrikaners.

Maar die kultuurleefwyse alleen is nie waaroor Afrikanerskap gaan nie. Ander volksgroepe deel met ons sekere kulturele aktiwiteite, soos, rugby (kyk en speel) of jag. Net so het ons kultuurleefwyses gaan leen by ander kultuurgroepe, soos kerrie en rys en bobotie. Wat belangrik is vir elkeen ten opsigte van die bydrae tot die uitbouing van daardie leefwyse waarmee ons mekaar mee kan en wil assosieer, is of dit skeppend en opbouend is. Elkeen moet hom-/haarself toets of ‘n bydrae positief of negatief is, gemeet aan die waardestelsels wat uit die Woord gehaal is.

Die kultuurlewenswyse wat gedeel word met ander volkere is nie alleen bepalend of ons in dieselfde volksgroep as ander persone is nie. Die individu se posisionering om te kan assosieer met ander lede van die volk, sal inhou dat daar oor al die punte skakeling moet plaasvind. Daardie persone wat uit innerlike oortuiging hierdie eienskappe deel, sal wil assosieer met ander volksgenote.

Die Afrikaner moet opnuut in hierdie verwarrende tye seker maak dat die eienskappe wat ons onderskei, duidelik in ons saamgedra word. Daardie waardes wat ons by ons voorouers ontvang het en wat ons slyp en vorm tot nóg beter waardes om dit aan ons jeug oor te dra, is ‘n positiewe handeling. Dit is wie die Afrikaner is – dit is nie diskriminerend nie.

Elke volk op aarde as ‘n Godgegewe realiteit kan en moet hulself definieer. Dit is nie vir ons nodig om te assosieer met waardes wat nie vir ons belangrik is en wat nie die toets van die tyd in ons volkswees deurstaan het nie. Ander waardes soos wat ons tans deur die ANC op ons volk ervaar en wat ook op andere afgedwing word, gaan vir seker vorentoe konflik veroorsaak. Ons moet weet wie ons is en nie toelaat dat ons in vreemde vaarwaters gedwing word nie.

Wêreldwyd is nasionalisme besig om op te staan. Volke keer terug na hul wortels en bou rondom dit vir hulle ‘n toekoms. Die vlaag van liberalisme en gelykmaking is besig om klaaglik te misluk (ondanks eietydse wetgewing om dit teen te werk). Dit gaan van ons elkeen afhang oor hoe ons die toekoms tegemoet sal gaan. Dit gaan van ons verg dat ons die hand in eie boesem moet steek. Kom ons kyk opnuut hoe skep ons kultuur – is dit opbouend rondom die regte waardes of is dit afbrekend? Dit sou gewis insluit oor hoe ons met mekaar omgaan en kommunikeer (veral op die sosiale netwerke).

Elke ouer wat die doopbelofte afgelê het se verbintenis is om seker te maak dat ons kinders grootgemaak word om ook skeppende, positiewe kultuurdraers te wees, is vandag van kardinale belang. ‘n Volk wat nie ‘n selfbeskikkingsideaal het nie, sal later assimileer met ander waardes en mettertyd verdwyn. Afrikaners is tans egter vasgevang in ‘n Suid-Afrika waar daar daagliks ervaar word dat die waardes wat geskep en geïmplementeer word, nie iets is waarmee geassosieer kan word nie. Laat ons ook in hierdie huidige werklikheid gaan leer uit die Bybel. Daniël en sy vriende was die beste van almal in die heidenkoning se hof. Die verskil is dat Daniël en sy medegelowiges hulle nie laat meesleur het deur die heidense gebruike en kultuur nie, maar dat hulle vasgehou het aan dit wat hulle van kindsbeen rondom die Woord geleer het. Dit was op die ou end bepalend vir ‘n positiewe uitkoms.

