Afrikaners word die slagoffers van ANC-propaganda

flip-buys-2017-10

Flip Buys. Foto: Verskaf.

Dit lyk al meer of talle Afrikaanse meningsleiers die ANC se “samesweringsteorie” oor die geskiedenis glo en op almal wil afdwing. Die aanhangers van samesweringsteorieë glo dat geheime komplotte deur klein groepies samesweerders groot historiese gebeure verklaar. Van die bekendstes handel oor teorieë dat die Amerikaners self die 9/11-vliegtuigramp uitgevoer het, dat daar nooit regtig ʼn man op die maan was nie, dat die Britse koningshuis vir Diana se dood verantwoordelik is, dat MIV/vigs deur die CIA ontwikkel is om swart mense uit te wis, en dat ʼn klein groepie Jode die wêreld beheer. Die meeste samesweringsteorieë is relatief skadelose spookstories wat deur randgroepies opgetower en geglo word. Ongelukkig het dit ook al tot rampe gelei, soos toe kommuniste oortuig was dat “kapitaliste” vir alles wat verkeerd is verantwoordelik was, en ʼn wêreldwye kernkrag gewapende “klasssestryd” gevoer het.

Karl Popper het in sy groot werk, Die oop gemeenskap en sy vyande, die term “samesweringsteorie” gebruik om die ideologiese basis van die Nazi’s en die kommunisme te kritiseer. Hy het uitgewys dat totalitêre ideologieë soos hierdie op denkbeeldige komplotte gegrond is deur samesweerders wat die betrokke ras of klas benadeel en dus uitgewis moet word. Hierdie teorieë se gewildheid spruit uit hul eenvoudige verklarings vir uiters ingewikkelde gebeure. Dit is normaalweg oorvereenvoudigde, komplotgebaseerde teorieë, wat op halwe waarhede en ʼn sterk ideologiese vertolking van die geskiedenis berus.

Spookstories

Dit ontstaan gewoonlik as ʼn sielkundige reaksie ná opspraakwekkende en traumatiese gebeure, en het ten doel om dit eenvoudig te verklaar en sondebokke uit te wys. Diegene wat dit optower en glo is gewoonlik self ontnugterde en siniese slagoffers van die betrokke gebeure en wil nou op “hulle” wraak neem deur die groep veronderstelde samesweerders as die skuldiges uit te wys. Hierdie spookstories waai gewoonlik gou oor, maar daar is ʼn paar wat hardnekkig bly klou en soms selfs ʼn breë aanhang verkry omdat dit soveel makliker as die ingewikkelde waarheid verteer.

Die ANC-in-struggle se eensydige weergawe van die geskiedenis is tekenend van so ʼn teorie, en is gevaarlik omdat dit nou ook die amptelike siening van die ANC-in-regering is en die grondslag van sy beleid vir die toekoms vorm. Hierdie siening voldoen aan die kenmerke van ʼn samesweringsteorie, maar is moeilik om te ontken omdat mens maklik as ʼn rassis en ʼn apologeet van apartheid gebrandmerk kan word.

ANC-teorie

Die ANC se teorie kan kortliks as volg saamgevat word: ʼn Geheime Afrikaner Broederbond (AB)- geleide vennootskap tussen die AB, die ou NP en die NG Kerk saam met talle ander stut- en frontorganisasies het sedert die begin van die vorige eeu saamgesweer om swart mense te verdruk en met apartheid te beheer. Die AB was die geheime meesterbrein agter alles, die NP moes apartheid oral toepas, en die NG Kerk moes dit van die preekstoel af met goddelike sanksie goedpraat en alle opposisie doodpreek en -bid. Hiervolgens is al die probleme van swart Suid-Afrikaners eenvoudig te wyte aan apartheid en wit rassisme, en gevolglik is die oplossing een van omvattende en langdurige regstelling van hierdie historiese proses. Enige teenstand is ʼn bewys van (teenrewolusionêre) rassisme en ʼn vasklou aan die oorblyfsels van apartheid.

Vanselfsprekend is alle ondersteuners van die ANC nie goedgelowige aanhangers van samesweringsteorieë wat verkeerdelik teen apartheid gekant was nie. Soos met ander spookstories is hierdie een grootliks op geskiedkundige waarhede gebou, maar dit ignoreer ook die ingewikkeldheid van die werklikheid en skep nuwe probleme omdat dit eensydig is en die geskiedenis verdraai. Die interessante is dat daar in Afrikanerkringe ook ʼn denkstroom is wat hom ten doel stel om die ANC se weergawe van die geskiedenis algemeen met alle mag onder Afrikaners aanvaar te kry. Hierdie mense sal uit hul pad gaan om die verlede met ‘n vergrootglas te fynkam vir Afrikaner foute, maar sal terselfdertyd hulle oë toeknyp vir die ANC se historiese foute. Die vraag is waarom? Een moontlike antwoord op hierdie vraag kan verkry word deur te put uit die navorsing van die groot Franse sosioloog en kenner van propaganda, Jacques Ellul.

