Afrikaners, Afrikaanses en die ideaal van nasiebou

hande-in-sirkel

Kulturele vryheid is Suid-Afrika se antwoord op die vrae oor nasiebou sê Danie Langner van die FAK. Argieffoto.

Die spanning van totalitêre nasiebou

Nelson Mandela het na afloop van die verkiesing op 27 April 1994, ʼn versoenende hand na Afrikaners uitgesteek met die woorde: “Die uitdaging van die nuwe patriotisme is nie een van ʼn keuse tussen Afrikanerdom en Suid-Afrikanerskap nie. Inteendeel, dit is gewis oor die genesende versoening van Afrikaners met volle Suid-Afrikanerskap.” Nasiebou was ʼn nuwe gonswoord wat ʼn gemeenskaplike toekoms vir Suid-Afrikaners moes ontsluit. In praktyk het selfverryking deur korrupsie, regstellende aksie, ideologies gedrewe transformasie, kaderontplooiing, die soustrein, die brutaliteit en omvang van plaasmoorde, tesame met ʼn  misdaadgolf, die potensiaal van nasiebou ondergrawe.

Die grootste enkele rede vir die huidige mislukking van nasiebou is die ANC se onverbiddelike nasionaal-demokratiese rewolusie wat hulle op Suid-Afrikaanse gemeenskappe afdwing. In die naam van nasiebou onderbeklemtoon die ANC die veelvoud van identiteite en gemeenskappe om sodoende die klimaat te skep waardeur hulle ʼn eensydige meesterverhaal op Suid-Afrika afforseer. Die kriminalisering van Afrikanergeskiedenis as ʼn misdaad teen die mensdom is nodig om suksesvol nuwe raswette en beleid te implementeer. Die donker kante van die strugglegeskiedenis word onder die dekmantel van nasiebou in skoolgeskiedenishandboeke versag, verswyg, subtiel verdraai of in heldeverhale omtower, terwyl Westerse geskiedenis en spesifiek Afrikanergeskiedenis, grotendeels as sleg en boos uitgebeeld word.

Radikale aktiviste word suksesvol as voetsoldate ontplooi om deur geweld op kampusse en in gemeenskappe ʼn klimaat vir transformasie te skep soos wat tans op NWU, Stellenbosch en Elsenburg-landboukollege gebeur. Ongeag universiteitsgemeenskappe, studente en donateurs se taalkeuse word daar uiteindelik, dikwels met die heelhartige samewerking van rektors, ʼn klipharde ideologiesgedrewe Engelse taalagenda geïmplementeer onder die voorwendsel van gelyke geleenthede, nasiebou, versoening en geregtigheid. Jong Afrikaners wat na 1994 gebore is, nooit apartheid geskep het of daarvoor gestem het nie, moet nou deurloop. Afrikaans is maar net die verskoning om jong Afrikaners en hul ouers by te kom.

Johannes Degenaar het reeds in 1995 gewaarsku teen die oppervlakkige kunsmatigheid van die ANC se totalitêre nasiebouprojek. Ongelukkig het sy tydige waarskuwing op dowe ore geval. Teen die draai van die eeu het baie Afrikaners hul kulturele selfvertroue verloor om as Afrikaners op te staan en standpunt te stel. Uit vrees vir etikettering, beskuldigings oor apartheid en etnosentriese verwyte, het sommige Afrikaners berouvol, gewillig, gedienstig en gedwee na allerhande maniere gesoek om polities korrek voor die regering se totalitêre nasiebouprojek te buig.

Wimpie de Klerk het teen die laat negentigs Afrikaners beskryf as kroes, kras en kordaat en gepleit dat Afrikaneridentiteit in die gees van nasiebou verruil moet word vir die term Afrikaanses. Volgens De Klerk is Afrikaners: “Letterlik inmekaar gekrul, siek, olik. Afrikaners is aan die rondmaal soos ʼn klomp vasgekeerde skape … Dan is daar die hinkepink Afrikaners wat etikette om hulself hang: die ontnugterdes; die rigtingloses; die sinici; die magteloses; die bedruktes; die beswaardes; die afwagtendes wat wag op ʼn kaptein wat weer hekke sal oopmaak … Ander klein volkies is in hul kroesheid uiteindelik uitgewis.”

