Afrikaners se toekoms lê in groter konsentrasie

flip-buys

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema

Mense vra gereeld of Afrikaners nog ’n toekoms het. Die vraag moet eerder wees of die toekoms nog Afrikaners gaan hê. Kom ons begin by die geboorte van Afrikaners – een van die min volke waarvan die “geboortedatum” en -plek moontlik bekend is. Die historikus GD Scholtz het jare gelede aangevoer dat Afrikaners op 9 Februarie 1657 uit die vestiging van nege Vryburgergesinne aan die Liesbeekrivier ontstaan het. Dit maak ons seker die jongste volk ter wêreld.

Teen 1700 was daar volgens Scholtz se skatting slegs sowat 1 600 Afrikaners en in 1800 nagenoeg 25 000 wat in die 20ste eeu algemeen as Afrikaners sou bekendraak. Daarna het die getalle skerp gestyg en met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog ’n eeu later was daar sowat 500 000. Hiervan het bykans 35 000 tydens die oorlog in konsentrasiekampe en op die slagveld omgekom, nagenoeg 15% van die twee Boererepublieke se bevolking.

Aanwas

Die Afrikaner se aanwas is deur historici soos Scholtz op ’n sestienvoudige vermeerdering in die 18de eeu beraam, ’n twintigvoudige groei in die 19de eeu en ’n sesvoudige vermeerdering in die 20ste eeu. Dit het Afrikanergetalle tot sowat 3 miljoen laat styg. Die historiese definisie van wit Afrikaanssprekendes word hier vir Afrikaners gebruik, aangesien dit die enigste sensusdata wat beskikbaar is.

Afrikaners groei steeds teen sowat 0,7%. Sedert die vroeë tagtigerjare het geboortebeperking, die vrou se grootskaalse toetrede tot die arbeidsmark en groter welvaart tot kleiner gesinne gelei. Politieke onbestendigheid het ook ’n invloed hierop gehad. ’n Verskuiwing in waardes, verstedeliking en hoë koste van kinders grootmaak het ’n demper op geboortes geplaas. In kort, die stadiger groei in Afrikanergetalle is die gevolg van groter huise en kleiner huisgesinne!

Die Afrikaner se geboortekoers staan op gemiddeld sowat 1,7 kinders per vrou. Dit is minder as die vervangingskoers van 2,1 kinders per vrou. Statistieke dui egter op ʼn onverwagse toename in geboortes oor die afgelope paar jaar. Afrikaners is net meer as 5% van die bevolking, terwyl wit mense tans 8% van die totale bevolking uitmaak. Afrikanergetalle neem egter nie so drasties af soos doemprofete beweer nie. Daar word bereken dat Afrikaners van die huidige 2,7 miljoen tot 3,2 miljoen teen 2030 kan groei, in ʼn positiewe maar moontlike projeksie. Die werklike uitdaging is dat Afrikaners as ’n persentasie van die bevolkingsgetalle in baie dele van die land afneem en dat dit politieke, ekonomiese en kulturele gevolge het. Minderheidstatus beteken dat meerderheidsgroepe oral beheer uitoefen, wat die grondwetlike regte en gelyke vryhede van Afrikaners as kleiner kultuurgemeenskap ernstig aan bande lê. Minderheidsregte is immers ’n voorwaarde vir die gelyke uitoefening van individuele regte.

Dun verspreiding

Afrikaners se groot uitdaging is nie klein getalle nie, maar dun verspreiding. Ons is meer Afrikaners as die onderskeie bevolkings van Namibië, Lesotho, Macedonië, Slowenië, Letland, Botswana, Gambië, Gaboen, Estland, Swaziland, Mauritius, Ciprus en Luxemburg, asook nog ’n menigte ander volke. Maar ons woon nie gekonsentreerd soos al hierdie volke nie, en is gevolglik ’n taamlik kwesbare minderheid tussen ’n groter meerderheid. Hierdie dun landwye verspreiding spruit uit Afrikaners se geskiedenis as boere en landbouers, wat eers werklik ná die Tweede Wêreldoorlog verstedelik het. Die te groot getal dorpe in die land het waarskynlik ontstaan vanweë die eertydse ossewavervoerstelsel wat tot dorpe sowat 40 km vanaf mekaar gelei het, asook die latere myndorpe wat landwyd verrys het maar waarvan baie nou uitgemyn is.

Arbeidsbeleid

Afrikaners se arbeidskultuur en afhanklikheid van swart arbeid het veroorsaak dat ons mettertyd orals ’n minderheidsgroep geword het. Dekades van ekonomiese groei het swart werkers terselfdertyd laat verstedelik omdat hulle werk in sowel dorpe en stede as op plase gekry het. Teen die tagtigerjare het hierdie arbeidsbedeling groot politieke gevolge begin kry. Swart mense wat hulleself permanent in stede en dorpe bevind het, het op politieke regte aangedring.

