Afrikaners het weer selfvertroue nodig!

leierskap

Argieffoto

Neil Prinsloo

Ons anker is ons geloof in God drie-enig

Selfvertroue kom as jy weet, want weet bring ’n mate van sekerheid. Jy weet as jy kennis het. Kennis kry jy as jy ondersoek. Wanneer jy ondersoek, ondersoek jy jouself, ander om jou, ’n vakgebied of twee en die situasie waarin jy jou begewe. Ondersoek stel jou in staat of rus jou toe (toerusting) en gee jou die kans om te beplan. Jy moet beplan, maar jy kan beplan soos jy wil – daar bly steeds onsekerhede of veranderlikes. Goed wat jy nie weet nie en gebeurlikhede wat jy nie kon voorsien nie. Sake wat sekerheid en selfvertoue ’n knou kan gee.

Onsekerhede en veranderlikes dwing jou om ’n anker te soek. Niemand van ons wil wegspoel en op die rotse beland nie. Daardie anker wat jou hoop gee om die proses van vooruitgang aan die gang te hou en jou skip aan die dryf te hou, is lewensnoodsaaklik. Waar vind ons hierdie anker?

Wel, Wie of Wat is onveranderlik en die Voorsiener van alles? Net die drie-enige God. Afrikaners sal onsself in die proses om ons selfvertroue te probeer opbou baie leed spaar wanneer ons selfvertroue kry deur Godsvertroue en werklik uit die geloof leef.

Begin by Godsvertroue

Godsvertroue bring hoop, selfs wanneer daar onsekerhede en veranderlikes is. Godsvertroue bring die vrede wat alle verstand te bowe gaan. Met Godsvertroue sal Afrikaners elke situasie met sy onsekerhede en veranderlikes kan hanteer en staande bly, want hulle weet hulle is nie in beheer nie. Hoe kweek ons Godsvertroue? Ons doen alles wat hierbo genoem is, terwyl ons God dien. Diens aan God eerste. Liefde vir en diens aan God eerste. Liefde vir, en diens aan God bring liefde vir jouself en jou naaste. Liefde vir en diens aan God bring begrip vir elke situasie. Liefde vir en diens aan God gee hoop.

Hierdie liefde vir en diens aan God kan en mag nie pieringvlak wees nie. Dit moet elke faset van die lewe deurtrek. Liefde vir en diens aan God is nie net op en af spring en Bybelversies opsê op straathoeke nie. Dit is ’n deurwinterde geloof. Dit is kennis van die Woord van God en vertroue op die beloftes van God. Dit bring gehoorsame diens aan God, 24 uit die 24 uur van die dag.

Leer uit die verlede

Ons voorvaders het uit die geloof geleef. Daardeur hemel ek hulle nie op nie en stel ook nie die verlede as ’n utopia waarheen ons onveranderd moet terugkeer nie. Ons voorvaders het baie foute en sonde gehad, maar hulle het nie in daardie sonde bly lê nie. Hulle het voortdurend daaruit probeer opstaan.

Daarom was ons land eens ’n Christenland. Daarom was ons huise, skole, staat en alles Christelik. Alles het oor die koninkryk van God gegaan. Wel, ek glo dit was die beplanning en die ideaal. Iewers het dinge egter skeefgeloop en net soos in die res van die geskiedenis neem dit tyd om foute raak te sien en reg te stel.

Ons het ’n geleentheid om die verkeerdhede van die verlede te identifiseer, maar ook die geleentheid om die foute reg te stel of om die foute ten minste nie te herhaal nie. Ons het dit eenmaal amper reggekry om ’n Christelike beskawing daar te stel. Wat verhoed ons om dit weer te probeer?

Bou op die woorde van God

Kom ons bou ons Godsvertroue op die woorde van God wat ons in die Bybel kry. Daaruit leer ons onder meer: “… verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering (2 Timoteus 4:2); “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Timoteus 3:16-17).

Afrikaners doen onsself skade aan met ons kritiek op God en sy Woord. Ons anker word weggeneem wanneer ons begin om die evangelie van Jesus Christus en ons geloof uitmekaar te trek, te begin twyfel in ons God en krities met Hom om te gaan. Wie is hiervoor verantwoordelik? Net onsself. Kom ons verander dit.

Wanneer ons dit regkry, loop ons as Afrikaners, plaaslike en internasionale bendes storm en spring ons oor mure. “Want met U loop ek ’n bende storm, met my God spring ek oor ’n muur” (2 Samuel 22:30).

Selfvertroue deur Godsvertroue!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: NP van Wyk Louw-sentrum

Die NP van Wyk Louw-sentrum vir Gemeenskapstudies is ‘n toekomsgerigte ideesentrum wat fokus op die voorwaardes vir selfstandige en suksesvolle gemeenskappe.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

John ·

Die aanval op die Afrikaners is gerig op die afkraak van hul selfbeeld. Dit word gekoppel aan as sou hul Hemelwette oortree. Die Roomste Kerk ea plaas klem op ‘n siening dat mens jou plek in die hemel verdien deur naastediens. Die Britse sendelinge het die Boere uitgemaak as boewe wat die land probeer steel van sy ‘wettige’ eienaars. Die Afrikaners moet dus nou die hele tyd met ‘n skuldige gewete rondloop asof dit waar is. Enige ander mening is rassisties. Ons selfvertroue moet volgens die skrywer eerder afhang van die goedkeuring van die Hemelvader en Sy onpartydige mening nie op ons vyande s’n nie.

