Afrikanerskap is ʼn belewenis teenoor ChatGPT wat klinies reageer

(Foto: Jakub Porzycki / NurPhoto / NurPhoto via AFP)

ChatGPT is ʼn kunsmatige intelligensie taalmodel, en wat ontwikkel is deur OpenAI. Baie is nou al geskryf hieroor en dit is ʼn hulpmiddel wat gekom het om te bly. ChatGPT staan vir “Chat Generative Pre-Trained Transformer”. Toe ek die kletsbot ChatGPT op die OpenAI-webwerf vra om ChatGPT in Afrikaans te verduidelik was die antwoord:

“Dit is ontwerp om mensagtige gesprekke te kan voer, antwoorde te gee op vrae en tekste te genereer wat lyk asof dit deur ʼn mens geskryf is. Dit gebruik ʼn tegniek wat bekend staan as ‘deep learning’, waar dit geleer het van baie groot hoeveelhede data en ʼn groot rekenaarstelsel gebruik om hierdie inligting te verwerk. ChatGPT is ʼn baie nuttige hulpmiddel vir navorsing, kommunikasie, onderwys en baie ander toepassings.”

Universiteite en skole sal nog antwoorde moet gee oor die gebruik van ChatGPT en hoe dit as ondersteunende hulpmiddel gebruik kan word indien enigsins. Prof. Basie van Solms, direkteur van die sentrum van kuberveiligheid aan die Universiteit van Johannesburg, waarsku ook oor die ongereguleerde gebruik van ChatGPT as deel van kunsmatige intelligensie (KI) en sê dan in ʼn onderhoud met Netwerk24:

“Die meeste mense se begrip van KI lei tot vrese oor werkloosheid – wanneer robotte jou werk oorneem. Maar daar is selfs groter risiko’s. KI-stelsels het die potensiaal om inbreuk op menseregte te maak. ʼn Kernaspek hiervan is om te voorkom dat die algoritmes van so ʼn stelsel bevooroordeeld is. Dit beteken dat die algoritme – doelbewus of per ongeluk – so geskryf word dat dit sekere gevalle op grond van onaanvaarbare kriteria kan uitsluit. Om dié rede, en verskeie ander, is dit belangrik dat daar etiese en regulêre voorskrifte vir die ontwikkeling, toetsing en implementering van KI-stelsels moet wees.

Aan die begin van Februarie 2023 het ek in ʼn vraag op ChatGPT gevra – Wat is ʼn Afrikaner? Die vraag is onmiddellik, netjies in Afrikaans, soos volg beantwoord (enkele voor die hand liggende taalfoute is reggestel):

“ʼn Afrikaner is ʼn persoon van Nederlandse afkoms in Suid-Afrika. Dit sluit ook in mense van Nederlandse afstammelinge wat in Suid-Afrika gebore is. Hierdie bevolking was ʼn belangrike kultuurgroepering en het ʼn unieke identiteit, taal en kultuur ontwikkel. ʼn Afrikaner word omskryf as ʼn persoon van Nederlandse afkoms of ʼn persoon wie se voorouers Nederlands as hul moedertaal gebruik het, en wat in Suid-Afrika bly. Hierdie omskrywing sluit ook in die kinders van mense wat van ander lande na Suid-Afrika verhuis het, maar Nederlands as hul taal gebruik het.”

Uit die antwoord is dit duidelik dat ChatGPT dus wel ʼn bevooroordeelde siening het en Afrikaners op ʼn wyse omskryf wat nie voldoen aan hedendaagse sieninge nie. Sommige Afrikaners, ekself ingesluit, se voorouers mag van Nederland wees. In die Bosmans se geval strek dit so ver terug as 1706 (317 jaar gelede) en is my Nederlandse afkoms nie die belangrikste kenmerk van my Afrikanerskap nie.

ChatGPT se geleerde algoritme-ervaring op die tydstip was om die Afrikaner-konsep slegs te koppel aan die Nederlandse oorsprong, maar het bevestig dat dit verwys na ʼn spesifieke bevolking in Suid-Afrika.

Binne ʼn paar dae, het ChatGPT homself verder geleer en op ʼn verdere navraag oor wat ʼn Afrikaner is, op 22 Februarie 2023, soos volg geantwoord:

“Afrikaners is ʼn etniese groep in Suid-Afrika wat gewoonlik beskou word as ʼn subgroep van die blanke bevolking van die land. Die meeste Afrikaners is afstammelinge van Nederlandse, Duitse en Franse koloniste wat na Suid-Afrika gekom het in die 17de, 18de en 19de eeu.

