Afrikaners op die voorpunt

Dr. Ernst Roets (Foto: Twitter)

Ons kan nie bekostig om te ignoreer wat nou in Suid-Afrika gebeur nie. Die Afrikaners in Suid-Afrika het ʼn belangrike stelling op die beskawingsfront ingeneem.

Dit is hoe ʼn senior Europese staatsamptenaar onlangs tydens my gesprek met hom in sy kantoor na die Afrikaners verwys het.

Daar is genoeg om oor bekommerd te wees in Suid-Afrika. Die nuus word oorspoel deur negatiewe stories. Hierdie negatiwiteit is natuurlik ʼn direkte gevolg van die feit dat die Suid-Afrikaanse regering klaaglik en skouspelagtig in selfs sy mees basiese funksies misluk. Wanneer politici in die regerende party oor hul werk praat, spog hulle nie oor hul prestasies nie, want daar is nie veel om oor te spog nie. Hulle verduidelik eerder waarom ander, eksterne faktore vir hul mislukkings geblameer moet word. Genoeg om ʼn mens neerslagtig te maak…

Tog is ʼn merkwaardige ding besig om te gebeur. ʼn Positiewe verhaal wat werklik hoop skep, is besig om op die voorgrond te tree – nie valse, naïewe hoop nie, maar daadwerklike hoop, gegrond op tasbare gebeure in die werklikheid.

Met die politieke omwenteling van die 1990’s het baie Afrikaners gevoel dat dit klaarpraat is met ons. Ons het alles verloor, finish en klaar, soos hulle sê. Dit is dieselfde sentiment wat baie Afrikaners ná die verwoestende Tweede Vryheidsoorlog uitgespreek het. “Ons staan op die punt om óf ʼn groot volk te word, óf om op te hou om as ʼn volk te bestaan,” het Christiaan de Wet in 1916 gesê.

In ʼn sekere sin was De Wet tegelyk reg en verkeerd. Die Afrikaners was ná die oorlog nooit weer dieselfde nie. Dit het die vernietiging van die “eerste Afrikaner” geverg sodat die “tweede Afrikaner” uit die as verrys, soos Carel Boshoff dit verduidelik. Daarmee bedoel hy dat die Afrikaners van die 20ste eeu nie dieselfde gedink en opgetree het as die Afrikaners wat die Groot Trek onderneem en die Boererepublieke tot stand gebring het nie.

Hierdie verhaal het hom die afgelope paar dekades weer afgespeel. Daarom kan ons sê dat die doemprofete wat die einde van die Afrikaner voorspel het in ʼn sekere sin ook reg was. Die Afrikaners van die vorige eeu bestaan nie meer nie. Ons is nou die “derde Afrikaner”, soos Boshoff dit noem. Daarmee bedoel hy dat ons vandag in belangrike opsigte verskil van die Afrikaners van die vorige eeu.

Waar die “vorige” Afrikaners byvoorbeeld erg staatlik was, is ons vandag skepties oor die staat. Ons het die tragiese en belangrike ervaring opgedoen oor wat gebeur wanneer ʼn mens té veel hoop en vertroue in ʼn goedgunstige staat plaas, wanneer ons belangrike funksies soos kultuur en onderwys ten gunste van die staat abdikeer en daardie staat oornag teen ons draai.

Dit was inderdaad verwoestend. Bykans nie een van die Afrikanerorganisasies van die vorige eeu bestaan meer nie. Ná die politieke omwenteling kon ʼn mens omtrent nie eers die woord “Afrikaner” gebruik nie – dit was eenvoudig té polities inkorrek. Dit is in hierdie vernietiging wat daardie merkwaardige ding waarna ek hierbo verwys het, besig is om te gebeur: Ten spyte van al die negatiewe omstandighede en al die slegte nuus, is Afrikaners weer besig om op te staan. Dit is nie net die opstaan wat die verbeelding aangryp nie, maar ook die wyse waarop ons dit doen.

