Afrikaners is nie stemvee wat hulle om die bos sal laat lei nie

Afrikaner

Argieffoto: Adéle Changuion

Afrikaners moet kennis neem van Nick Koornhof, ANC-LP, se toespraak in die parlement op 5 Maart in die Nasionale Vergadering in ‘n debat oor die Wetsontwerp oor die Beskerming, Bevordering, Ontwikkeling en Bestuur van Inheemse Kennis. Hy het, onder meer, ʼn beroep gedoen op mede- wit Suid-Afrikaners:

“My mede-wit Suid-Afrikaners, veral die Afrikaners, wat ’n ware inheemse minderheid is, moet Suid-Afrika sonder voorbehoud omarm en ’n meer kollektiewe rol saam met hul mede-Suid-Afrikaners speel.”

Hy sê: “Ons moet na die Mandela-era terugkeer en ek rig ʼn versoek aan my gemeenskap om dit te oorweeg om minstens een van hul stemme aan pres. Cyril Ramaphosa en sy program vir ʼn werklik beter Suid-Afrika te gee.”

As ANC-lid van die parlement doen hy ʼn ernstige beroep op Afrikaners om Ramaphosa by die stembus te ondersteun.

“Kom ons, die Afrikaner-minderheid, gryp hierdie oomblik aan om dit te verwesenlik, en ondersteun hom. Só ’n gebaar sal Afrikaners se Mandela-oomblik wees.”

Hierdie opmerkings moet ook gesien word teen die stelling wat vroeër in Koornhof se toespraak gemaak is, naamlik: “Die tyd is werklik ryp vir die volgende ronde van bevryding in Suid-Afrika.” Die afleiding word dus gemaak dat Afrikaners se volgende ronde van bevryding sal wees as hulle die ANC, en Ramaphosa in die besonder, by die stembus ondersteun.

Maar dit alleen sal nie Afrikaners se Mandela-moment wees nie. Dit moet gesien word as ʼn ietwat politiek opportunistiese stelling. Die meerderheid Afrikaners belewe daagliks ʼn Mandela-moment. Dit moet eerder gemeet word aan Mandela se standpunt drie-en-twintig jaar gelede in sy Staatsrede op 9 Februarie 1996 en (in die daaropvolgende debat) aan die gedagte van ʼn nuwe patriotisme vir Suid-Afrika wat hy in die vooruitsig gestel het. Mandela het, onder meer, gesê: “Daar is ‘n nuwe patriotisme teenwoordig in ons land.

“In watter sosiale sfere Suid-Afrikaners hulle ook al mag bevind, daar is ʼn vasberadenheid om saam te werk en saam van ons land ‘n wennasie te maak. Ons taak is om hierdie energie in te span vir groei en ontwikkeling, veiligheid en sekuriteit, nasiebou en versoening.”

Mandela het oor die Staatsrede gesê dat “die nuwe patriotisme homself moet manifesteer in respek vir ons Grondwet en sy instellings. Daar moet respek wees vir politieke verskille en dié verskille moet hanteer word deur die wetlike kanale wat deur die nuwe demokrasie gevestig is.

“Ons moet ons verskille uitdruk in vreedsame betrokkenheid eerder as konflik; rasionele debat, eerder as ʼn uitskellery en minagting vir die Grondwet.”

Die meerderheid Afrikaners sal aan Koornhof kan sê dat dit wat Mandela kwytgeraak het, die Afrikaners se versugting is – baie Afrikaners het reeds moue opgerol om dit te probeer verwesenlik. Dít was ’n Mandela-moment.

Afrikaners se Mandela-moment moet ook gemeet word aan Mandela se uitnodiging aan Afrikaners toe hy met hulle in Pretoria vergader het op 15 April 1999 en die volgende gesê het: “Ek weet nie of Afrikaners altyd ten volle besef watter unieke posisie hulle in die Suid-Afrikaanse geskiedenis beklee nie. En hoe daardie geskiedenis hulle toerus om saam te werk aan die ontwikkeling van ons land.

“Afrikaners was in verskillende stadiums van hul geskiedenis veroweraars en verowerdes; slagoffers van verdrukking en onderdrukkers. Met daardie agtergrond en historiese ervaring, tesame met hul kundigheid, kan hulle ‘n besondere rol speel om die land op te bou tot een van voorspoed, geregtigheid en vreedsame saambestaan.”

Anders as Koornhof se versoek, lê die oplossing nie vir Afrikaners by die stembus nie.

Afrikaners se Mandela-moment is egter deur dieselfde ANC in die laaste 10 jaar tot niet gemaak. Die meeste Afrikaners – net soos ander redelike Suid-Afrikaners wat saam skouer aan die wiel gesit het om die nuwe en demokratiese Suid-Afrika tot stand te bring – is ook ontnugter deur ʼn land wat oorheers word deur vergrype, magsmisbruik, toenemende korrupsie en gebrekkige dienslewering.

