Afrikaners, veral regs, kort konserwatiewe realisme

Is daar ’n egte ‘konserwatiewe tradisie’ onder Afrikaners? In weerwil van die algemene opinie word hieronder aangevoer dat daar met enkele uitsonderings na nie iets soos ’n egte konserwatiewe benadering onder Afrikaners aanwesig is nie.

Hoekom? Weerspreek die feite nie op ’n mees ooglopende wyse hierdie stelling nie? Regses onder Afrikaners maak immers daarop aanspraak om ‘konserwatief’ te wees? Soveel so dat die grootste regse party van die afgelope dekades homself die Konserwatiewe Party genoem het?

My antwoord hieronder is dat dit ’n groot vergissing is om na die meeste regses as konserwatief te verwys. ’n Kort omskrywing van die begrip ‘konserwatief’ sal aantoon dat ‘regs’ onder Afrikaners eintlik bloedweinig met ’n egte konserwatiewe gedagte in gemeen het.

Alvorens ons egter ‘konserwatief’ omskryf, is dit nodig om te sê dat dié begrip ook nie noodwendig met ‘links’ saamval nie. (Alhoewel dit heeltemal moontlik is om linkse konserwatiewes te kry). Om konserwatief te wees, beteken eerder om jouself anderkant die selfvernietigende uiterstes van links en regs te bevind.

Maar hoe so?

Edmund Burke (1729-1797)

Om hierop te kan antwoord, verwys ons kortliks na Edmund Burke (1729-1797), die 18de eeuse Britse politikus en denker. Burke word tereg as die grondlêer van die moderne konserwatiewe gedagte beskou. As ons dus na die betekenis daarvan vra, is dit goed om by Burke aan te knoop.

As ’n mens Burke se steeds relevante werke lees, is dit duidelik dat hy die begrip ‘konserwatief’ met die kwessie van verandering in verband bring. Volgens Burke beteken konserwatief nie – soos wat dikwels gesê word – om teen verandering te wees nie, maar om eerder vir ’n bepaalde soort verandering te pleit.

Konserwatiewes, sê Burke, verander nie deur die bestaande sosiale en politieke werklikhede met abstrakte bloudrukke storm te loop nie. Laasgenoemde is die tipiese werkswyse van diegene wat deur ’n verlies aan werklikheidsin gekenmerk word. En wat as gevolg daarvan poog om die verwikkelde aard van die politieke werklikheid binne die dwangbuis van sodanige bloudrukke – Burke noem dit ‘metafisiese spooksels’ – te boender.

Nee, egte konserwatiewes verander deur by die verwikkelde aard van die alledaagse aan te knoop. Van daar dwing konserwatiewe nie bloudrukke op alles af nie. Hulle vra eerder hoe hulle ideale in en deur die moeisame weg van die alledaagse werklikheid bemiddel kan word. Konserwatiewes werk daarom ook nie vanuit die kille hoogste van abstrakte idees nie, maar van onder af, vanuit die voorhandende, vanuit dit wat moontlik is.

Hieraan voeg Burke ten minste twee belangrike riglyne wat in die hart van die konserwatiewe lewe staan:

Eerstens, mense is per definisie tradisie-afhanklike wesens. Sonder die voorbeeld van die tradisie kan daar nie so iets as ʼn ordelike – ingesluit ʼn wyse politieke – lewe moontlik wees nie. Anders as wat dikwels vanaf Burke se tyd tot en met vandag geglo word, is die tradisie daarom ook nie per definisie boos, sleg of verwerplik nie. Inteendeel, die tradisie is meestal ’n bron van ervaring, wysheid en insig. Sonder die voorbeeld van die tradisie word ons juis uitgelewer aan die abstrakte bloudrukke en al die geweld wat daarmee gepaardgaan.

As ons dus wil verander – en ons kan meestal nie ander as om te verander nie – moet ons in die eerste plek vra of dit hoegenaamd ’n verbetering op die tradisie verteenwoordig. Indien ons nie met geloofwaardige argumente kan aantoon dat ons planne ’n verbetering op die tradisie verteenwoordig nie, moet die tradisie eerder gehandhaaf word.