Mag die Afrikaner homself opnuut weer suiwer definieer en dit ook uitleef rondom daardie eienskappe wat ons uniek maak: naamlik ons Christelike geloof, die feit dat ons etnies wit is, ons moedertaal (Afrikaans), kultuurhistoriese erfenis en ʼn eie kultuurleefwyse. Dan sal Afrikaners  opstaan vir die regte waardes en opnuut onsself definieer as ‘n volk wat nie tot eer van mense bou nie, maar om ‘n volk te wees tot eer van God – dit is die mees edele roeping wat ons elk ons eie kan maak.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Bennie Van Zyl

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van die Transvaalse Landbou-unie.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

46 Kommentare

onderwyser ·

Pragtig gestel baie dankie. Staan vas en staan bymekaar.

Dries du Toit ·

Kry vir Bennie van Zyl in die parlement saam met die VF+

humor ·

Baie geluk Bennie jou skrywe is Bybels en dus ook calvinisties begrond. Wil die afleiding maak jy het voorheen op die PUK geswot. Sal ons nie so vroeg as moontlik n reuse kongres organiseer met n gepasde tema nie, en al die enersdenkendes as sprekers uitnooi, en sorg dat dit groot dekking op die sosialemedia kry nie. Hieruit sal dan noodwendig positiewe gesindheid en aksies voortvloei. Selfs buitelanders van lande waar nasionalime ontwaak kan ook as sprekers genooi word.

Deon ·

Humor, ek dink ons moet eerder ‘n reuse kongres organiseer om die pad vir die Afrikaner se ekonomiese oorlewing uit te stippel. Om te filofiseer oor mooi begrippe is ‘n akademiese oefening wat nie gewone mens se lot gaan verbeter nie.

Ernst Marais ·

Beste Humor,
Ek glo nie ‘n volk kan veerkragtig uitdagings hanteer as andersdenkes uitgerangeer word nie.

Die NP het andersdenkendes na links en regs uitgestoot met die gevolg dat toe Codesa gebeur, hy nie opgewasse daarvòor was nie

JAN ·

Calvinisties ja maar Baalkultus nee.
Dankie vir die mooi skrywe.
Al die presidente van die Transvaal en Vrystaat was Hollandse Vrymesselaars behalwe Paul Kruger wie ‘n Calvinis was.
Weliswaar die wit manlike Hollandse fakie wie die Gelofte eerbiedig tot vandag.

Allermins is die Kaapse engelse faksie wit manlike Masons verenigbaar met ons Afrikaner volke. Pik se manne.

Net om julle te motiveer om maar weer vir JAN se sensuur.

Jimmy ·

Daar is tweede geslag emigrante kinders in die buiteland wie se Afrikaner oupas en oumas nog hier woon. Hulle tik nie al die boksies nie. Het hulle nou hul Afrikaner status verloor? Indien wel, dan gaan die begrip Afrikaner baie vinnig uitsterf. Voorts, indien ‘n Afrikaner wat in Ventersdorp woon ‘n Bhudis word, gaan hy nou iets ander genoem word? Die lewe is erg ingewikkeld, hoekom maak ons dit nog meer ingewikkeld net om volgens definisies in boksies geplaas te word.

pieter ·

Welgedaan bennie…jy klink soos n jaap marais man…jou skrywe is puik…

Oud Rhodie ·

Een probleem met bogenoemde. Ek ken bruin mense wat meer Afrikaner is as baie wittes. Dit sluit in kultuur; godsdiens en taalgebruik. Hoe nou gemaak ?

Susanna ·

In alle eerlikheid ken ek anderkleuriges wat aan hierdie waardes voldoen en beter Afrikaans praat as ek. Klas is iets wat weier strek as ras.

