Afskaffing van Afrikaans: Die begin van ʼn bittere verdeeldheid

afrikaans-sal-bly

Foto: Stellenbosch Lente/Facebook.

Die gewoonlik ewewigtige Rapport het onlangs ʼn selektiewe uittreksel uit die minderheidsuitspraak van regter Johan Froneman publiseer, komende uit AfriForum en Solidariteit se aansoek om appèl in die Kovsies-taalsaak. Dit kan die verkeerde siening van die minderheidsuitspraak skep, om nie te praat van wanindrukke oor AfriForum en Solidariteit nie.

Regter Froneman, gesteun deur regters Cameron en Pretorius, het in die eerste sin van sy uitspraak dit gestel dat hy meen dat dit verstandig sou wees dat die hof eerder ʼn sitting oor AfriForum en Solidariteit se aansoek om appèl moes hou, en dan in die belang van geregtigheid verlof tot appèl toegestaan het. Regter Froneman glo dat dit die regmatigheid van die uitkoms op vele wyses sou verhoog het. Maar die meerderheid regters onder leiding van hoofregter Mogoeng Mogoeng, het die aansoek summier sonder ʼn verhoor afgewys.

Saak te stel

Dit is so dat regter Froneman opgemerk het dat AfriForum met ʼn vorige saak ʼn indruk van rassisme geskep het, en dat hy hulle skerp daaroor gekritiseer het. Maar dis moeilik om jouself te verweer as jy nie die kans gegun is om jou saak in die hof te stel, vrae te beantwoord, en bykomende inligting te verskaf nie. Die gevaar is dan dat die hof met te min inligting oor AfriForum en Solidariteit se kant van die saak sit, om ʼn oorwoë mening te vorm oor die betrokke saak en die organisasies wat appèl aangeteken het. Dis tog onmoontlik om in hofstukke wat op enkele regspunte toegespits is, ʼn volledige beeld van AfriForum en Solidariteit se standpunte en werksaamhede op taalgebied te gee.

Regter Mogoeng verwys na regter Dikgang Moseneke se standpunt in ʼn vorige saak, dat die Grondwet openlik en daadkragtig vereis dat onderwys ongelykhede deur die “radikale transformasie” van die totale samelewing as geheel en van openbare onderwys in besonder aangespreek moet word. Maar die summiere afwysing van só ʼn belangrike saak sonder ʼn regverdige verhoor, gaan die indruk by baie Afrikaners versterk dat die owerhede se werklike agenda met “radikale transformasie”, die vernietiging van Afrikaners as kultuurgemeenskap is.

Hierdie indruk is treffend verwoord deur regter Albie Sachs, ʼn voormalige lid van die hof:

“A genuinely-held, subjective fear that democratic transformation will lead to the down-grading, suppression and ultimate destruction of the Afrikaans language and the marginalisation and ultimate disintegration of the Afrikaans-speaking community as a vital group in South African society.”

Minder Afrikaners hoor en sien

Ondervinding het geleer dat die afskaffing van Afrikaans ʼn ketting van gebeure begin wat eindig met die uitdrywing van Afrikaners uit staatsdepartemente, kolleges, universiteite en maatskappye. Hierdie “radikale transformasie” begin net by taal, maar wil eintlik die sprekers bykom. Die owerhede wil nie net minder Afrikaans hoor nie, hulle wil minder Afrikaners sien. Die eintlike teiken is nie die taal nie, maar sy wit Afrikaner sprekers, en onder die grootste van die slagoffers tel derduisende bruin Afrikaanssprekende kinders wat nie meer in hul moedertaal kan leer en presteer nie.

Dit bly vreemd dat geleerde regters en Afrikaanse meningsleiers nie die oortreders van grondwetlike regte kritiseer nie, maar eerder die verdedigers van daardie regte. Dit laat mens dink aan Langenhoven se woorde: “Waarom is ons politiek altyd rassisme, en julle rassisme altyd politiek?” Regter Mogoeng se vreemde siening dat die uitoefening van grondwetlike regte tot sulke onbillike rassediskriminasie kan lei dat die regte weggevat moet word, of dat die nuwe geslag Afrikaner studente weens die beskuldigings teen hulle ouers van hul grondwetlike regte gestroop moet word, is tot dusver nog kritiekloos verswyg in die hoofstroom Afrikaanse koerante.

