Afrikanerlesse vir die ekonomie

SEB-swart-ekonomiese-bemagtiging

Foto: Rawpixel/Pixabay.com

Dr. Theuns Eloff, uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting, sê in treffende kommentaar op Maroela Media ná die hele Eskom-debakel en die verlies van wit kundigheid in die dryf na transformasie: “Kom ons sien die olifant in die kamer raak. Of liewer, kom ons erken openlik daar is ’n ander olifant in die kamer as staatskaping. Dis die olifant van sleg toegepaste regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging. Dis die olifant wat gevoed word deur die ANC-regering se obsessie met ras, en die ideologie van rassetransformasie. Dis die olifant wat ’n dieet van 80:9:9:2 gevoed word – alle staatsinstellings (en al hoe meer privaat sektorinstellings ook), moet in geheel en in elke klein onderafdeling, die nasionale rassedemografie van 80% Afrikane, 9% wit mense, 9% bruin mense en 2% Indiërs weerspieël. En dit geld of daar nou kapasiteit is of nie. En die voer van die olifant word vererger deur die klaaglike mislukking van die land se onderwys- en opleidingstelsel. Daar kom gewoon nie genoeg goed gekwalifiseerde swart Suid-Afrikaners deur om al die poste te vul nie.”

Die woorde van Eloff som die probleem op. Dit moet vir enige waarnemer duidelik wees dat slegs ʼn baie klein deel van die bevolking enigsins gebaat het by al die verskillende ekonomiese beleidsrigtings van die ANC-regering wat sedert 1994 toegepas is.

Dit is binne hierdie omgewing waar ʼn ryk swart klas gevestig is terwyl die gaping van swart armoede net toegeneem het. Dit is gevolglik onbillik om die skuld vir die huidige ongelykhede voor die wit bevolking se kop gooi of hulle nog steeds te ontrek uit die arbeidsmag deur die toepassing van ʼn stiksienige ideologie.

Veel eerder moet dit vir elke waarnemer duidelik wees dat die vele rasgedrewe beleidsraamwerke en strategieë van die ANC-regering droewiglik misluk het. Dit sluit in kaderontplooiing en verwys spesifiek na swart ekonomiese bemagtiging, regstellende aksie, kwotas en soveel ander versiersuiker waarmee die ideologie toegesmeer word.

Moeletsi Mbeki, politieke waarnemer en broer van ʼn voormalige president, het reeds in September 2011 ernstige kritiek uitgespreek teen die regering se beleid van swart ekonomiese bemagtiging deur te sê dat dit niks gedoen het vir die meerderheid Suid-Afrikaners nie. Hy gaan verder deur te sê “If the big economic players want to see economic freedom they should support entrepreneurship and not the institutionalised corruption that is BEE.

Vandag in 2019 pluk ons die wrange vrugte van staatskaping wat plaasgevind het onder die dekmantel van Swart Ekonomiese Bemagtiging.

Prof Grietjie Verhoef van die Universiteit van Johannesburg sê in ʼn referaat in Junie 2008: “Die SEB-inisiatief het geheel en al verander van ʼn privaat sektor-gedrewe proses met die doel om belangegroepe te vestig sodat die aard van die ekonomiese stelsel behoue kan bly, tot ʼn program van statutêr gelegitimeerde bateoordrag met sanksies tot nadeel van partye wat die oordrag belemmer of teenstaan.

Dié program word in die gees van die regstelling van historiese benadeling geregverdig, oftewel ‘skuldvereffening’.”

Wat die ANC en die regering nog nie besef het nie, is dat die staat nie die armoede en werkloosheid in Suid-Afrika kan oplos nie. Geen staatsinmenging sal dit kan bewerkstellig nie, en die skinkbord-ekonomie wat Suid-Afrika se ekonomie kenmerk deurdat slegs enkeles in die politieke elite bevoordeel word met SEB, en miljoene afhanklik word van die welsynstaat, is nie volhoubaar nie. Die afhanklikheid wat deur bogenoemde ekonomie gekweek word, is rampspoedig en die kloof tussen arm en ryk word net al hoe groter.

Veel eerder kan daar uit die verlede geleer word en is die Afrikaners se selfhelpprogramme net so, indien nie meer nie, toepaslik, op vandag se omstandighede.

Prof HB Thom, rektor van die Universiteit Stellenbosch sê by geleentheid in 1956: “Jare lank het die Afrikaner teen armoede geworstel. Ons het aanskou hoe talle Afrikaners welvarend geword het, hoe Afrikaners op die platteland goeie inkomstes uit hul boerdery gekry het en hoe Afrikaners in dorpe en stede ‘n groter aandeel aan die professies en aan die handel en nywerheid begin neem het.

“Daar het ook ‘n groot wonderwerk plaasgevind: die kwellende, aangrypende probleem van honderdduisende armblankes (arm wit mense) het verdwyn. Dit is waar dat ons kongresse en ander vergaderings gehou het en naarstiglik na weë en middele gesoek het om hierdie probleem op te los, dit is waar dat baie van die armes na die dorpe en stede gegaan het waar hulle ten gevolge van ‘n ongekende toename in werksmoontlikhede nuwe middele van bestaan gevind het.”

