Afrikanergeskiedenis, ons prioriteit

FAK Dankfees (15 Oktober 1960) Foto: FAK, afrikanergeskiedenis.co.za

FAK Dankfees (15 Oktober 1960) Foto: FAK, afrikanergeskiedenis.co.za

Die afgelope week het die Vrystaatse LUR vir sport, kuns en kultuur, Mathabo Leeto, aangekondig dat die geliefde Vrystaat se naam een van 37 plekname is wat moet waai. Dit gee blykbaar aanstoot. Selfs die naam van die bekende CR Swart-gebou moet herdoop word na die Fidel Castro-gebou. Dit ten spyte van die feit dat Fidel Castro waarskynlik nie eers die Vrystaat op ’n kaart sal kan uitwys nie, terwyl CR Swart een van die bekendste Vrystaters en die eerste staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika was. Dié soort hantering van die geskiedenis is ’n gevallestudie van die klassieke Marxistiese doktrine van kulturele imperialisme: Neem oor en wis dan minderhede se verlede uit. Wat nie afgebreek kan word nie, moet aan die hand van die heersende party se ideologiese uitgangspunte gekriminaliseer word om regeringsbeleid en diskriminasie te regverdig.

Die ANC se imperialistiese hantering van Afrikanergeskiedenis kom in wese neer op kulturele moord. Dit is vandag hoogmode om Afrikaners in die beskuldigdebank van die geskiedenis te plaas. Die proses het nie net ten doel om Afrikaners se historiese selfbeeld en kulturele selfvertroue te vernietig nie. Die metode van die kulturele imperialiste is duidelik: Historiese name van stede en strate word verander, erfenisgebiede en monumente word verwaarloos en geskiedenis in skoolhandboeke word herskryf. ’n Top-museumkundige waarsku dat hy nie met ’n skoon gewete enige Afrikaner kan aanraai om historiese artefakte of iets van kulturele waarde aan ’n staatsbeheerde museum te skenk nie. Weens swak instandhouding, swak sekuriteit en ideologiese motiewe word Afrikaner-museumstukke gesteel, verwaarloos en verrot dit letterlik, soos die onherstelbare skade in die Winburg Voortrekkermuseum, aan Groot Trek-literatuur en Statebybels. ’n Mens sidder nou nog om te dink wat kon gebeur het indien die ANC daarin sou slaag om die Erfenisstigting oor te neem. Flip Buys vra: “Wie het ooit kon dink dat in die tyd van misdaad nie eers ons verlede meer veilig sou wees nie?”

Agterryer-standbeeld by die Oorlogsmuseum in Bloemfontein Foto: Maricelle Botha, Bloemfontein Courant

Agterryer-standbeeld by die Oorlogsmuseum in Bloemfontein Foto: Maricelle Botha, Bloemfontein Courant

Gelukkig is daar ook enkele ligpunte. Die staatsbeheerde Oorlogsmuseum onder leiding van Tokkie Pretorius en sy bekwame span is ’n goeie voorbeeld van die verantwoordelike hantering van ons Suid-Afrikaners se gedeelde verlede. Niks word weggevat nie, maar bygevoeg. Onderskrifte is in Afrikaans, Engels en Sotho. ’n Nuwe gedenkmuur word gebou met die name van 35 000 wit en swart konsentrasiekampslagoffers. Die nuwe Sol Plaatje-saal wat fokus op die intense lyding in swart konsentrasiekampe is ’n waardevolle en noodsaaklike toevoeging tot die ander uitstallings in die Paul Kruger-, Louis Botha-, Christiaan de Wet-, Emily Hobhouse-saal en die JD Kestell-biblioteek. Die terrein is baie netjies en die uitstallings interessant en insiggewend. Die oorlogsmuseum is ’n uitnemende voorbeeld hoe ’n diverse geskiedenis verantwoordelik en sensitief deur die staat behoort hanteer te word. Die Oorlogsmuseum se benadering is ook ’n benadering wat die FAK graag voluit steun. Ongelukkig is die verantwoordelike benadering meer die uitsondering as die reël, soos die Vrystaatse LUR pas weer bewys het.

