Afrikanergeskiedenis só gesensureer

Jan-Jan Joubert

Jan-Jan Joubert het dit in ’n onlangse rubriek in Beeldnodig gevind om ’n aanval op Hermann Giliomee se interpretasie van apartheid te loods. Volgens Joubert lei Giliomee se poging om apartheid op ’n meer genuanseerde wyse te verstaan, tot niks anders nie as ’n vergoeiliking daarvan nie. Joubert sluit in hierdie verband by Anton van Niekerk van Stellenbosch aan, wat ook soortgelyke uitsprake gemaak het.

In weerwil van die feit dat dit vandag bykans onmoontlik geword het om ’n onbevange gesprek oor apartheid in die media te voer (die dwang om polities korrek te wees is eenvoudig te sterk), kan Joubert se uitlatings nie onbeantwoord gelaat word nie. Sy argumente is daarvoor eenvoudig te ondeurdag.

Eerstens, Joubert het klaarblyklik geen begrip vir die feit dat dit by uitstek die verantwoordelikheid van akademici is om die verwikkelde aard van historiese gebeure – en van die menslike toestand in die algemeen – te verwoord nie. Wat sal gebeur as akademici nie hierdie verantwoordelikheid nakom nie? Dit verg geen groot insig om te weet dat hulle daarmee napraters van een of ander cliché, mode of prekerige gier sal word nie. Joubert kan tog nie verwag dat Giliomee dit moet doen nie?

Tweedens, Joubert begryp nie dat die beskrywing van historiese verskynsels soos apartheid met behulp van die onderskeid tussen ‘goed’ en ‘kwaad’ met die grootste mate van omsigtigheid hanteer moet word nie. Indien dit nie gedoen word nie, loop jy die risiko om slegs jou eie morele verontwaardiging te vertroetel, terwyl die geskiedenis self in die proses geen jota of tittel beter verstaan word nie.

Daarmee word nie gesê dat die kategorieë ‘goed’ en ‘kwaad’ onvanpas is in die beoordeling van historiese gebeure nie. Alvorens hierdie kategorieë egter wild en wakker ingespan word, behoort akademici hulself darem eers van die verwikkelde aard van die historiese gegewe te vergewis. Alhoewel Giliomee vir homself kan praat, is dit m.i. wat hy met sy werk oor apartheid doen. Sy poging om ’n genuanseerde beeld daarvan te ontwikkel, is nie ’n poging om apartheid te regverdig nie. Inteendeel, dit stel hom eerder in staat om ’n veel meer verantwoorde oordeel daaroor uit te spreek as die simplistiese veroordeling waarmee Joubert vorendag gekom het.

Derdens, Joubert se vergelyking tussen apartheid, die kommunisme en die Nazisme is ’n voorbeeld van hoe die historiese gebeure verwring kan word indien jy jouself aan prekerigheid oorgee in plaas daarvan om jou deur ’n sin vir nuanse te laat lei.

Die naaste wat Joubert kan kom om ’n verband tussen genoemde drie politieke ordes te identifiseer, is om te impliseer dat hulle deur ‘geweld’ gekenmerk is.

As geweld egter die rede is waarom hierdie politieke ordes saamgevoeg moet word, waarom hoegenaamd daarby stop? Bykans elke politieke orde van ons tyd word immers deur vorme van geweld gekenmerk. Behoort hulle nie in terme van Joubert se eie maatstawwe ook op hierdie lys nie? Die vanselfsprekende probleem hiermee is dat apartheid so ’n wollerige begrip word dat dit vir alle praktiese doeleindes sy betekenis verloor.

As ons ’n werklik verantwoorde oordeel oor apartheid wil fel, sal anderkant dié wollerigheid getree moet word.
Nogmaals, Giliomee kan vir homself praat, maar die vergelyking wat laasgenoemde in sy werk oor apartheid tussen laasgenoemde en sekere sosiale patrone in die suidelike state van Amerika tref, is geloofwaardiger as die simplistiese vertolking van Joubert. In plaas daarvan dat Joubert egter hierdie vergelyking aan die orde stel, word dit sonder meer van die tafel af gevee.

Vierdens, as ’n mens soos Joubert daartoe neig om die kategorieë ‘goed’ en ‘kwaad’ op ’n simplistiese wyse in te span, lei dit dikwels daartoe dat jy jou eie standpunt met die ‘goeie’ identifiseer. As sodanig is daar natuurlik niks verkeerd daarmee nie. Ons strewe immers daarna om die goeie te verteenwoordig.

Wat egter in berekening gebring moet word, is die risiko wat hiermee gepaardgaan, naamlik om blind te wees vir die ‘kwaad’ van dié kragte wat jyself ondersteun. Joubert is self ’n voorbeeld daarvan.

Joubert het hom reeds telkemale in die verlede tot die liberale tradisie verbind. Vandag bestaan daar egter goeie redes waarom verbande gelê kan word tussen die heersende liberale orde en dinge soos die rampspoedige oorloë in onder meer Irak en Afganistan; die finansiële krisis vanaf 2008; die kulturele verwoesting wat met die globale strewe na onbegrensde winste gepaard gaan; die hedendaagse verlaging van ons menswees tot enkellopende individue sonder enige groter verbintenis; die onberekenbare ekologiese skade wat laasgenoemde aanrig; en les bes, die geweld wat hierdie einste liberale orde in Suid-Afrika in naam van die meerderheid teen die kulturele erfenis van die Afrikaners en Afrikaans as taal pleeg.