Gaandeweg het sommige Afrikaners en kultuurorganisasies op die wenk van De Klerk hul Afrikaneridentiteit begin ontken en die nuwe gonswoordjie Afrikaanses omhels. Afrikanerskap is as eksklusief, uitsluitend beskryf; as iets waaroor mens eintlik skaam behoort te wees. Vreemde terme het ontstaan, soos wit Suid-Afrikaanse Afrikaanses of wit Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners. Hierdie terme word deur sommige as polities korrek beleef, maar dui eerder op interne koersloosheid. Selfs al verval die woordjie Afrikaanses toenemend in onbruik, word Afrikanerskap steeds deur sommige Afrikaanse koerante en taalorganisasies as ʼn verfoeilike, illegitieme verskynsel beskou wat liefs ter wille van nasiebou agterweë gelaat moet word.

Afrikanerorganisasies en individue wat opstaan vir hul (grondwetlike) reg om ook Afrikaner te mag wees, word voor die voet uitgebeeld as konserwatiewe, regse karikature. Wanneer Afrikaners hulle uitspreek teen die marginalisering van Afrikaans, die kwalik bedekte verengelsingsagenda aan Afrikaanse universiteite ontmasker, beswaar maak teen staatsverval en vele ander onregmatighede, word hulle beskuldig dat hulle vasklou aan apartheid. Wanneer organisasies deur positiewe selfdoenaksies verantwoordelikheid neem om te red wat te redde is en terselfdertyd soek na werkbare toekomsoplossings, word hulle beskuldig dat hulle hulself isoleer en anti-versoenend is.

Venyn en verdagmakery teenoor Afrikaners word deur sommige Afrikaanses, weliswaar net in hulle eie oë, as ʼn bewys van verbintenis tot nasiebou en versoening beskou. ʼn FAK-verslag wat wys op die eensydige geskiedenis en growwe feitefoute in skoolhandboeke wat boonop deur ʼn hoogsgerespekteerde geskiedenisdosent nagesien is, word summier deur ʼn Afrikaanse koerant afgemaak as “leuens” en dat dit “moeilik lees”.

As Afriforum beswaar maak teen die totalitêre nasiebouprojek en geskiedenis in perspektief probeer stel word hulle deur ʼn joernalis (wat self nog nie eers die film gesien het of Afriforum se kongres bygewoon het nie) oor die vingers getik dat hulle “mense bang praat”, of nog erger, “mense afvallig maak.” Afvallig van wat? Die polities-korrekte beskuldigings teen Afrikanerorganisasies en hul “benoude lede” word in die openbare media rondgeslinger in dieselfde week waar Afrikaans aan nog ʼn kampus sterf en nog ʼn kollege brand.

Die vreemde verskynsel is egter dat terwyl hierdie media enorme interne spanning in hul strukture beleef weens vervreemding van hul nismark sodat hulle lesers en lede vinniger verloor as wat China se aandelebeurs geval het, Afrikanerorganisasies vandag ʼn nuwe groei en dinamika beleef. Wat is die rede?

ʼn Eietydse kultuurstrategie

Die verlies aan politieke mag met die ontbinding van die Nasionale Party het Afrikaners gedwing om nuwe toekomsstrategieë te bedink. Onder leiding van die FAK het twintig Afrikaner-kultuurorganisasies teen 2000 met mekaar begin beraadslaag oor maniere om anderkant die kulturele verstarring en diep verdelingslyne van die vorige eeu te tree.

Afrikaners wou nie hulfself isoleer nie, maar anderkant apartheid na nuwe balans tussen kerk, volk en staat soek. Tom Dreyer, destydse hdoofleier van Die Voortrekkers, het as voorsitter van een van die gespreksgeleenthede, verduidelik: “Ons moet almal dieselfde ideaal hê, naamlik dat Suider-Afrika ʼn veilige en voorspoedige woonplek vir almal sal wees. Kulturele vryheid is belangriker as wat die meeste mense besef. Ongelukkig voel jy eers die gemis as jy dit verloor het. Kulturele vryheid beteken dat Afrikaners hul taal en kultuur ongehinderd kan uitleef en dieselfde vryheid ook aan die ander burgers van die land gun, want hulle bou aan die ideaal van ʼn land waar elke kultuurgroep se kinders en kleinkinders in voorspoed, veiligheid en kulturele vryheid kan woon.”