Tweedens, konserwatiewes heg in aansluiting by die Klassieke politieke denke ʼn belangrike waarde aan wat Aristoteles die ‘goeie oordeel’ genoem het. Waarna verwys dit? As ʼn mens die wese daarvan kan raakvat, kan gesê word dat die goeie oordeel presies nie daar na vore tree waar ons probeer om eenvoudig ʼn abstrakte bloudruk op die werklikheid af te dwing nie. Inteendeel, die goeie oordeel tree daar na vore waar ons vra hoe ons ideale met die verwikkelde werklikheid bemiddel kan word.

Dit bring ons by die aanvanklike vraag: Is daar iets soos ʼn egte konserwatiewe tradisie onder Afrikaners? Gemeet aan Burke kan die regses meestal nie as ‘konserwatief’ bestempel word nie. Daarvoor word hulle benadering te veel deur werklikheidsvreemde skemas – ʼn abstrakte van bo-af benadering – en ʼn gebrek aan die goeie oordeel gekenmerk.

Die Konserwatiewe Party (1982-2003)

Die Konserwatiewe Party was miskien die beste voorbeeld hiervan. Terwyl die harde werklikhede – demografiese ontploffing, ekonomiese druk, internasionale isolasie, ensovoorts – teen die KP se toekomsvisie geskreeu het, was die party eenvoudig nie in staat om aan te pas en te verander nie. Sy uiteindelike mislukking was daarom net so ‘spektakulêr’ (Burke se ‘spectre’ of spooksel) as sy toekomsvisie. Bykans geen poging is in dié geledere aangewend om hulle toekomsvisie met die bestaande werklikhede te bemiddel nie.

ʼn Meer onlangse voorbeeld is die poging om ʼn verkiesing onder Afrikaners te hou. Volgens woordvoerders van dié poging sal so ʼn verkiesing aan verkose Afrikaner-leiers die mandaat gee om ʼn ‘volkstaat’ van die owerheid te eis. Niks kan egter verder van die harde werklikhede verwyder wees as dit nie. Buiten talle taktiese en strategiese vrae wat ʼn mens ten opsigte daarvan kan vra (soos Z.B. du Toit se stelling dat ‘minderhede hulleself nooit moet laat tel nie’), is die belangrike vraag binne hierdie konteks vanuit watter bloue-hemel die ‘volkstaat’ op ons sal neerdaal? Gʼn volkstaat sal ʼn werklikheid word as dit nie in en deur  harde werk – van onder af – bemiddel word nie. Maar presies vir hierdie harde werk van bemiddeling word klaarblyklik weggedeins. Burke sou dit na alle waarskynlikheid as ʼn voorbeeld van metafisiese ontvlugtingsdenke beskou het.

Nogtans is daar een duidelike uitsonering onder ons mense. Ek verwys na Orania. Alhoewel Orania dikwels met regs verbind word (en daar sekerlik goeie historiese gronde daarvoor bestaan), is Orania eerder konserwatief in die Burkiaanse sin van die woord. Waarom?

Net soos wat Burke sê, doen Orania by uitstek nie ʼn beroep op ʼn abstrakte droom wat kunsmatig op die werklikheid afgedwing moet word nie. Orania is eerder besig om stap vir stap – in en deur die moeisame weg van konkrete handeling – ʼn harde en onvermybare werklikheid op die ‘grond’ neer te sit. Die uitgangspunt ten grondslag hiervan is tipies van Burke: Harde feite gaan ons abstrakte konstruksies vooraf. Begin dus by die harde werklikhede en bou vandaar verder.

Hierby moet ook ʼn tweede punt gevoeg word. Vir enigiemand wat Orania dophou, is dit opvallend hoe sy leiers se optrede deurgaans deur ʼn sin vir die goeie oordeel gekenmerk word. In ander taal geformuleer, Orania se handeling word meestal deur ʼn soort konserwatiewe geduld gekenmerk, dit wil sê deur die wete dat ons slegs in die praktyk iets gaan bereik as dit via die omweg van harde werk geskied. Hier is gʼn sprake van ontvlugtingsdenke nie.