As jy blind is vir die ‘kwaad’ eie aan die liberale tradisie, sal jy ongelukkig nie hierdie dinge raaksien nie.
Laastens, daar is ’n neiging onder Afrikaanse kommentators om (klaarblyklik uit hoofde van ’n vertraagde adolessente opstand teen die vadere) ’n sensuur op enige kwessie met betrekking tot die Afrikaners en hulle verlede te plaas. Ironies genoeg geskied hierdie sensuur dikwels in naam van dinge soos ‘openheid’, ‘verdraagsaamheid’ en ‘inklusiwiteit’.

Joubert se rubriek kan ook binne hierdie kader geplaas word. Ook by hom word ’n sensuur in naam van openheid op die geskiedenis toegepas. In ou taal word daarna verwys as ’n ‘selfondermynende kontradiksie.’

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Danie Goosen

Meer oor die skrywer: Danie Goosen

Danie Goosen is voorsitter van die FAK en professor in Godsdienswetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

17 Kommentare

Chris Rossouw ·

Grote woorde van die Professor, maar hy sê absoluut niks! Ons as algemene publiek is van toentertyd deur die Broeder Bond en Vrymesselaars om die bos gelei en belieg en bedrieg. Hoop nie die prof is een nie. Ons hele geskiedenis is een dêm groot cliché!!! Ek het NIKS om oor skuldig te voel nie. Ek het nie die wette gemaak nie en kon niks daaraan doen nie + het nog nooit ‘n slaaf gehad en/of een van ons “boeties” benadeel nie. Die Prof. moet dit maar in sy pyp sit en rook.

Louis du Plessis ·

Goeiedag Danie ~
 
LANK LEEF FEITE EN VRYHEID!
 
1  Die leser van jou bydrae meen aanvanklik jy kies kant vir geskiedskrywing eerder as moralisme. Deur egter kort voor lank aan te voer dat “in die beoordeling van historiese gebeure” is “die kategorieë ‘goed’ en ‘kwaad’” nie “onvanpas” nie, los jy dadelik die deur oop vir moralisering oor geskiedenis.  Dan projekteer jý boonop die denkfout van “selfondermynende kontradiksie” op iemand anders!
 
2  Eerder as om geskiedenis so tegemoetkomend moontlik te probeer verstaan, verwys jy daarom gou-gou moraliserend na “die ‘kwaad’ van dié kragte wat jyself ondersteun”.
 
3  Dit is presies hiervan wat Hermann Giliomee nié ‘n voorbeeld is nie:  As ‘n briljante historikus strewe Giliomee juis daarna om historiese gebeure so feitelik as moontlik weer te gee met begrip vir alle kante en sonder om te regverdig of te veroordeel.  Anders as jou teks hierbo, as Anton van Niekerk en as Jan-Jan Joubert laat Gilomee nie agterdeure oop vir goed en kwaad nie.
 
4  En is dit nie insiggewend wát jy as die “kwaad” aangryp nie?!  Jy val die tradisie van vryheid aan!
 
5  Eers veroordeel jy die oorlog om Irak van ‘n Moslemtiran te bevry sowel as die oorlog teen die militante internasionale Al-Qaeda in Afganistan, wat in 1988 deur Osama bin Laden en radikale Islamekstremiste gestig is, in talle lande selfmoordaanvalle uitvoer, ook op Christelike kerke, en tot ‘n “terroristeorganisasie” verklaar is deur die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad, die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie sowel as die Europese Unie.  Verstaan jy die strategiese implikasies van wat jy skryf?
 
6  Op ‘n eg sosialistiese manier, hou jy hierna die “liberale orde” verantwoordelik vir “die finansiële krisis vanaf 2008”.  En jy sit jou venyn teen die vrye mark voort deur sy “onbegrenste winste” aan “kulturele verwoesting” te koppel.  Wow!
 
7  Danie, net soos verskeie ander elemente van die ideologie wat jy stook, druis jou kwaadwilligheid teen “enkellopende indiwidue” in teen die murg van Afrikanerskap.  Gaan verdiep jou weer in die werke van Afrikanerleiers soos DF Malan en Hendrik Verwoerd en veral in die denker NP van Wyk Louw se geniale Liberale Nasionalisme.  Dwarsdeur sy geskiedenis is die Afrikaner intens aangetrokke tot gesonde indiwiduele selfstandigheid eerder as tot kollektiwistiese siektes.
 
8        Selfs Numsa se kommunistiese hoofsekretaris Irvin Jim kan hierdie anti-oorlog, anti-vrye-mark, anti-indiwidualiteit en anti-westerse gif sowaar nie in ‘n meer verlammende brousel saamklits nie!
 