Die onderliggende dryfkrag agter die groot politieke omwenteling van die negentigerjare was die ongelyke getallesamestelling van wit en swart mense, wat die wit minderheidsbeheer onvolhoubaar gemaak het. Dit het egter nie net op nasionale vlak tot meerderheidsregering gelei nie; op munisipale vlak het dit in praktyk beteken dat die histories swart township politieke beheer oor die voormalige wit dorp oorgeneem het.

Regte sonder magte

Hierdie skielike magsverskuiwing is vererger omdat meerderheidsregering nie vir minderheidsbeskerming verruil is soos in federale stelsels die geval is nie. Die grondwetlike ruimtes vir minderheidsregte maak nie voorsiening vir gepaardgaande minderheidsmagte nie. Die gevolg is dat ’n politieke party slegs 51% van stemme benodig om 100% van die politieke mag te verkry, selfs oor die grondliggende sake van ander kultuurgemeenskappe. Afrikaners het geleer wat minderhede in ander wêrelddele lank reeds weet: Kulturele minderhede moet veg vir dit wat meerderhede as vanselfsprekend aanvaar.

Die bevolkingswerklikhede van Suid-Afrika het tot ’n demografiese demokrasie gelei waar verkiesings grootliks in ’n rassesensus ontaard het. Soos die gebruik in ander soortgelyke lande stem kiesers hier ook meer vir identiteit as beleid. Die getalleverhoudings skep die gaping vir die ANC se rasseformule van 80/9/9/2, waar alles die bevolkingsamestelling moet weerspieël in ’n soort demografiese diktatorskap. Die korrupte Zuma-regering verloor tans beduidende steun en opposisiepartye kon grootliks weens ’n wegblystem van ANC-kiesers beheer van verskeie metropole oorneem. Maar ’n opposisieparty wat die steun van die meerderheid swart kiesers moet kry om die ANC te verslaan, sal egter sy beleid vir hierdie kiesers moet aanpas en Afrikanerbelange verwaarloos.

Platteland

Die migrasie van groot getalle meestal arm swart mense na dorpe en stede het oor die afgelope dekade tot ’n grootskaalse omwenteling in die land gelei. Plattelandse dorpe is veral hierdeur geraak en die dienste en infrastruktuur is in die meeste gevalle oorlaai. Die ANC-beheerde stadsrade slaag nie daarin om doeltreffende dienste te lewer nie en swak munisipale bestuur het in die meeste dorpe die ekonomie afgetakel. In die proses het die belastingbasis gekrimp in ’n tyd wat die belastingontvangers skerp toegeneem het. Terselfdertyd het die mislukking van ander regeringsdienste soos die swart openbare onderwys, asook beleidsrigtings soos die welsynstelsel en rasgedrewe werksbeleid, tot groot ekonomiese ongelykhede, armoede en werkloosheid in die swart gemeenskap gelei. Die ontevredenheid wat hieruit voortspruit het stelselmatig politieke gevolge soos toenemende protesoptogte, wat die stabiliteit van talle dorpe ondermyn.

Dit het bygedra tot ’n groeiende migrasie van beter geskoolde wit mense na stede en streeksentra. Al hierdie faktore bring die volhoubaarheid van die meeste plattelandse dorpe buite die Wes-Kaap in gedrang. Hierdie migrasie van wit mense gaan hoogs waarskynlik versnel vanweë sowel die drukkragte van vinniger verval in talle dorpe, as die trekkrag van beter dienste in groter dorpe en stede. Aan die ander kant is baie wit mense in hierdie dorpe vasgevang omdat daar nie meer ’n huismark is nie en mense nou ’n huis besit wat hulle vir aftreedoeleindes gekoop het.

Geweld

Terselfdertyd lei die haglike ekonomiese toestande en die ANC se historiese projek om die land voor 1994 “onregeerbaar” te maak tot ’n voortsetting van protespolitiek namate onhaalbare politieke beloftes tot teleurgestelde verwagtinge lei. Daarby werk demografiese faktore mee aan die vernietigende geweldmisdaadplaag. Die ANC en EFF se “sondebokpolitiek” is ook besig om ’n plofbare rassekleur aan die verdelingslyne in die land te gee.

Afrikaners se yl verspreiding as minderheidsgroep in die land lei tot dieselfde probleme regoor die land. Dit behels onder meer politieke onmag, swak regering, geweldmisdaad, rassewetgewing, uitsluiting, verarming, verswakkende infrastruktuur, die oorname van talle historiese Afrikaanse instellings soos skole en universiteite, gebrek aan toegang tot owerhede, asook min waarde vir hardverdiende belastinggeld.

 Konsentrasie

Die nadelige gevolge van yl verspreiding lei natuurlik tot migrasie na groter konsentrasies met meer volhoubare Afrikaanse skole en ander instellings. Afrikaners trek al meer na stede, streeksdorpe en die Kaap vanweë beter werkgeleenthede, dienste en Afrikaanse “tuisvoelruimtes”.

Daarmee saam konsentreer Afrikaners al meer in sterk selfhelporganisasies soos die Solidariteit Beweging se onderskeie instellings, soos AfriForum. Groter organisasies bring beter ekonomie van skaal mee en die gesamentlike energie van groter getalle maak dit moontlik om gemeenskapsdienste soos veiligheid, opleiding en maatskaplike hulp aan Afrikaners te bied.

