Afrikaners en Tirolers se historiese bande

Flip Buys en Jaco Kleynhans, hoof van buitelandse skakeling van die Solidariteit Beweging, voor die 12de eeuse Maretsch-kasteel waar die Afrikaner-verklaring onderteken is.

Met die begin van die Anglo-Boereoorlog in 1899, het ʼn groep Oostenrykse Tirolers ʼn boerevereniging, oftewel “Burenverein”, gestig om die Boere te ondersteun.

In Desember 1900 het die vereniging vanuit Bozen, die hoofstad van die Suid-Tiroolse provinsie, ʼn “Bozner- Burendeklaration” aan President Kruger gestuur. Dit was ʼn boodskap van solidariteit, bewondering en steun vir die Boere. Dit is deur meer as 300 Tiroolse leiers onderteken, waaronder die burgermeester van Bozen. Die oorspronklike boodskap wat aan die Transvaalse verteenwoordiger in Nederland oorhandig is, is vandag nog in die Krugermuseum in Pretoria te sien.

Dit het nie net by praat gebly nie, en ʼn groep Tirolers het vir die Boere kom veg, waaronder die edelman Anton von Goldegg und Lindenburg. Sy suster het saam gereis om by die Rooikruis Ambulans aan te sluit wat die Boere bygestaan het. Lindenburg het die bevelvoerder van die Oostenrykse Vrykorps geword.

Napoleon

Die Tirolers was begeester deur wat hulle as ooreenkomste met hulle eie geskiedenis gesien het. Hierdie klein volk van bergboere het onder leiding van Andreas Hofer in 1809 ʼn heldhaftige stryd geveg teen Napoleon se Franse, die wêreldmag van daardie tyd. Talle Tirolers is aangevuur deur die ooreenkomste met die Boere se vryheidstryd en verset teen imperiale magshonger. Die Tiroolse digter Anton Renk het ʼn digbundel publiseer, en die skilder Franz von Defregger het na die oorlog ʼn funksie vir generaal De la Rey in München gereël om fondse vir die heropbou van die land in te samel.

Generaal Jan Smuts

Die Duitse provinsie van Suid-Tirool is in Noord-Italië. Die provinsie is outonoom, omdat die 320 000 Tirolers gekonsentreerd in die klein gebied van 7 400 vk km bly (Lesotho is 30 000 vk km). Daarteenoor bly Afrikaners yl verspreid regoor Suid-Afrika wat 1,2 miljoen vk km groot is, en het weens die landswye verspreiding nie outonomie nie.

Suid-Tirool is na die Eerste Wêreldoorlog van Oostenryk afgesny en aan Italië gegee, wat aan die kant van die Britse oorwinnaars geveg het. Dit het gelei tot die verdrukking van die Duitssprekende Tirolers deur die Italianers, veral toe die Fascis Benito Mussolini die bewind oorgeneem het. Dis toe generaal Jan Smuts die Tirolers te hulp gesnel het. Smuts was gedryf deur sy eie ondervinding as lid van ʼn klein volkie wat teen ʼn supermoondheid moes veg. Hy het tydens die Anglo-Boereoorlog moed geput uit ʼn boek wat hy oor Andreas Hofer en sy Tirolers se stryd teen Napoleon gelees het, en het geweet van die Tirolers wat die Boere kom help het. Smuts het as lid van die Britse afvaardiging op ʼn konferensie van die Geallieerde Oorwinnaars op 8 Augustus 1945, geëis dat Suid-Tirool aan Oostenryk teruggegee moes word. Hy kon nie die Amerikaners en Sowjetunie daarvan oortuig nie. Tydens die Vredeskonferensie van Parys in 1946/ 47 het hy hom suksesvol vir beperkte outonomie van Suid-Tirool beywer.

Dit was die begin van die erkenning van Suid-Tirool as ʼn outonome provinsie in die noorde van Italië. Die droom van volle outonomie is eers in 1972 bereik in ʼn ooreenkoms tussen Oostenryk en Italië. Hiervolgens is die outonome provinsie Suid-Tirool geskep, waarbinne die Duitse minderheid ʼn meerderheid in Suid-Tirool geword en outonomie gekry het. So kon hul voortaan oor hul eie sake besluit, en kry sowat 90% van hulle belasting terug om self dienste aan hulle inwoners te lewer. Die Suid-Tirolers is nou van die veiligste en welvarendste gemeenskappe in Europa.

Konsentrasie

Die Duitssprekende Tirolers is omtrent 320 000 mense in ʼn Italiaanse bevolking van 60 miljoen. Dit beteken dat hulle net sowat 0,5% van die land se bevolking uitmaak. Desondanks hulle klein getalle, is hulle digte konsentrasie in die provinsie Suid-Tirool die rede dat hulle 90% outonomie het. ʼn Mens kan nie anders as om soos voorheen in die geskiedenis, die Tirolers met Afrikaners te vergelyk nie.