Afrikaners is nog steeds bereid om saam met redelike en gematigde Suid-Afrikaners hande te vat en saam te bou aan die toekoms van Suid-Afrika. Maar hulle word gestuit deur onverantwoordelike en ondeurdagte optredes en beleidsraamwerke, ʼn regering wat nalaat om te voldoen aan die nasionale ontwikkelingsplan (NOP), grandiose selfverryking en ongebreidelde korrupsie en magswellus.

By dieselfde geleentheid in sy gesprek met Afrikaners sê Mandela ook: “Terwyl Afrikaners nie meer die oorwegende politieke besit van enige enkele party is nie, behoort die lot van ‘n bepaalde party nie hul deelname aan die nasionale lewe te beïnvloed nie. ‘n Mens sien uit na die volle medewerking van almal, ook Afrikaners, in die verskillende rolle wat hulle in ons samelewing speel.”

Afrikaners se lot gaan (volgens Mandela) dus nie bepaal word deur ʼn stem vir die ANC of Ramaphosa nie, maar in hul daaglikse bydrae tot Suid-Afrika se ekonomie, onderwys, gemeenskappe, veiligheid in kerke, die burgerlike organisasies en vele ander terreine – ook politieke partye.

Dit ís en bly Afrikaners se Mandela-moment. Afrikaners is nie stemvee nie en sal hulle nie om die bos laat lei deur politieke partye en individue se subtiele morele dreigemente nie. Afrikaners is al lankal bevry van die verlede wat hulle soos ʼn albatros om die nek gedra het, want dit was die Afrikaners wat die nuwe Suid-Afrika tot stand gebring het.

Afrikaners kan vandag die toekoms onbeskaamd in die oë kyk en kan die morele hoë grond weer betree as ʼn groep wat alles veil het vir ons land. Vir te lank was die Afrikaners die slaansak van politieke opportuniste wat verskoning gesoek het vir dinge wat skeefloop, maar waarvoor dié politieke opportuniste geen of weinig verantwoordelikheid wou of wil neem nie.

Ons as bevryde Afrikaners weet wie en wat ons is en is trots op ons herkoms, ons geskiedenis en ons vele bydraes tot Suid-Afrika.

Ons het nie wéér ʼn oomblik van bevryding nodig nie. Ons verlang net vryheid binne ʼn regverdige bestel en dit is iets wat min politieke leiers of partye wil bied.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jan Bosman

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Deon

Broer Jan, oppervlakkig beskou is dit ‘n goeie uiteensetting van die posisie van die Afrikaner vandag. My probleem met die Bond is dat u nie die onderliggende oorsake van die status quo aanspreek nie. Die Bond het teen Afrikanerselfbeskikking gewerk voor en tydens die onderhandelings vir ‘n nuwe grondwet. Sedertdien word uitdruklik kant gekies om binne die ANC-bestel te bly en vra slegs ‘vryheid BINNE’ die bestel. Om die ANC-regering te laat oorleef. Wanneer gaan die Bond sy Volksondes erken, om vergifnis vra, en weer begin koordineer om die Volk te bevry van weereens vreemde onderdrukking? Wat van die volgende… Lees meer »

Jerry

Die ANC het hulle eie Mandela onteer en patriotisme versmoor in hulle strewe deur die onreg van die verlede reg te stel deur vergelding van “reverse discrimination”, nie net teen die Afrikaner nie, maar ook ander minderheidsgroepe. Daarom het dit belangrik geword vir minderheidsgroepe om hulle verskille te oorkom en saam te staan as n teenrevolusioneremag. Dit moet die visie wees van die VF om verder uit te reik na mede Afrikaners en ander minderheidsgroepe ten einde te groei in eenheid met alle teenrevolusioneres. Wat die VF ookal terughou om dit te vermag moet oorbrug en oorkom word! Die ANC/EFF… Lees meer »

Stephan de S

Dankie, dit is n deurdagte artikel, n realistiese weergawe van ons rol en posisie in hierdie land en al sou enigiemand emosioneel nie bevredig wees nie, dit is die realiteit van ons situasie. Ek hou van die omonwonde vereenselwiging met Afrikanerskap.
By elke siening kan altyd enkele aanpassings aangebring word……daarmee kan ons almal saamlewe.

John

Vanuit die hoek van waar Koornhof skryf… en hy sit in die hoek… is sy uitsig bedremmeld. Hy het homself daarin gewerk en hy moet maar self daar uitkom. Mandela wou die Afrikaner se posisie na die van onderdanige armblanke swaai… en sy droom is deur sy party volvoer. Dis waar ons is nie stemvee nie…

Hendrik

Weereen word die artikel geskryf wat die wee van die Afrikaner beskryf in die raamwerk van die huidge grondwet. Vele kenners het die swakpunte uitgewys en dit is duidelik dat daar nooit vrede sal wees as daar nie na minderhede gekyk gaan word nie. Die land is in die moeilikheid (ESKOM, ens.) agv wetgewing (BEE, AA, kwotas) wat minderhede uit die ekonomie dwing. As die Afrikanerbond iets wil doen vir die minderheid moet hulle maar saamwerk met die burgerregtegroep Afriforum wat tans die enigste organisasie is wat iets doen vir die Afrikaner.