Afrikareg en eiendomsregte

Deur Zakhele Mthembu

(Argieffoto: pixabay)

Met die Ingonyama Trust weer in die nuus, sal dit nuttig wees om te kyk na wat Afrika se eiendomsnorme behels. Siende die Ingonyama Trust glo op ’n gewoonteregstelsel van eienaarskap berus, sal ’n ontleding van dié stelsel ons help om te verstaan hoekom daar in landelike gebiede oënskynlik altyd konflik is tussen persone wat mens sou aanneem hul eie kultuurnorme gehoorsaam.

Die grond word glo gesamentlik besit deur dié wat daarop woon, of bewys gelaat het dat die grond toegeëien is. Hierdie “gesamentlike” eienaarskap oor ’n grondgebied moenie verwar word met die kommunistiese gedagte dat die grond aan elke  Sibusiso en sy maat behoort nie. Daar was private eiendom in die prekoloniale samelewings van Afrika suid van die Sahara, met voorbeelde van grondverkope onder verskeie Bantoesprekende volke, soos die Gikuyu in Oos-Afrika.

Dié gesamentlike eiendomsreg word slegs onderling tussen gemeenskappe (interkommunaal) uitgeoefen, want individue of families beset stukkies grond wat aan hulle eienaarsregte besorg soos om toegang te verbied en uitsluitlike gebruik te hê, interkommunaal. Die afbakening van elke stukkie grond en die verdeling daarvan tussen families word deur lede van die gemeenskap self hanteer en die persoon aan die hoof van ’n familie is die grondeienaar. Regte bestaan dus horisontaal onder die lede van die gemeenskap. Ingevolge die grondreëls van Afrika-gewoontereg kan Familie A nie sommer op grond wat aan Familie B behoort ’n huis bou of die lande gebruik nie. Die reg van uitsluitlike gebruik is die hoeksteen van eiendomsregte – wat is myne en wat is joune?

Die toewysing van nuwe lappe grond is ’n administratiewe taak, deurspoel met die norme van Ubuntu, soos die triadiese aard van umuntu (mens), met die voorouerlike aspek van die triade wat die mens voortbring as die grondslag vir natuurlike grondregte in ’n bepaalde kommunale gebied. Só kan die administrateurs, hetsy ’n keiser, koning, hoofman of tribunaal, na gelang van die soort bestel, nie grondregte misken deur te weier om grond toe te wys aan ’n bepaalde individu wat bande het met die grond deur sy voorouers nie.

Naas voorouerlike bande is toeëiening iets wat Afrikane nog altyd goed verstaan het, in die sin dat die skoonmaak van ’n stuk grond of eintlik enige arbeid wat op braakgrond verrig word, eienaarskap verleen aan wie ook al die arbeid verrig het. So het die hoofman, as daar een was, eweneens sy eie eiendom gehad en kon hy nie die eiendom van ander individue in ’n georganiseerde samelewing onteien, soos die norm met die Wesfaalse staatsvorm is nie.

Daar was steeds, wat Westerse geleerdes “meentgrond” sou noem, hoewel dié woord die situasie nie akkuraat omskryf nie aangesien dié grond, gewoonlik groot stukke grond, deur sekere families binne die samelewingsbestel besit is. Tog, ingevolge die Afrika-begrip van mense as inherent sosiaal en onderling verbind, sou die breër gemeenskap se gebruiksregte oor dié grond beswaarlik ooit deur die “eienaars” verbied word. Grond in dié kategorie het beboste gebied vir hout, weivelde, watergate en die veld vir medisyne ingesluit. Daarom is spesifieke aktiwiteite soos grofsmedery deur spesifieke families onderneem, wat die werk gedoen het omdat hulle die nodige hulpbronne, soos hout en ystererts, byderhand gehad het op die grond wat hulle besit.