Met agting
 
 

Danie Goosen ·

Vriend Louis,

Jou kommentaar op my storie is vanweë die misplaaste aard daarvan werklik verstommend. Omdat dit my te lank sal vat om op elke misvatting van jou te reageer, noem ek slegs een of twee sentrale punte.

1. Jy gaan gedorie waar uit van die werklik agterhaalde (en tipies modernistiese) vooronderstelling dat ’n mens vandag nog in die akademiese wêreld duidelik tussen ‘feite’ en ‘waardes’ kan onderskei. (Lees gerus onder meer Leo Strauss se verwoestende kritiek op hierdie onderskeid in sy “Natural Right and History”).

Uiteraard het historici die opdrag om die feitlike gegewe so goed as moontlik aan die woord te stel. Maar ons weet vandag dat elke oordeel oor die feitlike altyd en onlosmaaklik ook deur ’n etiese oordeel onderlê en selfs moontlik gemaak word! Dit is onvermydelik. Trouens, geskiedskrywing daarsonder is gewoon swak geskiedskrywing. As ek byvoorbeeld die geskiedenis van die konsentrasiekampe tydens die Tweede Vryheidsoorlog skryf, en ek sou nie tegelyk ’n etiese oordeel oor die dood van meer as 26 000 vroue en kinders uitspreek nie, sal ek gewoon die feite waarom dit hier gaan verkrag. Ons etiese oordeel daaroor stel ons juis in staat om ook die feite tot hulle reg te laat kom!

Nou, jou verwysings na Hermann Giliomee in hierdie verband is gewoon van die merk af. Giliomee poog as historikus uiteraard om die feite aan die woord te stel. Maar anders as wat jy te kenne gee, handhaaf Giliomee geensins ’n absolute skeidslyn tussen feite en waardes nie. Die talle dinge wat hy deur die jare oor apartheid geskryf het, is juis ’n tipiese voorbeeld daarvan. Terwyl hy apartheid soos min andere onder ons beskryf, word sy beskrywings daarvan telkens deur oordele onderlê, ingeklee en gestempel. Juis dit maak ook van hom so ’n boeiende historikus.

2. Die opmerkings wat jy oor ‘gemeenskap en individu’ maak, is om ten minste twee redes gewoon nonsens.

Eerstens, as daar hoegenaamd iets betekenisvol in jou interpretasie lê, is dit opgesluit in die feit dat jy daarmee duidelik te kenne gee dat jy self, in weerwil van jou protestasies, waarde oordele onder die rok vertroetel. Sodra die begrip ‘liberaal’ in ’n negatiewe sin gebruik word (soos wat ek dit inderdaad doen), is dit kennelik ook die oomblik dat jy jou geroepe voel om jou verbintenis tot die sogenaamde feitlike te vergeet en ewe lustig met jou eie waarde oordele in te spring.

Gepraat van jou voorspraak vir neutraliteit ten opsigte van die feitlike! Jy sien Louis, dit is tipies die probleem met die liberale denke: Dit gee voor om homself slegs met die feitlike besig te hou, terwyl dit altyd ’n waarde oordeel in die agtergrond gereed hou om hulle kritici mee by te kom. In ou taal noem ons dit gewoon ‘dubbele standaarde’.

Tweedens, hoe jy dit regkry om op grond van wat ek geskryf het ’n strakke opposisie tussen ‘individu’ en ‘gemeenskap’ aan my toe te skryf, sal net jy weet.

Gemeenskap en individu staan by my in ’n gesonde wisselwerking. Hulle het mekaar nodig. Sonder sterk individue het ons geslote gemeenskappe; sonder ’n binding aan gemeenskappe het ons met die onverbonde en onverskillige losloper te doen. NP van Wyk Louw se denke, waarop jy jou so lustig beroep, staan presies in die teken van die soeke na so ’n wisselwerking.

As ek oor ‘gemeenskap’ en ‘individu’ dink, bedink ek hulle verhouding in terme van ’n ‘sowel…as’: Sowel die gemeenskap as die individu is belangrik. Die probleem met die liberalisme waarvoor jy kennelik intree, is dat hy nie hierdie verhouding in terme van ’n sowel…as’ kan bedink nie, maar eerder in terme van ’n ‘of…of’, of die individu of die gemeenskap.

Nou ja, dit laat ons met ’n laaste vraag. As bogenoemde korrek is, is dit natuurlik ’n vraag op grond waarvan jy jouself hoegenaamd met die saak van Afrikaners besighou. Watter denkraamwerk gebruik jy om vir Afrikaners in te tree? Die liberale individualisme? Dié raamwerk wat die feit van gemeenskap ontken? Verstommend…

Louis du Plessis ·

Goeiemiddag Danie ~
 
1  Dankie vir jou antwoord.  Wat feite in geskiedskrywing betref:  Dat ‘n mens moet kopkrap om historiese gebeure soos afsonderlike ontwikkeling of township-opstande uit verskillende observasiepunte te beredeneer, beteken nie ons moet, soos kommuniste, één gesigspunt verabsoluteer nie.  Inteendeel!  Nietzsche suggereer tereg dat ons beurtelings “met verskillende oë”, dus, met alternatiewe gesigspunte, sake moet ontleed.  Hermann Giliomee se werke kyk juis uit teenoorgestelde observasieposte na tendense.  Hy vereenselwig hom, soos ander gesaghebbende historici, met uiteenlopende dryfvere.
 
