‘Afrikaners’ het nie net na wit Afrikaanssprekendes verwys

Jager Afrikaner - een van die eerste Afrikaners

Christo van der Rheede reageer op Piet le Roux se bydrae, Afrikaanses is dood. En Afrikaners dan?

Tim du Plessis is reg dat die term Afrikaanses ‘n stille dood gesterf het en om ‘n paar redes.

Dit is taalkundig verkeerd om ‘n kultuurgroep wat dieselfde taal praat en dieselfde kulturele praktyke in gemeen het as ‘Afrikaanses’ te beskryf. Ons praat van ‘n Afrikaanse boek of Afrikaanse resep. In dié verband word die woord as ‘n byvoeglike naamwoord gebruik en om dit dan te omvorm in ‘n Versamelnaam of Naamwoord kom neer op die verkragting van basiese taalreëls. Geen wonder die benaming kon die toets van die tyd deurstaan nie.

Deur die woord ‘Afrikaanses’ voor te hou as ‘n alternatief vir die term ‘Afrikaner’ het ook nie die term ‘Afrikaner” van die bagasie waarmee dit gedurende die 19de eeu opgesaal is, gesuiwer nie. Geen wonder die term ‘Afrikaner’ spook nog steeds by ons nie. En die rede, dit was nog nooit ‘n term wat eksklusief verwys het na wit Afrikaanssprekendes nie.

Dit is soos mense van gemengde afkoms wat in die sewentiende eeu aan die Kaap gebore is, na hulself verwys het. In die Bo-Kaap waar mense van gemengde afkoms hulself gevestig het, het hulle na hulself verwys as ‘Africanders’. Hulle het dit ook gebruik om hulself te onderskei van die koloniste en die inheemse Khoisan. Hendrik Bibaut se uitlating voor ‘n Hollandse magistraat in 1707 dat hy ‘n Afrikaner is in reaksie op die vonnislegging vir wangedrag in die strate van Stellenbosch, bevestig dit. Hy was die produk van ‘n vader van Franse en ‘n moeder van slaweafkoms en kon nie meer met ‘n Nederlandse identiteit assosieer nie. Gevolglik het hy die Nederlandse houvas op die Kaapse kultuurlewe begin teenstaan.

So ook het baie van die gemengde Khoi en slawe gemeenskappe wat in die vroeë 1700’s begin het om die juk van die Nederlandse houvas af te skud, na hulself verwys as Afrikaners. In die Tulbach-omgewing was daar ‘n groot groep onder leiding van Oude-Ram Afrikaner. Konflik tussen hulle en die koloniale heersers het tot ‘n uittog gelei, waarna hulle hulself in die Gariebdistrik gaan vestig het. Geen wonder nie die van Afrikaner kom veral vandag in die bruin gemeenskap voor nie. Baie is afstammelinge van Oude-Ram Afrikaner.

Die eerste politieke groepering wat in die laat 1800’s in die bruin gemeenskap beslag gekry het, het hulself ook beskryf as die Kimberley Afrikaner Liga. Dis eers in die vroeë 20ste eeu dat die term Afrikaner deur wit Afrikaanssprekende nasionaliste toenemend verpolitiseer is en hulle dit begin benut het om eksklusief na wit Afrikaanssprekendes te verwys. In die proses is mense van gemengde afkoms nie net vervreem van die term Afrikaner nie, maar hulle is polities geneutraliseer en boonop geklassifiseer as kleurlinge. Geen wonder dat hierdie term net soos Afrikaanses vandag verpes word deur bruin mense en daarom ook ‘n stille dood gesterf het.

Die term Afrikaner verwys dus histories na mense van gemengde afkoms wat hier aan die Kaap gebore is en wat geradbraakte Nederlands gepraat het. Van hulle nasate is deur Apartheidswetgewing as blank geklassifiseer en van hulle is as kleurling geklassifiseer. Wat ‘n onreg!

Ter afsluiting: Tim du Plessis is dus reg as hy sê dat ‘almal wat wil wees en sodanig aan hulself dink’ is Afrikaners. Die geskiedenis bevestig dit. Óf dit in die hede en die toekoms dit wel so is en sal wees, sal afhang van die mate waartoe bruin en wit Afrikaanssprekendes die wig wat deur Apartheid veroorsaak is en seer van die verlede sal oorkom. Hef aan lê nog voor.

Lees ook Maretha Maartens en Isak Burger se reaksie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Christo van der Rheede

Meer oor die skrywer: Christo van der Rheede

Christo van der Rheede is die uitvoerende hoof van die Afrikaanse Handelsinstituut.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Gemsbok ·

Terme, soos enige mensgemaakte goed (feesdae, kulturele gebruike, huise, munisipaliteite en state), verander voortdurend van aard en inhoud.

Kersfees het sy ontstaan as heidense viering van die draai van die seisoene in Noord-Europa. Dit is later met Christelike inhoud en betekenis gevul en vir ‘n tyd lank het dit die koms van ons verlosser gedenk. Vandag is dit in die sekulêre wêreld hoofsaaklik ‘n kommersiële fees wat hebsug en uitspattigheid gedenk.

Afrikaner, as beskrywing van ‘n volk, is eweneens ‘n term wat oor tyd verander het en sekerlik sal verander.

Die toekomstige inhoud van hierdie term sal egter bepaal word deur diegene wat hulle met hierdie term identifiseer, ongeag die persepsies of kleur van die huidige geslag.

