Afrikanergeskiedenis 101

Deur René Krüger

René Krüger

Hoekom word ons jeug die reg ontneem om van hulle volk se ryk erfenis te leer? Die antwoord is eenvoudig: Kennis hieroor is soos olie op die vuur; om ʼn trotse Afrikanerhart aan die brand te steek.

Afrikaners wat van ʼn sieklike kultuur-skuldgevoel genees en eerder poog om hul kultuur te bewaar en te bevorder, is die mense wat ons “die see wil injaag” se grootste vrees. As hierdie mense vrees by ons wil aanwakker met liedjies soos “Kill the boer” en “One bullet, one settler” kan ons sekerlik met herinnering aan ons geskiedenis se hoogtepunte dieselfde doen. Die skryfstuk gaan dus ʼn opsomming van ons merkwaardige geskiedenis gee om jou, Afrikaner, te herinner, of dalk die eerste keer te laat hoor dat jy hier hoort.

Die Afrikaners is nie ʼn groep mense wat na Suid-Afrika gekom het nie. Hulle het hier “geword”. Die Afrikaner kultuurgemeenskap het as ʼn erfgenaam van die voor-sewentiende-eeuse Westerse wêreld ontwikkel, maar het ook ʼn inheemse en vaste Afrikavorm aangeneem. Dit is die enigste selfstandige Christelik-Westerse kultuurgemeenskap wat met ʼn eie taal en kultuur in Afrika ontstaan het.

Die Afrikanerkultuur het uit Hollandse handelaars, Duitse soldate en Franse Protestante ontwikkel. Die geskiedenis van die Afrikanerkultuur begin reeds in 1652. Die stamvaders van die Afrikanerkultuurgroep het al 368 jaar gelede – 124 jaar voor Amerika se onafhanklikwording in 1776 – na Suid-Afrika gekom.

Die VOC (Verenigde Oos-Indiese Kompanjie) is in 1652 deur die Nederlander, Jan van Riebeeck, as ʼn verversingspos in die Kaap gestig. In 1657 is landbouers vrygestel om hul boerderye uit te brei en dié boer-pioniers het as die Vryburgers bekend gestaan, wat die eerste keer Suid-Afrika as hul enigste vaderland aangeneem het.

Die Britse ryk het in 1795 die Kaap beset en wou die Britse kultuur bevorder, maar die Afrikanervolk het reeds volkseie-eienskappe gehad, asook hul eie kultuuridentiteit. Die oorlogsgebeure in Europa het daartoe gelei dat Brittanje weer in 1802 die Kaap aan Nederland moes afstaan, maar in 1806 het Brittanje weer die Kaap verower.

Die Kaap was nou ʼn Britse besitting en die Afrikaners moes Britse onderdane word, máár ʼn kulturele bewussyn het by die Afrikaners ontstaan en hulle wou nie in wese Brits word nie. Die Afrikaners kon onder meer nie die amptelike beleid van verengelsing verduur nie en die owerheid het nie beskerming aan hulle gebied in die voortdurende plundering en moordtogte deur die destydse Bantoe-groepe nie.

In die jare 1835-1838 het die Afrikaners toe ʼn vorm van positiewe verset ingeneem en die Groot Trek het plaasgevind. Hier het Afrikaners die Kaapkolonie en alles wat hulle opgebou het verlaat om noordwaarts te trek, met die strewe om ʼn eie, vrye vaderland te bou. Afrikaners het die edele taak verrig om vir hulself en hul nageslag ʼn toekoms en huis in die wildernis van ʼn onbeskaafde land uit te kap en te bou, ten spyte van verskeie veldslae.

In 1842 moes die Afrikaners egter reeds hul pas gewonne vryheid vir die Britse anneksasie opgee. Die Afrikaners in die Republiek van die Oranje-Vrystaat is in 1854 uiteindelik as vry mense erken, maar in 1877 is die hele Republiek van Suid-Afrika wéér as Britse gebied verklaar. Dit het groot ontevredenheid onder die Afrikaners veroorsaak wat na lydelike maar ook gewelddadige verset gelei het. Daarna was daar ʼn vredesluiting in 1881. Hierdie vredesluiting was egter net ʼn skyn-vrede en die vryheidstryd het met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 ʼn hoogtepunt bereik. Tydens hierdie oorlog het die Britte se “verskroeide aarde beleid” meer as 30 000 plaashuise en 40 dorpe verwoes. Sowat 160 000 boervroue en -kinders is in konsentrasiekampe aangehou, waar daar 33 000 sterftes was.