’n Mens het begrip daarvoor dat Afrikaners uit frustrasie teenoor die ANC wil raas en blaas. Om steen en been te kla of om giftige kritiek na die regering te bly slinger, gaan ons egter niks help nie. Dit is reaktief en destruktief. Terwyl ons alles moet probeer om die kulturele imperialisme van die ANC te stuit, moet Afrikaners wat ernstig is oor hul verlede ook hul moue oprol en pro-aktief optree. Die FAK het reeds ’n positiewe kultuurplan: Nie net hoe ons Afrikanergeskiedenis in stand wil hou nie, maar dit ook verder wil ontwikkel. Die FAK se geskiedenisplan rus op drie bene:
• Die oordrag van geskiedenis in die gesin en familie
• Vennootskappe en samewerking met gemeenskappe
• Geskiedenisnavorsing deur die NP Van Wyk Louw-sentrum

1. Die oordrag van geskiedenis in die gesin en familie

Jackie Grobler skryf in Uitdaging en antwoord: “Dit is skokkend om waar te neem hoe jong Afrikaners se kennis van die geskiedenis eenvoudig verdwyn het.” Is die verlies aan Afrikanergeskiedenis net die ANC se skuld, of moet ons ook eers die balk in ons eie oog soek? Laurika Rauch sing “vergeet om te vergeet, onthou om te onthou”. Ongelukkig is daar te veel historiese onthoustories wat vergeet word omdat ons vergeet om met ons kinders oor ons geskiedenis te praat.

In ’n tyd waar Afrikanergeskiedenis in skoolboeke gereduseer word tot kolonialisasie en apartheid, of nog erger, waar geskiedenis deur sommige polities-korrekte moedswilliges misbruik word om Afrikaners se kulturele selfvertroue af te takel, te marginaliseer en allerhande skuldgevoelens oor die verlede te probeer kweek, is dit belangrik dat jong Afrikaners weer hulle kulturele verhale afstof. Hermann Giliomee vertel hoedat genl. Jan Smuts in 1949 tydens die opening van die Voortrekkermonument Afrikanergeskiedenis byna liries beskryf het: “Watter jong volk kan op ’n meer romantiese geskiedenis roem, een van meer ingrypende belang? Kleur, insident, tragedie en komedie, nederlaag en oorwinning, vreugde en smart. Ons geskiedenis is van die aangrypendste menslike belang. Daar is nie alleen goud in ons aarde nie, maar nog meer goud in ons geskiedenis.”

Die historiese suksesbewyse van Afrikaners se strewe na uitnemendheid is talryk. Dink maar net aan die eerste demokratiese verkiesing in Suider Afrika tydens die Groot Trek; die vestiging van republieke en vele demokratiese stelsels in Suidelike Afrika; die skep van ’n moderne infrastruktuur; wêreldgehalte maatskappye; uitnemende opvoedingstelsels; die Afrikaanse Bybel as ’n literêre en besluitnemingsverwysingsraamwerk en vele ander prestasies op feitelik elke lewensterrein. Afrikaners het deur uitnemende dade in die verlede kulturele kapitaal ontwikkel waaruit gemeenskappe vandag nog kan put. Geskiedenis is vir Afrikaners ’n noodsaaklike kulturele bate wat aan elke nuwe geslag Afrikaners oorgedra moet word. Daar is baie om op trots te wees en baie trots om oor te dra aan ons kinders.

Die verlies aan geskiedenis is niks nuut nie. Reeds in 1926 skryf JD Kestell dat die onderwysstelsel so ontwerp is dat die Afrikanerkind nie iets van sy eie geskiedenis moes leer nie. Afrikanerkinders moes destyds veral onder die indruk gebring word van die mag en luisterryke geskiedenis van Groot-Brittanje. Dit het tot gevolg gehad dat Afrikanerkinders die Britse geskiedenis goed geken het. Hulle het die name van die Britse konings op die punte van hul vingers geken. Tog het hulle geen idee gehad wie Piet Retief, Gerrit Maritz of Andries Hendrik Potgieter was nie. Van Jan van Riebeeck en Simon van der Stel het hulle nog nooit gehoor nie. In die verlede was dit skrywers soos JD Kestell, CR Swart en MER en digters soos Totius, NP Van Wyk Louw, C Louis Leipoldt en vele ander wat die geskiedenis vir Afrikanerkinders laat leef het. Daardeur het hulle ook Afrikanerkinders gehelp om hul historiese selfrespek te herwin. Vandag rus die verantwoordelikheid op oupas, oumas, pa’s en ma’s se skouers om geskiedenis vir hulle kinders te laat leef. Praat asseblief met jou kinders en kleinkinders oor ons helde, ons verlede, ons groot stories, ons hoëfunksieprestasies.

