Afrikaners se ligging is ons bestaansuitdaging

Argieffoto

Die afgelope tyd het twee nuusbrokkies my aan die hart gegryp so tussendeur die daaglikse oordosis politieke plundering en onbevoegdheid. Die eerste was ’n berig op Netwerk 24 oor Tannie Nonnie van Rensburg (84) van Ventersburg. Sy is helder oordag in Huis Nasina deur ’n rower oorval toe sy haar katjie op die stoep gaan roep het. Die rower het haar met sy skoenveters vasgebind, ’n serp in haar mond gestop, en haar aan die bed vasgemaak terwyl hy haar kamer deursoek het vir goed om te steel en whiskey om te drink.

Sy het haarself wonderbaarlik losgewikkel en hom in die toilet toegesluit toe die booswig badkamer toe is. Die aanvaller het die diefwering egter van binne af oopgebreek en weggekom. Dis Tannie Nonnie se tweede noue ontkoming. Sy moes al voorheen ’n rampokker met die besemstok uit haar huisie jaag.

Oom John Pitzer, ook ’n inwoner, het die polisie drie keer gebel voordat hulle (baie later) eers opgedaag het. Die polisiekantoor is slegs 170 meter van die ouetehuis af. Die koerant berig tannie Nonnie se nagmerrie-ondervinding is net een van baie bejaardes op die dorp se ervaring met misdadigers. Die booswigte word nooit in hegtenis geneem nie of is binne ’n dag of twee weer op straat.

Misdadigers loop deesdae sommer helder oordag by oumense se huise in en vat wat hulle wil.

Dis ook nie dat die tehuis nie probeer om die oumense veilig te hou nie. Die wagte wat deur ’n sekuriteitsmaatskappy daar geplaas is, word deur die rowers aangerand en verjaag. Die buurtwag doen ook wat hulle kan, maar daar is te min mense en die taak is te groot.

Lichtenburg

Lichtenburg. Argieffoto: ANA

Die tweede nuusberig het gegaan oor Clover wat sy fabriek op Lichtenburg moet sluit, omdat die dorp so verval het dat hulle nie meer kan aangaan nie. Waterprobleme, kragtekorte, riool wat in die strate afloop, paaie wat onbegaanbaar is en ’n munisipaliteit wat nie hul werk wil of kan doen nie is die oorsaak dat 330 gesinne nou hul werk en lewensbestaan gaan verloor.

Tannie Nonnie se nagmerrie en die verval van Lichtenburg is deel van ’n bykans landwye tragedie wat homself hier afspeel: die verval van die meeste plattelandse dorpe buite die Wes-Kaap. Dis ook nie net meer klein dorpies wat geraak word nie, selfs groot nywerheidsdorpe soos Vanderbijlpark en Newcastle begin gevaarlik wankel. Die ekonomiese gevolge van die Covid-inperkings was net die finale strooi.

Dit gaan nie in alle dorpe so sleg soos in Ventersburg of Lichtenburg nie, maar die meeste dorpe het al ’n stukkie “Ventersburg” binne hul grense, waar dinge net nie meer leefbaar is nie. Daar is selfs dele van Pretoria wat onuithoudbaar geword het. Dit wat nie gebreek word nie, word gesteel. Talle dorpe word net blyplekke sonder werkende dienste, en voer ’n net ’n bestaan deur welsynstoelaes “in te voer” en stemme “uit te voer”. Daar is nie meer behoorlike werk nie, die huismark is morsdood en mense verarm verskriklik. Dié wat kan wegkom, trek.

Dieselfde probleem, dieselfde gevolge

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging (Foto: Reint Dykema)

Die Solidariteit Helpende hand en AfriForum Veiligheid hoor weekliks van gevalle waar Afrikaanse ouetehuise in hierdie vervalde dorpe en dorpsgebiede in al groter krisisse kom, sonder behoorlike versorging, veiligheid of noodsaaklike dienste. Die jongmense in daardie gebiede kry nie naskoolse opleiding nie, en ly ’n sukkelbestaan omdat hulle dit nie kan bekostig om hulself te bekwaam nie. Die goeie staatsposte wat daar nog is, word boonop nog op grond van ras gereserveer vir die ANC se ondersteuners.

Dit tref mens dat elke dorpie dieselfde probleem en dieselfde gevolge het. Anders as ander minderhede in die wêreld wat gekonsentreerd in ’n bepaalde gebied bly, is Afrikaners landwyd ’n yl verspreide minderheid, en word selfs op munisipale vlak deur ’n demografiese meerderheid se vrot party oorheers. Die gevolg is die verval van die dorpe, korrupsie, politieke onbestendigheid, val van eiendomspryse, ekonomiese ineenstorting, verarming, onbeheersde misdaad en omgewingskrisisse.

Instellings soos skole, kerke, en tehuise veg vir oorlewing of het reeds vergaan. Staatsinstellings soos munisipale rade, gesondheidsdienste, en die polisie is meestal hopeloos. Die afgelope jare se gebeure op Coligny, Schweizer-Reneke, Senekal en Piet Retief het ook gewys dat rasseverhoudinge gevaarlik maklik deur opruiende politici ontwrig kan word, en dat die Afrikaner-minderheid vinnig ’n gewilde teiken kan raak. Die voorwaardes vir ’n volhoubare minderheidsbestaan verval op talle dorpe en in dorpsgebiede.

