Afrikaners het oorlewingsvrees en dan maak hulle só…

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Ek lees verlede week in die koerant dat die Stellenbosse historikus prof. Albert Grundlingh pas ’n biografie van wyle dr. Frederik van Zyl Slabbert gepubliseer het. Die boek is op my bestellysie, en ek kan dus geen werklike oordeel daaroor vel nie – behalwe om te sê dat ek Grundlingh as ’n deeglike en genuanseerde historikus ken.

Ek wil die verskyning van die biografie dus vandag eerder gebruik as kapstok om oor die haat-liefde-verhouding tussen Afrikaners en Afrikaner-dissidente in die algemeen te skryf.

Ek verwys veral na mense soos Bram Fischer, Beyers Naudé en Nico Smith, mense wat radikaal met hul agtergrond en ander Afrikaners gebreek het. Daar was ook dissidente wat binne gehoorsafstand van hul eie volk gebly (of probéér bly) het, soos Piet Cillié, Schalk Pienaar, Rykie van Reenen Jaap du Rand, Slabbert en Max du Preez (ofskoon laasgenoemde sake reg tot op breekpunt gespan het).

Fischer, Naudé en Smith se breuk met hul eie mense was só radikaal dat die meeste Afrikaners hulle totaal uitgespoeg het. En tog het al drie in hul mentaliteit, die absoluutheid waarmee hulle húl waarheid verkondig het, geensins van die ander 99,9% van die Afrikaners afgewyk nie. In wese het hulle Afrikaners geblý, al het die Afrikaners hulle verwerp.

Die ander groep, wat min of meer binne gehoorafstand gebly (of probeer bly) het, is net so interessant.

Mense soos Cillié, Pienaar, Van Reenen , Du Rand en Slabbert het belangrike aanvoorwerk gedoen om die skille van Afrikaner-oë insake die praktiese en morele onhoudbaarheid van rassediskriminasie en apartheid te laat afval. Die einde van apartheid in 1994 – wat, met die voordeel van agternakennis al in 1948 volstrek onvermydelik was – is vergemaklik deur hul werk.

Hulle het vanuit ’n vertrekpunt van “verligte” Afrikanernasionalisme met hul eie mense gepraat. Hulle het hul Afrikaneridentiteit met trots gedra, al was hulle dikwels in kwaai debatte met die meer konserwatiewe Afrikaners gewikkel.

Selfs Max du Preez, wat by wyse van spreke 2 mm van Fischer, Naudé en Smith se radikale breuk gekom het, het Afrikaner gebly en sy mense selfs deur ’n Afrikaanse koerantjie, Vrye Weekblad, tot sy standpunt probeer oorhaal.

Die vraag is: Waarom het ons Afrikaners só rof met andersdenkendes omgegaan? Die antwoord kan in een woord saamgevat word: Oorlewingsvrees.

Regdeur ons geskiedenis was die Afrikaners ’n klein minderheid in ons eie land. Dat ons onsself kon handhaaf, was te danke aan ons aandeel aan die politieke en ekonomiese mag.

Die politieke mag is aanvanklik deur die koloniale stelsel (eers was die Nederlanders baas, en toe die Engelse) verseker. ’n Paar dekades lank in die 19de eeu het ons twee onafhanklike Boererepublieke gehad wat ’n beter waarborg was, maar teen 1902 was dit ook daarmee heen.

Toe het twee stormwinde op die Afrikaners afgestuur. Die een was die enorme druk van die Engelse politieke, kulturele en ekonomiese oorheersing om te verengels; die ander die moontlikheid van ’n swart opstand en magsoorname.

Sulke omstandighede was nie bevorderlik vir ’n vrye en liberale debat oor die inrigting van die samelewing nie. Die debat het gegaan oor letterlike ondergang of oorlewing.

Dit het beteken dat Afrikaners moes sáámstaan as hulle hoegenaamd ’n kans wou hê om te oorleef. Die debatte tussen die Natte en Sappe – waarin wit heerskappy geen werklike twispunt was nie – was min of meer die verste waartoe die Afrikaners kon gaan.

En dus is mense soos Fischer, Naudé en Smith tot diep in die jare tagtig in die verste buitenste duisternis uitgewerp. Hulle is beskou in dieselfde lig as die National Scouts van die Anglo-Boereoorlog, mense wat die wapen teen hul eie volk opgeneem het.