Miskien het dit tyd geword om Orania anderkant die ou verdeling (en nogmaals: selfvernietigende) verdeling tussen links en regs te definieer. Dit wil sê as dit hoegenaamd nodig is, want Orania is kennelik al lankal daarmee besig.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Danie Goosen

Meer oor die skrywer: Danie Goosen

Danie Goosen is voorsitter van die FAK en professor in Godsdienswetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

17 Kommentare

Jaco Kleynhans ·

Hel maar wat ‘n briljante stuk skryfwerk! Sedert die loodsing van Maroela Media is hier beter kwaliteit skryfwerk gepleeg was wat op baie ander plekke in jare gedoen word.
As inwoner van Orania kan ek met Danie akkoord gaan. Ek het min sin vir die regse, maar vind groot vreugde in die tradisionele konserwatiewe. Dit is eintlik hartseer om te sien hoe min Afrikaners dit regkry om te besef dat die voortbestaan van die Afrikaner binne ‘n nuwe konserwatiewe denke lê. Ek onthou dat ek reeds ‘n paar jaar gelede in ‘n artikel in “Die Wêreld” (daardie Sondagkoerant wat so gou gesneuwel het) vir die opkoms van ‘n sterk tradisionele konserwatiewe beweging gevra het. Mense het my beroep egter as net nog ‘n regse poging aangesien! Ek sal self binnekort in ‘n bydrae op Die Groot Debat verduidelik waarom ek die Orania-model as ‘n antwoord vir die huidige reaksionêre en selfs rassistiese Afrikaneroorlewingstryd sien.

louis.dup ·

Danie ~
1  Dis heerlik om oor jou prikkelende gedagtes van vandag te besin. 
2  Eerstens lê Orania na aan ons harte, trouens diep in ons harte.  Hoekom?  Omdat Oraniërs die “metafisiese ontvlugtingsdenke” vermy waarteen jy, in aansuiting by Burke, so welsprekend waarsku.  Orania wys vir ons hoe Afrikaners wat ophou om egoïstiese onsin te praat, op ‘n praktiese en selfwerksame wyse skouer aan die wiel sit.  Hoe hulle tereg kan werk nie met “metafisiese spoke” nie, maar met “harde feite”.  Jy slaan die spyker op sy kop.  
3  Tweedens waarsku jy saam met Burke teen “abstrakte bloudrukke” en regses se “werklikheidsvreemde skemas”.  Ek wil byvoeg:  ook linkses se “werklikheidsvreemde skemas” soos nasionalisering en regstellingsaksie.  Trouens, regs of links of middel is nie die probleem nie; dis selfs irrelevant.  Vir Burke lê die probleem op die kenteoretiese gebied:  Mense oral wat intellektueel net nie skerp genoeg is om “konserwatief” en “realisties” te dink nie.  Hulle verstaan eenvoudig te min van wat om hulle aangaan.  Daarom ryg hulle negatiewe aanvalle in teen alles om hulle.  Kinders wat nie opgegroei het nie.  Selfs nie leer spel het nie.  Onthou Burke se briljante ontledings van die Franse Rewolusie het nie eerstens gehandel oor of iemand sogenaamd links of sogenaamd regs of sogenaamd middel was nie.  Glad nie.  Sy ontledings wys hoe die Franse, uit uiteenlopende nerings, hulle kop aan die einde van die agtiende eeu verloor het weens “metafisiese spoke”.   Hulle koppe het uitgehak.  Op die ou end het die populistiese massas selfs die leiers van hierdie irrasionele opsweping soos Robespierre en Danton na die valbyl toe gesleep, hulle koppe afgekap en in ballasmandjies gevang.  Dis wat gebeur as mens kop verloor!  Die Franse ekonomie en kultuur het oneindig skade gelei.
4  Dankie Danie dat jy ons so hard en duidelik terugbring na die werklikhede van ons land toe.  Na die feite toe.  Ná jou pleidooi vir realisme, gaan ons almal vannag lekker slaap.
Louis du Plessis

Quintin Diederichs ·

Uitstekende artikel! Die rede waarom daar soveel verwarring tussen die konsepte regs, links, liberaal en konserwatief by die Afrikaner bestaan is eenvoudig omdat ons nog nooit kans gehad het om ‘n volkseie staatkundige identiteit te ontwikkel nie. Selfs die Boere Republieke was multi-etniese state en dit was juis die multi-etniese aspek van daardie state wat tot hul einde gelei het (die Uitlander kwessie). Sedert volksplanting in die 1600’s tot 1 April 1991 toe Orania gestig was, het die Afrikaner onwetend en blindelings sy vryheid keer op keer opgeoffer deur afhanklik te wees van volksvreemde arbeid. Geen volk op aarde kan vry wees indien hy nie in staat is om sy eie arbeid te verrig nie. ‘n Volk wat nie vry is nie gaan nooit sy eie staatkundige identiteit ontwikkel nie.
 