Konsensus was die grondslag van besluitneming, selfs in Afrika-regspleging. Die saak van Baleni teen die minister van minerale bronne bied in dié opsig interessante insigte. Die insiggewendste les van die saak is dat ingevolge die regsvoorskrifte van Afrikareg, ’n administrateur soos ’n hoofman nie die eiendom van die gemeenskap kan vervreem sonder die gemeenskap se instemming nie, want dit is nie sy eiendom nie. Die saak is egter verhoor en beslis ingevolge die huidige regsparadigma, nie noodwendig met ’n Afrika- normatiewe werklikheid as uitgangspunt nie.

Die onteiening van eiendom soos dit in die Romeinse regstelsel in Afrika verstaan is, is heeltemal vreemd, in dié sin dat onteiening deur die staat in prekoloniale Afrika nie algemeen was nie. Met ander woorde, selfs ’n onteiening wat vergoeding insluit (om nie eens te praat van onteiening sonder vergoeding nie) is ’n seldsame gebeurtenis in Afrikareg.

Die beskouing wat Afrika-mense van individue en selfs menswees het as kommunaal en onderling verbind, beteken nie dit wat vir die publiek is, is inherent teenstrydig met dit wat vir die individu is nie.

Oor die grond in individueel-gesamentlike besit kan geen besluite geneem word wat die verkoop, vernietiging of onteiening daarvan betref sonder om ten minste met die mede-eienaars – jou bure en ander lede van die gemeenskap – oorleg te pleeg nie. Dit het veral betrekking op onontwikkelde grond in die gemeenskap se besit of die vervreemding van grond met belangrike mineraalneerslae. Om jou plaas in private besit te verkoop, was nie van oorlegpleging met enigiemand afhanklik nie.

Dit moenie vertolk word as ’n verwerping van restitusie vir die ontneemde eiendom wat die totstandbrenging van die Suid-Afrikaanse staat gekenmerk het nie. Restitusie is een van die vernaamste grondreëls van geregtigheid en is van sentrale belang vir die normale werking van en respek vir enige staat. Onteiening is gewoonlik die staat wat namens die landsburgers grond in besit neem; restitusie is om eiendom terug te gee aan dié by wie dit met geweld afgeneem is.

Ingevolge ’n Afrika-beskouing van geregtigheid en eiendomsnorme strook dit geheel en al nie om ’n wet te hê wat die staat toelaat om eiendom te onteien sonder om eens vergoeding te betaal nie. Dit is nie die Afrika-manier nie; pleks daarvan is dit ’n voortsetting van dieselfde koloniale paradigma as wat die parlement beweer hy besig is om reg te stel.

Soos die verskillende eiendomme wat oral in Suid-Afrika in trust gehou word, illustreer, bring ’n inkonsekwente toepassing van norme ongeregtigheid mee. Die trusts word geadministreer deur en behoort trouens aan die konings en hoofmanne, wat diegene wat veronderstel is om die ware eienaars te wees, soos bedelaars behandel aan wie die opperhoofde goedgunstiglik die grond verhuur. In Afrika word ’n koning deur sy mense gemaak, nie andersom nie.

Eiendomsverhoudinge wat die koloniale administrateurs in hul eie projekte vir gesentraliseerde beheer gevestig het, bly in die moderne Suid-Afrika van krag.

Pleks daarvan het ons land eiendomsregte nodig wat in die individu self setel eerder as in die een of ander entiteit soos die koning, soos tans die geval is. Individue kan self besluit wat vir hulle en hul eiendom die beste is. Hulle het nie ’n paternalistiese instelling soos ’n monarg of die Wesfaalse staat nodig om te besluit wat vir hulle goed is en wat nie.

  • Zakhele Mthembu is ʼn regstudent aan die Universiteit van die Witwatersrand en ʼn intern by die Vryemarkstigting. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is die skrywer sʼn en word nie noodwendig deur die lede van die Stigting gedeel nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Andrew

Dit is omdat dit niks met regstel of teruggee van grond uit te waai het nie, dit gaan oor toetale mag. sosial/kommunisme kan eers bereik word as alle hulpbronne beheer. Beheer jy die grond, beheer jy voedsel, behuising en dan die polulasie.