In praktyk is die Solidariteit Beweging se grootste uitdaging tans om “staatsdienste” sonder staatsinkomste te voorsien. Dit kan egter slegs standhoudend gedoen word indien daar ’n meer doelgerigte konsentrasiestrategie is. Dit is onmoontlik om doeltreffende en omvattende dienste regoor die land aan ’n wyd verspreide minderheid te lewer, wat strek vanaf veiligheid tot onderwys en maatskaplike hulp. Daarom is grondliggende nuwe denke en vindingryke oorspronklike planne nou noodsaaklik.

Die doel van ’n aktiewe konsentrasiestrategie is om te verseker dat daar plekke is waar Afrikaners ’n meerderheid van die bevolking vorm. Dit kan wees in dele van stede en streeksdorpe, en die uitbouing van nuwe dorpe soos Orania in die laagbevolkte weste van die land waar ʼn meerderheid verkry kan word.

Só ’n konsentrasiestrategie is wettig en het niemand se toestemming nodig nie. Dit gebeur tans natuurlik en sal meewerk om ’n toekoms te skep waarin Afrikaners ook blywend vry, veilig en voorspoedig in Afrika sal kan leef. Deur getalle te konsentreer sal die natuurlike omstandighede geskep word waarin Afrikanergetalle en -belange gehandhaaf kan word en nie verder afneem vanweë emigrasie, inlywing of geweldmisdaad nie.

Bevolkingsbronne: 2011 Sensusdata, 2017 Stats SA Bevolkingskatting.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

61 Kommentare

Israel ·

Die wat dink konsentrasie is n goeie idee , gaan lees die woorde van die laaste boer profeet , dan gaan lees jy oor die toring van babel in die bybel , dan praat ons verder , ons planne is nie God se planne nie , luister na die Here en jy sal altyd beter daaruit kom al word dit hoe swaar

Haan ·

Verstaan nie lekker jou kommentaar nie. Gaan lees jy self bietjie oor Siener se visioen oor die gevestigde paal waaraan die vierkleur wapper, “daar waar die grootrivier (Oranje) loop”… Dis Orania my maat.

DT ·

Israel moet nie ‘n werkbare plan afskiet in die naam van jou geloof nie. Probeer eerder iets doen.

kobus rossouw ·

Ai, ek dink nie jy verstaan die Toring van Babel gedeelte nie.
Met respek gese ek dink ons bid te veel en doen te min, ek kan nie net bid vir n eksamen ek moet studeer anders gaan ek nie slaag nie.

Eronies, sodra iemand na vore kom met n oplossing se mense “ons moet maar net bid alles sal regkom” ander sal kritiseer en n ander kerk gaan stig, mense gebruik die gebed voorstel om niks te doen, los dit vir die Vader en ander en so doen niemand niks?

Afriforum/Solidariteit is die enigste organisasies wat iets doen vir ons Afrikaners ipv kritiek ondersteun al stem jy nie altyd saam want jy alleen gaan niks vermag, ons gaan nooit saamstem oor alles. Dankie vir laasgenoemde met visie!

Israel ·

Die Here maak die wat hy na die verderf lei se oge blind , dat hulle sal kyk en kyk maar nie sien nie , hulle sal hoor maar nie verstaan nie , onthou my woorde , dit sal die laaste ding wees wat jy aan sal dink wanneer die massas jou omring en jy jou einde sal aanskou , jy sal nie die volk regeer of red nie , dit sal n man van God wees

Eish ·

Israel,
Ek probeer my bes om sin te maak uit wat jy sê, maar jy praat in raaisels waaraan n menigte van vertolkings geheg kan word. Sal jy so gaaf wees om presies te sê wat jy bedoel ten einde ons in staat te stel om die waarskuwing te kan evalueer.

Israel ·

Moenie slaap verloor oor dit nie eish , die boodskap is nie vir jou bedoel nie , al wat dit op neerkom is vergeet van die slim plannetjies van mense want dit lei na niks , vertrou net op God

Faith must trample under foot all reason, sense, and understanding.” – Martin Luther iewers in die 1500’s

Eish ·

Amen daarop.
Ek is ongelukkig nie n Luther ondersteuner nie.
Hy was die direkte oorsaak dat 100 000 boere in Duitsland deur die prinse uitgeroei is en verder lees ook wat hy te sê gehad het oor die Jode. Hy het hul met passie gehaat. Wees maar versigtig om jou vertroue in mense te stel. Al gooi ek net n druppel aanmaakkoeldrank in n glas suiwer water, is dit onherroeplik verander. Die man kom uit die Katolieke milieu en het hordes katolieke gebruike saamgebring. Die prinse het hom beskerm na sy sogenaamde hervorming aangesien hul finansiële voordeel getrek het daaruit om weg te breek van die Katolieke kerk deurdat die tiendes nie meer aan die Katolieke gestuur nie nie. Geldgod. So hy het fyn getrap om hul nie aanstoot te gee nie, in ruil vir beskerming.