Daar is ook nie politieke oplossings soos regeringsverandering in sig nie. Veelparty-demokrasie werk net nie in heterogene samelewings soos Suid-Afrika nie. Die ANC word keer op keer weer deur die kiesers verkies. Die munisipale verkiesing vind later dié jaar plaas. Dit sal na verwagting die twaalfde verkiesing sedert 1994 wees (6 nasionaal en 6 munisipaal) wat die ANC wen en die kiesers verloor. Dorpe wat deur koalisies regeer word vaar ook nie juis beter nie – die krisis is veel groter as net ’n politieke een.

Volhoubare oplossings

AfriForum en inwonersverenigings werk landwyd kliphard om die dorpe aan die gang te probeer hou. Dit help baie, maar los nie die kern van die probleem op nie, want dis onmoontlik om blywend dorpsdienste sonder belastinginkomste te lewer. Hofbevele verlig krisisse, maar maak nie ’n volhoubare verskil nie. Rade het nie die wil of vermoë om hofuitsprake uit te voer nie, en mens kan nie deur die howe regeer nie.

Die dorpe word nie net deur hul swak regerings bedreig nie, daar is talle ander redes vir die verval. Dit is hoekom daar al jare lank ’n “groot trek” vanuit die platteland na groter streekdorpe en stede toe is wat hulle dan meer volhoubaar maak. Mense konsentreer daar omdat daar beter dienste en meer volhoubare dorpe is. Prof. Flip Smit, bekende demograaf, sê dat die verstedeliking, oftewel konsentrasie van Afrikaners al dekades lank aan die gang is.

Konsentreer

Afrikaner

Argieffoto: Adéle Changuion

Afrikaners se ligging as yl verspreide minderheid is ons bestaansuitdaging, en dit kan net oorkom word deur groter konsentrasie op plekke waar ons in sekere woongebiede ’n meerderheid is, en op plekke waar ons ’n blywende meerderheid kan word. Dis te begrype dat mense nie wil of kan opgee waarvoor hulle jare gewerk het en waar hulle al jare bly nie. Die probleem is egter dat ’n kultuurgroep wat landwyd ’n verspreide minderheid is, landwyd ’n bedreigde minderheid word.

Die gevaar is dat diegene wat nie wil of kan saamtrek nie, daar sal moet agterbly soos die oorblywende bejaardes in Pretoria of Johannesburg se middestad.

Daar is landwyd derduisende tannie Nonnies wat daagliks in vrees leef. Het die tyd nie gekom dat daar betyds bekostigbare behuising vir hulle opgerig word op veilige plekke waar daar behoorlik na hulle omgesien kan word nie? Laat hulle eerder na veilige werkende dorpe soos Orania of plekke in die Wes-Kaap toe trek terwyl hulle kán, voordat hulle dalk móét. As ligging die probleem is, is konsentrasie die oplossing.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
melaney

Ek en my familie het net vanoggend presies hieroor gesels. Ek stem saam. Dit is nou tyd om blankes bymekaar te kry, (natuurlik dié wat kan). Saam kan ons na ons bejaardes omsien sowel as om mekaar te ondersteun.

KhoiKhoi

Ek bewonder Solidariteit vir die werk wat hul doen. Was verlede week genader on aan te sluit as lid. Maar kan nie want die artikel en die kommentaar van Melaney versterk my oortuiging. Dit gaan nie oor kultuur nie maar oor ras. Die gebruik van kultuur is in werklikheid ras. Net soos die “Afrikaner” – en ek gebruik aanhalingstekens want ek vra baie keer of ek as Bruin persoon nie meer “Afrikaner” is as baie Wit “Afrikaners” is nie. Hier praat ek van kultuur nie ras, nie. Hierdie beheptheid het veroorsaak dat baie Bruinmense Afrikaans verruil het vir Engels want… Lees meer »

annie

Die hele dilemma in ‘n neutedop na net 2 reaksies. Die drome en ideologieè van die onderskeie groepe, faksies, rasse, liggame… die lys is lank en die pad na ondergang breed en vol slaggate. Dit is regoor die wèreld aan’t gebeur. Mense mag nie of wil nie meer wees wie hulle is nie. Nie eers meer hul geslag nie. Die gewete is die gevegsterrein en die bose die aanvoerders van die opstand. Bloed gaan nog spat.

Johann Basson

Die harde werkliheid: 1) Die ongebreidelde bevolkingsaanwas en poreuse landsgrense het tot gevolg grootskaalse onbeheerde verstedeliking en groei van plakkerskampe, ook in die Wes-Kaap; 2) die sosialisties-kommunistiese ANC regerende party gaan vooruitstrewende besighede dwing om die nasionale demografiese samestelling van die nasie te reflekteer om swaar boetes te voorkom (“besigheidskaping”); 3) die hele Suid-Afrika is vinnig oppad om ‘n African Transformed Communist Mzansi eAfrica” te word; en 4) om volhoubaar voldoende buitelandse valuta vir welvaart te verdien verg wêreldkompeteerbaarheid op gekose terreine. Suid-Afrika is nie gerat met die nodige kreatiewe kultuur en werksetiek om ekonomies wêreldkompeteerbaar te kan meeding nie.… Lees meer »