Die goeie nuus is dat daar wel Afrikaners is wat vandag vry wil wees in hul eie Afrikaner Republiek en hulle is besig om hul volkstaat met hul eie arbeid van die grond af op te bou. Dit is die realiteit wat Orania op die tafel sit en waarmee daar rekenskap gehou moet word. Ek dink dat die meeste Afrikaners daarbuite gerus by hul volksgenote in Orania kan gaan kers opsteek in die hoop dat ons volk vir eens en altyd los kan kom van Suid-Afrika en al die verwarring wat met daardie staat gepaard gaan.

Wanneer Afrikaners na SA verwys as ‘ons land’ dan besef hulle nie dat hulle eintlik praat van ‘n staat wat in 1910 deur die Britte op ons voorvaders geforseer was nadat derduisende onskuldige mense in konsentrasiekampe moes sterf (omdat hulle die onafhanklikheid van hul Boere Republieke wou behou!), ‘n staat wat toe deur die swart meerderheid se goedkoop arbeid opgebou was en nou vandag deur die einste swart meerderheid regeer word. Nee wat, ons kan eers praat van ‘ons land’ wanneer ons ‘n land het!

Tot dan kan meeste Afrikaners nie regs wees nie aangesien regs daarop neerkom dat mens die huidige staatsbestel wil behou, m.a.w. die ANC is regs omrede hulle die Nuwe SA wil hou net soos hy is… nietemin, SA is en was nog altyd een groot verwarrende gemors!!

Johann Carstens ·

Ag nee wat mnr Goosen. Ek is trots Afrikaner .. BOER … om na my as links of regs konserwatief OF liberaal te verwys en een of die ander te probeer regverdig of verdedig verkleineer my. Jammer Mnr Goosen, probeer asseblief n nuwe benadering tot moderne Afrikaner en BOER-wees.  Ek se weer, ek is n BOER soos Oom Paul op Kerkplein, maar ek laat my nie deur die tipe artikel in n boksie druk nie. Die artikel is deursigtig, en ‘n swak poging om konserwatisme en regsheid te probeer verdedig. Die twee begrippe is nie meer relevant in ons samelewing nie en ek kan jou verseker dat meeste moderne afrikaners (ook baie jonger as ek) nie meer met die begrippe stoei nie.  Daar is groter vraagstukke hier van belang as om enige van bg. te probeer verduidelik of verdedig. Wend eerder jou talent en uiters bekwame vermoee aan om die groter vraagstukke aan te spreek. Jy weet van hulle. “Hoe bewerk ons ‘n voortbestaan vir on kultuur in ‘n multikulturele omgewing waar ons as ‘n minderheid nooit weer ons sin sal kry nie ?” as ‘n voorbeeld. ‘n Baie beter aanwending van jou briljante vermoee, daar is baie, heelwat ander GROTER vraagstukke wat die moderne Afrikaner in die gesig staar as jy bereid is om jou fasinasie met “konserwatief” vs “liberaal” en “Links” vs “Regs” te laat staan.  Bedink die probleme waarmee jy worstel uit ‘n nuwe paradigma, of breek liewer eers jou eie.  Kreatiewe breine soos joune kan werklik beter aangewend word as dit, maar dit moet eers vrygestel word !   Johann Carstens .. die boer in vreemde beton

Anoniem ·

Johann, as jong Afrikaner weet ek ook dat dit belangrik om eers seker te wees hoe jy ‘n probleem gaan benader voordat jy daardie probleem stormloop.

Neem jy ‘n skalpel en poog om slegs die verrotte weefsel te isoleer en te verwyder, of neem jy ‘n saag en amputeer die hele liggaamsdeel?

Dit is onmoonlik om oor ‘n oplossing vir ‘n probleem saam te stem as ons nie eers saam gestem het oor die benadering wat ons tot daardie probleem gaan volg nie.

Anoniem ·

Regte konserwatisme gaan hand aan hand met pragmatisme. Mens sou dit dalk “behoudende pragmatisme” kon noem. Dit is wat “regse konserwatiewes” dikwels, tot hul skade, vergeet. Dan bly dit net by die “behoudende” gedeelte.