Die Jode het die Torah,
maar nie die Messias nie.
Die Christene het die Messias,
maar nie die Torah nie.
Die Jode het n brullende Leeu verwag,
maar n Lam gekry wat hul geslag het.
Die Christene verwag n geslagde Lam,
maar dis n brullende Leeu wat terugkeer en oordeel.

DP ·

Israel jou voorstel van wat die afrikaner moet doen is presies wat die boere in Zimbabwe gedoen het en kyk wat het van hulle geword. Jy misbruik die woord deur enkele skrifgedeeltes aan te haal soos dit jou pas. Daar is baie ander skrifgedeeltes wat die teenoorgestelde se, maar soos jy se ons is nie geestelik genoeg om die woord te verstaan nie. Die spreukwoord se moes hoeka in die land van die blindes is die……..

Wim Kotze ·

Israel, ek glo nie Martin Luther was Engels magtig nie.

JC ·

Baie dankie Flip, dis net wat ons nodig het, sodat ons kan wakker skrik!!!!
Dis ongetwyfeld ons toekoms, indien ons eienaarskap daarvan wil neem.
Ek is lief vir my mede Afrikaner, en my bruin Afrikaanse broer en suster.

hannes marais ·

goeie rubriek flip..wil jou net tereg wys dat die afrikaner volk eers in die laat 1900 honderds onstaan het toe jan smuts afrikaans sprekendes en engels sprekendes saamgevlans het en n afrikaner volk tot stand gebring het…die witnasie ten tyde van die en voor die boereoorlog het bekend gestaan as die BOERE..die engels geskiedenis skrywers praat ook van THE BOERS ten tyde van die boereoorlog…gaan doen navorsing..die woord afrikaner is gekaap deur smuts hulle van n baster stam in namibia..hulle vanne was afrikaners..EK persoonlik behoort nie aan n afrikaner nasie nie..ek is n trotse BOER

JC ·

Hannes, regtig? Boer/Afrikaner- selfde ding. Dit is in elk geval net semantiek man.
Ek sal ewe tuis voel as iemand by ‘n Boer of ‘n Afrikaner noem, want dis dieselfde ding.

Eish ·

Ek is oneindig dankbaar vir artikels soos hierdie wat die groter prentjie bykans inspanningloos verwoord terwyl ek verstengel is in besonderhede. Groot waardering dus vir die insiggewende artikel.

Die proses om Afrikaners te konsentreer, gaan n tydsame een wees met baie los punte. Ek het in Parys grootgeword gedurende die sestigs en sewentigs. Tydens die sestigs was daar n groot konsentrasie Jode in die dorp, met met n sinagoge. Die mense het die sakekern oorheers en was hoofsaaklik besigheidsmense wat teenwoordig was in die totale spektrum van besigheid. Merowietz, Sachs en Rubin was algemene name in die sakekern. Vanaf die laat sewentigs het hul die dorp stelselmatig verlaat namate die kinders afgestudeer het en in die stede begin werk het. Soos hul ouer geraak het, is die besighede verkoop en het hul by die kinders aan gesluit in die stede. Al bewys van hul teenwoordigheid, is die deel in die begrafplaas waar hul begrawe is.

My bekommernis is soos die berig tereg uitwys, die van ons wat vasgevang is op n plek hetsy vanweë besigheid, werk of bates en dus eie deelname aan die konsentrasie proses beperkend ervaar.

Die van ons wat in so n situasie vasgevang is, moet dan dalk maar die Joodse opsie volg. Kinders bekwaam en vooruitstuur en later volg indien uitgespaar en nie n misdaadstatistiek nie.

Die artikel se inhoud is dus n langtermyn proses wat n paar geslagte lank kan duur en ook steeds uitsonderings sal hê soos boere.

JV ·

Jou uitsluiting van boere is sinvol. My waarneming is dat dit reeds besig is dat boere in groepe vorm. Twee voorbeelde uit een distrik. Die drie staatswaterskemas in die Groot Marico gebied se boere werk baie goed saam om uiteindelik die drie damme te bestuur. Waterwese is redelik magteloos om iets te doen aan die feit dat die boere weier om die watertariewe te betaal – ‘n bedrag wat sekerlik al so 60m beloop.
In Zeerust rig ‘n groep boere ‘n groot onderneming op wat gerig is in die distrik se pluimvee bedryf. Dit sal die voerkostes drasties afbring.
Ander distrikte – Lichtenburg (Coligny ingesluit) , Wolmaransstad (Leeudoringstad ingesluit) en Delareyville (Sannieshof ingesluit) se boere staan saam en is met aksies besig wat enorme gevolge vir byvoorbeeld die plaaslike munisipaliteite het.

Merkur ·

Eish. Stem saam met jou hoe goed dit is om artikels soos hierdie te lees.

Baie Blink Toekoms ·

Afrikaners het n BAIE BLINK toekoms! Ons gaan opstraan en groei terwyl ander aanhou agteruitgaan.

