Afrikaprojekte gryp verbeelding aan

groen-muur-van-afrika-teen-woestyn

Foto: Foodtank.com

Afrika is besig met die implementering van twee omgewingsprojekte: Die skep van ‘n “groen muur” om woestynuitbreiding te bestry, en ‘n verbod op die gebruik van plastieksakke.

Rwanda se verbod het reeds in 2008 in werking getree en Kenia s’n geld van September 2017 af en word deur sy burgers verwelkom. Marokko is die ander Afrikaland wat deel van die 11 lande uitmaak waar ‘n verbod op plastieksakke reeds geld.

In die groen muur-projek word beoog om ʼn strook van digby 8 000 km lank en 15 km wyd vanaf Senegal in die weste en Djiboeti in die ooste te beplant om woestynuitbreiding te stuit en kos vir sy inwoners aan te plant.

Die idee agter die muur van bome kom al ‘n baie lang pad, maar daadwerklike vordering word die afgelope dekade gemaak nadat die Afrika-unie die projek van stapel laat loop het.

Die “muur” word nie meer gesien as ‘n nou strook bome aan die suidelike rand van die Sahara nie. Die ideaal is nou om die Sahara te omring met ‘n wye gordel van plante, bome en bosse wat landbougrond sal beskerm. Die nuwe visie sluit ook al die omliggende lande soos Algerië in en nie net die 11 oorspronklike lande suid van die Sahel nie.

“Ons het die visie van die Groen Muur van ‘n onpraktiese een na ‘n praktiese een verskuif. Ons mik na ‘n mosaïek van grondgebruik,” het Mohamed Bakarr aan Landscape News gesê. Hy is die hoof landskapspesialis van die Global Environment Facility.

21 lande neem deel

Die inisiatief betrek tans 21 deelnemende Afrikalande – van Senegal in die weste tot Djiboeti in die ooste. Die Wêreldbank en Frankryk, onder meer, het reeds onderneem om $8 miljard aan dié projek toe te staan. Die projek wil uiteindelik 100 miljoen hektaar grond herstel, voedselsekerheid aan 20 miljoen mense verskaf en 350 000 werkgeleenthede skep.

Die lande sien dit as ‘n kommunale onderneming en droogtebestande bome is hoofsaaklik in Senegal geplant, waar 4 miljoen hektaar al herwin is. Dit is reeds in ‘n bekroonde virtuele realiteitsrolprent, Growing a World Wonder gedokumenteer.

Senegal plant jaarliks sowat twee miljoen saailingbome oor ‘n afstand van 545 kilometer – sy segment in die projek. Plaaslike bevolkings verskaf die meeste van die arbeid en 400 mense word in Mei en Junie in agt kwekerye ingespan, waarna 1 000 mense word om die saailinge uit te plant en te vestig voordat die droë seisoen toeslaan.

Die ses spesies nuutgeplante bome word ses jaar lank met heinings teen wilde diere beskerm. Die bome skep ‘n mikroklimaat en die Acacia Senegal word ook in die maak van koeldrank aangewend. Ses jaar later was bome wat in 2008 geplant is, drie meter hoog.

Voorlopige uitslae toon dat groepies van vier tot agt klein boompies ‘n belangrike impak op temperatuur kan hê. Die transpirasie van die bome skep ‘n mikroklimaat wat die daaglikse uiterste temperature verlaag, Die bome speel ook ‘n groot rol teen winderosie en verminder stof. Hulle tree ook as ‘n deurmat op, wat die sandbelaaide winde uit die Sahara keer.

In Niger, een van die wêreld se armste lande, het boere groot stukke grond met die minimum inspanning herwin. Dit verskaf nuwe lewe aan die wortels van plante en bome en halfmaangate is gegrawe om water op te vang. Altesaam 5 biljoen hektaar en om en by 200 miljoen bome is teen $20 per hektaar herstel en produseer genoeg graan om 2,5 miljoen mense jaarliks te voed.

Diere soos wildsbokke, hase en voëls wat 50 jaar laas gesien is, is aan die terugkeer na die beplante streke.

Die groen muur klink na ‘n baie tydige ingryping. Die VN sê 100 miljoen Afrikane word deur woestynindringing bedreig en dat twee derdes van die kontinent se bewerkbare grond teen 2025 verlore kan wees as die huidige situasie voortduur.

Kenia kry lof vir sy verbod

Gewone burgers en aandeelhouers het die regering lof toegeswaai vir sy verbod op plastieksakke. Die VN beraam dat daar jaarliks 100 miljoen plastieksakke net in Kenia se supermarkte uitgedeel word. Die sakke gaar oral op en kry lank reeds die skuld as die groot oorsaak vir omgewingskending en gesondheidsprobleme. Dit lei tot die dood van voëls en vis en sommige diere beskou dit selfs as kos. Landbougrond word beskadig, toeristeplekke word bemors en die sakke skep ook broeiplekke aan die malariamuskiet.

Selfs net die dra van ‘n plastieksak kan nou beboet word en boetes kan astronomies wees – tot vier jaar tronkstraf! Die verbod het ongelukkig ook ‘n slegte gevolg: Veselsakke kos tot ses keer duurder, word nie gesubsidieer nie en winkeliers kla dat hul winste geraak word.

Rwanda – waar die verbod al ‘n dekade lank geld – is vandag een van die skoonste lande in Afrika. Die strate van Kigali is vry van die plastiekberge wat Nairobi so ontsier het.

Die Rwandese regering gaan nog verder: Toeriste se bagasie word ondersoek en plastieksake word gekonfiskeer. By die internasionale lughawe word besoekers gewaarsku teen die gebruik van plastiek.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Marie Visser ·

Suid-Afrika sal dié bron van inkomste (plastieksakke) vir nóg gesiglose en naamlose staatsamptenare se sak nóóit stop sit nie – te maklike manier van geld maak.

John ·

… ja, wag net totdat die bome groot is, dan word dit weer brandhout of uitvoerprodukte na die Ooste… Intussen rol die geld in vir die grootse projek. Honderde projekte is reeds in Afrika begin en dit werk net as dit ‘n nuutjie is.

Peet Schabort ·

By ons word bome merendeels gesien as vuurmaakhout. Ek sal liewers niks verder sê want dan sal my kommentaar nie geplaas word soos in die onlangse verlede gebeur het.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.