Radikale transformasie ís rewolusie

Die hofuitsprake gaan ook kwistig om met die radikale uitskakeling van ongelykhede, sonder om te noem dat die Wêreldhof al net ná die Eerste Wêreldoorlog bevind het dat daar nooit gelykheid tussen ʼn minderheid en ʼn meerderheid kan wees, as die minderheid gestroop word van sy eie instellings nie. Minderheidsregte is juis ʼn voorwaarde vir die uitoefening van gelyke individuele regte, as demografiese groepe ongelyk in getalle is. Tog is diegene wat giftig teen minderheidsregte is, gewoonlik doodstil as die gevolglike meerderheidsregte tot ʼn tirannie van die meerderheid lei.

Terselfdertyd is dit vreemd dat mense wat baie krities op mnr. Jacob Zuma se beleid van “radikale ekonomiese transformasie” is, die ander kante van radikale transformasie steun as dit op die afskaffing van Afrikaans uitloop. Die ANC het niks van hulle rewolusionêre doelwitte vergeet nie, en niks van die rampspoedige gevolge daarvan in ander lande onthou nie. Die voorstanders van omvattende radikale transformasie se werklike doel is om die grondwetlike demokrasie te omskep in die rewolusionêre bestel wat hulle oorspronklike plan was. Hulle het tydens die grondwetlike onderhandelings toegewings gemaak om die mag te kry, en gebruik nou die mag om hul oorspronklike doelwitte af te dwing. Radikale transformasie beteken immers omskepping en omverwerping, oftewel rewolusie. So word die transformasie-meelopers aandadig aan die uitkalwing van die demokrasie waarvoor mense gestem het, en die stelselmagtige omverwerping en vervanging daarvan met ʼn rewolusionêre stelsel. Dis jammer dat die meeste Afrikaanse meningsleiers oor hierdie onreg swyg, en soms selfs diegene wat die regte vervat in die Grondwet verdedig, aanval en kritiseer. Ons verdedig immers almal se regte, elke keer as ons ons eie regte verdedig.

Vryheid of gelykheid

Die Franse denker Alexis de Toqueville, het gesê dat meerderhede net minderhede aanvaar as hulle alles afgee wat vir hulle belangrik is. In Suid-Afrika onderskat baie mense die onbeperkte doelwitte van die transformasie-ideologie. Dit gaan nie net oor die afgee van Afrikaans nie, maar oor die aftakeling van eiendomsreg, die meerderheidsaandele in ondernemings, die opgee van die “ongelyke” Westerse vryemarkontwikkeling en die vervanging daarvan met “gelyke” maar arm Afrika-kommunalisme, en meerderheidsbeheer oor elke deel van minderhede se lewens. Dis die uiteinde van ʼn siening van demografiese verteenwoordigendheid in elke skool, onderneming of ander instelling, in plaas van ʼn demokratiese vertolking dat almal saam die demografie moet weergee.

Kleiner toegewings stel nie die rewolusionêres met hul onbeperkte doelwitte tevrede nie. Dit gaan in wese nie waaraan minderhede glo nie, maar oor wie en wat hulle is. Daarom is die werklike keuse tussen vrugteslaai en sop, tussen samewerking en samesmelting, tussen Lenin se totalitêre standaardisering van die mensdom en demokratiese eenheid in verskeidenheid, en tussen vryheid en gelykheid. Die prys van ʼn vrye demokrasie is verdraagsame ruimtes vir verskeidenheid, die alternatief is uiteindelik die einde van vryheid.

Rassisme bly die gunstelingknuppel om Afrikaners mee te beroof van hulle demokratiese regte. Maar wat van rassisme wat vernuftig agter demokratiese terme weggesteek word? Soos die Belgiese politieke wetenskaplike Pierre van der Berghe gesê het: “If your constituency has the good fortune to contain a demographic majority, racism can easily be disguised as democracy. A racially-defined majority is a far cry of a majority made up of shifting coalitions of individuals on the basis of a commonality of beliefs and interests.”