Selfs die “halwe” dissidente – Cillié, Pienaar, Van Reenen, Du Rand en Slabbert – moes dit by veral die ultra-konserwatiewe element ontgeld.

Maar is die (op sigself histories verklaarbare) onverdraagsaamheid waarmee andersdenkendes destyds benader is, werklik noodsaaklik? Getuig dit van ’n volwasse volk, of oorheers die oorlewingsvrees steeds, veral noudat die voorheen ondenkbare gebeur en die swartes die politieke mag oorgeneem het?

Kom ons tref hier ’n prinsipiële onderskeid. ’n Pleidooi vir verdraagsaamheid is nie dieselfde as ’n pleidooi ten gunste van die ANC nie – selfs Max du Preez het blykbaar nou ingesien dat die ANC verantwoordelik is vir die swakste regering in Suid-Afrika se geskiedenis. Jy kán die morele onhoudbaarheid van apartheid en rassediskriminasie erken én terselfdertyd die ANC as ’n korrupte party kritiseer.

Die internet het talle voordele gebring, maar deur die sosiale media ook nadele. Omdat mense byna absolute vryheid het om al hul positiewe en negatiewe gevoelens – dikwels anoniem – met die ganse wêreld te deel, verwar hulle dikwels twee dinge met mekaar: Vrye denke en die reg om gruwelik te beledig.

In die proses kom die ou vooroordele – afkeer van die ánder (hoe dit ook al gedefinieer word) – na vore. En dan sneuwel die vermoë om ’n beskaafde, rasionele gesprek te voer waar dit gaan om standpunt teen standpunt, pleks van belediging teen belediging.

Maar in dié omstandighede word daar opnuut besonder rof omgegaan met diegene wat gesien word as links, liberaal, sosialisties, regs, rassisties, verkramp, vul self maar in. Net soos in die vorige eeu speel féite en lógika by baie mense hoogstens ’n sekondêre rol.

Ons sal nooit in der ewigheid oor alles met mekaar saamstem nie. Só iets kan slegs onder massiewe dwang gebeur, en dan sneuwel ons demokratiese vryheid.

’n Gesonde openbare gesprek is die lewensbloed van enige lewenskragtige samelewing. Daarsonder is slegs stagnasie moontlik.

Dít is wat in groot mate die ineenstorting van die ou Sowjetunie en die kommunistiese stelsel agter die destydse Ystergordyn meegebring het. In die konserwatiewe vleuel van die Afrikanerdom van voor 1994 – ek praat hier van die ou HNP, KP en AWB en selfs die NP – was dit ook in mindere of meerdere mate die geval.

Liberaal behóórt geen vloekwoord te wees nie, want nie alleen het dit niks met línks te make nie; dit het alles te make met vrye en innoverende denke, met lewenskragtigheid.

Miskien kan ons uiteindelik nog iets by Frederik van Zyl Slabbert leer.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dries

Van Zyl Slabbert het ook later in sy lewe sy erg linkse sienings begin aanpas toe hy die verdoemende uiteinde van sy visies vir n vreedsame oplossing begin visualiseer het. N Federale oplossing het hy begin verkondig as n moontlike oplossing

MT

Déjà vu beskryf die gevoel wat by my opkom na lees van hierdie stuk, maar dan wil ek ook graag my dank teenoor die skrywer uitspreek dat hy hierdie keer nagelaat het om Donald Trump (gewoonlik op ‘n vreemde manier) by te sleep.

My innige dank teenoor u, en ‘doe zo voort!’

Anton

Die met oorlewingsvrees trek Holland toe

Andrew

Nee goed dan. Kan seker nou niks meer oor Trump huil nie nou kom die HNP,KP en AWB weer onder pen. Die kastige konserwatiewe vleuel van die Afrikanerdom van voor 1994. HNP, KP en AWB en selfs die NP . Shoe maar jy gaan haal hom ver. Die HNP/KP en NP, en dan AWB was maar ver verwyder van mekaar en dan het net die NP n beurt gehad om to regeer/ dikteer, of hoe jy dit ook wil sien, maar die ander nie. Die Afrikaaner, in spesefiek die Boer Afrikaaner (en as jy nie die verskil weet nie sal… Lees meer »

Smiley

Oorlewingsvrees ? As ek so om my kyk na die totale aanslag teen Afrikaans en Afrikaners lyk dit vir my of jou sogenaamde oorlewingsvrees dalk heel rationeel was.