Afrikaners is met omtrent 2,7 miljoen mense sowat 5% van die land se bevolking. Dis veel meer as die Suid-Tirolers. Tog het ons vanweë ons landswye yl verspreiding geen outonomie nie, en beheer die ANC feitlik elke deel van ons lewens. Dit spreek vanself dat meerderhede minderhede wil oorheers en nie outonomie aan hulle wil toestaan nie. Die Tirolers het ʼn lang stryd teen Mussolini en die Italianers gevoer voordat outonomie amptelik erken is. Tog het net 350 000 Tirolers se digte konsentrasie in een klein provinsie, beteken dat hulle in die praktyk beheer oor talle Tiroolse gebiede, dorpe en instellings gehad het, selfs voordat die Italianers dit erken het. Die rede hiervoor was hulle konsentrasie, en nie die Italianers se welwillendheid nie.

Daarteenoor bly Afrikaners landswyd as verspreide minderheid, en besluit die meerderheid feitlik orals oor ons. Hierdie yl verspreiding is die grondoorsaak van die wydverspreide staatsverval, die landswye toepassing van radikale rassewetgewing, druk op Afrikaanse skole, misdaad en selfs plaasaanvalle op eensame opstalle. Dit is nou maar so dat die vlak van outonomie bepaal word deur die vlak van konsentrasie van ʼn gemeenskap.

Geskenk aan die mensdom

Dr. Luis Durnwalder

Die voormalige premier van Suid-Tirool, dr. Luis Durnwalder, het reeds in 2015 die Toekomsberaad van die Solidariteit Beweging oor hulle pad na outonomie toegespreek. Hy het daarop gewys dat outonomie ʼn vredesmodel van demokratiese saambestaan sonder die oorheersing van getalle beteken.

In ʼn wêreld vol etniese spanning, staan Suid-Tirool as ʼn baken van vryheid, vrede en voorspoed uit. Suid-Tirool is wel klein, maar staan vir ʼn groot idee − die idee van outonomie. Post-koloniale state se grense is meestal kunsmatig deur die koloniale meesters getrek, en na onafhanklikheid oorheers die demografiese meerderheid die minderhede. Sonder kulturele outonomie, is net die meerderheid in ʼn demokrasie werklik vry. Hierdie “tirannie van die meerderheid” teister talle post-koloniale state, en meer as een is al deur hierdie konflik verskeur. Dit is ook een van die aanleidende oorsake van die huidige oorlog in Oekraïne.

Die suksesverhaal van Suid-Tirool is taamlik onbekend, maar om die regte redes. Daar is nie konflik en spanning soos in meer bekende brandpunte soos Noord-Ierland, Libanon of Sirië nie. Hierdie en baie ander multinasionale lande is om die verkeerde redes aan die wêreld bekend, omdat hulle gekenmerk word deur etniese konflik.

Daarom is Suid-Tirool se suksesvolle outonomie hulle geskenk aan die mensdom, omdat dit ʼn antwoord bied vir die probleem van ʼn “demografiese demokrasie”, waar die meerderheid deur hulle getalle oorheers.

Historiese bande hernu

Die ondertekening van die Afrikaner-verklaring is deur verenigings vanuit Tirool, Vlaandere, Duitsland, Oostenryk en Hongarye bygewoon.

Die merkwaardige eeuelange vriendskap tussen Tirool en Afrikaners is onlangs hernu toe daar weer in Bozen ʼn verklaring van steun aan Afrikaners onderteken is. Dit was onder leiding van die Tirool-Afrikaner-vriendekring wat twaalf jaar gelede in Bozen gestig is. Hierdie keer is die verklaring van steun vir Afrikaner-outonomie nie net deur die Tiroolse vriendekring geteken nie, maar ook deur vriendekringe in Vlaandere, Nederland, Oostenryk, Duitsland en Hongarye. Die ondertekening is die begin van ʼn proses van steunwerwing vir groter Afrikaner-outonomie in Europa, wat nou op groter skaal uitgebou gaan word.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

groenboer ·

Flip Buys en sy kollegas gaan onder Afrikaners nog dieselfde statuur hê as Andries Pretorius of Paul Kruger.

Nou ja, of ons hardkoppige volkie ooit in ‘n enkele gebied gaan saamtrek sal ons maar nog moet sien. Almal wil ‘n volkstaat hê, en elkeen wil hê sy huidige woning moet min of meer in die middel van die volkstaat wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.