2  Wat Giliomee nie doen nie (al dink jy so):   Hy moraliseer nie oor wie “die goeie” en wie “die slegte” rolspelers is nie.  Dis die soort uitsprake wat ons aantref by moraliste soos Anton van Niekerk, en waarvoor jou eie formulerings hierbo die weg open.
 
3  Hoekom versin jy dit dat ek my “slegs met die feitelike” wil “besig hou”.  Daar is ‘n wesenlike verskil tussen die skryf van geskiedenis en die volg van lewensbeskoulike waardes.  In my kommentaar hierbo het ek nadruklik gekies vir westerse én Afrikanerwaardes, waaronder Afrikanerskap en indiwiduele selfstandigheid, laasgenoemde wat jy voorheen gestigmatiseer het met frases soos “enkellopende indiwidue”. 
 
4  Die wenkbroue lig steeds oor die wyse waarop jy, in sosialistiese voetspore, die “liberale orde” verantwoordelik hou vir “die finansiële krisis vanaf 2008”, waarop jy die vrye mark te lyf gaan, en ook oor die bitsige wyse waarop jy die westerse stryd teen terreur etiketteer.  Aangesien jy nou wel in jou antwoord hierbo ‘n deur vir indiwiduele vryheid oopgemaak het, vermoed ek jy sal, as jy opstaan, ook ander strategiese westerse en Afrikanerwaardes inlaat.
 
5  Wat jou laaste vraag betref – oor ‘n denkraamwerk om vir Afrikaners “in te tree”.  Ons liefde vir die Afrikanervolk en geloof in die toekoms is sterk genoeg; ons het nie metafisiese lugkastele daarvoor nodig nie.
 
Beste groete

Danie Goosen ·

Vriend Louis,

Dis goed om vir ’n slag bietjie reguit met jou te gesels. Wie het gesê dat daar nie iets vrugbaar in ‘n goeie ou konflik steek nie? Dankie daarvoor.

1. Omdat jy nie die argument begryp nie, naamlik dat ’n mens kwalik tussen ‘feite’ en ‘waardes’ kan onderskei (en dat feitlike oordele dus tegelyk ook waarde-oordele kan wees), antwoord jy nie my sentrale punt nie.

Gaan lees Hermann Giliomee se jongste artikel oor apartheid waaroor al die bohaai gaan. In sy beskrywing van die ‘feite’ kom hy by implikasie tot ’n sekere ‘waarde-oordeel’, naamlik dat apartheid nie so boos was as wat Jan-Jan en kie voorgee nie. Dus, Giliomee self steun nie op die sterk onderskeid tussen ‘feite’ en ‘waardes’ wat jy aan hom toedig nie. Hyself spreek ook ’n waarde-oordeel uit.

Trouens, as Giliomee dit nie gedoen het nie, sou hy waarskynlik nie die gramskap van Jan-Jan op die hals gehaal het nie. Dit is juis omdat hy oordeel dat Jan-Jan reageer.

2. Jy praat van die ‘Westerse’ waardes asof ek my daarteen sou opstel. Dit is tog gewoon ongeldig. Die vraag is wat ons met ‘Westers’ bedoel. Om een of ander duister rede aanvaar jy dat ‘Westers’ sonder meer met ‘liberaal’ saamval, en dat ek my vanweë my kritiek op die liberale ideologie tegelyk ook téén die Weste afgrens.

Nou, sal ons in ’n gesprek gaan oor wat die begrip ‘Weste’ beteken? Kan ek jou op die vanselfsprekende wys, naamlik dat ‘liberaal’ slegs een te midde van ander ideologiese strominge is wat uit die einste Westerse wêreld kom? En dat daar, dankie tog, ook ander denktradisies is wat eweneens vanuit die Westerse wêreld stam (en waarby ek met groot dankbaarheid aansluiting vind). As ek dus kritiek op die liberale tradisie uitspreek, beteken dit nog hoegenaamd nie dat ek kritiek op die Westerse gedagte as sodanig uitspreek nie.

Moet ek ’n naam daaraan gee? Ter wille van eenvoud kan dit as die ‘konserwatiewe’ tradisie beskryf word.

Terloops, die denker waarna jy verwys, naamlik die nimlike Nietzsche, is een van die sterkste moderne kritici van die liberalisme. Nugter weet hoe jy hom binne jou liberale denke tuismaak.

3. In jou wêreld is jy nog kennelik vasgevang in die opposisie tussen ‘liberaal’ en ‘sosialisties’ (‘kommunisties’). Uit my kritiek op die liberalisme lei jy af – sonder om jou van die ‘feite’ te vergewis waaroor jy so ernstig voel – dat ek dus sosialisties moet wees. Nou ja, dit is gewoon ’n ongeldige afleiding. My eie verhaal oor ons wêreld word by uitstek gevoed deur die motief om anderkant hierdie opposisie te dink.

