Is Afrikaners te wit vir die hemel?

h07-cross_sunset-10Hierdie skokkende vraag het relevant geword na aanleiding van die proses wat deur die Algemene Sinode van die NG Kerk (NGK) in 2011 van stapel gestuur is, wat die uiteindelike doel het om die NGK te ontbind en sy gemeentes te laat opgaan in ʼn nuwe kerkverband waarvan die lidmate van die Verenigde Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika (VGKSA) die meerderheid sal vorm.

Die aanloop van hierdie proses kan egter verder teruggevoer word, na 2008 met die aanvaarding deur die ANC regering van die Wet op die Herroeping van die Nederduitse Gereformeerde Kerke Wette van 1911 en 1961. Volgens die inhoud van hierdie nuwe wet se wetsontwerp, was sy doel om die wetlike struikelblokke vir die samesmelting van die NGK en VGKSA uit die weg te ruim.

Die partye wat deur die regering gekonsulteer was met die samestelling van hierdie nuwe Wet, sluit die grondvlak gemeentes van die NGK uit, maar sluit die volgende partye wel in, naamlik die:

• Moslemraad van Suid-Afrika,
• Raad van Afrika-Kerke,
• Suid-Afrikaanse Raad van Kerke,
• Metodiste Kerk, en die
• Bybelgenootskap van Suid-Afrika

Die ontbinding van die NG Kerk en die oordrag van sy bates na die te-stigte kerkverband in ʼn proses wat as “herstellende geregtigheid en rekonsiliasie” bekendstaan word breedvoerig uiteengesit in ʼn ooreenkoms wat in Engels opgestel is onder die titel “Memorandum of Agreement between the Uniting Reformed Church in Southern Africa and the Dutch Reformed Church”, en gedurende April 2013 deur prof. Nelus Niemandt as moderator van die NGK namens die kerkverband onderteken is.

Die ooreenkoms verklaar verder uitdruklik dat die Belhar belydenis die grondslag sal vorm van die nuwe kerkverband.

Daar is dus reeds besluit wat met die NGK en sy bates gaan gebeur asook wat sy lede moet glo, insluitend dat die bestaan van ʼn verskeidenheid van instellings wat diverse gemeenskappe dien, sonde is. Nie alleen is daar nie Bybelse gronde vir die “sonde van verskeie instellings” nie, maar dit is ook teenstrydig met die werklikheid van plurale samelewings in die ganse wêreld en die basiese menseregte van individue en volke om vrylik te vergader en om instellings te bou wat uiting aan hul bestaan gee.

Die ooreenkoms erken wel dat die NGK die prosedures wat in sy Kerkorde uiteengesit word moet volg ten einde die Belhar belydenis te aanvaar, waarvan die oorweging daarvan deur die plaaslike gemeentes in hul sinodes die belangrikste stap is. Dit is om hierdie rede dat die Vrystaatse sinode tans die aanvaarding van Belhar oorweeg. Nadat Belhar aanvaar is, voorsien die opstellers van die ooreenkoms dat die belangrikste struikelblok vir die ontbinding van die NGK uit die weg geruim sal wees.

Dit blyk egter uit die propaganda wat ten gunste van die aanvaarding van Belhar in die Afrikaanse koerante en die NGK se Die Kerkbode gemonster word, en die gebrek aan ruimte vir robuuste debat en standpuntinname teen Belhar, dat die sinodale debatte oor Belhar tot ʼn prosedurele rubberstempel gereduseer is wat gestoomroller word.

Oorweging moet geskenk word aan die beweegrede en dryfkrag vir hierdie grondverskuiwings verandering wat in die geloofsgemeenskappe van Suid-Afrika bewerk word. Indien dit onder die leiding van die Heilige Gees geskied, moet mens wonder waarom die inisiatief daarvoor nie vanuit die grondvlak gemeentes van die NGK kom nie, maar eerder vanuit die ANC-beheerde parlement en die uitvoerende leierskap van die huidige Algemene Sinode?

Ongelukkig is dit so dat die leiers van ʼn groot en invloedryke instelling soos die NGK dikwels in die verlede gesukkel het om te onderskei tussen sy doel om die geestelike gesondheid van sy lidmate te bewerk en sy behoefte om gedienstig te wees aan die politieke orde van die dag. Na die Engelse oorname van die Kaapkolonie in 1806 was die NGK instrumenteel in die uitvoering van die owerheid se verengelsingsbeleid; in 1836 was die NGK instrumenteel in die Engelse owerheid se pogings om die Voortrekkers aan bande te lê en moes die trekkers hul eie kerkverband, die Hervormde Kerk, op die been bring om hul geloofslewe saam op trek te kon neem. Die NGK het later weer die Nasionale Party van klein apartheid tot oorgawe nagepraat.

