Afrikaners se stukkende harte

“Oos, wes, tuis bes.” Hierdie bekende spreekwoord verwoord die tydlose versugting van die mensdom na ’n blye tuiskoms ná ’n tyd in die vreemde. Ons almal geniet ’n interessante reis, maar dis lekker om weer terug te kom by jou huis – daar waar jy werklik tuis is.

Die vreemde voel soms maar … vreemd. Daar is seker net een ding wat net so lekker is as ’n opwindende reis na ’n vreemde plek, en dit is om na ’n lang afwesigheid moeg en vol verlange na jou huis, jou mense en jou tuiskomplek terug te kom. Wat geld vir ’n vakansiereis, geld soveel te meer vir permanente emigrasie. Dis nie maklik om jou wortels op te trek, jou tuiste agter te laat en dan sak en pak na ’n vreemde land te trek nie.

Sielkundiges sien ’n gewone verhuising, naas die afsterwe van ’n geliefde, as een van die stresvolste lewenservarings. Om vir altyd van jou tuiste af weg te trek na ’n vreemde plek vol vreemdelinge is veel erger. Jy’s skielik nêrens meer tuis nie. Tuisloosheid is traumaties, en jy kan nooit regtig wegtrek nie, want jou hart en jou geliefdes bly agter.

Die Franse beeldhouer Bruno Catalano het die hartverskeurende leemte van ’n mens wat sy land, sy familie en sy mense vir ’n ander lewe in die vreemde verlaat, treffend in verskeie standbeelde uitgebeeld. Catalano het geweet waarvan hy praat, hy moes self as jong Sisiliaanse man Marokko verlaat en hom in Frankryk gaan hervestig. Sy reeks bronsbeelde van reisigers word gekenmerk deur ’n deel van hul lywe wat weggelaat is, byna asof dele van hul liggame by die huis agtergebly het en net ’n deel by hul bestemming gaan uitkom.

Catalano se reisende standbeelde beeld die stukkende harte van baie Afrikaners uit – dié wat reeds weggedryf is, dié wat innig na hulle verlang, en dié wat soos vreemdelinge in hul eie land voel. Dis asof Jan F.E. Celliers se “Dis al” weer uit die waas van die verlede gekom het om mense se gevoelens te beskryf wie se geliefdes soos ballinge oor die oseaan weggegaan het, en net die grafte van hul voorsate in die gras van verwaarloosde begraafplase agtergebly het. Voorsate wat met ’n skip hierheen gevaar het, en van waar hul nageslag nou met vliegtuie wegvlieg, vanaf die “vreemde” na die vreemde.

Dis al [met apologie aan Jan F.E. Celliers]

Dis die blond,
dis die blou:
dis die veld,
dis die lug;
en ‘n voël draai bowe in eensame vlug –
dis al
Dis ‘n balling “weggevlieg”
oor die oseaan,
dis ‘n graf in die gras,
dis ‘n vallende traan –
dis al.

Tweedeklas burgers

Foto: Pixabay

Die gevoel dat jy nie wou weggaan nie, maar dat jy uit jou huis, uit jou tuiste geboender is, geld nie net vir dié wat na ander lande weggetrek het nie. Talle mense voel dat hoewel hulle nie die land verlaat het nie, die land hulle verlaat het. Sommige voel of hul harte uit “hul lyf geval het en stroomaf dryf” soos Theuns Jordaan sing, omdat hul kinders en kleinkinders ver weggetrek het. Ander ervaar die verlies van ’n land wat hulle nie meer ken nie.

Dis asof hulle een oggend in ’n vreemde land wakker geword het, byna asof hulle in ’n nagmerrie geëmigreer het na ’n onbekende plek. Waar jou gesin se lewens nêrens meer veilig is nie. Waar jou persoonlike besittings selfs helder oordag gesteel word. Waar die land se leiers straffeloos miljarde plunder, waar die strafregstelsel se wiele vasgeroes het, waar ontevrede oproeriges miljoene rande se eiendom sonder gevolge vandaliseer. Waar rassistiese politici jou in jou eie sitkamer op TV dreig en beledig, waar die president belowe om dit waarvoor jy hard gewerk het, sonder vergoeding af te vat.

