Afrikanerkultuur veel meer as braaivleis, rugby en sonneskyn

Net voor Erfenisdag gesels vier jong Eskom-ingenieurs met my oor wat hulle op dié dag moet doen. Eskom vier jaarliks Erfenisdag, en werknemers moet hul onderskeie kulture daar uitbeeld.

“Ons wil nie kakieklere dra nie,” sê een beslis. “Ons het maar besluit om rugbytruie aan te trek, vir ons afdeling ’n braai te hou, en miskien Theuns Jordaan se ‘Beautiful op Beaufort-Wes’ te speel.”

“Julle kan dit gerus doen,” antwoord ek. “Julle hoef ook nie kakieklere te dra nie. Ons Westerse kultuur kan nie verskraal word tot ons taal, sport en kakieklere nie.”

“Het jy dan ’n ander voorstel?” vra die een. “Julle kan eintlik net soos gewoonlik werk toe gaan en doen wat julle altyd doen,” begin ek. Hulle kyk my verbaas aan.

“Enige kultuur het harde- en sagteware waarvan party oorvleuel en sommige verskil van ander kulture s’n,” sê ek. “Die kragstasie vergestalt Westerse hardeware soos wetenskap en tegnologie. Daarmee word ’n vryemarkekonomie aangedryf, wat ’n Westerse oorsprong het. Julle dienskontrakte en werksomgewing spruit uit die Romeinse regsorde.”

Kulturele sagteware

“Kom ons kyk na die Westerse sagteware. Julle werk lang ure oortyd om die land se ligte te laat skyn. Dis Westerse waardes soos werksetiek en verantwoordelikheid. Julle kla omdat Eskom nie mense op meriete aanstel nie, dat vergaderings gewoonlik laat begin, daar nie genoeg dissipline gehandhaaf word nie, en dat sosialistiese vakbonde teen ‘alles’ in opstand kom. Julle is ontsteld oor die korrupsie van die voormalige Eskom-hoofde en die swak regering.

“Die Eskom-krisis en die spanning in die werksplek is ’n mengsel van ’n ideologiese ‘koue oorlog’ en ’n ‘botsing tussen beskawings’ oftewel konflik tussen kulture,” sê ek. “Daarby sien ek dat die gereelde arbeidsonrus en voortslepende krisis in Eskom in werklikheid ’n opstand is teen ons Westerse kultuur en wat daaruit voortspruit. Dit lyk ál meer of ’n groot deel van die regering en sekere senior Eskom-werknemers nié Westerse instellings soos die markekonomie, wetenskap en tegnologie, die regsorde en die grondwetlike demokrasie ondersteun nie. Dieselfde met die tradisionele Westerse kulturele sagteware soos die Calvinistiese werksetiek, tydsbegrip, meritokrasie en persoonlike verantwoordelikheid wat die moderne ekonomie moontlik maak.”

“Maar baie van ons swart kollegas werk net so hard soos ons en is net so ontsteld oor al die korrupsie en die swak regering,” sê een, terwyl die ander instemmend knik.

Ander kulture

(Foto: pixabay)

“Ek bedoel nie hierdie hardeware en sagteware is nét Westers nie. Ander kulture het ook baie dele daarvan, of het hul kulture daarby aangepas,” sê ek. “Die Weste is immers nie ’n ras nie, maar ’n kultuur- en lewensbeskouing. Individuele lede van ander kultuurgroepe kan verwesters, of het dit reeds ten volle of minstens gedeeltelik gedoen.”

As bewys van dié verskuiwing wys ek hulle op die Chinese wat reeds dele van Westerse kapitalisme aanvaar het, maar nie die demokrasie en regsorde nie. So ook het die Russe taamlik oppervlakkig die demokrasie en kapitalisme aanvaar, maar nie die persoonlike vryheid, regsorde of eiendomsreg van die Weste nie. Net so het die Japanners, Indiërs, Afrikane en Moslems selektief dele van die Westerse kultuur aanvaar.

“Baie dele van ons kulture oorvleuel, ander verskil, en sommige dele vertolk ons net heeltemal anders. Daarom moet ons juis dit waaroor ons saamstem, uitlig en beklemtoon. Al deel ons nie altyd gemeenskaplike sienings nie moet ons in gemeenskaplike belang saamwerk.

Geen foutlose kultuur nie

Ek het later weer twee van die ingenieurs raakgeloop. Hul Erfenisdag het toe goed afgeloop, laat weet hulle my.

Die Westerse kultuur is nie foutloos nie. Dit was deur die eeue heen verantwoordelik vir dieselfde historiese euwels as dié van ander beskawings – soos slawerny, oorlog en verdrukking. Niall Ferguson, Britse historikus, reken dat die Westerse kulturele pakket vandag nog steeds die beste beskikbare stel ekonomiese, maatskaplike en politieke instellings bied. Hy beskou nie ander kulture as die grootste bedreiging vir die Westerse kultuur nie, maar eerder Westerlinge se slapheid en die historiese onkunde wat dit voed.

’n “Kultuur”, of breër gestel, ’n “beskawing”, is in wese die tekste wat in tye van verdrukking in sy skole onderrig word en deur sy leerders geleer en onthou word, aldus Ferguson. Wat gebeur in Suid-Afrika? Word NP van Wyk Louw se groot Afrikaanse tekste nog in skole behandel? Te veel kinders weet nie van Louw se Raka, Totius se Besembos, of J van Melle se Bart Nel nie.