Dit blyk nou dat die leierskap weer instrumenteel wil wees in die bevordering van die ANC-regering se transformasie-ideologie waarvolgens alle instellings van die land verander moet word (onder dwang indien nodig) om die rassesamestelling van die land se bevolking as geheel te verteenwoordig.

Dit blyk dus dat Afrikaners voor ʼn oorgawe van hul geestelike goedere te staan gekom het, in soortgelyke wyse as waarop hulle voor ʼn oorgawe van hul politieke goedere en instellings gestaan het in 1992. Dit is met opset, en ryk aan simboliek, dat die ooreenkoms tussen die VGKSA en die NGK op Kempton Park onderteken is, dieselfde plek waar die aard van Suid-Afrika se huidige regering tussen die ANC en die NP ooreengekom is.

In antwoord op die vraag of Afrikaners te wit vir die hemel geword het, wil ek sê dat ek my troos in Handelinge 10 vind: “Toe het Petrus aan die woord gekom en gesê: ‘Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, maar in enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is. Julle weet dat God aan Israel sy woord gestuur het, naamlik die evangelie van vrede wat Jesus Christus gebring het – Hierdie Jesus is Here van almal.’”

Ek vermoed dat gewone Afrikaners op dieselfde wyse sal reageer op die geestelike oorgawe van die NGK se huidige leierskap as op die politieke oorgawe van die NP tussen 1992 en 1999 (en inderdaad die oorgawe van die NGK se leierskap aan die Engelse regering aan die Kaap in 1806). Afrikaners sal voortgaan om die NGK te verlaat om vir hulle alternatiewe instellings en ruimtes te skep waar hulle hul Christenskap kan uitleef sonder die kettings van politieke korrektheid.

Hopelik begin hierdie proses voordat die “herstellende geregtigheid en rekonsiliasie”-proses begin wat die geestelike bates wat ons voorouers met sweet en trane uit die as van die Anglo-Boereoorlog opgebou het, aan die VGKSA sal oorhandig. Die herlewing wat die NGK onder leiding van mense soos ds. JD Kestell in die eerste helfte van die vorige eeu beleef het, bied hiervoor hoop.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Ebert Terblanche

Meer oor die skrywer: Ebert Terblanche

Ebert Terblanche is 'n bestuurskonsultant by 'n internasionale ouditeursfirma. Hy spesialiseer in risikobestuur. Hy is betrokke by die Orania Beweging, Afriforum en die FAK.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Herman ·

As lidmaat van ‘n ander kerkverband wil ek my nie te veel uitlaat oor verwikkelinge binne die NG Kerk nie. Een aspek lê my egter baie na-aan die hart, en dit is die NG Kerk in Afrika. Hierdie kerkverband het juis nie deel van die VGK geword nie, en die Belahar-belydenis het hierin ‘n groot rol gespeel. Daar was reeds groot ontsteltenis binne die NG Kerk in Afrika oor besluite wat die NG Kerk oor Belhar geneem het, en my gevoel is by baie van die voorstanders van Belhar is die gevolge met die NG Kerk in Afrika dan “afskryfbaar.”
Ek glo tog die moontlikheid van ‘n kerk-herskikking tussen die NG Kerk, die Hervormde Kerk en die GKSA moet deurlopend in die oog gehou word. Veral op die platteland sukkel gemeentes om genoeg lidmate vir ‘n bestaansreg te behou. Elkeen van hirdie kerkverbande is intern onder druk tussen twee baie uiteenlopende sienings van die begrip “gereformeerdheid. Trouens, die NH Kerk het onlangs die wegbreek van die steedsHervormers beleef. Die GKSA het met sy laaste sinode die probleem probeer oorbrug deur ‘n besluit dat verdelende sake nie bespreek sal word nie – met die gevolg sommige gemeentes sing net ou Psalms, ander nuwes en ‘n rits Skrifberymings, sommiges bedien Nagmaal in die banke en gebruik kelkies, ander is net bekers by die tafel. Die NG Kerk het na Kerk en Samelewing ‘n skeuring beleef tot die stigting van die APK, en dit lyk of Belhar weer so iets kan oplewer.
In kort, het ‘n Hervormer wat nie met die steedsHervormers saamstem nie, nie dalk meer in gemeen met ‘n NG Lidmaat wat langlippie oor Belhar is nie, as met ‘n steedsHervormer?
En as sentiment in die pad van ‘n herskikking staan, loop mens dan nie gevaar dat al drie naderhand net leë doppe sal wees, met die lidmate “oorkant die straat by die pastoor se kerk” nie?