In sy inleiding tot Die pad na selfbestuur skryf Flip Buys dat ʼn volk se voortbestaan nie deur abstrakte grondwetlike regte bepaal word nie, maar deur praktiese dade. “Dit help nie dat ons vashaak by die grondwetlike denke van die verlede nie, want die geskiedenis staan nie stil nie en sal ons dan agterlaat. Ons kan ook nie oorgee aan wensdenkery soos dat dinge vanself gaan regkom, of dat die regering die land sal moet of kan regruk nie.” Daarom lê Buys klem op selfbestuur, selfbestuur ten spyte van ons omstandighede, maar juis ook selfbestuur as gevolg daarvan.

Dit is waarom die werk van die Solidariteit Beweging saamgevat kan word deur daardie drie kort woordjies, ons sal self. Eerder as om vir die regering te wag om sy funksies te vervul, neem ons eenvoudig eienaarskap van daardie funksies. President Cyril Ramaphosa het onlangs die sentiment van die voormalige nasionale polisiekommissaris herhaal toe hy gesê het dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens nie in staat is om die publiek veilig te hou nie. Ons reaksie daarop kan wees om protes aan te teken, optogte te reël, op ons regte aan te dring en nog baie ander dinge, maar die enkel belangrikste komponent van ons reaksie op ʼn probleem soos dié is eenvoudig om self eienaarskap van ons eie veiligheid te neem. Ons doen dit byvoorbeeld deur die 170 buurtwagte wat reeds deel is van AfriForum se netwerk en waarby meer as 10 000 vrywilligers betrokke is.

As ons sien hoe Suid-Afrika se historiese universiteite jaarliks deur wanbestuur en radikale ideologieë vernietig word, kan ons op baie maniere daarop reageer, maar die belangrikste komponent van ons reaksie is dat ons eenvoudig self eienaarskap van ons eie onderwys neem. Dit doen ons doen deur ons goeie skole te ondersteun en te versterk en, waar nodig, self ons eie skole op te rig, deur ons eie Sol-Tech en Akademia te bou ensovoorts.

As die staat se maatskaplike funksies verval, neem ons self eienaarskap deur die Solidariteit Helpende Hand.

As die media deur ʼn ideologiese narratief oorheers word, begin ons self ons eie media-instellings. So kan ons aangaan.

Hierin het ons die eeue oue wysheid van ons Westerse tradisie herontdek: die noodsaaklikheid en die krag van gemeenskapsinstellings. Ons instellings dien as voertuie op die pad na vryheid. Veiligheid, onderwys, maatskaplike ondersteuning en ekonomiese ontwikkeling kan in isolasie nooit genoeg wees vir ons om weer vry te wees nie. Dit dien wel as voorwaardes – of selfs boublokke – vir vryheid.

Konstitusionele herrangskikking

Suid-Afrika is besig om ʼn konstitusionele verandering te ondergaan. Selfs al verander die teks van die Grondwet nie, is die konstitusie (die manier hoe dinge is) besig om te verander, soos Koos Malan dit stel. Selfs al wil die staat teen ons diskrimineer, is hy eenvoudig besig om sy eie regeermiddele te verloor. Selfs al wil die staat verantwoordelik regeer, is dit teen hierdie tyd vir hom bykans onmoontlik, want sy regeermiddele het eenvoudig te veel verswak. Dit klink dalk na slegte nuus, maar dit is nie, want die vakuum wat deur die staat se onbeholpenheid geskep word, word eenvoudig gevul deur gemeenskappe wat self eienaarskap neem.

En hierin is Afrikaners vandag wéér die Vóór-trekkers. Ons is besig met pionierswerk wat vir die res van die wêreld – die Westerse wêreld in die besonder – nog van groot waarde gaan wees.

Dit is waarom Martin Bosma, ondervoorsitter van die Tweede Kamer van die Nederlandse Parlement, sê dat Afrikaners nog die wêreld gaan verstom. “Soos baron Von Munchausen is die Boere besig om hulleself aan hul eie hare uit die moeras te trek,” sê hy.