Die FAK het die heel eerste Internetmuseum vir Afrikanergeskiedenis ontwikkel om gesinne en families by te staan met hul verantwoordelikheid van geskiedenis- oordrag. Deur die internetmuseum is Afrikanergeskiedenis toegangklik in elke huishouding en klaskamer op tablet en slimfoon.

Die internetmuseum is veral gerig op skoolkinders. Die FAK ontwikkel met behulp van ’n vakadviseur lesplanne vir Afrikanergeskiedenis wat aanvullend tot skoolkurrikulums gebruik kan word. Daarby het die FAK ’n ruimte geskep vir Afrikanerorganisasies om gratis hulle trotse geskiedenis te kan vertel.

Op die internetmuseum is die volgende reeds beskikbaar:
• Afrikaners se stigtingsdokumente
• Kultuurgeskiedenis
• Monumente en erfenisterreine
• Biografiese profiele
• Verskillende tydvakke, bv. die Pioniers (1652–1820)
• Foto’s van Afrikanergeskiedenis
• Foto’s van die taalgeskiedenis
• Foto’s van die FAK se geskiedenis
• Suider Afrika se geskiedenis
• Geskiedenisartikels

Skermskoot van die internetmuseum (afrikanergeskiedenis.co.za)

Skermskoot van die internetmuseum (afrikanergeskiedenis.co.za)

Die internetmuseum word daagliks verder ontwikkel. Die FAK wil ’n omvattende databasis ontwikkel van Afrikaners wat op vele lewensterreine presteer het en nog steeds presteer. Help ons om ons Afrikanergeskiedenis te skryf. Die FAK nooi alle Afrikaners uit om hulle persoonlike herinneringe, werkherinneringe, foto’s, historiese briewe en interessante verhale te stuur vir publikasie op die internetmuseum. Skryf die storie van jou pa of ma of ouma of oupa. Skryf jou gesin of familie se heldeverhale neer. Vertel jou dorp of plaas se storie. Vertel van jou mense se hoëfunksieprestasies, of dit in wetenskap, ekonomie of die voormalige staatsdiens is. Deur doelgerig saam te werk neem ons weer eienaarskap van ons geskiedenis.

Besoek die Internetmuseum en stuur jou bydrae aan [email protected]

2. Vennootskappe en samewerking met gemeenskappe

Die FAK werk reeds saam met verskeie Afrikanergemeenskappe wat self verantwoordelikheid vir die bewaring van hul geskiedenis neem. Dink maar aan die uitnemende werk van die Vegkop-direksie, Vriende van die Tolhuis, Kaapland Voortrekkers se museum op Wemmershoek, Valsrivier Erfenisstigting, Centurion Erfenisstigting, Vriende van die Bron van Herinnering, Vriende van die Ou Presidensie, Bloedrivier Geloftekomitee wat die Wasbank-monument weer nuut opgerig het, Doornkloof Voortrekkermuseum en vele ander. Daar sou boekdele en boekdele geskryf kon word oor wat die gemeenskapsorganisasies alles positief doen vir die bewaring van Afrikaners se kultuurerfenis en instandhouding van ons kultuurbakens. Tog is dit dikwels enkelinge wat met ’n geldgebrek alleen moet sukkel. Waar is die ondersteuning van die ander Afrikaners, die skole, die kerke, die entrepreneurs, die Afrikaanse sakeondernemings, die boere? Is ons geskiedenis nie ons almal se verantwoordelikheid nie?

Die FAK gaan later vanjaar ’n beraad vir Geloftekomitees en gemeenskapsorganisasies aanbied om te kyk hoe ons samewerking beter kan koördineer ten einde Afrikanergeskiedenis op elke dorp te bevorder.