Haan ·

Stem 100% saam met jou, maar ek kan nie help as om te voel dat ons voor dit eers gesnoei/gelouter/gesuiwer gaan word nie…
Laat mens dink aan Daniël se woorde “getel getel geweeg verdeel”

Pieter-Pan ·

Baie goeie artikel, en lekker om te hoor mense dink oor die toekoms van ons Afrikaners.

Ek sou graag wou areas kon identifiseer wat oor 10, 20 of 30 jaar Afrikaner dominant gaan wees. Ek neem aan dit sal gebiede in die Weskaap wees.

Nie almal van ons kan (of wil) in Orania gaan bly nie, maar sal maklik in ander gebiede aard waar ons die meerderheid mag wees, maar dalk nie ekslusief Afrikaners is nie.

Wat dink julle?

Frans C ·

Daar is baie faktore wat migrasie dryf.Die belangrikste is egter dat almal wat trek uitsien na ‘n beter en veiliger toekoms vir hulself en hul kinders.
Die grootste bekommernis is egter die swak toestand van onderwys,wat matrikulante soos wors uit ‘n worsmasjien in die gemeenskap loslaat.
Sulke mense kan nie sorg vir ‘n voorspoedige ekonomie nie en sal gedurig moet staatmaak op werksgeleenthede wat deur ander geskep word en dit is gewoonlik in vooruitstrewende gemeenskappe.
Solank die toestand voortduur sal sulke gemeenskappe altyd trekpleisters bly vir mense op soek na ‘n beter lewe en geen grensdraad gaan hul keer nie.

Anton ·

…Flip, baie dankie vir die besonderse waar en goeie stuk…ek moet met jou saamstem tov Afrikaners se toekoms le in groter konsentrasie…Orania gaan dit bewys….

André Badenhorst ·

Hoe “konsentreer” jy die bevolking generies (sonder kunsmatigheid of sosiale ingenieurswese)? Moet ons kyk na ‘n “stoot” (push) metode of ‘n “trek” (pull) metode? Stoot – Waar ons mense direk motiveer (voordat dit ondraaglik raak waar hulle nou bly)? Trek – om aansporings te skep d.m.v . “tuisvoelruimtes” daar te stel? Of dalk ‘n kombinasie van beide metodes? Wie gaan die leiding neem of gaan ons net die gedagte plant en hoop vir die beste? Hoe gaan ons dit regkry sonder die bagasie van die verlede? Ek stel die vrae om denke te stimuleer.

Andre Badenhorst ·

Baie dankie vir die meningsvormende stuk. Is daar al planne om ‘n konsentrasiestrategie geboorte te gee?

Johan Neuteman ·

Die Afrikaner moet terug na sy wortels en sy bestaansrede (of noem dit “ontstaansrede” as jy wil) en dis ware evangelie in Afrika. Selfs sy taal is gebou en gestruktureer rondom Bybelvertaling, en om gereformeerde belydenis (Sinode van Dordt, drie formuliere van eenheid) uit te druk. Terug na God, na die Bybel, na die belydenis as Christus as enigste waarheid en verlosser. Dan sal hy as volk bly bestaan.

Reinhardt ·

Soos Flip tereg uitwys, dit gebeur reeds natuurlik. Kyk maar na voorstede soos Durbanville, amper almal praat Afrikaans. Toeval? Ek dink nie so nie. Ons is natuurlik en organies besig om saam te snoer sonder om daaroor te dink. Selfs ek wat in die suidelike voorstede woon wil nader aan my mense trek, ek voel net meer tuis.

Noordelike voorstad ·

Kom Durbanville toe Reinhardt. Hier praat ons Afrikaans. Jy is baie welkom.

Flip2 ·

Jy’s 100% reg, Reinhardt. Dieselfde geld vir Brackenfell. Die noordelike voorstede van Kaapstad anderkant Bellville en in die rigting van die Paarl en Wellington is nog grootliks Afrikaans. Dit sal baie help as Solidariteit en AfriForum hier ‘n groter teenwoordigheid het. Ek verstaan byvoorbeeld waarom ‘n instelling soos Akademia tans in Centurion gesetel is, maar sal dit, in die lig van die konsentrasie-ideaal waaroor Flip skryf, nie sin maak om met verloop van tyd dié instelling se hoofkwartier na die Kaap te verskuif nie? So ook ander Afrikaans- en Afrikanergesentreerde organisasies.

wollie ·

Vergeet van die selfverskrikking idee. Te min stel belang.

Einherjaer ·

Hier in my tuisdorp van die Paarl het ons ‘n toenemende toestroming van nuwe intrekkers vanuit die Noorde. Ons het goeie Afrikaanse skole, goeie infrastruktuur en belangrik jy bly tussen mense wat dieselfde waardes, kultuur en gebruike as jy heul.

Dit is nie snaaks om op ‘n maandelikse basis mense te ontmoet vanuit Kwa Zulu Natal, die Vrystaat of Transvaal wat ons dorp aandoen om werk en blyplek te soek nie. As gevolg hiervan groei die dorp aansienlik vinnig.