Verdeeldheid

Die afskaffing van Afrikaans en die daaropvolgende kettingreaksie by openbare universiteite gaan nie tot groter eenheid lei nie, maar is die begin van ʼn bittere verdeeldheid. Eenheid word nie bewerkstellig deur verskeidenheid met inlywing te probeer uitwis nie, maar om ruimte vir die verskeidenheid te maak. Die praktyk het al genoeg bewys dat demokrasie sonder kulturele vryheid net vryheid vir die meerderheid is. Moderne volwasse mense wil vir hulleself besluit, en hou nie daarvan dat toevallige demografiese meerderhede oor elke deel van hulle lewens besluit nie. Om die mensdom in ʼn multikulturele land met ʼn monokulturele ideologie te probeer “standaardiseer” soos Lenin probeer het, sal op die rotse van die werklikheid strand. Dit is niks minder as ʼn nuwe poging tot kolonialisme nie, al vind dit onder die dekmantel van “dekolonisasie” plaas.

Verbreking van 1994-ooreenkoms

Tony Leon het ʼn tyd gelede gesê dat dit belangrik is om te onthou dat die Grondwet ’n skikking was. “Daar was twee dele aan die skikking: regte vir die meerderheid, maar ook die aller noodsaaklike beskerming van minderheidsbelange.” Anders gestel, meerderheidsregering is verruil vir minderheidsbeskerming.

Daarom kom die afgelope jare se aanval op Afrikaans deur die wetgewende, uitvoerende en regterlike gesag neer op die verbreking van die 1994-ooreenkoms. So word die verdeeldheid van die verlede net voortgesit, sonder om enige iets daaruit te leer. As versoening verskraal word tot inlywing by die meerderheid, is die prys te hoog om te betaal. In sulke omstandighede, word Afrikaners polities en wetlik afgradeer tot tweedeklas burgers. Niemand met selfrespek sal berus in ʼn toestand waar die grondwetlike beloftes van vryheid, gelykheid en menswaardigheid op grond van ras, taal en afkoms van jou af weggevat word nie. Ek ook nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Alex Maritz ·

Briljant saamgevat. Waarom is dit so moeilik vir baie mense om bg in te sien. Dit was reeds voor 1994 sigbaar. Dan praat ons nie van n oorgrote liberale media wat hierdie toedrag van sake of verswyg of toesmeer.
Dankie vir manne soos Flip Buys vir onder andere die wakkerskud werk wat hulle doen.

Ben Esterhuizen ·

Uitstekende artikel. Mense moet regtig dit wat hulle lees in die hoofstroom-media oordink. Mens kan nie meer alles wat in die koerant/tv staan sommer net vir soetkoek opeet nie.

BettyBlue ·

Dis tyd vir die Afrikaans sprekendes om stil te begin bly oor hulle prestasies op skool en net te doen wat hulle goed doen. Dit sluit Afriforum en die res in. Gee skool tassies maar moenie n politieke saak daarvan maak nie. Wat die oog nie sien nie maak die hart nie seer nie. Ons Afrikaanse kinders moet nou oorleef!

Eish ·

Lukas 18:40
” En Hy antwoord en sê vir hulle: Ek sê vir julle, as hulle swyg, sal die klippe dit uitroep”

Hendrik ·

Baie goed saamgevat. Na ek sulke artikels gelees het vra ek gewoonlik die vrae soos “Wat nou?”
Ons is deel van ‘n gemeenskap (gebied) wat kyk na ons veiligheid, kultuur en werkskepping in ons kultuurgroep. Wanneer kom sluit julle aan. Te gemaklik?

Eish ·

Groot waardering vir die artikel.
Daardie onrustigheid wat soveel jare reeds vaskleef in my gemoed, die sesde sintuig waarskuwing, is ondubbelsinnig verwoord in die skrywe.
Mag ek skrywer se afsluiting eggo, ” Ek ook nie!”