Hierdie idees het sedert 2000 neerslag gevind in ʼn nuwe 21ste-eeuse kultuurstrategie wat breedweg deur Danie Goosen beskryf word as: “ʼn beweging weg van staatsafhanklikheid na gemeenskapselfstandigheid; weg van die sindroom van wag op die staat se inisiatief na deelname aan eie gemeenskapsinstellings; weg van die teleurstellings in die staat na ʼn benadering wat self skep, self handel, self die toekoms oopmaak. Dit is ʼn kultuurstrategie wat gekenmerk word deur ʼn nuwe kulturele woordeskat, kulturele vlugvoetigheid en die wegbeitel van uitgediende benaderinge.”

Afrikaners het hulself begin herorganiseer in sterk burgerlike en kulturele organisasies. Die Voortrekkermonument, Voortrekkers, FAK, SAOU, Fedsas, Dameskring, Solidariteit, Rapportryers en Pretoria FM het saam met vele ander organisasies hulself herorganiseer en nuut verpak. Nuwe Afrikaner- burgerlike organisasies soos die Erfenisstigting, AfriForum, Maroela Media en Afrisake het op die toneel verskyn en maak vandag ʼn beduidende verskil. Met die verskyning van die internet het globale omgewingsprobleme en internasionale tendense ook deel geword van Afrikaners se daaglikse doen en late. Vandag staan Afrikanerorganisasies, gemeet aan internasionale standaarde, op die voorpunt van moderne tegnologie en kulturele entrepreneurskap.

Die grootste skuif het egter op ideële terrein plaasgevind. Baie van die ideële grondskuiwe vind steeds onder die oppervlak plaas en is nog nie duidelik sigbaar in die openbare oog nie. Die nadelige gevolg is dat moderne Afrikaners steeds deur die bril van die verlede deur sommige mense beoordeel en veroordeel word. Ironies genoeg, meestal nie deur die ANC nie, maar deur Afrikaanses wat hardnekkig vasklou aan die uitgediende totalitêre nasiebouprojek en hul ou persepsies, ou denke, ou konsepte en ou woorde wat ontstaan het in die vorige eeu.

Die meeste middelgrondsoekende Afrikanerorganisasies definieer vandag Afrikanerskap lankal nie meer vanuit die staatsafhanklike volksidioom van die vorige eeu nie, maar vanuit ʼn eietydse en internasionaal erkende gemeenskapsidioom, waar eerder gefokus word op dít wat ons met mekaar in gemeen het, as dít waaroor ons verskil.

Afrikanerskap word subjektief, dinamies en ruimteskeppend vertolk aan die hand van vryheid van assosiasie. Afrikanerskap is vanuit selfdefiniëring ʼn eie keuse; ʼn vrye vereenselwiging met die gemeenskap en sy geskiedenis en aanvaarding deur hulle. Vereenselwiging met “ons” beteken nie selfverheerliking of stelling inneem teenoor “hulle” nie.

Afrikanerskap staan ook nie meer in spanning of in isolasie teenoor ander identiteite nie, maar saam met ʼn veelvoud van identiteite. Moderne Afrikaners vind hulself gemaklik in ʼn veelvoud van identiteite. Hulle deel ʼn gemeenskaplike Westerse herkoms, maar is terselfdertyd volledig deel van Afrika. Afrikaners het hul taal, Afrikaans en hul identiteit as Afrikaners na Afrika vernoem. Hierdie verskillende identiteite, of vorme van burgerskap, kan breedweg as volg beskryf word:

  • Afrikanerskap – deel van ʼn kultuurgroep
  • Burgerskap – deel van die medeburgers in jou land
  • Taal – deel van ʼn Afrikaanse taalgemeenskap
  • Afrikaan – deel van Afrika
  • Internasionaal – deel van wêreldburgerskap

Afrikaners het nuwe kulturele begrippe ontwikkel waarmee hulle vandag suksesvol inhoud aan die eietydse kultuurstrategie gee. Enkele van die belangrikste kultuurbegrippe is die volgende:

Kulturele of gemeenskapsvryheid: Gemeenskapsvryheid beteken dat kultuurgemeenskappe hul taal en kultuur ongehinderd kan uitleef en self kan besluit oor sake wat hul gemeenskap raak, soos onderwys. Kulturele vryheid word nie net deur die grondwet erken nie, maar is ook ʼn internasionaal erkende begrip wat deur die VN aanvaar is as ʼn internasionale strategie waar minderhede se taal-, kulturele- en politieke regte gewaarborg kan word. Dit word reeds suksesvol in verskeie lande toegepas.

