Afrikaner-voorspoed berus op internasionale regte

Verlede jaar het AfriForum voorleggings aan die Verenigde Nasies (VN) se Forum vir Minderheidsaangeleenthede in Genève, Switserland, gemaak om die internasionale gemeenskap oor minderheidsregbrandpunte in Suid-Afrika in te lig.

Ernst Roets and Alana Bailey in Genève.

Ernst Roets and Alana Bailey in Genève.

In 2008 het die VN se Forum vir Minderheidsaangeleenthede ʼn eerste konferensie aangebied om aan regerings en burgerlike organisasies die geleentheid te bied om die bevordering van minderheidsregte te bespreek.

Sedert 2010 neem AfriForum jaarliks aan hierdie Forum se konferensies deel om plaaslike brandpunte in die internasionale kollig te plaas en só druk op die ANC-regering te plaas om aandag daaraan te gee.

By die 2013-konferensie het ek en Ernst Roets onderskeidelik verslae oor die ANC se misbruik van godsdiens vir politieke doeleindes en plaasaanvalle ingedien, asook die AfriForum-petisie waarin tienduisende lede van die publiek vra dat plaasmoorde in Suid-Afrika tot ʼn prioriteitsmisdaad verklaar word.

Die hooftema van die konferensie was godsdiensvryheidsregte. Skokkende mededelings is aangehoor oor minderhede wat wêreldwyd vervolg word op grond van geloof. Burgerlike organisasies het vertel van diskriminerende praktyke, byvoorbeeld dat kinders aan ʼn spesifieke geloofsoortuiging moet behoort om hoegenaamd in sekere lande te mag studeer. Elders word ouers selfs voorgeskryf watter name hulle hulle kinders mag gee. In die ergste gevalle kom marteling en moord voor.

In Suid-Afrika is die situasie nie so ernstig nie, maar juis daarom moet daar onverbiddelik teen enige skending van mense- en veral minderheidsregte opgetree word. Deur organisasies soos die VN kan internasionale druk op die regering geplaas word om betyds teen vergrype op te tree.

Dit is van die grootste belang dat enige voorlegging aan die internasionale gemeenskap geloofwaardig moet wees. AfriForum se verslae berus dus altyd op deeglike wetenskaplike navorsing. Ongelukkig het randfigure en –organisasies die Afrikanersaak groot skade aangedoen met vals bewerings en onregverdigbare argumente. AfriForum moet dikwels van voor af vertroue en steun vir Afrikanerregte wen.

Artikels wat sedert November 2013 in die internasionale media verskyn het, bewys dat daar toenemend krities na die ANC-regering gekyk word. Dit skep die geleentheid vir geloofwaardige argumente om veld te wen.International-Law

Afrikaners se strewe om vry, veilig en voorspoedig voort te bestaan, berus op internasionaal erkende regte. Bondgenote onder regerings, organisasies, meningsvormers en die media buite ons landsgrense is noodsaaklik om te verseker dat vordering met AfriForum se internasionale strategie gemaak word om dié strewe volhoubaar moontlik te maak.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Alana Bailey

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

57 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stephen

Baie dankie !!!!! Julle is puik. Dankie wat julle vir ons doen.

Pieter

Na, hoeveel jaar is dit ? Vier jaar en no niks reggekry ? Eish

Barry Saayman

@ Me Alana Bailey >>”In die ergste gevalle kom marteling en moord voor. In Suid-Afrika is die situasie nie so ernstig nie…” Kan ons gesels oor hierdie stelling van u asseblief? Marteling en moord kom wel in SA volgens u eie organisasie, AfriForum, voor- “Die buitengewone wreedheid van plaasmoorde is in die meeste gevalle totaal buitensporig, gemeet aan die waarde van items wat gesteel word.” http://www.rapport.co.za/Weekliks/Nuus/Bloed-op-die-grond-20131130 Het AfriForum van mening verander en indien wel waarom? >>”Deur organisasies soos die VN kan internasionale druk op die regering geplaas word om betyds teen vergrype op te tree.” Ek is onbewus van enige… Lees meer »

Barry Saayman

@ Me Alana Bailey >>”In die ergste gevalle kom marteling en moord voor. In Suid-Afrika is die situasie nie so ernstig nie…” Kan ons gesels oor hierdie stelling van u asseblief? Marteling en moord kom wel in SA volgens u eie organisasie, AfriForum, voor- “Die buitengewone wreedheid van plaasmoorde is in die meeste gevalle totaal buitensporig, gemeet aan die waarde van items wat gesteel word.” http://www.rapport.co.za/Weekliks/Nuus/Bloed-op-die-grond-20131130 Het AfriForum van mening verander en indien wel waarom? >>”Deur organisasies soos die VN kan internasionale druk op die regering geplaas word om betyds teen vergrype op te tree.” Ek is onbewus van enige… Lees meer »

Gemsbok

Ons regte wat internasionaal erken word is inderdaad ‘n belangrike element wat ons kan bystaan in ons stryd om gelyke erkenning en selfbeskikking.

Dit is egter soos ons Grondwet eerder ‘n skild as ‘n swaard.

Daarmee bedoel ek dat dit die atmosfeer kan skep waarbinne ons die ruimte gegun word om ons heil uit te werk en ons toekoms op ‘n vaste voet te plaas. Ons sal egter steeds die harde werk moet doen om vir ons op vaste grond ons eie instellings deur eie arbeid staan te maak.