Pieter ·

Die vraag op almal se lippe is “wat nou?”.

Wat gaan ons doen om ons kinders veilig groot te maak in ‘n Afrikaanse kultuur?

Ons almal wil/kan nie in Orania gaan bly nie.

Eish ·

Dit, is die jackpotvraag.
Die geen geweldsopsie is altyd die beste.
Ons skep n paralelle samelewing waar ons, ons kultuur in al sy fasette kan uitleef.

Gerhard ·

.Vergeet van wil/kan. Die enigste antwoord is selfbeskikking

Jan ·

Pieter, jy kan wel daaraan begin werk sodat jou kinders en/of kleinkinders eendag in Orania kan gaan bly.

Basson ·

Die gebeure rondom Afrikaans is dalk ‘n bedekte seen want nou kan ons ferm en kragdadig wys wie ons is, waar kom ons vandaan en waarvoor ons staan.

Nog nooit sedert 1994 het ek die bewustheid van eenheid so ervaar soos die laaste twee weke of so, ons moet voortbou daarop!

TROTS WIT EN AFRIKAANS! (Dit impliseer dat ek ‘n ierdere en ‘n elk respekteer in SA, maar ek verwag dieselfde sodat ons saam ‘n toekoms kan bou.)

Tess ·

Ons hoef nie deel te wees van ‘n groep om afrikaans te laat geld nie. Ons kan nie doodgedruk word nie. As ons die wildernis kan intrek(Groot trek) sonder paaie en spoeltoilet en ‘n beskawing kan begin sonder enige iemand se goedkeuring kan ons dit nou ook doen. Ons hoef nie te baklei daarvoor nie. Dis ons reg om onsself te wees. Kyk na die groei van Afrikaanse musiek -iets wat nog groei is beslis nie besig om dood te gaan nie. Elke atleet weet hardloop sonder om rond te kyk. Wees trots of wie jy is en LEEF!!!

Gerhard ·

Die Skotte het seker ook so gedink. Vandag praat amper alle Skotte Engels.

Lou ·

Uitstekende opsomming van wat in ons land aan die gebeur is. Kan die skrywe op ‘n manier afgelaai of op ‘n ander wyse bekom word sodat dit wyer onder Afrikaanssprekendes versprei kan word. Daar is baie wat nie besef wat aan die gebeur is nie en bewusmaking moet so wyd moontlik gedoen word.

bgj van der westhuizen ·

as jy in gaan by besighied praat Afrikaans en se net verstaan nie engels nie en klaar as hulle jou besig hied wil he moet hulle dit in Afrikaans doen ons moet stop om alles in engels te doen

Disselboom ·

Stewige artikel. Goeie ontleding. Die slotparagraaf gaan tot op die punt om te stel dat daar nie by hierdie toestand berus kan word nie. Maar dis die soveelste goeie ontleding wat eintlik met ‘n ongeskryfde dubbelpunt eindig, waarna daardwerklik gestel moet word wat gedoen moet word. Daar word weggeskram om te praat oor wat gedoen moet word as die ooreenkomste verbreek word, wetstoepassing verswak en nie vertrou kan word om nie kant te kies nie, en ‘n vol so platgetrap word dat dit vernietiging beteken. Kom ons hoor wa Flip Buys na die dubbelpunt skryf.

Jerry ·

Baie goeie ontleding en goed in konteks geplaas. Die uitdrywing van die Afrikaner uit staatsdepartemente het egter reeds vanaf 2002 begin dmv transformasie programme wat geimplementeer was. Vanaf 2010 het die staat se entiteite soos Denel ens gevolg. Universiteite, kolleges en maatskappye se transformasie programme het stukrag begin kry vanaf 2015. Afrikaans is dus nie die begin van n ketting van gebeure nie. Die kommunistiese, marxistiese en sosialistiese agenda doelwitte het nie n spesifieke volgorde, datum of tyd nie. Dit rol uit per geleentheid of wanneer die tyd ryp is volgens die geskiktheid van die polities en sosiaal maatskaplike omstandighede. Hierdie geleentheid ontstaan deur n klip in n spesifieke bos te gooi en te wag en te kyk wat spring uit die bos uit. Indien niks uit die bos uitspring nie dan word die klip herwin en gehou vir wanneer die geleentheid homself weer voordoen. Hierdie taktiek word teen gestaan deur slegs daarop te reageer wanneer die skoen jou nie pas nie en jy jouself in n onaanvegbare posisie bevind. Moet ook nooit kyk na die radikale skare wat voor jou dans en rassistiese uitsprake maak nie, soek en vind die meester agter die skare en die uitsprake. Hang die optrede en uitsprake om sy nek en verseker dat geregtigheid geskied deur die meester, hom sy mag te ontneem. Wie hou wag oor Solidariteit en Afri-Forum, Afrikaners soos myself. Doen alles volgens die waarheid en julle het my ondersteuning