Braaivleis, rugby en lekker musiek is sekerlik ook deel van die Afrikaner se kultuur, maar kultuur is veel meer. Dis ’n leefwyse; dit is wie en wat ’n groep is en waaraan hulle as vanselfsprekend glo. Dit is stelsels of hardeware – soos die regsorde, die markekonomie, wetenskap, tegnologie en demokrasie – én dit is waardes of sagteware – soos persoonlike verantwoordelikheid, werksetiek, tydsbegrip, dissipline en gesinstrukture.

Die Afrikaner se Westerse kultuur is uit die skat van die Christelike geloof en lewensbeskouing uit Jerusalem opgebou, ’n denkwyse uit antieke Athene, en ’n samelewingsorde uit Rome. Daarvandaan is dit deur die groot Westerse omwentelings gevorm, naamlik die Protestantse Hervorming van die sestiende eeu, die Renaissance van die veertiende tot die sewentiende eeu, die Verligting van die agtiende eeu, en die Nywerheidsrewolusie wat in die agtiende en negentiende eeu plaasgevind het.

Afrikaners is Westers

sonskyn.jpgAl bly die Afrikaner in Afrika, is dit ’n Westerse volk met Westerse waardes. Die verwatering van die Protestantse geloof, ’n afname in die geboortesyfer en ’n verswakking van die waardes wat die Weste suksesvol gemaak het, is enkele van die grootste uitdagings wat die Weste tans ervaar.

Die historiese verswakking van die Weste en die opkoms van ’n sterk nie-Westerse blok vind samelopend plaas. Dit kan selfs tot ’n magsverskuiwing na die Ooste lei, gevolg deur ’n gelyktydige verskuiwing weg van Westerse waardes, soos wat Suid-Afrika ná die 1994-magsverskuiwing ervaar het. Arnold Toynbee, Britse historikus, het betekenisvol gesê dat Afrikaners in Afrika ’n mikrokosmos van die Weste in die wêreld is.

Dit is egter bemoedigend dat vooraanstaande denkers aan topuniversiteite, soos Oxford en Harvard, die afgelope jare meer klem op die belang van die Westerse beskawing se tydlose sukseswaardes plaas. Ons Westerse skatkis bevat die volgende juwele:

  • die Christelike erfenis;
  • die Europese taal- en kultuurerfenis;
  • die oppergesag van die reg;
  • ’n selfstandige burgerlike en gemeenskapslewe;
  • verteenwoordigende en deelnemende instellings;
  • persoonlike vryheid;
  • eiendomsreg, ondernemerskap en die vryemarkekonomie;
  • wetenskap, tegnologie en die mediese wetenskap;
  • werksetiek; en
  • die verbruikersamelewing met sy klem op lewensgehalte en lewenstandaard.

David Landes, Harvard ekonomiese historikus, het selfs gesê dat kultuur die grootse bepaler van voorspoed of armoede is.

Die vraag is of die Westerse kultuur in Suid-Afrika die ANC se aanslag daarop kan oorleef. Die VN het al verklaar dat ’n gewone demokrasie en grondwetlike waarborge van individuele regte nie voldoende vir multinasionale state is nie. Hul stel dit prontuit: “As die geskiedenis van die twintigste eeu iéts bewys het, is dit dat pogings om kultuurgroepe weg te wens, of in die meerderheid te laat opgaan, eerder ’n lewenskragtige kulturele herlewing uitlok.”

Demokrasie sonder kulturele vryheid is inderdaad net vryheid vir die demografiese meerderheid. Dit is die rede hoekom kulturele vryheid ʼn voorwaarde vir voortbestaan is, en moet ons onsself sterk daarvoor beywer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan ·

Ek het juis nogal voor die 24ste Sep hierdie gewonder of braaivleis al is waaruit ons Afrikaner kultuur bestaan. Die manier wat Flip dit veruidelik gee nuwe perspektief daaraan. Dankie vir die plasing.

groenboer ·

‘n Baie goeie skryfstuk, maar dit laat maar steeds die vraag oor wat presies ‘n Afrikaner nou eintlik is. Ja, ‘n westerling. Maar ‘n Duitser is ook ‘n westerling. Tog het die twee groepe nie presies dieselfde kultuur nie. Wat maak ons anders? Die Afrikaanse taal? Ja, maar kleurlinge is ook Afrikaanssprekend, tog sal meeste van hulle heftig ontken dat hulle Afrikaners is.

Kultuur is een van daardie dinge wat jy onmiddellik herken as jy hom, tog is dit uiters moeilik om jou vinger te sit op wat presies dit is.

Dit daar gelaat. Flip Buys is reg: oral deur die weste het ‘n bisarre tipe selfhaat ontstaan. Ons is besig om af te breek wat ons voorouers eeue geneem het om te bou, dikwels met hul eie bloed.

Vrijburger ·

Dankie vir hierdie perspektief.

En nog ‘n aanhaling van Toynbee relevant tot gebeure in die hedendaagse Weste: “Civilizations die from suicide, not by murder”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.