Disselboom ·

Dit staan vas dat daar net een vertroue kan wees, en dis die vertroue op God. Aan Hom alle eer, en alles behoort aan Hom en Hy regeer.

Kerk egter nie meer die sentrum van Afrikaner se gemeenskapslewe nie, en dus ook nie meer van sy gemoed nie. Voorbeelde:

1. Afrikaners se gereelde kerkbesoek gaan agteruit, ten winkelsentrum vol van hulle op Sondag.
2. Doop – nie meer ‘n kultuur van kinderdoop met sekere kultuurgewoontes nie; groot verskeidenheid; foto’s word belangriker as sakrament.
3. Begrafnisgewoontes vertoon nie eenvormige volkskultuur wat jy kan raaksien nie. Menslike vertonerigheid en emosionele truuks pleks van stil word voor God. En dan sommer ook lykverbranding, iets wat ons nog geloofsgewys, nog kultureel as volk vroeër beoefen het.
4. Troues – in hierdie opsig wat dit alte dikwels duidelik word dat die kerk nie meer sentraal in ons kultuurbelewing is nie; die kerkgebou dikwels nie goed genoeg nie, seker te nederig vir die groot vertoon wat mense moet voorhou. Feit dat al hoe minder troues in die plaaslike gemeente se kerkgebou plaasvind, is aanwyser dat daardie waardering en koppeling met kerk en kerkgemeenskap en dus godsdiens nie meer daar is nie.

anna ·

Gelukkig het ek nie die selfvertroue – probleem nie.
Ek glo vas in Liewe Jesus – het nog altyd en sal altyd.
Dit is eger waar dat baie Suid-Afrikaners se geloof nie is wat dit moet wees nie en dit is betreurenswaardig. Hulle maak dus hulle kinders ook so groot.
Ek hoop hulle keer terug Kerk toe en bid vir ons land. Gebede is kragtig en moet nie net partydmaal gedoen word wanneer dit sleg gaan nie – maar ook wanneer dit goed gaan – om dankie te se.
Al bereik ek dan net een mens met hierdie klein boodkskappie – is ek tevrede daarmee.

DPJ ·

Neil, ek stem volmondig met jou saam. Ons wat in die drie-enige God glo, vertou, lief het, het ‘n enorme taak om uit tevoer. Ons glo met die hart en bely met die mond.
Voor ‘n mens met die mond bely moet ons hart eers reg wees voor God.
Ek bid daagliks dat God die Vader, Jesus Christus die Seun en die Heilige Gees my die krag, moed en eiwer moet gee om ons mense in RSA te help om liefde teenoor God en naaste te gee en as voorbeeld uit te lewe.
Ek verseker jou sonder God se bystand is dit nie moontlik nie. Laat ons as’n handjie vol ons kragte saam snoer en ons geloof in God uitlewe en vir mekaar bid.
Dankie vir hulle samewerking.

Kobus ·

Disselboom, die kerke wat nie kinders doop nie en toelaat dat die Heilige Gees die diens lei, is stampvol. Of jy nou die liggaam begrawe of uitbrand, dit maak nie saak nie, dis net ‘n vleisbox wat ‘n Gees gehuisves het. Konsentreer op dit wat belangrik is, gaan en verkondig die Evangelie aan Almal. God soek nie jou nakoming van ‘n klomp reëls en regulasies nie. Hy soek ‘n Verhouding met jou, waar jy Hom met jou hele wese passievol dien.
Vrede.

Disselboom ·

Die Rooms-Katolieke Kerk is ‘n meerderheidskerk van miljoene mense, maar dit maak die dwaling nie minder nie.

Oor die liggaam: die Bybel sê bv in I KORINTHIËRS 6:19
Of weet julle nie dat julle liggaam ’n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?

Waar die Heilige Gees lei, word die liggaam van die mens geag. En, in konteks van die bespreking hier, was eerbiedige begrafnis dienooreenkomstig ‘n kultuurgewoonte van die Afrikaner. Hierdie is maar ‘n voorbeeld van baie afwykings waar die Afrikaner se selfvertroue ‘n knou het omdat hy nie meer homself afbaken en dus nie meer self ken nie.

Leonard van der Dussen ·

Die Bybel leer dat die liggaam die tempel van God is, en eendag weer opstaan. Dis nie maar ‘n stukkie biologiese materiaal nie.

En ook: Die hervormingsgeskiedenis het gewys dat meerderheidskerk en valse kerke wat voorgee om “kerk” te wees, so groot in getalle kan wees as wat hulle wil (soos Rooms-Katolieke Kerk) en nog steeds nie ware kerk is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.