Anoniem ·

Danie, dankie vir ‘n baie goeie plasing.

Daar is egter ‘n pardoks wat in ag geneem moet word.  Dit lui dat dit wat ons wil bewaar ons gewoonlik verblind vir dit wat ons moet verander ten einde wel te kan bewaar.

Daar is altyd ‘n stryd tussen behoud en verandering.

Edmund Burke was egter bewus dat daar sekere gedeeltes van tradisie is wat moet swig voor die eise van nuwe werklikhede ten einde die oorweldiging en algehele vernietiging van daardie tradisie deur die veranderende werklikhede te verhoed.

Daarom was Edmund Burke in sy eie tyd ook gekant teen die Tories (lojale monargiste) wat toe beskou kon word as hulle ekwivalent van die konserwatiewe party.

Hy het geweet dat verandering iets is waarvoor daar beywer moet word, daagliks, teen die weerstand wat die onrealistiese behoudendes bied, maar ook teen die versoeking wat totale revolusie as kitsoplossing bied.

Daarom was hy deel van en betrokke in wat bekend was as die “Whig” party.  ‘n Beweging ten gunste van verandering maar gekant teen die radikale spooksels.

Dit is wat ons vandag kort.  ‘n Beweging wat nie skroom vir verandering nie, wat dit omhels en dit verkondig, juis omdat verandering noodsaaklik is vir behoud.

So ‘n beweging met invloed is egter nog nie op die tafel nie. 

Indien Orania so ‘n beweging wil word, sal openbare meningvormers met invloed bereid moet word om Orania juis met hul openbare steun te ondersteun.

Eugene Brink ·

‘n Goed deurdagte stuk met geldige punte. Die Afrikaner-verregses is vandag uiters reaksioner en wil amper op ‘n links (kommunistiese?) wyse ‘n rewolusionere verandering teweegbring en ‘vryheid’ op ‘n isiolasionistiese manier bewerkstellig. Ek is jammer, maar dit is nie hoe dit in die werklikheid gaan nie. Enige plotselingse verandering sal noodwendig drastiese en skadelike gevolge inhou. As dit so maklik was soos baie regse groeperinge wil voorgee, sou dit al lankal suksesvol uitgevoer gewees het. Nie eers Apartheid SA was heeltemal outonoom en onafhanklik soos wat die heersers of Afrikaner-volk dit sou wou gehad het nie.

Talle faktore moet met selfbeskikking in ag geneem word: Die politieke ekonomie van so ‘n gebied of stelsel, die gepaste ligging, die steun onder Afrikaners self en so groei die lys. Selfbeskikking sal nie op ‘n sesessionistiese manier geskied nie, die bravado van die regses ten spyt. In die eerste plek is sessie binne SA ekonomies en geopolities onwerkbaar terwyl die deursnit-Afrikaner homself nie met so iets vandag vereenselwig nie en nie daarvoor sal opoffer nie. Dus bly die sinvolste benadering, soos daar tereg in die artikel opgemerk is, om Orania se voorbeeld deur harde werk en geleidelike oorwinnings en terugslae aan ‘n outonome gebied te bou. Konserwatiewes ondersteun per slot van sake stadige verandering, beslis nie rewolusies nie.  

Anoniem ·

‘n Mens kan twee kante toe redeneer.  Vir sekere gelowiges is die onsienlike ook ‘n
realiteit net soos die sienlike. 
Gelowiges (ek praat van Christene) kan enige denke deur ware geloof laat
gebeur.  Bloedrivier is een so ‘n
voorbeeld.

Die anderkant van die saak is dat daadwerklike
bestyging van die werklikheidsleer ook veranderinge kan meebring soos Danie dit
hier stel.  Maar daar moet ook verstaan
word dat onder die groep bekend as “Afrikaner” daar ‘n vleuel is wat hulself
nie as Afrikaners sien nie, maar eerder die aanspreekvorm van “Boer” verkies.   Dus sal jy nie regtig ‘n “regse Afrikaner”
kry nie, omdat laasgenoemde groep hulleself die Boerevolk noem.