Jerry ·

Die Afrikaner is n individu wat hom of haarself vinnig sal distansieer van enige groep wat die Afrikaner bedreig of probeer betrek by enige iets minder as n leef en laat leef vreedsame voortbestaan en naasbestaan. Die Afrikaner sal boosheid vermy sodat goedheid hom/haar volg vir solank dit hom/haar beskore mag wees. Die Afrikaner behou sy regte sonder om n issue van sy regte te maak. Die Afrikaner dink met sy gesonde verstand, nie met sy hart nie, sodat slinkse mense hom nie kan opsweep en mislei nie. Wanneer dit tyd raak dat die Afrikaner sy grond, besittings en eiendomme moet verkoop en trek, dan doen hy dit sonder enige verwyte en klou hy nie vas aan dit wat was en verby is nie. Die Afrikaner leef nie in die verlede en vir die dooies nie, hy lewe vir die lewendes en die toekoms. Wanneer die vyand, asook die Afrikaner se eie volk die Afrikaner probeer mislei, dreig en bedreig, dan het dit tyd geraak vir n nuwe volk. Dit is die Afrikaner, n mens wat homself/haarself nie laat onderkry deur met die semels te meng nie, n mens wat nuut en vry is. Die hele wye wereld is die ware Afrikaner se oester!

Jan ·

Jerry, alles van die beste word vir jouself en die ander soorgelyke Afrikaners waarvan jy praat toegewens, met julle volkstigting daar in die buiteland.

humor ·

Deon geen probleem met jou voorstel nie. Ek staan egter by my voorstel. Sonder n volksbesef as motiveringsbron gaan ons egter nie oorwin nie. Waarom het die Afrikaner deur die mees haglikste krisisse in die geskiedenis oorleef? Nie omdat hy welvarend was nie, maar omdat daar n volksbef- trots was.

Jan ·

Indien al die debatte wat al oor die Afrikaner gevoer was in boekvorm saamgevat sou word, sal dit beslis ‘n groot biblioteek kan vul. Ek sal my eiertjie hieroor ook maar le. Die term span wyd, en enkele hiervan is: daardie Afrikaner vir wie die oorlewing van die Afrikaanse-taal en een Afrikaanse universiteit voldoende is. Dan, die Afrikaner wat net so ‘n bietjie kultuur (musiek, braai, rugby) wil beoefen, en wat derem ‘n veilige tuiste/woongebied wil he en nie deur BEE gekniehalter wil word nie. Ook die een wat na die Suid-Afrika van voor 1994 hunker, asook Jerry se wereld-Afrikaner wat iets vir almal, maar niks vir niemand is nie. Die groot onderskeidende faktor is Selfbeskikking, vir daardie Afrikaner wat na vryheid strewe. Vryheid in sy eie land, waar hy self oor sy lot sal besluit. Dit kom al vir twee-/driehonderdjaar saam met ‘n groep Afrikaners, en dit is wat hulle van die ander onderskei.

Hans Richardt ·

As jy sê jy is wit Calvinistiese Afrikaner, leef dit dan elke dag. Skryf dit op jou Facebook en leer jou kinders tradisie, deur dit te leef. Vat hul kerk toe, nie net omdat die “band of pastoor” beter is as in Hervormde kerk of in NG kerk of Dopper of APK. Dit gaan oor die gebruike en tradisies wat oor eeue gevestig was as kultuur en tradisie. Ken jou geskiedenis, want as jy die paaie van gister vergeet, gaan jy nie more weet waarheen nie.

Hendrik ·

Goeie artikel, maar dit sluit die moontlikheid uit dat iemand van kleur ooit ‘n Afrikaner kan word (punt 2 in die opsomming). Dit is juis die stok waarmee ons as Afrikaners aanhoudend geslaan word. Ek het geen probleem met die kleur van enige persoon wat ‘n Afrikaner in die ander opsigte wil wees, om een te wees nie. As my seun bv met ‘n ‘n afrikaanssprekende Kleuring sou trou, en sy onderskryf die ander eienskappe van afrikaner-wees, is sy na my mening meer van ‘n Afrikaner as iemand wat nie Geloftedag respekteer nie.

Hans Richardt ·

Ek wonder hoekom ons moet bekommer oor wat ander dink of hul stokke? Ek dink mens meer konsentreer om tradisies en gebruike te leef, instede om te skryf of te praat daaroor. Van sit en staan, kom niks gedaan nie. Leef jou kultuur en jy sal ander behandel en respekteer, soos jy behandel en gerespekteer wil word.