Waar ’n onbevoegde regering dreig om jou pensioengeld sonder jou toestemming aan hul swak bestuurde staatsondernemings te “leen”. Waar dieselfde owerheid wat die land reeds tot op die rand van bankrotskap gesleep het, jou medies wil nasionaliseer en vir jou die rekening van miljoene niebetalers stuur. Waar die skole en universiteite wat jou mense opgebou het, midde-in ’n stortvloed van beledigings oorgevat word, waar jou taal en kultuur afgebreek word. Waar jy nie meer ’n sê het oor dinge wat jou raak nie, en waar eersteklasmense soos tweedeklasburgers behandel en Derdewêrelds regeer word.

Dis ’n land waar jy nie meer tuis voel nie, maar soos ’n vreemdeling huis toe verlang. Ja, jy voel soms onwelkom, onveilig, onvry, ongelyk – en jy weet dis nie normaal nie. Jy wil nie altyd ’n vreemde besoeker wees nie, jy wil tuiskom.

Bou weer ’n tuiste

Daarom is ons grootste uitdaging oor die volgende dekade tot by 2030 om weer ’n tuiste te skep waar Afrikaners kan tuiskom en tuis voel – waar hulle vry, veilig en voorspoedig kan wees. Dis belangrik om verdere agteruitgang te keer, maar dis nog belangriker om aan volhoubare vooruitgang te bou. Maar hoe gaan so ’n tuiste lyk, en hoe gaan dit gebou kan word?

Ligging

  • Die beginpunt van om ’n huis te bou en ’n tuiste te skep is om die regte ligging te kies, waar jy weet dat jy oor twintig jaar nog gaan vry, veilig en tuis voel, waar jy nie weer uitgedryf gaan word nie.

Bouplan

  • Die tweede stap is ’n argiteksplan, om seker te maak dat jou huis so ontwerp word dat dit jou huis is – ’n plek waar jy en jou mense hul kan tuisvoel en waar julle veilig kan wees, sonder dat vreemdelinge julle hiet en gebied. Dis ’n plan om ’n nasionale tuiste te bou waar ons nie net as enkelinge nie, maar as ’n kultuurgemeenskap ons kan tuisvoel – ’n kulturele huis, ’n leefruimte, ’n tuiste.

Gesin en gemeenskap

  • Ons is nie net landsburgers nie, maar ook kulturele burgers, lede van ’n eeue oue kultuurgemeenskap wat mekaar nodig het, wat mekaar se waardes deel en wat by mekaar veilig is. ’n Mens bou nie vir jou ’n huis om jouself van ander mense af te sonder nie, maar juis om jou in staat te stel om saam in daardie buurt te bly. Jy sal uitgelag word dat jy lugkastele bou, deur mense wat self in sandkastele in die pad van ’n inkomende gety sit. Moenie jou aan hulle steur nie, hou net aan bou.

Fondament

  • Die fondasie moet stewig wees, want die hele huis word daarop gebou. Die fondasie is die sterk selfhelporganisasies wat die grondslag van die huis gaan vorm, want jy wil nie alleen of op sand bou nie.

Bouers

  • Niemand bou so goed soos iemand wat ’n huis vir homself en sy geliefdes bou nie, want dis sýne. Ons sal almal moet help om hierdie kulturele huis so vinnig en so goed as moontlik te bou. Bouers is nodig, en nie net bydraers nie. Baie teenstanders sal raas en blaas om die bouwerk te probeer keer, maar dis belangrik om net vas te byt en aan te hou bou.