Propaganda

 Ellul se navorsing maak boeiende leesstof. Hy sê dat propaganda wat skielik saam met ʼn bedeling tot ʼn einde loop, ʼn ingrypende invloed op die voormalige ondersteuners het. Die bekende wêreld wat deur die ou bedeling se propaganda geskep is verbrokkel, en hulle voel oornag soos vreemdelinge in hul eie land. Alles verander en alles waarin hulle geglo het verdwyn in die omwenteling. Die nuwe stelsel skiet alles van die oue in flarde in ʼn poging om homself te vestig, en die ou bedeling bestaan nie meer om homself te “verdedig” nie. Hierdie toestand lei tot die ontbinding van die groep en ʼn gelyklopende verbrokkeling van die individue daarvan. Hulle verloor vertroue in hulself, in die saak waarvoor hulle gestaan het, in die vorige leiers, en soms selfs in die lewe. Hulle onttrek uit die groep, “ons” word “ek”, en vorige lewensideale lyk in die nuwe era belaglik. Daar is ʼn gevoel van woede, ontnugtering en vertwyfeling. Hulle voel belieg, selfs verraai, en onttrek uit die openbare lewe en privatiseer hulself. Hulle voel dat al hul opofferings verniet was, en dat hulle deur die ou stelsel vir die gek gehou en misbruik is. Hulle verloor alle belangstelling in hul vorige lewe, en word afsydig teenoor hul gemeenskap, geskiedenis, helde, simbole, instellings en idees.

Volgens Ellul kan mense wie se propaganda skielik afgesny word, selfs aan senuwee- en sielkundige probleme soos skuldkomplekse begin ly. Die nuwe stelsel se propaganda draai die krane oop in ʼn poging om voormalige teenstanders ideologies en prakties te “ontwapen”, sy eie geldigheid te vestig en om moontlike mededingende stelsels soos die vorige een onder verdenking te bring. Alles van die ou stelsel word as boos voorgehou, terwyl die nuwe stelsel, sy leiers, -denkbeelde en simbole besing word. Niemand wil meer aan iets uit die ou bedeling raak nie, en jy plaas jouself buite die beskaafde debat as jy buite die amptelike ideologiese raamwerke dink of praat. Dít mag nie betwyfel word nie. Baie keer loop enkeles selfs oor na die voormalige vyand, en ander kere kom die nuwe geslag in opstand teen die vorige, omdat hulle nie kan glo dat hul ouers die ou bedeling gesteun het nie. Baie van wat Ellul gesê het kan op baie post-1994-Afrikaners toegepas word.

Historiese balans

Die enigste antwoord vir samesweringsteorieë en die gevaar van propaganda in die Suid-Afrikaanse konteks is inligting oor al die kante van die saak. Die verlede is veelkantig, en as gebeure nie in die regte historiese konteks geplaas word nie, kan dit wanpersepsies skep. Daar is veral twee redes waarom ʼn gebalanseerde beeld van die geskiedenis belangrik is. Die huidige kriminalisering van die Afrikanergeskiedenis kan daartoe lei dat Afrikaners hul identiteit verwerp en daarmee saam hul bande met Suid-Afrika (en Afrika, wat deel daarvan is) afsny. Dit kan die uitstroom van kundiges verdere momentum gee en die land nog meer benadeel. Tweedens regverdig die ANC sy rasgebaseerde beleid op ʼn uiters eensydige vertolking van die verlede. Hoe erger die siening van die verlede is, hoe erger gaan die “regstellende maatreëls” wees om dit om te keer en hoe makliker word dit geregverdig, ongeag die gevolge vir wit mense, swart mense én die land.