Ek is van mening dat die konsentrasie wat Flip Buys in sy skrywe van praat heelwat vinniger gebeur as wat mense besef. ‘n Interessante vergelyking is om hierdie verskynsel te vergelyk met die stroming van die Igbo stam in Nigerie weens onderdrukking en geweldadige aanvalle na die ooste van daardie land. Later is die staat van Biafra uitgeroep toe, onder andere, genoegsame Igbo lede in die Ooste hulsel gehuisves het.

Die Afrikaner/Boer se storie is geensins klaar geskryf nie.

Babs Brouwer ·

Ai! ek sidder as ek lees wat Eisch te sê het oor Martin Luther.
Ons sou nie vandag geweet het van God se genade deur Jesus Christus as dit nie vir hom was nie. Nog minder ‘n Bybel om SELF te lees van bg genade.
SOLA SACRA SCRIPTURA; SOLA GRTIA: SOLA FIDE: SOLO CHRISTO

Eish ·

Waarheid soms vreemder as fiksie. Lees self op. Luther het slegs Bybel in Duits vertaal.
Moet op prinse nie vertrou nie.

Eish ·

Johannes 14:15
” As julle My liefhet, bewaar my gebooie.”

Merkur ·

Baie mense beoordeel Luther afkeurend uit vandag se perspektiewe en verdring die tydperk waarin hy geleef het. Dit maak vir my geen sin om van Luther weg te probeer draai nie omdat dit o.a. onmoontlik is. Luther is een van die heel belangrikste persone in ons kulturele erfenis, sowel vir die Protestante as ook vir die Katholieke en ook vir die mense sonder konfessie of geloof.

rassie ·

Flip,

As ek jou reg verstaan is die toekoms van Afrikaners daarin opgesluit dat mens in SA mettertyd etlike Afrikaner enklawes gaan vind waarbinne Afrikanerbelange beskerm word.

Jy merk ook op dat vir so ‘n konsentrasiestrategie, om te slaag, “grondliggende nuwe denke en vindigryke oorspronklike planne nou noodsaaklik” is. Ek vind dit verblydend dat jy die woord “nou” insluit.

Noudat die ideaal gestel is en die dringendheid van die aangeleentheid besef word, sal dit goed wees as daar nou indringende aandag aan die praktiese detail, tot in fynste besonderhede, rakende die implementeerbaarheid al dan nie van die strategie gegee word.

Die probleem is dat al die staatkundige ideale vir Afrikaners reeds vir 25 jaar telkens voor die gebrek aan detail oor die implementeerbaarheid en implementering daarvan gestuit het en sulke vae langtermyn dimensies van moontlik en miskien en dalk eendag ens aangeneem het dat dit moontlik eendag nie meer vir die nageslag wat dan geassimileer het of anderland toe is van belang sal wees nie.

Soos byvoorbeeld, indien ‘n groot groep Afrikaners (ryk, arm, geemplojeer, werkloos, wetsgehoorsames, kriminele, Christene, nie-Christene, aarts konserwatiewes, liberale ens ens), hulself oor een jaar van nou af in ‘n spesifieke voorstad van ‘n groot stad sou bevind, presies wat dan nou verder?

hannes marais ·

moet ons ons gaan afsonder in n gebied en die res maar net los….ons voorvaders het baklei vir die hele land suid afrika..duidelik n paar mense wat nie hou van vryheis nie…een van die dae is durbanville en paarl ook omring van lokasies…daai tyd wat witmense moes vlug is verby..ons sal orals moet vaskop en terug baklei…nie almal kan bekostig om te trek nie

Realis Beplanner Wildevark ·

“Paarl, Durbanville, we demand jobs. We demand 80/9/9/2 representativety in all your businesses and business ownership. We demand this and we demand that . We demand, we demand, we demand, we … ”

Ons moet eers besluit hoe raak ons ontslae van die uitmergelende verslawende diskriminerende demand-entitlement-kultuur-wetgewing sonder sonsondergangklousules wat ons tyd, energie, belastingeld en visie opslurp.

Die ideaal sou wees om te sorg dat ons jeug onderwys, opleiding en bekwaamheid by uitnemendheid het en dat ons fokus op ENKELE innoverende uitvoerprodukte wat uiters hoë bekwaamheid verg om te ontwikkel en te vervaardig.

Dalk is dit die tyd nou om vreedsaam met die regering te begin onderhandel oor ‘n nuwe toekoms: ONS TOEKOMS. Ons moet leer uit die onlangse ervaringe van eiesoortige kultuurgroepe wat van gedwonge nasieskap wil wegbreek. En die notules moet gepubliseer word!

Maar ons moet ‘n GANTT-kaart opstel om perspektief te verkry: ” ‘n Prent is gelyk aan ‘n duisend woorde.” Anders loop ons weg na die volgende nikssegende vergadering. En ons moet bid vir wysheid en leierskap en die wil om te wil doen en die energie om te doen.

Ou Waaghaals Ystervark ·

Beste Realis Beplanner Wildevark,

Ek stem saam. Maar dit is krities belangrik dat die Afrikaners vreedsaam en met koelkoppe en met wedersydse respek, reg en geregtigheid en naasteliefde met die SA regerings van die toekoms onderhandel oor ONS TOEKOMS terwyl die EIE TOEKOMS DROOM by ons eie Afrikaners ingekoop word en hul wysheid en insette bekom word. Maar Afrikaners wat hul eie siening-uitweg wil volg, se standpunt moet ewe respekteer word.