Die taal wat deur die meeste Afrikaners gepraat word, is Afrikaans, wat sy oorsprong vind in Nederlands en wat deur die eeue heen deur die Afrikaner-bevolking gevorm en ontwikkel is. Afrikaners het ʼn ryk geskiedenis in Suid-Afrika en het ʼn groot rol gespeel in die land se politiek, kultuur en samelewing.

Hulle het in die verlede ʼn sentrale rol gespeel in die apartheid-stelsel, wat van 1948 tot 1994 in Suid-Afrika geheers het, maar sedertdien het baie Afrikaners hulleself beskou as deel van ʼn nuwe, meer inklusiewe en multikulturele Suid-Afrika.”

ChatGPT het in ʼn kwessie van ʼn paar dae verskillende omskrywings gegee en al meer begin om Afrikanerskap te verstaan. Op ʼn navraag oor die naweek van 5 Maart 2023, het ChatGPT ʼn Afrikaner soos volg omskryf:

“ʼn Afrikaner is ʼn persoon wat van oorsprong ʼn wit Suid-Afrikaner is en as moedertaal Afrikaans praat. Hierdie term verwys na ʼn lid van die gemeenskap van mense wat hul etniese en kulturele identiteit as Afrikaanssprekendes identifiseer. Die Afrikanerkultuur en -taal het ʼn historiese oorsprong in die Nederlandse en Vlaamse koloniste wat na Suid-Afrika gemigreer het, maar dit het oor die jare heen ontwikkel en verander deur invloede van ander kulture en tale in Suid-Afrika.

Die term ‘Afrikaner’ kan ook na politieke, sosiale of kulturele identiteit verwys en dit is belangrik om te onthou dat nie alle Afrikaanssprekendes as ‘Afrikaners’ beskou word nie, en omgekeerd, nie alle Afrikaners praat Afrikaans nie.”

Hoe definieer ons as Afrikaners in ons eie ervaring en sonder ChatGPT dan ʼn Afrikaner in 2023? Afrikanerskap staan nie in spanning of in isolasie teenoor ander identiteite nie, maar saam met ʼn veelvoud van identiteite. Daar is kulturele kenmerke wat Afrikaners saamsnoer soos ʼn gemeenskaplike geskiedenis, ʼn Christelike lewens- en wêreldbeskouing en ʼn Westerse lewenswyse.

Die geskiedenis en die hede wys dat Afrikaners min of meer soos volg omskryf kan word. Natuurlik is alles nie van toepassing op elke individuele Afrikaner nie, maar as iemand met die meeste kan identifiseer en in sy hart oortuig is dat hy ʼn Afrikaner is, dan kan niemand dit bevraagteken nie. Die meeste Afrikaners vind aanklank by die volgende:

  • Afrikaners is mense wat standvastig is en glo in ʼn drie-enige God.
  • Afrikaners is skeppers en bouers.
  • Afrikaners is konstruktief krities oor die hede.
  • Afrikaners streef in alle omstandighede na vryheid.
  • Afrikaners het respek vir ander mede-Suid-Afrikaanse burgers.
  • Afrikaners is onlosmaaklik trots op ons taal en kultuur.
  • Afrikaners is omgee-mense wat lief is vir hul gesinne en familie.
  • Afrikaners is diensbaar en betrokke in hul gemeenskappe by kerke, skole en organisasies.
  • Afrikaners is staatmakers om werk gedoen te kry en betroubaar om dit af te handel.
  • Afrikaners is pioniers wat grense skuif.
  • Afrikaners skep hul eie toekoms.
  • Afrikaners leer uit hul geskiedenis en handhaaf tradisies.
  • Afrikaners is mense met uiteenlopende standpunte en nie skaam om dit te stel nie.
  • Afrikaners is vrydenkers en handhaaf hul standpunte en oortuigings met begrip vir andere.
  • Afrikaners is patriotte, lief vir hulle land en die grond wat ons bewerk.

Afrikaners se grootste strewe vandag is na vryheid binne ʼn regverdige bestel. Met ander woorde, gun ons die vryheid om Afrikaners te wees – net soos wat elke Suid-Afrikaanse burger sy of haar identiteit en kultuur kan uitleef. Daarom kan ons ook vandag, en met morele gesag van die regering en van andere, vereis om hierdie vryheid waarna ons streef te erken en te respekteer.

ChatGPT kan dalk in kunsmatige intelligensie probeer om Afrikanerskap te omskryf, maar dit is ʼn begrip wat jy net kan ervaar en kan uitleef as jy deel van ʼn gemeenskap is. ChatGPT kan dalk nie heeltemal verstaan wat die uitdagings is wat Afrikaners vandag in die gesig staar nie. Afrikaners het ʼn onvervreembare reg om as eiesoortige kultuurgemeenskap, net soos ander minderhede in Suid-Afrika, erken te word. Afrikaners is ook voortdurend soekend na geskikte ruimtes binne die huidige soewereine bestel vir kultuur-handhawing vir Afrikaners en ander minderhede.