Die grootste fout wat gemaak kan word, is om op die kantlyn te staan en voorskriftelik te wees teenoor diegene wat wel bereid is om die laste en bates van Afrikanerskap te dra.

Louis du Plessis ·

HOU OP OM ONS SPREEKTAAL VOOR TE SKRYF!

1 Netjies Gemsbok! Gewone sprekers gebruik “Afrikaners” en “Afrikaanses” uiteenlopend. Die term “Afrikaanses” kom reeds talle jare wyd in geskrifte voor. Kyk byvoorbeeld Beeld (1/2/2002) se artikel: “Afrikaanses, Afrika moet mekaar vind om bydrae te kan lewer”, asook Jan-Jan Joubert se artikel in Beeld (17/10/2003) oor prof Jonanthan Jansen se pleidooie vir “Afrikaanses”.

2 Sommige sprekers gebruik die term “Afrikaners” vir die 6 persent blanke Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika. Ek sê nie dis reg of verkeerd nie; ek noem dit net as ‘n feit wat ons moet respekteer. Een rede hoekom “Afrikaanses” gebruik word, is juis as wisselterm vir “Afrikaanssprekendes” of “Afrikaanstaliges”, wat noodwendig alle kleurgroepe insluit en min of meer 13 persent van die Suid-Afrikaanse bevolking uitmaak. “Afrikaanses” word dus gebruik as ‘n positiewe, inklusiewe, oorkoepelende woord, nes “Afrikaanssprekendes”. Met hulle skielike vooroordeel teen “Afrikaanses”, skiet Tim du Plessis sowel as Christo van der Rheede hulle eie strewe na inklusiwiteit in die voet.

3 Hierbo hoor ons ook: “Ons praat van ‘n Afrikaanse boek of Afrikaanse resep. In dié verband word die woord as ‘n byvoeglike naamwoord gebruik en om dit dan te omvorm in ‘n Versamelnaam of Naamwoord kom neer op die verkragting van basiese taalreëls.” Is dié stelling korrek? Natuurlik nie! Ons praat nie net van ‘n Duitse of Franse boek of resep, met byvoeglike naamwoorde nie, ons verwys ook na die taalgroep as Duitsers of Franse, dus, met ‘n naamwoord.

4 Die genoemde inkonsekwenthede vind plaas as mense taal met ideologiese argumente probeer manipuleer, pleks daarvan om verdraagsaam kennis te neem van die funksie van spesifieke woorde en frases soos die gewone sprekers dit gebruik! Taal is uiters demokraties. So hou op om dit op ‘n outoritêre manier te probeer manipuleer!

5 Om die absurditeite te ontbloot van taalmanipuleerders het George Orwell ‘n spesiale aanhangsel by sy meesterwerk “Nineteen Eighty-four” gevoeg met die opskrif “The Principles of Newspeak”. Ons kan ook in keurige Afrikaans verneem wat gebeur as slim mense vir ander probeer voorskryf hoe hulle moet praat: loer bietjie na die skrywer WA de Klerk se hoofstuk “Inflasie van die woord” in die boek “Beweging Uitwaarts”.

6 Gemsbok, dankie vir jou waarskuwing: “Die grootste fout wat gemaak kan word, is om op die kantlyn te staan en voorskriftelik te wees teenoor diegene wat wel bereid is om die laste en bates van Afrikanerskap te dra.”

7 Die diepsinnige kenteoretiese insig, Gemsbok, wat uit jou kommentaar spreek, is ‘n begrip vir ‘n verskynsel wat die Duitse denker en taalkundige Friedrich Nietzsche skerpsinnig ontleed het: dat ‘n spesifieke woord dikwels nie net sy betekenis oor tyd verander nie, maar dat ‘n spesifieke woord selfs op een gegewe tyd vir verskillende sprekers en skrywers verskillende betekenisse het.

Met agting

Louis ·

Christo van der Rheede,

Het jy al ‘n wit Xhosa gesien? of ‘n wit Zulu? As jy vir my se daar is wit Zulus en Xhosas buiten die wat ‘n afwyking van pigmentasie het eers dan kan jy ‘n Afrikaner genoem word. Inteendeel dan kan ons ook na mekaar verwys as Xhosa’s.

Afrikaners is ‘n etniese groep, en ‘n etniese groep het ook soortegelyke karaktertrekke soos bv. ‘n wit, blas of swart vel. Ek stel voor jou hou by jou titel “Kleurling” selfs wikipedia stel dit so, gaan lees net ‘n slag, hier is die skakel http://af.wikipedia.org/wiki/Kleurling

Sterkte met jou verwronge idees jong…

Louis

Paul ·

Louis, ek wil net noem dat “selfs Wikipedia stel dit so” nie juis ‘n goeie manier is om iets te staaf nie. Wikipedia sê slegs wat die gebruikers daarvan intik. Ek kan byvoorbeeld nou gaan en daardie inligting op Wikipedia verander, sonder dat enigiemand my keer.

Louis ·

[Hallo Louis. Jou kommentaar is verwyder omdat dit bloot ‘n gekopieerde Wikipedia-artikel was. Verwys asseblief na spesifieke dele van ‘n bron of gebruik uittreksels daaruit om dit onder Maroela-lesers se aandag te bring. Die kommentaar-afdeling is nie geskik vir die algehele duplisering van ander bronne nie. ~Red.]

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.