Genoemde motief word onder meer duidelik as jy weet dat ek ’n omvattende minagting vir die kommunisme het. (Een van die ergste vergrype waaraan talle Westerse intellektuele vandag nog skuldig is, is hulle bedekte apologie vir alles wat kommunisties is).

Op grond van my eie waarde-oordele huiwer ek nie om aspekte van die kommunisme as ‘boos’ te beskryf nie. Vra vir Solzhenitsyn, hy het soortgelyke oordele oor die kommunisme gehad. Indien ons nie hierdie ‘oordeel’ fel nie, neem ons nie die ‘feite’ rondom die kommunisme ernstig op nie.

4. Jy suggereer dat ek ‘metafisies’ is? Ek laat dit by die volgende punt, naamlik dat die liberale modernisme aan ’n ‘sistemiese skynheiligheid’ ly. Waarom? Omdat dit telkens aan die hand van sy kritiek op die sogenaamde metafisika van sy opponente (en uit hoofde van die argument dat die metafisika vandag onmoontlik is), telkens self sy eie metafisika by die agterdeur insmokkel.

Anders gestel: Wil jy suggereer dat die liberalisme nie ook self ’n metafisika is nie? As jy daarvoor val, nou ja …

Groetnis,

Danie

Marius Buys ·

Manne manne manne!

Dit help nie julle baklei oor wie se beurt dit was om die kamphek toe te maak as die leeu voor die tent lê nie. Hy is nou daar en hy wil wit kultuurvleis vreet.

Los die verlede se interpetasie en fokus op die hede. Julle kan in elk geval praat tot julle blou is in die gesig, die ANC sal die geskiedenis skryf soos dit hulle pas.

So lank as wat die Afrikaner onderdruk word sal daar nie regverdigheid wees nie. Genereer eerder samehorigheid in teenkanting teen die ANC se vergrype.

Daar gaan Dan Roodt en verkla die ANC by die statebond vir die vergryp aan Afrikaner menseregte. Wat terloops die aanval van kultuur insluit.

Dít maak vir my baie meer sin as om te probeer kant kies in ‘n geveg oor ‘n onderwerp wat eensydig deur die Regering van die dag bepaal gaan word.

Maar as ‘n Jan Alleman praat ek natuurlik onder korreksie.

Groete.
Marius

Louis du Plessis ·

Dag Marius Buys ~
 
DAAR IS WERKLIK ‘N LEEU
 
1  Met jou sinvolle voorstel sal ons inderdaad die leeu voor die tent kan aandurf!  Maar ons moet ook die steun probeer kry van iemand soos Danie.
 
2  Sal hy ooit tot enige feitelike gevolgtrekking kom oor wat werklik voor die tent aangaan?  Of sal hy eerder nog sestien argumente uitbewe hoekom “feite” en “objektiewe waarheid” onmoontlik is? 
 
3  Of nog meer:  As hy voel die stryd is te gevaarlik, sal hy die lafhartigheid emosioneel regverdig?  Hoe lang gaan hy met allerlei etiese besware daaroor moraliseer?  Hy vertel hieronder hy “weet vandag dat elke oordeel oor die feitlike altyd en onlosmaaklik ook deur ’n etiese oordeel onderlê en selfs moontlik gemaak word!  Dit is onvermydelik.”  Sal hy dalk kort voor lank nie ‘n leeu sien nie maar net ‘n kat of ‘n muis?
 
4  Voorts, as jy ‘n stryd teen terreur wil begin, soos teen terroriste in Afghanistan, hoe gaan ons die samewerking kry van die pasifistiese Danie, wat soos sy uitspraak hierbo aantoon, sestien redes aanvoer hoekom dit “rampspoedig” sal eindig?  En sal hy môreoggend, wonder ek, elkeen wat deelneem dalk as ‘n oorlogsugtige “modernis” stigmatiseer.
 
5  Marius, as dit net van die besluite van sommige kenteoretiese nihiliste afhang, het die leeu lankal by die hek ingesluip.  Maar gelukkig is daar selfgedissiplineerde westerlinge wat vraagstukke met die wetenskaplike metode aandurf!
 
6  Baie dankie vir jou geloof in oplossings!

Danie Goosen ·

Louis en Marius,

Ons moet mekaar soms in die gesprekke oor apartheid gryp. Maar waarom? Om in die verlede vas te haak?

Nee, die gesprekke oor apartheid gaan ten diepste oor die toekoms. Afrikaners het nie ’n kat se kans om die toekoms in te gaan as hulle nie ’n sinvolle antwoord op apartheid kan geen nie. Om dit eenvoudig te ignoreer, gaan niks help nie.

Nou, waarom is die tema van die gemeenskap hier so belangrik? In en deur apartheid het die gedagte van die Afrikaner as ’n eie kultuur-gemeenskap in ’n krisis beland. Soveel so dat ons dikwels dreig – of ten minste kort na die val van apartheid gedreig het – om as gemeenskap uiteen te rafel, en bloot ’n losse versameling individue te word.

Ons kan nie die toekoms tegemoet gaan indien ons nie ons kollektiewe selfrespek herwin en onsself weer as ’n selfrespekterende gemeenskap ‘gekonstitueer’ het nie. Ter wille daarvan is Louis se beroep op mooi dinge soos ‘hoop’ en ‘geloof’ natuurlik pragtig. Maar ons het ook denke nodig oor hoe om onsself weer as ’n lotsverbonde gemeenskap (‘volk’) te verstaan.