ChatGPT mag dalk Afrikanerskap in kunsmatige intelligensie verstaan, maar sal dalk nie verstaan dat Afrikaners in ʼn oorlewingstryd is nie en elke dag moet veg vir:

  • Die bevordering van Afrikaanse onderwys op alle vlakke.
  • Die beskerming en bevordering van Afrikaans as amptelike taal.
  • Die beskerming en bevordering van breë Afrikanerbelange.
  • Die bewaring van ons Afrikaner-erfenisse en -geskiedenis.

Net soos ander Suid-Afrikaanse burgers is ons veiligheid in gedrang en ervaar ons plaasmoorde op ʼn ander manier. Deur geteikende vervreemding in ons eie land deur politici met vreemde agendas, word ons geforseer tot onderdanigheid en aanvaarding van vreemde ideologieë.

Ons moet dus nie ons Afrikanerskap deur ChatGPT laat omskryf en voorskryf nie. Ons identiteit is bevestig in ons grootword en ons daaglikse leefwêreld, binne ons kultuurgemeenskap waar ons die oordrag van waardes ervaar het, binne ons geloof, binne ons siening wat ook van ons vereis om ander kulture te waardeer en te respekteer. Dit is Afrikanerskap. Afrikanerskap is ten laaste ʼn kulturele gemeenskapsbelewenis wat kunsmatige intelligensie nie sal kan ervaar nie.

Bronne:

https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/aktueel/chatgpt-ja-daar-is-rede-tot-kommer-20230202

https://chat.openai.com/chat

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Heinrich ·

Jammer dat die artikel daar stop! Sal graag wou weet wat die KI gesê het oor hoe ons sonsself kan losmaak van die ANC af en ware vryheid bekom.

De Bok ·

Hou op om ChatGPT te antromorfiseer, dit is bloot ‘n rekenaar program wat antwoorde saamstel uit ‘n statistiese taalmodel. Al wat ChatGPT “weet” is dat die woorde “‘n etniese groep” ‘n groot kans het om te volg op die woorde “Afrikaners is” op grond van statistiek. ChatGPT het nie opnies, of sienings, of kennis, of enige van die soort goed nie. Dit is net statistiek en formules.

Republikein in die Wes Kaap ·

Net ‘n kwessie van tyd dan kan die goed alles doen.

De Bok ·

Ek weet darm nie. Ek het ChatGPT al ‘n paar keer gebruik vir my werk. Op sy beste gee dit maar dieselfde inligitng as die top resultate op Google. Op die ou-end is dit nogsteeds beter om goeie ou navorsing te doen vir meeste probeleme wat ek moet oplos.

Amelia ·

‘n Mens moet ook ligloop, want ChatGPT het al aan my ‘n klomp versinsels opgedis. Letterlik inligting wat klaarblyklik uit die spreekwoordelike duim gesuig is. So byvoorbeeld het ek aan ChatGPT gevra of daar goeie YouTube kanale bestaan vir kinders in Afrikaans. Ek het die lys van 5 of 6 voorbeelde opgevolg en besef dat nie een van die kanale in werklikheid bestaan nie. Ek het ChatGPT eers die voordeel van die twyfel gegee en gedink die kanale het dalk al doodgeloop, maar daar is geen sweempie te bespeur van die titels in Google nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ons gesels oor 30 jaar weer. In die 1860s het ‘n beroemde Engelse snydokter vir mediese studente gesê die mediese wetenskap het sy toppunt bereik. Niks nuuts sal meer ontdek word nie. Ons baby boomers het begin werk toe daar nog net telekse en dom terminale was. Geen selfone, internet, e-pos, skootrekenaars, tablette, spreitabelle en wat nog. Hierdie kletsbots gaan nog begin dink en dinge skep en ontwerp. Aktuarisse, argitekte, bourekenaars, prokureurs, GRe se dae is een van die dae getel. Elon Musk sal nie belê in iets wat potensiaal het nie. Behalwe vir Twitter.

Piet ·

Aaaa. Die goeie ou dae van telekse. Was nogal verbaas dat die faksmasjien nie my papier gesluk het nie. Het dit altyd opgevolg met ‘n teleks. Net om seker te maak.

Amelia ·

Net soos ek nie my Afrikanerskap deur ChatGPT wil laat omskryf nie, wil ek dit ook nie deur Jan Bosman laat omskryf nie. Ek assosieer met min van die kriteria wat hy hierbo genoem het maar is beslis nie minder van ‘n Afrikaner as hy nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ons hou van die positiewes, maar die negatiewes lyk sleg en word eerder vermy. Maar dit geld vir alle volke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.