NP van Wyk Louw deur Onbekend - Standard Encyclopaedia of Southern Africa via Wikipedia

NP van Wyk Louw deur Onbekend – Standard Encyclopaedia of Southern Africa via Wikipedia

3. Geskiedenisnavorsing deur die NP Van Wyk Louw-sentrum

Die Afrikaanse digter, predikant en koerantredakteur, Izak de Villiers, pleit: “Ons moet ons eie geskiedenis as groep weer in ere herstel, want dit lê op die oomblik aan skerwe. Die skole gaan dit nie vir die Afrikaner doen nie.” De Villiers beskryf die proses as “konfronteer jou duiwels, maar soek ook jou engele. Jy vertrap nie jou eie helde nie, jy bou hulle”. Hermann Giliomee het tereg opgemerk dat Afrikaners soos enige ander gemeenskap net ’n normale geskiedenis wil hê. ’n Geskiedenis met heldeverhale waarop ons kan trots wees, maar ook met foute waaruit ons kan leer.

Ons geskiedenis is net te belangrik om oor te laat aan die ANC se politieke propaganda, sommige Afrikaanses se politieke korrektheid of universiteite se transformasiebeleide. Om dié rede het die FAK ’n voltydse Afrikaanse taal-en-geskiedenisnavorser aangestel wat saam met verskeie meewerkende akademici fokus op Afrikaanse taal- en Afrikanergeskiedenisnavorsing. Die FAK publiseer biografiese profiele van Afrikaanse digters, skrywers, staatsmanne en helde en hou Afrikaners se historiese dagboek en kultuuralmanak op datum. Deur middel van die NP Van Wyk Louw-sentrum word jaarliks verskeie publikasies wat verband hou met historiese en kulturele herdenkingsgeleenthede aan FAK-vriende beskikbaar gestel.

Die FAK se geskiedenisplan is ver van volmaak. Daar is baie werk en dit is harde werk om dít wat vir Afrikaners kosbaar is vir die volgende geslag te bewaar. As Afrikaners nie hiervoor verantwoordelikheid gaan neem nie, wie anders gaan dit doen? Moenie net kritiek op die regering lewer nie. Moenie op die kantlyn staan nie. Raak betrokke. Neem asseblief verantwoordelikheid vir ons geskiedenis in jou gesin, in jou gemeenskap en deur jou ondersteuning van Afrikanerkultuurorganisasies wat ’n positiewe verskil probeer maak.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Danie Langner

Meer oor die skrywer: Danie Langner

Danie Langner is die Besturende Direkteur by die FAK.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Antoinette ·

Dankie – baie insiggewend. Ek vermoed die meeste Afrikaanse mense het skaam geword vir hulle geskiedenis, en ek hoop dat dit sal verander. Ons het baie om op trots te wees. Alle generasies en alle volke maak foute.

JoeV ·

Dit is ‘n briljante idee. Ons het TV afgesit in die huis 12 jaar gelede, met die gevolg dat die kinders nou dink hulle is Amerikaans!
Het lank gedink mens kan geskiedenis op interesante wyse oordra aan kinders van verskillende ouderdomme, met meer inhoud soos wat hulle groot word. My kinders nou 22 en 18 jaar, en het net internet gehad tuis, so vra hulle wie Ronald Reagan is, en hulle andwoord onmiddelik, vra wie B. J. Vorster is, en hulle kyk jou snaaks aan, selfde met LA en Babsfontein? My eie skuld! kan nie wag nie.

Johan Oosthuizen ·

‘n Volk wat sy Geskiedenis minag, vergeet en versmaai verdien nie ‘n toekoms nie. As my herkoms en kultuurerfenis van my ontneem word is daar niks waarop ek my toekoms kan bou nie.
My kleinkinders luister grootoog en selfs oopmond as oupa begin vertel. Ek is tans in Nederland en het vandag in ‘n museum die vreugde beleef toe my kleinseuns hulle verlustig het in hulle voorouers se prestasies en militere paraatheid. Trotse Nederlandertjies en hulle oupa se hartklop. Ons skuld ons kinders ankerplek.

Bierneef ·

Blykbaar gaan Springs van nou af bekend staan as amaBoingBoing.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.