Dit is waarom David Bencsik, die internasionale direkteur van die MATE Universiteit van Landbou- en Lewenswetenskappe in Hongarye, sê dat die toekoms van Wes-Europa tans in Suid-Afrika geskryf word. “Die Afrikaners wat ons vandag ken, is daardie sterk mense wat, in weerwil van die moeilike tye, goeie tye vir hul nageslag skep,” verduidelik hy.

Dit is waarom Gavin Wax, president van die New York Young Republican Club sê: “Die Afrikaners is van die laaste ware Westerse pioniers op die grens van die beskawing. Hulle onderhou die infrastruktuur wat deur hul voorvaders gevestig is terwyl hulle voortdurend bedreig word deur die ongetemde mens en natuur wat hulle omring. Hulle volharding en daaglikse stryd inspireer ons terwyl ons ons deel van die ontwikkelde postkoloniale Weste bewaar: New York.”

Dit is waarom Ryoji Fukazawa, joernalis vir Yomiuri Shimbun, die grootste Japannese koerant sê dat Afrikaners besig is om antwoorde te vind vir probleme wat die Eerste Wêreld vandag in die gesig staar. “Dit is duidelik deur nie net na die huidige situasie in Suid-Afrika te kyk nie, maar ook in die Verenigde State en Europa, dat daar geen geluk of vrede vir ons sal wees daar waar hierdie neiging (van linkse ideologieë) ophou nie,” verduidelik hy.

“Daarom interesseer die beweging van Afrikaners wat hierdie neigings probeer oorkom en ʼn nuwe weg inslaan my baie, en ek ondersteun hulle heelhartig.” Hy voeg by dat die ingebore gees van selfstandigheid onder die Afrikaners – en die daadwerklike aksies wat daaruit spruit – nog ʼn helder antwoord aan die wêreld gaan bied.

Ons kan dit nie bekostig om naïef te wees en voor te gee dat ons in wonderlike omstandighede leef nie. Trouens, die “helder antwoord” wat ons nog vir die res van die wêreld gaan wees (om Fukazawa se woorde te gebruik) skiet juis wortel in ons erkenning van die harde werklikheid, maar belangriker nog – die feit dat ons hierdie werklikheid deur tasbare, meetbare aksies verander.

Afrikaners is nie agter die res van die wêreld nie. Ons is al weer op die voorpunt.

  • Ernst is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Treurwilger ·

Dit is waar dat Afrikaner-organisasies tans wonderlike werk verrig in SA onder omstandighede, maar hierdie “pionierswerk” vir Westerse kultuur en waardes sou nie nodig wees as Westerse leiers oor slegs ‘n greintjie durf en daad beskik het nie.
Pionierswerk is net ‘n ander woord vir – hoes en betaal – tot in ewigheid – vir miljoene wat nie kan nie.
Die einste Westerse leiers wat nou so kwistig met die heuningkwas is, is verantwoordelik vir die jammerlike toestand waarin voorheen vooruitstrewende lande verkeer.
Ek sou my nie veel aan hulle wyshede steur nie.

Treurwilger ·

Afrikaners is beslis nie “agter die res van die wêreld” nie.
Die teendeel word keer op keer bewys in die buiteland.
Onderwys is slegs een van die gebiede waarop Afrikaners uittroon bo die res.

skurweberg ·

Watter rol speel “geld” in die negatiewe en/of positiewe denke van mense en individue, veral wanneer die konstruk toekomsverwagting beoordeel word.

Volgens my waarneming speel dit ‘n deurslaggewende rol.

annie ·

‘Ons sal self’ moet verander in ‘Ons doen dit self’… ons is al 30 jaar in die penarie.

Goldy ·

Ons grootste swakpunt is om nie die swakkelinge en verraaiers onder onssself uit te ken nie. Die wat kommuniste wil word en selfde foute oor en oor maak moet trek en ons moet hulle nie ernstig opneem nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.