Kallie le Roux ·

Tyd om meer kragdadig te werk aan ons eie skole, koleges en universiteit sonder afhanklikheid van die regering. Ondersteuningsmoontlikhede vanuit die publiek in die algmeen ter ondersteuning van onafhanklik afrikaans was nog nooit so gunstig soos nou nie.
Die kenners op hierdie gebied moet nou na vore tree.

Jan ·

Flip, weereens dankie vir ‘n op-die-kopslaan artikel. Ek wil dit aan jou vorige artikel van die 12de Januarie, naamlik: “Die einde van die gedeelde visie oor die 1994-skikking”, koppel. Dis duidelik dat selfbeskikking, binne ‘n afsonderlike grondgebied, die enigste uitweg is. Die van ons wat reeds hierby betrokke is weet dat dit allermins ‘n kitsoplossing bied, maar ek wil ‘n versoek rig dat Solidariteit en Afriforum heelwat meer prominensie ter bevordering van hierdie grootse poging sal verleen. Ongelukkig is dit ‘n feit dat ‘n beduidende aantal Afrikaners se kennis ten opsigte van selfbeskikking en wat dit behels, steeds gebrekkig is.

John ·

Die ANC gooi kunsmis op, skuur af en verf oor, drink kasterolie, pak kaste reg en kry nuwe name vir sy ou nukke… maar dieselfde gaan dit steeds maar bly, want die skuld vir sy tekortkominge word alles aan die Afrikaner toegedig. Die lekker ou tranetrekker van verontregting en armoede en… en… selfs die kers wat gereeld opval is Afrikaans se skuld. Hierdie tragiese speletjie is deur die bekende dr Philip in die vroee 1800’s begin en by sendinghuise ipv die Bybel gepredik: Afrika is julle s’n en die ‘Boers’ is die vyand.
Dr Philip het glo voor sy dood ‘n visioen gesien wat hom erg ontstel het en sy geskrifte voor sy dood bly ‘n geslote boek. Geen gemooipraat of hofuitsprake kan die stywe nekke draai van wilde perde op gallop na die kranse nie. Afrikaners sal na Bo moet roep om hulp. Vergeet van die volkstaat. Mr M hou dit vir laaste. Ons sal sake uit moet wag… Die ou ANC-tjor se remme is hoeka nooit getoets en gebruik nie, die petrolpedaal sit diepgetrap vas op rampspoed, die oliemeter lees Kuba-twak en die stuurwiel steek vas op reguit-oor-die-wal tot in die lee dam vol trane.

Riena ·

Goeie artikel en interessante kommentaar. Ons moet egter onsself ondersoek en wonder of ons genoeg kinders kry. Nie net om Afrikaans voort te kan sit nie, maar om hoegenaamd te kan voortbestaan. Twee kinders per gesin IS `n selfmoordplan, selfs in Orania. Die regering wil soos die skrywer Flip Buys genoem het geen Afrikaners sien nie. Ons maak dit vir hom maklik deur onsself te verminder.
As ons enigsins bekommerd is: Daar is werk om te doen – lekker werk, met `n goeie toekomsvooruitsig! Kry meer kinders!

Johan Neuteman ·

@Riena stel ‘n besonder belangrike saak oor die eenvoudige grondliggende waarheid hoe volke voortbestaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.