Gerhard ·

Dis interessant om te sien hoeveel mense hier uiteenlopende idees en interpretasies van goed het. Weinig sien dinge dieselfde en amper elke persoon hier het sy eie leerstellings.
Na my mening sal ‘n doelbewuste konsentrasie strategie nie werk nie. Dit sal outomaties plaasvind indien dit enigsens gaan plaasvind. Mense sal nie vrywillig daaraan deelneem nie veral as daar nie bepaalde monitere voordele daarin is nie. Massa “bewegings” vind nooit ” vooraf afgespreek plaas nie. Dit is altyd spontaan soos die verskynsel van “verstedeliking”.

Ou Leier Bosvark ·

Die staat Israel sou nie vandag bestaan het as daar nie druk- en trekkragte en visionêre leiers was nie. Mense is geneig om goeie wenner-leiers te volg. As daar geen leiding is nie, sal mense migreer na beter lewensgeleenthede in die buiteland. So, ons moet byvoorbeeld op skole en tersiêre opleiding par excellence fokus wat ons mense sal trek. Deur sulke opleiding kan ons ook ‘n diens aan ryk buitelanders ook verkoop. En so kan ‘n visie sneeubal in realiteit. ” ‘n Boer (Afrikaner) maak ‘n plan”.

Veritas ·

Die probleem met groter konsentrasie is dat dit maklik in isolasie verander kan word. Dit is makliker om jou vyand op een hoop te hou en daar te monitor as om verspreide gebiede in toom te hou.

wollie ·

Ek wil nie graag in ‘n gebied in SA bly waar daar omtrent net Afrikaners woon nie. Seker die mees negatiefste groep mense wat ek enige plek in die wereld ontmoet het (en ek was al omtrent ooral).

Pine ·

Realis, Ek stem saam, veral met jou derde paragraaf. Ons moet bly vooruit streef om nie “agtergeblewend” te word nie.

DeonC ·

Dit sal strategies n fout wees as Afrikaners by enkele punte soos Orania konsentreer. Wat nodig en werkbaar is, is verspreide nedersettings’ wat onafhanklik v wanbestuurde munisipaliteite as ‘kultuur’ nedersettings, bedryf en bestuur word. Dit moet werk as n tipe verspreide stad. Oorhoofse koordinering en die uitruil v kundigheid is belangrik. Ontwikkelings waar mense tuis en veilig voel, wat hul sak pas en geleenthede veral vir die jeug bied, sal werk. Onthou net…Rome is nie in een dag gebou nie.

Gerhard ·

Afrikaners kan nie oorleef as ‘n volk solank hulle ‘n geografiese minderheid is oral waar hulle hulle bevind nie. Verder is klein groeperings minder effektief as groter groeperings. Daarom sal ‘n Volkstaat baie meer effektief wees as ‘n stad, wat weer baie meer effektief sal wees as ‘n woonbuurt, wat weer meer effektief is as “instellings”. Dit is so omdat jy meer en meer beheer prysgee elke keer wat die instelling of groepering kleiner word. Dit is al duidelik dat die huidige situasie waar Afrikaners die meerderheid is in klein gebiede en heelwat eie instellings het nie voldoende is om die Afrikanerdom instand te hou nie. Groter eie gebiede sal net tydelik ‘n antwoord kan wees en dan sal daar maar net op die einde een antwoord wees, ‘n eie staat. Selfs die Jode wat die naaste is aan ‘n groep wat hulself instant hou as ‘n minderheid, het bessef ‘n eie staat is die enigste antwoord. Dit is ook so dat Israel gebou is d.m.v massa migrasie. Dit is duidelik dat so iets gedoen kan word en vir Afrikaners die enigste antwoord is.

Flip Buys ·

Vriende, baie dankie vir julle kommentaar. Ek sal binnne ‘n week of wat daarop antwoord in ‘n AfriForum-blog. Net een opmerking. Donald Horwitz van Duke universiteit, sê in sy gesaghebbende ‘Ethnic groups in Conflict’, dat waar ‘n derde wêreld meerderheid deur ‘n eerste wêreld minderheid verontreg word, die meerderheid in opstand kom. Maar waar ‘n eerste wêreld minderheid deur ‘n derde wêreld meerderheid verontreg (of swak regeer) word, trek hulle. Ons kan net kies of dit ‘n wêreldwye verstrooiing gaan wees, of na konsentrasiepunte soos stede, streeksdorpe (Weskaap, Potch, Betlehem ens) en Orania is waar ons trekfaktore skep soos veiligheid en beter dienste.