Boerboel ·

Jan, Jerry en Dries. Julle drie het baie goeie skryf talent. Julle stel alles altyd so mooi. Dankie dis lekker om te lees!

Lenard ·

Ek is NIE `n Calvinis nie. Grootgeword in so kerk maar dieper in die Bybel begin soek en meer – lank nie al – andwoorde gekry. Die Skepper is oneindig, ingewikkeld en Sy denke is nie die van mense nie (lees dit in die Bybel en nie in die institusies van Calvyn nie). Die Afrikaner sal oorleef want ons het die wil om dit te doen. Maar dan onder die genade van ons Skepper onder wie ons ons moet verootmoedig en terugkeer na Sy leer en nie die leer van mense nie. Die tyd van ergste donker is nou oor ons volk en ek hoor GEEN leier in SA wat daaroor praat nie. Ons mense is honger fisies en honger ook vir die Woord en die kerke is nie (meer) toereikend nie. Vergeet asseblief die menseleer.
Ons bestaan is in ons gene ingebou en dus sal ons ophou bestaan wanneer die laaste van ons sterf. Die Skepper se duimafdruk is in my wese vasgevang en dus: “Hier staan ek, ek kan nie anders”.

rassie ·

Die vierpunt definisie in die artikel verteenwoordig die standpunt daaromtrent ten tye van die groei en hoogtepunt van Afrikaner nasionalisme tot ongeveer middel 1980’s.

Die definisie is geformuleer deur destydse leidinggewende Afrikaner organisasies soos die Nasionale Party, die Broederbond en die NG Kerk. Hul voordeel was dat hulle dit deur sosiale sanksies en wetgewing kon afdwing.

Intussen het die Nasionale Party in die ANC opgegaan en kan nie een van of die Bond of die NG Kerk meer ‘n definisie gee nie – anders as die bekende “elkeen weet of hy of sy een is of nie”.

Oor of die Afrikaner ooit destyds of tans werklik in die destydse definisie gepas het of steeds pas, word dikwels lank debat gevoer:

Daaruit blyk dit dat daar ook Afrikaners is wat meen dat:

Nie alle persone wat hulself as Afrikaners beskou Christene is of hoef te wees nie.

Die Afrikaner se etno-genetiese ontstaansbasis nie suiwer wit is nie en ras nie in die definisie kan of hoef te wees nie.

Afrikaans steeds ‘n aanduier van identiteit is, maar nie die uitsluitlike eiendom van Afrikaners is nie.

Nie alle Afrikaners dieselfde waarde aan volkseie tradisies heg nie.

Nie alle Afrikaners selfbeskikking as toekomsvisie koester nie.

Die oproep dat “die Afrikaner” homself weer opnuut suiwer moet identifiseer rondom Christenskap, etniese witheid en Afrikaans, mag dus moontlik slegs ‘n spesifieke sub-groepering binne Afrikaner geledere bereik.

Vir die res weet elkeen blykbaar self of hy of sy een is of nie.

Attie. ·

Pragtige woorde maar myle van die werklikheid af. Droomsinne maar die wakkerword is naby en dan is die werklikheid weer met ons. My pa het my opgevoed in die wete dat die die 2de Vryheidsoorlog se nut was dat ons ‘n sterk Afrikanervolk geword het agv al die swaarkry. Ons nasie is geslyp om saam te staan en daarom gaan dit so goed met ons. Dit was rondom 1961 se Republiekwording. Daarna was ek as kind twee jaar op Namibie se Noordgrens en was ons ‘n sterk nasie wat oor Afrika kan loop so vinnig soos wat ons Troepedraers kon beweeg. Dertig jaar na 1961 was ons leiers nie meer so seker nie en nou minder as dertig jaar na 1991 is ons volk bankrot. Ons onderhandelaars was nie baie suksesvol nie en ons kinders en ons banges word gedwing om oorsee ‘n heenkome te vind. Ons kinders vermaak hulself met tv speletjies en selfone en praat Afriels. Min van ons sportmanne en akteurs kan twee vol sinne praat in suiwer Afrikaans. Wat ons herkoms aanbetref kan ek net sê is bitter min van ons suiwer blank, Ons wil nie eintlik daaroor praat nie maar ons voorouers is nie presies die wat ons dink nie. Daar is min families wat “suiwer” blank is oor tien geslagte terug. Neem die ander volke in as Afrikaanses of verdwyn van die aarde as volk. Pas aan of sterf uit.