Dit is veral vir die nuwe geslag belangrik om te besef dat hul voorouers nie supermense was nie, maar ook nie misdadigers wat ʼn bose komplot teen die meerderheid gesmee het nie. Hulle was net gewóne mense wat in óngewone omstandighede met búítengewone probleme moes worstel. In die proses is groot foute begaan, maar ook wonderwerke gebou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

TDW ·

Nou waar kan ons lees van die waarheid van Afrikaanse geskiedenis? Wat was die rede vir apartheid? Hoe het groot apartheid ontwikkel in klein apartheid? Hoekom het die wêreld saamgesweer om Suid-Afrika tot sy knieë te bring juis toe Suid-Afrika besig was om suksesvol te word? Hoekom is apartheid geblameer vir swartmense se massamoord, toe daar geen massamoord was nie? Hoe en hoekom het die verregse AWB ontstaan? En hoekom het soveel mense dit ondersteun? Hoe het alles begin? Dis die boek wat ek graag wil lees. Dis ook die boek wat ek wil hê my kinders moet lees. Vertel my asb waar ek hierdie boek kan kry. Ek is trots op my herkoms, maar my kinders is nie. Almal het nodig om die waarheid te weet, sodat ons Afrikaners nie meer met geboë rug die wêreld hoef in te loop nie.

JC ·

TDW- lees asseblief gerus Hermann Giliomee se “Die Afrikaners- ‘n Biografie”-en ook Lindie Koorts se “DF Malan en die Opkoms van Afrikaner nasionalisme”; dit is boeiende en meesleurende meesterwerke wat die geskiedenis met meedoenlose akkuraatheid weergee; en NIE revisionistiese pogings is nie. Uitstekend geskryf en nagevors, hoogs aanbevole, en trots- ontwakende/aansporings werke.

Eish ·

Goeie kommentaar. Ek is bevrees jy moet maar wyd lees en n eie mening vorm aangesien meeste skrywers ook maar menslik uit n sekere hoek na die geskiedenis kyk. Daar is verseker goeie geskiedskrywers, soos wat gereeld op MM artikels skryf. Die probleem is altyd met die vertolking van die feite. Byvoorbeeld, in die 1800’s was die Vrystaat deel van Basotho land. (Lesotho) Soos die kolonisering plaasgevind het, het meer en meer blankes die Vrystaat binnegekom. Onderhandelings met Mosheshwe deur Brittanje asook die boere, het tot gevolg gehad dat groter en groter dele van Basutholand, afgestaan is aan boere. Ooreenkomste is geteken en telkens oortree en nuwe grense afgebaken en nuwe ooreenkomste geteken. Die Basotho het n tradisie dat grond nooit verkoop word nie, maar dat slegs lewensreg daarop toegestaan word. Nou wie was reg, die eienaars van die grond, of die wat deur ooreenkoms die grond bekom het. Onthou ook dat daar vele oorloë was en dat die sterkere dus die reëls bepaal.

Ek dink n mens doen maar op n gegewe oomblik wat vir jou die beste lyk, alhoewel selfsug sekerlik n kardinale rol speel. Met die inheemse bevolking wat in totaliteit vervreemd was van Westerse norme, nie eens n gekodifiseerde taal of regstelsel gehad het nie, is dit seker logies dat uitbuiting sou plaasvind.

Dus, geeneen was engeltjies nie. Maar dis my mening. Lees wyd en praat wyd en vorm n eie mening.

Leopold Scholtz ·

Beste TDW, al die boeke wat die ander mense noem, is uitstekende leesstof. Jy kan dit ook oorweeg om my eie “Kruispaaie: Afrikanerkeuses in die 19de en 20ste Eeu” (Kraal, 2016) te lees. Intussen, Flip, briljante artikel van jou!

Johannes Calvyn ·

Flip moet versigtig wees oor 9/11. Of die VSA dit self gedoen het of nie, ek kan hom verseker as ingenieur, dat wat gebeur het met daardie 2 geboue fisies absoluut onmoontlik is. Die 2 vliegtuie wat in die geboue vasgevlieg het kon onmoontlik nie daardie 2 geboue volmaak laat inplof het nie. Dit is fisies en wetenskaplik totaal onmoontlik. Daar was meer daaraan as net die 2 vliegtuie.

ertjie ·

Gaan lees die finale verslag wat saamgestel is deur n groot paneel onafhanklike ingenieurs en wetenskaplikes. Dit verduidelik en verklaar alles baie mooi en sal alle samesweringsteorie die nekslag toedien. Dit is beskikbaar vir die publiek om te lees en is baie interessante leesstof.

DewaldS ·

Dalk wil jy vir ons ‘n skakel verskaf? Of die verslag se volle titel? Al wat ek kon opspoor is “Final Report of the National Commission on Terrorist Attacks Upon the United States”, ook bekend as “9/11 Commission Report”. Dit is op sy beste ‘n politieke dokument.