Uiteraard kan dit nie denke wees wat geen plek vir die individu het nie. Nee, dit moet eerder een wees wat ruim plek daarvoor laat. Maar ons grootste opgawe is om ons kollektiewe selfrespek te herstel.

Gelukkig gebeur dit reeds, veral deur die talle instellings onder ons mense wat op ’n suksesvolle wyse vir onsself as gemeenskap intree. Apartheid is egter steeds ’n meulsteen om ons nekke. Hoe gaan ons daarvan ontslae raak? Deur dit in die oë te staar en krities daarmee af te reken.

Ten slotte, Louis, jou vreemde toedig van passivisme aan my is die enigste ding wat my – vir ‘n oomblik – verstom-passief laat. My hele storie draai juis rondom die poging om ‘n aktiewe antwoord op die uitdagings van ons tyd te gee…

Groetnis,

Danie

Louis du Plessis ·

Goeiemôre Danie ~
 
SLAGOFFERS OF VERKENNERS?
 
1       Ek dink ek verstaan jou gevoel nou beter nadat ek jou Groot Debat-artikel – Apartheid en skuld – van 16 November 2011 weer gelees het.  Die hele artikel wek die indruk daar net twee opsies:  óf konserwatief óf liberaal.  Die liberales meen apartheid het nie voldoen aan gelykheid, vryheid en broederskap nie, en die konserwatiewes meen die gemeenskappe is ontwrig deur maatreëls soos trekarbeid, instromingsbeheer en paswette. 
 
2  Maar die ergste is, volgens jou:  Sowel die liberales as die konserwatiewes dra almal, alhoewel om verskillende redes, met geboë skouers aan hulle skuld.
 
3  Die vrae wat ek heeltyd stel, is:  Hoekom bly Danie so behep met ‘n emosionele skuldkompleks wat almal moet saamdra?  Wie laat hom so skuldig voel?  Is so ‘n slagoffermentaliteit goed vir Afrikaners?
 
4  Gevolgtrekking 1.  Hou op om jou vooroordele te vertroetel en om oor ‘n skuldkompleks te wroeg.   Dis ook nie nodig om heeltyd te reageer die ANC se paradigma nie.  Swem in jou eie rivier.
 
5  Gevolgtrekking 2.  Dis meer wetenskaplik én opwindend om, saam met historici soos Hermann Giliomee, op ‘n rasionele en feitelike manier, die interessante verlede, hede en toekoms van die Afrikaner te verken, en jou daaraan te wy.
 
Met agting

Danie Goosen ·

Vriend Louis,

Jammer om te sê, maar jy maak – na al die gepraat – steeds die vreemdste uitsprake. Maak dit sin om aan te gaan?

1. Nietzsche is jou held. Maar soos jy weet, is Nietzsche ’n radikale perspektivis. Daarvolgens bestaan daar nie so iets as objektiewe waarhede nie. Trouens, hy beskuldig diegene wat in objektiewe waarhede glo van allerlei lelike dinge (ressentiment, afsku in die lewe, slawe-moraal, ensovoorts).

Nogtans beroep jy jouself ook op die verlossing wat die objektiewe wetenskap vir ons sal bring. Hoe versoen jy Nietzsche se perspektivisme met jou beroep op objektiwiteit? Beide kan tog nie tegelyk (nogal in een en dieselfde persoon) waar wees nie? Nugter weet…dit is nou as selfs nugter sou weet.

2. Nêrens in my verhaal het ek die bestaan van (of die noodsaak vir) objektiwiteit ontken nie. My argument is bloot dat ons objektiewe oordeel meestal deur waarde-oordele onderlê word, met die gevolg dat dit meestal moeilik is om by die werklikheid self uit te kom.

Maar, en dit is die punt, daar is tog ’n reuse verskil om te sê dat objektiwiteit nie bestaan nie en om te sê dat dit moeilik is om by objektiwiteit uit te kom?

3. Die suggestie dat ek die bestaan van die dreigende LEEU ontken, is werklik koddig. Afrikaners staan vandag voor een van hulle grootste uitdagings nog. Is dit werklik vir my nodig om dit te sê?

Die sin van al ons gepraat lê opgesoek in die soeke na ’n antwoord op die dreigende Leeu. Trouens, as dit nie so is nie, moet ons onmiddellik die gesprek staak.

Groete,
Danie

Louis du Plessis ·

Danie ~
 
SKULD OF TROTS?
 
1  Die Afrikaner het oor eeue ‘n samelewing in Suid-Afika gevestig wat die suksesvolste in Afrika was en waarop ons intens trots was.  Sedert die negentigerjare het die minder beskaafdes dit egter begin plunder, weens faktore wat rasioneel verklaarbaar is en oor tienduisend jaar reeds wêreldwyd voorkom waar beskawings kontak maak. 
 