Die Boerevolk glo dat hulle hul vryheid reeds
in 1902 verloor het en omdat dit deel was van Britse propaganda moes die woord “Boer”
ook finaal vernietig word.  Die benaming “Afrikaner”
is toe die antwoord en die einde van die woord “Boer”.

Boer het toe ook as skelwoord floreer en die aggressiewoord
 geword vir Blankes en omdat die eertydse
polisie meestal blank was is na die polisie ook verwys as “Boere”.

Voorbeelde van die woord Boer is die verwysing
na die Anglo-Boere oorlog in plaas van ‘n Anglo Afrikaner oorlog.  Aan die Anglo kant het sowel Afrikaners as
Britte geveg wat weereens ‘n duidelike skeiding tussen “Boer” en “Afrikaner”
aandui.  Aan “Boere” kant het daar ook
weer Britte (Skotte, Iere) geveg teen die Engelse.

Deurgaans word daar dus na Afrikaners as
linkses verwys indien politieke gesprekke onder regses sou plaasvind.

Danie, jou skrywe oor Orania is perfek in die
kol.  Daar kom politiek laaste en volksideaal
en werklike haalbare idees eerste.

Propatria ·

Danie
Hou in gedagte dat jy nie kennis het wat die uiteinde van die KP se beleid het nie, want dit het nie plaasgevind nie, die NP en PFP se denkrigtings is die produk wat ons vandag mee saamleef en dus n onteenseglike bewys dat die NP se oplossings reeds gefaal het. (Terloops, ek was nie n KP ondersteuner nie)

Wat ek wel met jou saamstem is dat die abstrakte denke (of dan drome) van volkstate nie deur my as n realiteit gesien kan word nie.
Orania het sy positiewe, maar ons moet in ag neem dat van die wat die land uit gegaan het minder as 0,002% Orania beskou het as n wesenlike alternatief.

Ek beskou nie mense as konserwatief of liberaal nie, ook nie as links of regs nie. Ek beskou mense as Internasionaliste of Nasionaliste en verder verdeel ek hulle as naaste-liefhebbers of verste-liefhebbers en my uitgangspunt is dat as jy jou eie naaste lief het moet jy in belang van hulle dink en nie in belang van die wie vir hulle n bedryging van welke aard ookal inhou nie.

Jorik van Suid-Afrika ·

Ek vermoed ons gaan nog baie kleitrap tussen begrippe soos konserwatief, behoudend, pragmaties, realisties, regs en links – en daarom is die gesprek nie tevergeefs nie, tensy ons dit aanhoudend vermy om te definieer waarvan ons praat (die Jongeling Carstens kan maar kennis neem, daar sal nog baie gepraat moet word!). Alles wat die moeite werd is in die Afrikaners se geskiedenis is al as regs bestempel en afgemaak; of terselfdertyd as behoudend en realisties verdedig. Ons ontkom nie so maklik die naamkaartjies van ons vyande nie.
Verder kom mens nie ver as jy pragmatisme aan konserwatisme koppel nie: die vraag is immers – pragmatiese waarmee en tov van wat? En verder: konserwatief en behoudend tov waarvan? As ons nie inhoud gee aan ons gedagtegang nie, vorder ons vinnig na nêrens! Kom ons voltooi ons sinne wanneer ons sê VERANDER! of wanneer ons vra BEHOU! Wat wil jy verander? Wat wil jy behou? Dan maak ons ‘n slag vordering…; anders gaan ons gewoon terug na Jaar 2000, of 1994 of 1992. En dan begin ons weer ‘n modderbad soos destyds, waar niemand skoon kan uitkom nie.

Jorik van Suid-Afrika ·

Die argument dat Orania as voorbeeld van “konserwatiewe realisme” kan dien het beslis meriete. Tog mis ek die realistiese besef dat Orania alleen nie naastenby ‘n oplossing bied vir die dilemma van die Afrikaners in geheel gesien in Suid-Afrika nie. Die demografiese verspreiding van Afrikaners stel ons voor ‘n yslike probleem. Dis op hierdie groter strategiese probleem wat die toets van realisme aangelê sal moet word. As politieke strategie en toekomsbeelde nie rekening hou met die breër werklikheid van die Afrikanervolk en sy wesenlike uitdagings nie, dan bluf ons steeds onsself of mislei ons mense met ‘n soort messiaanse gedagte, soos die Volkstaat soms wel aangedien word. Die hele Namakwaland sou volgens een konserwatiewe party omskep word in ‘n Volkstaat – die gedagte is intussen morsdood. In die plek daarvan is daar net Orania. Mens sou nog Kleinfontein kon byvoeg as ‘n soortgelyke projek – maar dis ongelukkig die bestek van die “konserwatiewe” Afrikaners se visie vir selfstandigheid op die oomblik.