Vryheid van selfverwesenliking: Die grondwet waarborg die vryheid van keuse. Persone kan ook vryheid in en deur hul gemeenskapsinstellings ervaar wanneer hulle deur selfdoenplanne en uitnemende dade hul volle potensiaal verwesenlik. Deur selfverwesenliking ervaar die individu en gemeenskap geluk en trots. Die vryheid van selfverwesenliking is ʼn voorwaarde vir ʼn florerende kultuurgemeenskap.

Kulturele selfvertroue: Afrikaners wat as Afrikaners ʼn nuwe kulturele selfvertroue ontwikkel om trots te wees op hul verlede, te leer uit hul foute en hulle as kultuurgemeenskap laat geld oor kwessies wat hul gemeenskap raak.

Kulturele volwassenheid: ʼn Lewenshouding wat gekenmerk word deur wedersydse respek, verdraagsaamheid en erkenning van diversiteit en ander kultuurgroepe.

Kulturele burgerskap: Vandag woon trotse Afrikaners nie net in Suider-Afrika nie, maar in bykans elke ander land in die wêreld. As trotse en positiewe landsburgers van die Republiek van Suid-Afrika, Namibië, Brittanje, Australië, Kanada, Nieu-Seeland, die VSA of enige ander land waar ʼn Afrikaner ʼn landsburger is, respekteer Afrikaners daardie land se nasionale simbole, gehoorsaam hul wette en ondersteun die nasionale sportspanne. Afrikaners stem in verkiesings, betaal belasting en lewer, soos alle landsburgers behoort te doen, ʼn positiewe bydrae tot die land se toekoms.

Burgerskap word bepaal deur staatsgrense, maar Afrikanerskap word nie ingeperk deur hierdie grense nie. Daarom verduidelik Koos Malan Afrikaners is ook burgers van ʼn kultuurgemeenskap. Hy sê: “Kulturele burgerskap hou stand, ongeag die verandering van staat, regerings en grondwette. Ons kan die waarde van ons kulturele burgerskap nouliks onderskat. Ons behoort te weet – en so kan baie van die beste presteerders onder Afrikaners getuig – dat die kultuurgemeenskap waartoe ons behoort, die voedingsbron bied van waar die beste vrugte juis gedra kan word. Wanneer ons ons Afrikaner-burgerskap opneem om die veilige voortgang van ons gemeenskap te verseker, maak ons dit derhalwe terselfdertyd moontlik vir toekomstige Afrikaners om danksy hul gesonde gemeenskap te kan floreer.”

Kulturele vryheid as die nuwe grondslag vir nasiebou

Anders as wat dikwels deur die ANC en Afrikaanses voorgegee word, is middelgrondsoekende Afrikaner-kultuurorganisasies vandag allesbehalwe afsydig teenoor nasiebou. Afrikaners besef deeglik dat Suid-Afrika se toekoms afhanklik is van goeie verhoudinge en die noodsaaklikheid dat Suid-Afrikaners anderkant apartheid nuwe gemeenskaplike grond moet vind. Kulturele vryheid is allesbehalwe isolasie, onttrekking of ʼn nuwe apartheid soos wat sommige Afrikaanses graag sou wil beweer. Kulturele vryheid skep die grondslag vir blywende vreedsame saambestaan gebou op wedersydse respek en erkenning. Deur kulturele vryheid word stewige boustene vir ʼn polities- en kultureel volwasse samelewing gelê aan die hand van ʼn demokratiese verstaan van nasiebou.