2  Maar pleks om dit te verstaan, moraliseer jy daaroor en voel jy skuldig!  Dis presies my probleem met jou benadering:  moralisering eerder as begrip vir die geskiedenis!  Jy skryf hieronder:  “Apartheid is egter steeds ’n meulsteen om ons nekke.  Hoe gaan ons daarvan ontslae raak?“
 
3  Dis met diep kommer dat ek sien hoe die meerderheidsras daarin geslaag het om apartheid tot ‘n skuldkompleks in die diepste van jou psige as ‘n lid van die minderheid te omskep.  Dis ‘n ernstige gevaarteken. 
 
4  Ek is bekommerd.

Danie Goosen ·

Ou Louis,

Apartheid is hoegenaamd nie ‘n meulsteen om my nek nie. Ek praat van talle Afrikaners wat dit nog as sodanig ervaar. Kortom, my kommer le by daardie Afrikaners wat deur die skuld verlam en aan ‘n gevaarlike sin van onttrekkking oorgegee word.

Ai, miskien moet ons begin by module 101 in die ‘kuns van lees.’

Hiermee onttrek ek my nou eers van die gesprek met jou, omdat dit werklik onsinnige dimensies aangeneem het.

Groete,

Danie

Louis du Plessis ·

 Goeiemiddag Danie ~
 
1  Toe jy “die nimlike Nietzsche” noem, het jy ‘n brug tussen ons gebou, waaroor ons saam kan stap, minstens wat enkele kenteoretiese pilare betref.  Weens sy kompleksiteit, spreek ek my hier maar uiters versigtig en voorlopig oor hom uit.
 
2  Eerstens.  Nietzscheaanse perspektivisme oordeel tereg dat ons sake indringerder begryp as ons met verskillende oë daarna kyk.
 
3  Tweedens.  Moralisme is ‘n geestelike siekte, eerstens by ‘n gemeenskap, want gemeenskappe kan hulle primitiewe eensydigheid skaars verhelp, soos Dirk Opperman dig:
 
As enkeling toon ons groot genade
maar as massa op parade
stoot ongekende kragte ons tesaam
tot wraak en gruweldade

4  Maar moralisme is veral ‘n siekte by die enkeling, wat, soos Opperman tereg aantoon, dit kán verhelp.  In “Menschliches Alzumenschliches – ein Buch für freie Geister” / “Menslike altemenslik – ‘n boek vir vrye geeste”, wat ek destyds by die Nietzsche-Archiv in Weimar gekoop het, waarsku Nietzsche (in seksie 39) “richten ist soviel als ungerecht sein” / “om te oordeel is om te veroordeel”.  Later skets hy die groei van menslike begrip (seksie 51): “eine neue Gewohnheit, die des Begriffens, Nicht-Liebens, Nicht-Hassens, Überschauens, plflantzt sich allmählich in uns” / Ek vertaal vry:  “‘n nuwe gewoonte, dié van begryp, om eerder as liefhê of haat ‘n oorsig te kry, skiet geleidelik in ons wortel”.  Hy voorsien dat oor millennia, wanneer ons ophou moraliseer het oor als, sal ons weens ‘n hoër blik uiteenlopende dryfvere en aktiwiteite veel indringerder kan verstaan en verklaar.
 
5  In “Die fröhliche Wissenschaft” / “Die vrolike wetenskap” ontrafel hy elemente van sowel perspektiwisme as van niemoralisme, en lig die nut van radikale eksprementering met niemoraliserende observasieposte waarskynlik nêrens skerper toe nie as in “Jenseits von Gut und Böse – Vorspiel einer Philosophie der Zukunft” / “Anderkant goed en kwaad – voorspel van ‘n filosofie van die toekoms”.  Baie beskou laasgenoemde as een van die kenteoretiese meesterwerke van alle tye. Ek gaan akkoord.
 
Met agting

Ebert ·

Beste Danie en Louis,

Ek moet sê dat ek jul vuur terdeë geniet het. Vir my bring dit beslis meer insig in jul denke.

Maar uiteindelik reken ek dat dit net soveel julle agtergronde is wat besig is om te bots.

Die filosoof sien iets wat as ‘n waarheid voorgehou word aan as sy volgende maal; terwyl die soldaat ‘n waarheid benodig om voor te veg.

Dit wil vir my voorkom asof die soldaat die groter stamina vir die geveg het, maar ek is oortuig daarvan dat beide van julle van onskatbare waarde vir die res van ons is; by ons waar die klem ongelukkig val op die dom van Afrikanerdom.

Louis, in reaksie op Dirk Opperman se gedig wil ek noem dat gemeenskappe wel hul euwels het, maar dat beskawing en al die voordele wat dit vir ons bring ‘n spansport is. So het Indivuele vryheid ook beide wondere en euwels. Ek beroep my graag op individuele vryheid om my van groepsmag te beskerm en ook op groepsmag om my van individue te beskerm. Individuele vryheid blom slegs daar waar die groep dit koester.

Danie, ek het ook simpatie vir Louis se aanhang vir die “objektiewe waarheid” selfs al is dit nie almal se waarheid nie (en al kan wetenskaplike metode baie dinge nie verklaar nie), want daarsonder sal al die onsekerhede van die wêreld my nog banger maak as wat ek reeds vir die donker is.