Chris ·

Die VF- is ‘n multikulturele party wat vir almal staan, swart en wit, ‘n DA-lite dus.

Andreas ·

Chris, ek sien van die ‘Afrikaners’ hier is nou so deurmekaar hulle sal hulself op die Internet moet gaan soek. My raad is dat hulle Flip Buys se artikels oor die Afrikaner gaan lees. In kort sê hy dit is ‘n persoon wat hom met die Afrikaner se bestaansgesiedenis vereenselwig.

Janco ·

Die artikel se skrywer is steeds vasgevang in die denke dat die Afrikaner ‘n homogene groep is. Daar is een groot verdeler en dit is die strewe aldan nie na Selfbeskikking, m.a.w. na ‘n vrye vaderland. Eienskappe soos, geloof, etnisiteit en kultuur is binne die twee groepe van meerdere of van mindere belang, met die Arikaanse taal as oorkoepelend. Bennie van Zyl is ‘n Selbeskikking-Afrikaner, nes ekself ook een is. Ek beskou die ander groep as die Reenboog-Afrikaner. Die Selfbeskikking-Afrikaner worstel nie met aangeleenthede soos: dat anderskleuriges beter Afrikaans as hy/sy praat nie, of hoeveel anderskleurige bloed dalkies in hom/haar vloei nie, en as hy/sy nou nie die Gelofte eerbiedig nie, of hulle dan nog as Afrikaner sal kan kwalifiseer, en talle ander kwellinge waarmee die Reenboog-Afrikaners wroeg.

Kallie ·

Jy laat my aan die dink sit. Dalk is die Afrikaner besig om onwetend te muteer in twee groepe. Voorheen is altyd gepraat van Boere Afrikaners, Kaapse Afrikaners, Boere en nugter weet wat als.

Andreas ·

As ek so na van die kommentare kyk, is die Afrikaner self ‘n reënboognasie.

Pieterd ·

Aan die begin van die artikel het ek myself nogal beskou as ‘n Afrikaner, maar word algaande, veral deur die kommentare, “gediskwalifiseer” omdat, hoewel ‘n diepgelowige Christen, ek nie in ‘n Calvinistiese kerk is nie.
Ai, as die paar wat hier skryf hulself nie eens “akkuraat” (Bennie van Zyl se woord) as Afrikaners kan beskryf nie (en talle wat hulself as Afrikaners identifiseer op die kop slaan) hoe verwag ons om dit in miljoene reg te kry?
Ek stem saam, ons moet weer hand in eie boesem steek, maar bowenal eers vir God vra “wie is ons?” en hoe wil Hy hê moet ons leef? Lees ook Psalm 139.

Andreas ·

Pieterd, as jy ongedurig met kommentare is van daardie mense wat voel hulle hoort nie tuis nie, ek voel ook ongedurig met sekere kommentare wat meer deurdag moes wees, maar dit diskwalifiseer mos nou nie daardie persoon of ek net omdat hy of ek ongedurig is nie. Jy sal weet as jy ‘n Afrikaner is, jy sal weet wat jou gevoel oor die Afrikaner se bestaansgeskiedenis voel en of jy jou daarmee vereenselwig. Ek kan dit korter stel, maar jy sal dit self kan uitwerk.