Dr MS Louw, medehoofbestuurder en later besturende direkteur van Sanlam, sê met die ontvangs van die eerste Verwoerd-prys in 1965, onder meer: “…Ons kan nie ons regmatige deel van die handel en nywerheid opeis nie. Ons kan slegs deel word daarvan deur daarvoor te werk – met ons eie kragte en ons eie spaargeld. Ons moet as ondernemers optree in die sakewêreld, en ons eie ondernemings stig en uitbou – skeppingswerk doen.”

Boegenoemde twee aanhalings van Afrikaners in die groeityd van die Afrikaner lê aan die kern van die oplossing vir Suid-Afrika se huidige probleem. Prof Verhoef kom tot die gevolgtrekking in haar referaat: “Die Afrikanerinisiatiewe om ekonomiese bemagtiging te verwesenlik, het nooit enige owerheids- of statutêre sanksionering geniet nie. Die regering het in geen stadium bepaal dat gegewe proporsies van bestuur of aandeelhouding van groot sakeondernemings na Afrikaners ‘oorgedra’ moes word nie.

“In die Afrikanerstrategie was die verkryging van beheer ʼn geleidelike groeiproses wat deur eie harde werk verwerf moes word, die risiko’s moes verreken word en indien dit slaag, met sukses beloon word.”

Afrikaners het ekonomiese vryheid verwerf deur ʼn ander ingesteldheid as dié van afhanklikheid, en ʼn toewyding tot harde werk en ʼn bereidheid en ingesteldheid om “onder te begin.”

Dit is ʼn feit van die geskiedenis waarop Afrikaners tereg trots kan wees.

Suid-Afrika sal eers ekonomiese vryheid bereik indien die regering sou sê: Ons moet minder praat ten opsigte van swart Suid-Afrikaners se aandeel in die ekonomie, maar meer van hul bydrae tot die ekonomie. Dit kan slegs bereik word indien daar ʼn besef by die ANC en sy leiers is dat niemand ‘n groter deelname in die ekonomie kan eis sonder eie inisiatief en harde werk nie.

Dit is bemoedigend dat al hoe meer organisasies na vore tree om weer die hand uit te steek en hulp aan te bied. Solidariteit moet geloof word dat hulle aanbied om te help met die vaardigheidstekorte by Eskom. Net so is daar baie ander kundigheid en ervaring wat wag om ontsluit te word.

President Ramaphosa sluit die onlangse Staatsrede af deur te sê: “Die taak om ʼn beter Suid-Afrika te bou, is die kollektiewe taak van ʼn nasie, die mense van Suid-Afrika.”

Dit is die regte boodskap, maar die realiteit en die toepassing daarvan deur rasgedrewe uitsluiting het Suid-Afrika ʼn paar dae in duisternis gehul.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jan Bosman

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Gert

Uitstekende artikel, dit noem baie dinge wat deesdae glad nie gesê word nie, en wat lyk asof dit nie gesê mag word nie. Ek wil net met een stelling verskil: Waar genoem word dat SEB verkeerd toegepas word: Anders as die DA dink ek nie SEB word verkeerd toegepas nie, ek dink nie daar is iets soos ‘n regte manier vir SEB nie. Die filosofie agter dit is inherent verkeerd: Mense word beloon of bevoordeel op grond van velkleur. Dit skep ‘n skeefgetrekte ekonomie waar verskillende mense in dieselfde posvlak erg verskillende kwalifikasies en vermoë het, en dus erg verskillende… Lees meer »

OÏKOFOOBsemaai

Afrikaners kán hulself ophef, sonder die staat se hulp, hulle moet dit net besef en besluite in daardie rigting begin neem. Moenie langer kosbare tyd, energie en hulpmiddele vermors om ʼn stelsel wat al vir 24 jaar bewys word as ʼn mislukking te probeer laat werk nie.

Rasper

Wat word agter die skerms gepraat? As ek die trant volg van al die artikels wat geplaas word, dan lyk dit my daar is klaar besluit oor ons toekoms…. Skrop jou plekkie in die son, want lank terug het die Afrikaners dit reggekry. So asof dit ‘n resep is wat net so herhaal kan word. Al die mening vormers skryf oor hoe ons binne die huidige bestel verantwoordelikheid moet aanvaar vir ons, en die res van Suid-Afrika. Ons met net elke keer hoop en bid dat die president van die dag ons genadig is. Gelukkig is daar nie ‘n tweede… Lees meer »

Jerry

Dit is die kollektiewe taak van die nasie om die ekonomie op dreef te kry. Dit is oor tien jaar die kollektiewe taak van die ANC elite en revolusionere kaderontplooiing, uitgesluit die nasie, om die ekonomie wat op dreef is, weer te plunder. Pogings om die ANC te help om die ekonomie weer op dreef te kry maak die ANC ryker, sterker en magtiger as tevore en die nasie armer en neem SA net nog nader aan die ANC strewe van n sosialistiese staat. Die ANC en vakbonde moet nie gehelp word nie, die nasie moet gehelp word en dit… Lees meer »

Afrikaner

In die nuwe SA het die wit mense die slaansak geraak, in die ou dae was die swart mense nooit die slaansak nie.