Dalk kan julle mekaar in die middel ontmoet – by ‘n paar bottels rooiwyn in Orania.

Groete

Gemsbok ·

Louis, ‘n paar gedagtes van my kant af:

1. Ek dink nie dit is in die gees van die oop gesprek om etikette van “nihilis” en “pasifis” om Danie se nek te hang nie. Pasop dat dit nie lyk soos desperate taktiek deur ‘n aanvoerder wat hom op ‘n onbekende slagveld bevind nie.

2. Danie se punt dat ons slegs persepsies van die werklikheid kan verwoord wanneer dit oor komplekse sosiale gebeure gaan, word bevestig deur die uiteenlopende oortuigings wat jy en Jan-Jan (jou ideologiese bedmaat) oor ons Apartheidsverlede (en Verwoerd) huldig.

3. Jan-Jan is by uitstek iemand wat daarvan hou om ‘n skuldkompleks onder Afrikaners aan te wakker en te vertroetel. Hy is ook nie ‘n niksnuks nie, maar iemand wat die omvangryke podium van Naspers tot sy beskikking het om sy propaganda mee te versprei. Danie se bekommernis oor die impak hiervan op ons volk (veral op die van swakker oortuiging as jy of wat beïnvloedbaar is, soos ons kinders) is geldig.

4. Indien die verguisers van die Afrikaner se verlede ons vyand is, volg jy en Danie twee verskillende taktieke. Jy sê: “Staan sterk manne, ons is beter as dit”. Danie sê: “Ons vyand se voete is ook van klei”. Ek dink beide taktieke is waardevol in ons veldtog en nie teenstrydig nie.

5. Ons is almal dankbaar vir die voordele wat indiwiduele vryheid vir ons bring. Om op die gevare van indiwiduele vryheid wat verabsoluteer word te wys, is nie ‘n ontkenning van die voordele van indiwiduele vryheid nie. Tewens, selfondersoek maak indiwiduele vryheid meer volhoubaar. Die effek van oordrewe indiwiduele vryheid op die agteruitgang van gemeenskaplikheid in die Weste is vir ieder en elk waarneembaar. Wat dink jy gaan gebeur met indiwiduele vryheid indien die gemeenskappe wat indiwiduele vryheid koester, verdwyn? Ek stel dit aan jou dat indiwiduele vryheid saam met daardie gemeenskappe sal verdwyn. Balans is die sleutel tot ‘n gesonde lewe. Balans tussen konserwatief en liberaal was altyd ‘n hoeksteen van die Weste. Soos enige ideologie wat verabsoluteer word, gevare inhou, hou die verabsolutering van liberale vryheid ook gevare in. So ook die verabsolutering van konserwatisme, maar die gevaar wat die Weste vandag in die gesig staar is die eersgenoemde en nie die laasgenoemde nie. Danie is dus reg in sy waarskuwing oor die tekortkominge van liberale vryheid. Ek dink hy het dit baie goed gestel.

Groete.

Louis du Plessis ·

Goeiedag Ebert en Gemsbok ~
 
EENSTEMMIGHEID
 
1  Dankie vir julle albei se besonder deurdagte en gebalanseerde kommentaar oor die aggressiewe wyse waarop ek en Danie Goosen met mekaar gesels het.
 
2  Julle albei meen tereg Danie Goosen en ek strewe versoenbare doelwitte binne dieselfde veldtog na.  Volgens Ebert benader ons die geskiedenis net uit verskillende “agtergronde” terwyl Gemsbok meen ons volg “verskillende taktieke”.
 
3  Ek erken ek het te vinnig op Danie Goosen se artikel-uitsprake reageer oor byvoorbeeld verbande tussen (sy woorde) “die heersende liberale orde en dinge soos die rampspoedige oorloë in onder meer Irak en Afganistan; die finansiële krisis vanaf 2008” en “die kulturele verwoesting wat met die globale strewe na onbegrensde winste gepaard gaan.”  Ook op Goosen se aanval op “enkellopende indiwidue”.
 
4  In verontwaardiging het ek toe opgemerk:  “Selfs Numsa se kommunistiese hoofsekretaris Irvin Jim kan hierdie anti-oorlog, anti-vrye-mark, anti-indiwidualiteit en anti-westerse gif sowaar nie in ‘n meer verlammende brousel saamklits nie!”  Dalk moes ek net geswyg het.
 
5  Die rede hoekom ek met Danie in gesprek getree het, was juis omdat ek dié soort radikalisme nie van hom verwag het nie.  Wees seker:  As ‘n persoon het ek hom nog altyd gerespekteer en sy insig bewonder, soos in die komplekse denke van Nietzsche.  Maar ek is seker, hy kan tereg ook sê dat hy ook nie van mý sulke radikale uitsprake kon verwag nie.
 
6  Ek gaan veral volledig akkoord met julle nadruk op die noodsaak van konserwatief én liberaal, gemeenskap én indiwidu, en veral op die bou van brûe.
 
Met hoë agting en dank

Mari ·

[Mari. Jou boodskap is verwyder. Herformuleer asseblief sonder om byna alles in hoofletters te skryf. ~Red.]

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.