Dries du Toit ·

Pieterd moenie bekommerd wees nie . Jy klink vir my Afrikaner genoeg om saam met ons te trek. Kom ou maat ons is “happy” met jou

Janco ·

Kallie, die twee groepe Afrikaners waarna ek in my vorige kommentaar verwys, is bykans vanaf die vestiging aan die Kaap teenwoordig. Politieke-, geloofs en kultuurleiers het egter besluit dat alle Afrikaanssprekende witmense aan die Suidpunt van Afrika, aan een volk behoort. Die redes hiervoor, is legio. Die werklikheid is egter iets anders, en ek begryp nie waarom ons mekaar hieroor moet aanval nie. Ek strewe daarna, en werk daaraan om ‘n vrye Vaderland te verkry, maar ek gun die andersdenkende Afrikaner net soveel van ‘n reg om sy/haar besluite te neem soos dit hom/haar mag behaag, ten einde sy/haar heil te bepaal.

Dries du Toit ·

Hier het die manne mekaar nou so lekker deurmekaar kom praat. Ek het nog nooit gewonder of ek n Afrikaner is nie. Ek het nog nooit gewonder of ek n Boer is nie. Geen ander volk of ras sal my ooit laat twyfel wat ek is nie. MAAR NOU MAAK JULLE MY SKOON DEURMEKAAR. SIES MAN

Andreas ·

Dito, ek was nog nooit so deurmekaar en het ook nog nooit gewonder of ek nou ‘n ‘reënboognasie’ is nie.

Kobus ·

Dankie Bennie.
Waarmee jy afgesluit het is waar ons moet begin, ‘n volk tot eer van ons God. Kyk ons deur die wêreld heen sien ons dat daar geen volk is wat leef tot eer van die ware Skepper-God nie, onsself ingesluit. Baie wat leef tot eer van die geldgod/mammon, songod/baal en dies meer.
Ons moet ons bekeer van ons baal-mammon leefstyl en die Enige God weer soek en Hy sal Hom aan ons openbaar, veral deur die ou testament en die 4 evangelies in die nuwe testament. Glo elke Woord wat Jesus spreek en bekeer onsself tot Hom. Verwerp enige lering, binne- of buitekerklik wat in stryd is met wat die Messias ons kom leer het.
Gaan na jou kamer, maak die 4 evangelies oop en leer by die Meester self, moenie dit aan jou predikant of pastoor oorlaat nie.

WiesJouAfrikaner? ·

Met altwee my Oupas wat nie Afrikaners was nie, wat maak dit my? En daar is baie van ons wat ek ” halfbreeds” noem, en ek gebruik die term, met trots. Ek is gedwing om skool te gaan in die ou bedeling, waar jy gedwing was, om net deur sekere kriteria te kan kwalisfiseer as ‘n ” Afrikaner “. Die skrywer het sy opinie, en ek het my opinie. Ek is baie trots op my gemengde agtergrond, en dit het vir my geleer om minder rassisties en meer verdraagsaam te wees teenoor ander gelowe en kultuurgroepe. Ek hoef nie my identiteit te soek by ‘n braai nie, al braai ek ook. Ek hoef ook nie my identiteit te soek by rugby nie. Ek geniet die taal, en ek’s net so gemaklik met Engels, en die gebruik van inheemse tale, en ander Europese tale. Moet my asseblief nie in jou boks probeer druk oor wie, of wat ‘n Afrikaner behoort te wees nie. Jy het in my opinie nie die reg om dit te doen nie. En ek gaan nie met ‘n etiket om my nek loop nie, baie dankie. Ek geniet my multikulturele agtergrond, en om etnies wit te wees, klink vir my maar baie na rassisme.

Andreas ·

Elke nasie is trots op sy identiteit en herkoms, maar ons moet nie om trots op jou identiteit te wees, watter nasie dit ook al is, met rassisme verwar nie. Om in erkenning van wie jy is te wees, beteken nie jy misken ander of het nie respek dat hulle ook hul eie eer nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.