Kamers

  • Geen huis is volledig sonder al die noodsaaklike vertrekke nie. Al die kamers moet daar wees – soos ’n sitkamer, kombuis, slaapkamer en eetkamer. ’n Gemeenskap het kulturele leefruimtes en vertrekke nodig soos skole, kolleges, universiteite, stede, dorpe en dienste, woongebiede, veiligheid, maatskaplike sorg, besighede, werkplekke, media, regspraak, erfenisbewaring, openbare ruimtes en ’n mooi tuin en omgewing.

Mure

  • Mure bou is ’n proses en neem tyd en vasbyt. Hoe groter die kolleges, privaat skole, universiteite en dorpe wat ons bou, hoe hoër is die mure van ons gemeenskap se huis en hoe vryer en veiliger sal ons wees.

Dak

  • Die dak kom laaste. Geen dak word opgesit voordat die mure hoog genoeg is nie, want ’n dak kan nie in die lug hang nie. Die hoogte van die dak en die opsit daarvan word bepaal deur die hoogte van die mure en die spoed waarteen gebou word. Die dak is nie die huis nie, dis ’n belangrike finale fase van die bou van die huis. Dis die erkenning dat die huis en al sy kamers klaar gebou is.

Afronding en inrigting

  • Die huis word nou afgerond en ingerig soos jy en jou gemeenskap dit wil hê. Die feit dat jy die plek gekies, die huis laat ontwerp en self hard daaraan gebou het, is die beste waarborg dat jy en jou geliefdes daar weer tuis sal voel.

Dis natuurlik ingewikkelder om ’n toekoms vir ’n hele gemeenskap te bou as ’n huis vir jouself. Wanneer die huise en dorpe wat die staat gebou het, egter inplof en verval, of wanneer hul ligging te onveilig geraak het, is dit tyd om jou eie huis te bou. Staatsbestuur het in Suid-Afrika misluk, en die tyd vir selfbestuur het aangebreek. Net soos huise nie uit die lug val nie en moeisaam van onder af opgebou moet word, net so sal ’n toekoms nie uit die lug val nie en sal dit daarom stelselmatig van onder af opgebou moet word. Dit gaan uiters moeilik wees, maar om vry, veilig en voorspoedig in die staat se huise te bly, is onmoontlik. Die pad na selfbestuur is onseker, maar dit bied die kans op sukses, terwyl die pad na staatsbestuur tot ’n sekere ondergang lei.

Kom bou saam met ons aan ’n toekoms waar Afrikaners ook blywend tuis sal wees, want almal het ’n tuiste nodig waar hulle vry, veilig en voorspoedig kan lewe.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Ons moet opstaan en ons reg na streef.

Buks

Sou al doe afrikaners kaap toe trek gaan dit nie lank wees dan is die kaap ook in ANC afbreek hande nie want die huishulpe is mos noodsaaklik die tuiniers is mos noodsaaklik en hulle trek nooit aleen nie hulle het uitgebreide families en moenie dink hulle stem vir die DA of VF+ nie nee nee hulle is mos nie so dom nie

Andrew

Dankie Flip. Ligging is daar en bouplan is al in werking. Ek hoop van julle kant af gaan meer gedoen word om Oranje op te bou en uit te brei.

AJ

Koop al die eiendomme rondom Afrikaanse skole en kerke en beveilig die omgewing.

In die stad en op die platteland!

Raak (in bg Afrikaanse gemeenskap), selfvoorsienend met water, elektrisiteit, kos ensovoorts.

Doen besigheid met mekaar … m.a.w. ‘keep the money in the family’!

Hendrik

Mense die antwoord is baie nader en eenvoudiger as wat julle dink. Ons woon noual 10 jaar in die Kleinfontein gemeenskap buite Pretoria en kan eenvoudig nie verstaan hoekom mense nog so sukkel om te oorleef in hul gemeenskappe nie. Dit is baie harde werk om so gemeenskap te vestig en ons sit baie ure in om ons gemeenskap te verbeter. Dit is veral veiligheid, water, behuising, infrastruktuur en arbeid wat baie tyd en geld verg van die gemeenskap. Saterdag hoor jy hoe werk die manne, vroue en kinders buite. Waarvoor wag julle? Kom!