ʼn Demokratiese verstaan van nasiebou forseer nie, soos die ou totalitêre nasiebouprojek van die negentigerjare, ʼn eensydige meesterverhaal op die hede en toekoms af nie, maar put diepte uit die ruimteskeppende erkenning en akkommodering van verskeie kulture, tale en verhale. Soos wat alles in die nuwe Suid-Afrika nie net sleg is nie, weier moderne Afrikaners egter om te aanvaar dat alles in hul verlede net sleg was. Afrikaners beskou ʼn gebalanseerde en bestendige debat oor die verlede as ʼn noodsaaklike voorwaarde en bousteen vir die ontwikkeling van ʼn eietydse demokratiese begrip van nasiebou.

ʼn Demokratiese begrip van nasiebou plaas nie verskillende identiteite in spanning met mekaar nie, maar skep ʼn akkommoderende ruimte en respek, omdat diverse identiteite juis die boustene van ʼn gesonde nasie is. As identiteite ontken word, word ʼn nasie juis verarm. ʼn Demokratiese begrip van nasiebou soek na balans tussen eenheid en veelheid. Die totalitêre nasiebouprojek beklemtoon slegs die eenheid, terwyl diegene wat van nasiebou afstap, slegs die veelheid oorbeklemtoon.

ʼn Demokratiese begrip van nasiebou bied die geleentheid vir gemeenskappe om eie verantwoordelikheid vir hul geskiedenis en kultuur te neem, self te besluit oor plaaslike sake en hul kinders se onderwys, maar ook om gemeenskaplike grond te vind met betrekking tot brandpunte en ekonomiese kwessies wat almal raak.

Kulturele vryheid bied toekomshoop

Anders as wat doemprofete beweer, het Suid-Afrika steeds die potensiaal om ʼn wenland te word met oneindigende toekomsmoontlikhede. Dit is immers hier in Afrika waar ons as Afrikaners ons Christelike roeping uitleef en vir ons kinders en kleinkinders ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms wil skep. Kulturele vryheid skep ʼn grondwetlike ruimte vir gemeenskappe wat ook hul kulturele identiteit en erfgoedere wil beskerm,  maar dit bied veel meer. Kulturele vryheid bied ʼn werkbare suksesmodel om blywende en stabiele nasiebou te bewerkstellig.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Danie Langner

Dr. Danie Langner is besturende direkteur van die FAK en die Voortrekkermonument.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Bruno Stef ·

Danie dit is die werklike omstandighede waaronder sovele van ons Afrikaners vandag probeer om sin te maak aan gebeure daagliks rondom ons.Die brein spoelings onder De Klerk en andere in die verlede het tot die afvalligheid en traak my agtigheid van sovele van ons Afrikaners gely wat hulle self as A-polities vandag beskou en daarop maak De Klerk se opvolgers wat deur hom gementor was vandag nog staat.Dit is n groot taak wat julle jonger manne het om dit wat bymekaar hoort weer bymekaar te bring alle sukses ek glo met die nodige ywer en harde werk kan julle daarin slaag om ons saak so te bevorder.

Alwyn Beetge ·

Uitstekend verwoord deurdie skrywer. Stef se byvoeging is ook nodig.

Ampie ·

Joe, dis ‘n mondvol. Mens kry hoop as belangrike kultuurorganisasies so duidelik pro-Afrikaner is. Doen so voort!

Attie Snyman ·

Hierdie is die mees insiggewende, gebalanseerde en weldeurdagte artikel wat ek nog oor hierdie onderwerp gelees het. Briljant! Dankie Danie!

Willem Boshoff ·

Waarom is dit dat die Afrikander verplig voel om die land te red, ten koste van die oorlewing van sy historiese kultuur. Feit is, dit is nie meer ons land nie, ons woon in hierdie land. Die Afrikander het n regerings gebonde volk geraak, wat wag op die regering om hom te beskerm. Dit gaan nie gebeur nie, dit is nie die regering se verantwoordelikheid nie. Nou is ons ontevrede omdat ons nie genoegsame samehorigheid onder mekaar te kry om saam te staan om sodoende om te sien na ons eie nood. Nee, ons wil eers die land red. En wat doen die Jode, Greike, Portugeese, Italiaaners, Japanese, en ja, Muslims. Hulle kyk na hul eie belange en oorleef. Tot en met so n tyd dat die Afrikaans spreukendes nie mekkaar vind nie, gaan hulle die regering bly blameer vir hul eie kortsigtigheid en verdeelt probeer oorleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.