andrea van vuren ·

Ek het met groot belangsteling en ontsteltenis die berig oor die NGK gelees. Ek wil ‘n verdere vraag vra. Wat gaan van die Nerderduitsche Hervormde Kerk van Afrika (NHK) word? Is hulle op dieselfde pad na ondergang? Andrea van Vuren

Pieter van der Dussen Senior ·

Ek wys daarop dat “die GKSA” se 2012-besluit gepaardgegaan het met ‘n besluit om ‘n kommissie aan te wys wat ‘n sogenaamde omkeerstrategie aan die komende “GKSA-sinode” DV in Januarie 2015 moet voorle. Die verdeeldheid in “die GKSA” is so diepgaande dat indien daar nie besliste besluite oor die sogenaamde omkeerstrategie geneem word nie, “die GKSA-Kerkverband” uiteen sal val, desnoods met verdrag. Om op hierdie tydstip van ‘n herskikking tussen “die GKSA”, die NGK en die NHK te praat, is nogtans wel moontlik, maar dit sal nie tot ‘n algemene samegaan lei nie. Afgesien van “die verdeeldheid in “die GKSA” het die SteedsHervormers reeds pad gevat, terwyl daar veral in die Wes-Kaap ‘n aktiewe beweging bestaan om die NGK se onseker gang teen te werk. In aldrie gevalle gaan dit daarom om die gesag van die Bybel as die Woord van God ten volle te laat geld. Mens kan dus eerder toenadering in een of ander vorm tussen die grroeperinge sien wat dit wil bereik as tussen die strukture-in-geheel wat tans bestaan. Uiteindelik is die enigste sogenaamde omkeerstrategie vir enige gemeente en daarom vir enige gesamentlike struktuur reformasie – terug na die Woord volgens Jeremia 6:16 en in nakoming van die vereistes om Ware Kerk te wees soos dit in Artikel 36 van die .Nederlandse Geloofsbelydenis vanuit die Woord van God saamgevat is. Die Drie-enige God ken geen kompromie nie: Hy eis dat Sy Woord as Sy Woord erken word.

Burger Visser ·

Ek het onlangs n boek gelees , Algehele oorgawe, deur Andrew Murray . Toe ek klaar is besef ek hy het God geken , hy het Chritus se hart en wens vir die mensdom verstaan. As ek kyk na die omgewing waarin die Suid Afrikaner vandag geestelik gelei moet word , dink ek ons het God in die prosses verloor . Waar die vyhand toegang gekry het is toe ons dit wat God deur n mens soos Andrew Murray tot stand gebring , vernietig deur dit te gebruik om n politieke ideologie te bevorder. Alles wat nie Christus karakter verteenwoordig , was daar teenwoordig.

Vandag sit ons met mense wat vasgevang is tussen die gees van tradisies en die soeke na ware vryheid in Christus. As jy begin met mense hieroor praat , kom jy die eensaamheid en verlange na sin agter. Die tyd vir vereniging was seker nog nooit so reg nie. Ons kan nie in God se gesag en genade inbeweeg en ons eie ding wil doen omdat dit ons gemaksones pas nie. Ons moet ons afhanklik van God besef om sin in ons lewe te kry . Jy kan nie die afhanklikheid besef as jy nie weergebore is nie. Mense is bang om weer van beginsaf te leer . Ons het ook mense nodig wat reeds wedergebore is om die pad met die nuwes te stap.

Ons kan jare omsit en redeneer oor ons mensgemaakte reels, verdraaide siennings en geskiedenis of ons kan na Christus draai . Dis soms moeilik om God se teenwoordigheid te sien in hierdie instellings wat nog baie die skuld van die verlede dra . Die eienskap waaraan Christus teenwoordigheid geken word is liefde en die afwesigheid daarvan staan nog so uit. Hierdie land se mense is so begerig vir die Goeie Nuus . Kom ons begin nuut in God se liefde . Om nuut te begin beteken jy maak skoon agter jou en vergeet daarvan. Dit beteken jy doen dinge anders. Dit is moeilik om te dink dat die ng/vgk instellings hier kan leiding gee in inpas in die toekoms.

Edwin ·

Ek weet nie waar julle daaraan kom dat die NG Kerk gaan ontbind as die VGK deel word van die NG Kerk nie. So moenie dinge vooruit loop wat nog nie gesê is nie, en waaroor daar nog nie besluit is nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.