JC ·

TDW- lees asseblief gerus Hermann Giliomee se “Die Afrikaners- ‘n Biografie”-en ook Lindie Koorts se “DF Malan en die Opkoms van Afrikaner nasionalisme”; dit is boeiende en meesleurende meesterwerke wat die geskiedenis met meedoenlose akkuraatheid weergee; en NIE revisionistiese pogings is nie. Uitstekend geskryf en nagevors, hoogs aanbevole, en trots- ontwakende/aansporings werke.

Colin Brokensha ·

Die groot probleem is die geskiedenis handboeke in ons skole is juis so geskryf is om die vorige bedeeling totaal te kriminaliseer. Die jeug word op skool geleer om witmense te klasifiseer as moordenaars

Jerry ·

Die Afrikaner het n trotse geskiedenis met die grootste fout wat gemaak was toe n ooreenkoms geteken was met die ANC. Vandag se Afrikaner kan net n slagoffer wees van ANC propaganda indien ons dit verder veroorsaak deur ondeurdagte woorde en dade en te probeer vasklou aan wat was. Suid-Afrika was ons oester, die wereld is nou die Afrikaner se oester, gaan wanneer dit tyd is en geniet hom sodat ons weer Afrikaners is plesierig word.

Herman ·

Geskiedenis wat neergeskryf is en oorvertel word is altyd ‘n subjektiewe weergawe. Daarom word dit ideologies ingespan en misbruik.

Theresa ·

Dankie Flip.
Jou laaste paragraaf is besonders waar. Dit is egter so dat die oorgrootte meerderheid Afrikaners heel gewillig is om in ‘n land waar die regering regverdig is en vooruitgang moontlik maak vir almal wat wettig in die land woon! Dit slaan my daagliks dronk dat die huidige regeringsamptenare so bohaai maak oor ‘n stelsel wat regtig lank terug in werking was en tog baie bereid is om reuse foute te maak wat soms aan nydigheid grens. Nee wat. ‘n Regering wat ernstig is oor vooruitgang vir almal in ‘n land, laat nie party mense uitgesluit en lasting voel nie. As hul so erg voel oor wat verkeerd was, moet hul groot genoeg wees om nie foute te herhaal nie. En, die lewe moet vir oud, middeljariges en nuwe geslag aangenaam en aanvaarbaar in ‘n land wees. Een generasie is nie belangriker as ‘n ander nie.

Nie-perseptionalis Vrydenker Erdvark ·

Dankie Flip vir hierdie uitstekende oorsigartikel.

Ons moet nooit die waarde van sielkundige oorlogvoering uit die oog verloor nie. Mense word grootliks deur persepsies gedryf en nie deur feitlikhede nie. Ons leef nou een en andermaal in hierdie wêreld deurdrenk met nimmereindigende leuens ter bevordering van die eie motiewe. Geestelike wapens en weerbaarheid is baie belangriker as die fisiese wapens! Ons mense moet geestelik bewapen wees met ‘n naasteliefde wapenrusting en ‘n deeglike kennis van hul land se geskiedenis en die geskiedenis van hul voorgeslagte!

JC ·

Ek kan my eenstemmigheid met Basson, betreffende LJ Bothma se boeke nie meer duideliker benadruk nie!!
Hy is ‘n uitstekende skrywer en historikus; (ons Afrikaners is geseend in die opsig) wat die trek van lyne en verbintenisse na en van geskiedkundige gebeure op briljante en oenskynlik moeitelose wyse kan verrig, asook die in-konteks-plaas daarvan, en die vra van wyer of bree vrae, en voorstelle tot die antwoorde daarop , en veral analisering en bevraagtekening van die motiewe en wyer gevolge daarvan.

Daar is seker nie iemand as hy wat dit beter kan doen nie. Ek lees nou sy “REBELSPOOR: DIE AANLOOP, VERLOOP EN AFLOOP VAN DIE BOEREOPSTAND VAN 1914 – 15”- en dit is voorwaar ‘n grootse plesier van vloeibare leesgenot!
Sy ander groot werke is natuurlik “Vang ‘n Boer” en “Die Buffel Struikel”.
Geniaal is al wat mens sy werk betreffende die Rebellie van 1914-1915 kan noem, geniaal!

Willie Bezuidenhout ·

Suid Afrika se geskiedenis na 1900 is baie kompleks. Dit is nie iets wat in ‘n enkele artikel of boek beskryf kan word nie. Ongelukkig is dit so dat die Broederbond alliansie met ander organisasies ‘n geweldige negatiewe invloed op Suid Afrika gehad het. Of daar ooit ‘n skoon feite relaas oor hulle doen en late sal verskyn dit is te betwyfel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.