Nouja ·

Dankie Flip vir ‘n goeie nugtere artikel. Soos jy kan sien uit die kommentare en jou eie geografiese en demografiese gevolgtrekkings is hierdie Trekboer nasate maar nog steeds ‘n individualistiese en hardkoppige en eiesinnige lot. Ek wens jou Salomo se wysheid toe om hierdie klomp dwars trekkers na die beloofde land te lei.
Politiek en sport ten spyt, dis tyd dat die Trekboer eindig waar dit als begin het – die Kaap (maar moet dit vir niemand sê nie, maar die meeste van ons trek eerder Wes-Kaap toe as Orania toe).

wollie ·

Suggureer jy die Afrikaner is ‘n “eerste wêreld” minderheid en die res van SA se bevolking is ‘n “derde wêreld” meerderheid. Hoe arrogant kan mens nie wees nie. Ek hoop ek verstaan jou verkeerd.

Ian ·

Flip, hierdie is die korrekte strategie. Dit werk tans nie weens verskeie redes. Eerstens het die Afrikaner soos die spreekwoordelike padda in die pad geword waar die water geleidelik warmer word en ons dit nie agterkom nie weens die geleidelike kondisionering waar aan ons blootgestel word, baie soos die Jode voor die begin van WO II. Tensy iets dramaties – waarskynlik uiters traumaties – gebeur sal ons nie wakker skrik nie. Tweedens is daar bitter min werksgeleenthede in daardie areas en min mense gaan hulle familie blootstel aan ‘n onbekende toekomsvisie deur net blindelings te doen en te vertrou. Maar waarskynlik mees belangrik – daar is baie retoriek hieroor, wat goed is om bewussyn te skep, maar bitter min spesifieke aksieplanne wat oa die volgende insluit: wie is die leierskap; wat is die spesifieke area ter sprake; wat is die tydskale; watter beroepe word gepriotiseer; hoe gaan inkomste, behuising, infrastruktuur prakties finansier word oor watter tydskale; wat is die buitelandse kommunikasie strategie; is sessessie uiteindelik die doelwit en indien wel, hoe, ens, ens.

leon ·

Dankie Flip. Die plan is reg.

Jy verwys na konsentrasiepunte. Ons gesin het op Weskaap, Villiersdorp besluit. As jarelange lid van Afriforum is die vraag of “staatkundige” beplanning geakkomodeer kan word in die organisasie. Wat van ‘n Visie – beraad van ‘n aard om met meer konkrete planne vorendag te kom. My raaiskoot is dat daar talle mense is wat sal inval by konsentreer. Wat nou nodig is, is meer struktuur.

Bouer ·

Die posisie van die beste enkelmedium Afrikaanse skole, Sol-Tech en Akademia, sal die toekomstige konsentrasiepunt vir Afrikaners/Afrikaanssprekendes wees. Heelwat mense trek tans Wes-Kaap toe, maar Engels is die voorkeurtaal vir meeste Kaapse Afrikaners – selfs by privaatskole. Daar is ook geen Afrikaanse universiteit meer nie. Die gebied tussen Orania en die Weskus is byna 100% Afrikaanssprekend en sou die ideale kanton vir die Afrikaanse taal kon maak. Dit is ook die veiligste gebied in Suid-Afrika. Dit help nie ons het Afrikaanse skole en hoëronderwysinstellings in gebiede/streke waar Afrikaans geen status, waarde of aansien het nie. Dit moet aan prestige gekoppel wees.

DeonC ·

Ons voorouers was bouers op talle terreine. Daarom al die prestasies en n land/stede/dorpe wat op 1ste wereldvlak funksioneer het voor dit aan die meerderheid gegee is. Die Volkstaat idee is n illusie wat nie sonder n prys sal kom nie. Toekomstige konsentrasies moet dit in gedagte hou. Dis daarom belangrik dat dit strategies deeglik beplan word. Dit gaan oor oorlewing, maar ook n beter toekoms. My geslag was verantwoordelik vir die huidige gemors. Dit sal goed wees as ons n tipe oplossing help vind. Te min mense dink ongelukkig aan n toekoms vir hul kinders hier. Flip, baie dankie vir julle werk.

stategiese nedersettings.

Rooijan ·

Flip die idee van konsentrasie maak sin. Hoe verhoed ons dat die massas mense wat agter die relatiewe welvaart en meer nog sekuriteit wat weldra in hierdie gebiede ontstaan aantrek? En dan stem hulle ons weereens uit die mag uit en verdring ons soos huidiglik amper oral in die land gebeur.

Oom Kosie ·

Die tyd vir die Globale Afrikaner is hier. Ek het in Orania se melkplaas belê – R112 500 -alles verloor. He nie t n T -shirt gekry nie. Die Afrikaner is in RSA en Namibië en baie lande in Afrika met sy tegnologie in aanvraag. Hy is die mynbestuurder of inginieur. Ons bestuursvermoë is n bate in aanvraag. Akademia en Sol-Tech opleiding is die pad vir volhoubare welvaart. My kinders en kleinkinders studeer in die beroepe wat ekonomies in aanvraag is soos Phd CA , Bsc Aktuaris , Bsc Ing. Bsc Rekenaar. Die beroepe is intrtnadionaal in aanvraag.

Daan ·

Wat is die moontlikheid dat afrikaners soos die Hollanders begin voedsel produsee. Of soos die israelis wat groente en vis in die Negev woestyn produseer.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.