Na die oorlog moes die Afrikaners wat groot verliese gely het baie hard as Britse onderdane werk om te oorleef. Hulle moes selfs, slegs twaalf jaar na die oorlog, weer die wapens optel om aan Britse kant teen Duitsland te veg, toe die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitgebreek het. Die Rebellie, waar boerekrygers geweier het om aan Britse kant te veg en Duits-Suidwes-Afrika (vandag Namibië) binne te val, het plaasgevind, waarna die rebelle tereggestel, gevange geneem en beboet is.

Die Afrikaners het later (1948-1990) ʼn stelsel genaamd “Apartheid” ontwikkel as ʼn poging om nie weer ʼn keer as minderheidsgroep in die land onderdruk te word nie. Tydens Apartheid het die Afrikaner Suid-Afrika op politiese, ekonomiese en sosiale vlak gedomineer en was daar ʼn strewe na afsonderlike ontwikkeling van alle volke. Daar was egter ook wette wat op grond van ras teen ander gediskrimineer het. Die Afrikaner het reeds verskeie suksesvolle sakeondernemings ontwikkel, byvoorbeeld Sanlam, Santam, Volkskas, Yskor en die Nasionale Pers, en het al hoe meer van hul kultuuridentiteit bewus geraak. Daar was egter vir die Afrikaner al hoe meer uitdagings om die politieke mag te behou en jong mans moes selfs tydens die Grensoorlog (1966-1990) in ander Afrikalande teen kommunisme gaan veg.

Sedert die amptelike einde van Apartheid in 1994, toe die eerste demokratiese verkiesing gehou is, moes Afrikaners in ʼn land aanpas waar daar wéér oor hulle regeer word en hulle kultuurerfenis toenemend aangeval word. Die Afrikanerkultuur het egter deur sy vryheidstryd unieke kultuurelemente bewaar en bevorder.

GF Combrinck se woorde in die Bloedrivierse Eeufeeus-Gedenkboek lui dat die “volksverlede die groeibodem van die volkslewe is”. Dit herinner aan president Paul Kruger se woorde dat ʼn mens die beste uit die verlede moet neem en die toekoms daarop moet bou. Dit is van kardinale belang om die volksverlede te ken en dit aan die jeug oor te dra. Kennis vuur passie aan, so laat ons jeug kennis oor ons geskiedenis opdoen sodat dit passie vir ons volk se toekoms kan aanvuur.

Sonder wortels kan jy nie groei nie.

  • René Krüger is ʼn veelsydige 24-jarige wat tans met haar meestersgraad aan die NWU besig is en nou ʼn internskap by Solidariteit doen vanweë haar passie vir die Afrikanerkultuur.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Werner

Pragtig

Harley Davidson

Die sogenaamde leiers weier om in debat te tree met die minister van onderwys en aan te dring dat die Afrikaner net soos die Zoeloe, Xhosa en die res van die bevolking se geskiedenis in die skole op ‘n eweredige basis geleer word ,hulle verwag jy moet vir hulle stem om in die parlement te lê en slaap en te lag vir malema se manewales.

della

Ons woon in die VSA en doen tuisonderrig met ons kinders. Ons het onlangs geleer oor die Groot Trek en ek was verstom dat baie bronne beweer dat die Groot Trek plaasgevind het omdat die Britte slawerny wou beinding en dat die Boere nie hulle slawe wou opgee nie. Ek kan nie onthou dat ons ooit hierdie geleer het toe ek op skool was nie, en wonder of daar enige waarheid daarin is?

Dries

Nie die mooiste rooi roos, mooiste sons ondergang of blou see of blouste hemel is so mooi soos n mooi behoudende afrikaner vrou soos Renè wat veg vir haar volk nie. Dankie René jy gee ons moed vir die toekoms

Leon

Dankie Renè!