Thinus ·

Treffende stuk Danie. Die regses is gou met geldige beskuldigings teen die destydse NP Onderhandelaars, maar vergeet hulle eie leiers se gebrek aan strategiese visie in die negentigs. Die bewys van die strategiese mistastings van albei groepe le daarin dat beide die KP en die NP as die twee groot magte van die Tagtigs vandag nie meer bestaan nie! Maar die grootse skuld vir ons huidige gemors is wel die ou NP regeringsleiers, omdat hulle aan bewind was met al die staatshulpbronne en nog wat.

Verwyte sal ons egter nie uit die moeras uit kry nie. Maar omdat ons destydse leiers bykans nooit die kans laat verbygaan het om ‘n kans te laat verbygaan nie, is daar min opsies vir ons oor, en het die oorblywende opsies min en duur geword. Daarom het ek begrip vir die siening dat Orania deel van die oplossing moet wees, maar hulle sal eers die skrikbeelde van Volkstate, Doringdrade en Verwoerdsbeelde moet laat vaar ten gunste van werklikheidsgegronde strategiee voordat hulle meer steun sal kry.

Jorik van Suid-Afrika ·

Thinus – Dit is ‘n interessante hoek waaruit jy kyk. Op die keper beskou: die KP en die NP het albei ver wegbeweeg van die Verwoerd-denkbeelde; die KP het by monde van sy leier destyds ontken dat die KP ‘n “regse party” sou wees, of dat die party Apartheid sou voorstaan. Vir 15 jaar lank, tussen 1966 en 1981 het die KP-leiers die wegbeweeg van dr Verwoerd se beleid via die pragmatiese (“realistiese”?) beleid van mnre Vorster en PW Botha ondersteun – en toe in 1982 aangekondig dat hulle “partisie” voorstaan. In der waarheid is Orania ‘n praktiese poging om partisie op mikroskaal te bewerkstellig – en as sulks is dit dus die voortsetting van die KP-beleid en nie van die Verwoerd-visie nie. Al het Orania, as ek reg verstaan, nog nie eens amptelike status as dorp verwerf nie. Die “bloudruk” vir Orania (as ons dit reg verstaan) maak egter voorsiening vir die wegbreek en die afskeiding van Orania (maw vir volledige partisie op skilfervlak) – tot dermate dat dit vryheid sal verwerf met ‘n eie geldeenheid, eie owerheid, eie vlag en eie staatsgesag. Dit sal dan ‘n simboliese verwesenliking wees van die wegbeweeg van die Verwoerdbeelde, van doringdrade en van Volkstate – om jou eie woorde te gebruik. Die KP bestaan nie meer nie, maar die politiek leef voort in die Orania gedagte. Die VF het die gedagte uitgebrei (komende vanuit die KP-geledere) na ‘n Volkstaat vir die hele Noordelike Kaap – maar het die gedagte (moontlik aangespoor deur “realisme”) versaak en die boek toegemaak op ‘n Volkstaat, ten gunste van (“realistiese”?) samewerking met die regerende ANC-Alliansie. 

Riesl Spies ·

Edmund Burke was mos bekend vir die spreuk “If good men do nothing evil will prevail”. Goeie konserwatiewe waarheid.

Deon Opperman ·

Dankie vir hierdie, Danie. Soos altyd rede tot nadenke met ‘n dieper insig en verstaan daarna. Ek haal graag die woorde van Aldous Huxley aan, woorde wat my al vir die afgelope twintig jaar gehelp het om “konserwatief” te bly terwyl die we^reld om my mal raak, en inderdaad die inspirasie vir my drama “Stille Nag” was: “The politics of those whose goal is beyond time are always pacific; it is the idolaters of past and future, of reactionary memory and Utopian dream, who do the persecuting and make the wars.” Ek wens so dat beide radikale linkses en regses dit sou lees en vir ‘n oomblik diep en deeglik daaroor sou dink.

Deon Opperman

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.