Afskeid van jouself is geen diversiteit

universiteit-van -pretoria

Universiteit van Pretoria

’n Afrikaanssprekende professor aan die Universiteit van Pretoria kla verlede week dat die Afrikaanse studente op dié kampus nie genoeg blootstelling kry nie. Sy skryf dit toe aan die Afrikaanse lesings op die kampus, wat volgens haar die studente isoleer en so verhoed om met die wêreld ‘daar buite’ kontak te maak.

Alhoewel die professor dit nie in sulke duidelike terme verwoord het nie, sê sy daarmee dat Afrikaanse studente eerder die Engelse klasse moet bywoon. Laasgenoemde sal die studente in staat stel om uit hulle isolasie te breek.

Hieronder word aangevoer dat die standpunt van die professor op twyfelagtige waarnemings en uitgangspunte rus:

1. Anders as wat die professor te kenne gee, is Afrikaanssprekendes in die algemeen en Afrikaanse studente in die besonder soos nog nooit vantevore in hul geskiedenis aan die wêreld daar buite blootgestel nie.

Laasgenoemde blyk onder meer uit die feit dat Afrikaanssprekendes (studente ingesluit) vandag waarskynlik een van die mees mobiele taal- en kultuurgemeenskappe is. Hulle reis die hele wêreld vol; hulle werk en doen besigheid in elke denkbare kontinent, ook in Afrika; hulle woon kongresse wêreldwyd by; en deur middel van die nuwe elektroniese media word hulle aan elke nuwe idee, gedagtewending of wêreldbeskouing blootgestel.

Trouens, vanweë hulle hoë mobiliteit kan met reg gevra word of hulle nie vandag aan oormatige blootstelling ly nie. Nog meer, daar kan met reg gevra word of die enkele ruimtes waarin daar nog ’n relatief beskermde Afrikaanse lewe moontlik is (soos ’n Afrikaanse klas op die kampus van UP) nie ’n aller noodsaaklike psigiese en sosiale antwoord op dié oormatige blootstelling is nie?

Enigiemand wat Afrikaanse studente van ’n gebrek aan blootstelling beskuldig, weet kennelik nie watter kragte onder hulle vaardig is nie. Nog minder begryp hulle dat daar ’n dwingende behoefte onder dié studente is na uitnemende plekke waar hulle nog saam met hul taalgenote kan dink en verbeel, soos in die akademiese lewe.

2. Afrikaanssprekendes is ook vanweë hulle groter tweetaligheid (vergeleke met slegs een of twee geslagte gelede) soos nog nooit tevore aan die buitewêreld blootgestel nie.

Hierdie feit is veral op jong Afrikaanssprekendes van toepassing, wat vandag so vaardig in Engels is dat daar ten opsigte van sommige gevra kan word of dit nog sin maak om tussen ’n eerste en ’n tweede taal te onderskei.

As hierdie studente Afrikaanse klasse aan universiteite bywoon, is dit nie ’n aanduiding daarvan dat hulle hulself van die buitewêreld isoleer nie. Inteendeel, dit is eerder ’n aanduiding van die feit dat hulle die mees natuurlike behoefte denkbaar het om te midde van hulle radikale blootstelling ook in ’n eie Afrikaanse wêreld te dink, te skep en te woon.

3. Die opmerkings van bogenoemde professor weerspieël ’n houding wat reeds vanaf die 19de eeu die Afrikaanse wêreld soos ’n donker skadu vergesel, naamlik ’n diepgewortelde minderwaardigheid jeens die wêreld ‘daar buite’. Terwyl laasgenoemde dikwels met dinge soos ‘oop’, ‘vry’, ‘vooruitstrewend’ en ‘realisties’ verbind word, word die Afrikaans wêreld telkens met dinge soos ‘geslote’, ‘benoud’, ‘primitief’ of ‘onrealisties’ gelykgestel.

Om vandag vir Afrikaanse studente te sê dat hulle liefs die Engelse klasse moet bywoon, is om dié minderwaardigheid, ironies genoeg in naam van vooruitgang, in stand te hou.

4. Genoemde professor vooronderstel dat daar nie vandag in Afrikaans op ’n onbevange wyse aan universiteite gedink kan word nie; dat ons nie in Afrikaans kan ontdek, oopmaak en verbeel nie; of dat dit vandag onrealisties is om jou ding in Afrikaans te doen.

Dit is egter bog. Die talle skeppende Afrikaanse skrywers en akademici wat vandag nog hulle ding in Afrikaans doen, is ’n lewende getuie daarvan!

En laat ons nie vergeet nie, ’n relatief beskutte taalomgewing kan dikwels die voorwaarde vir skeppende werk wees. Vra maar vir skrywers soos Cervantes, Shakespeare, Goethe of Dostojevksi watter blootstelling hulle aan ander tale as hulle moedertale gehad het.

5. Roger Scruton het in ’n onlangse publikasie aangevoer dat ’n beduidende groep akademici aan ‘oikofobia’ (vrees vir die eie) ly. Hierdie verskynsel kom nêrens so duidelik na vore as in die onvermoë van veral Westerse intellektuele om ‘grense’ rondom die eie (ook die eie taalgemeenskap) te trek en dit in beskerming te neem nie.

Grense is nie net, soos wat hierdie akademici aanvoer, slegs dinge wat ons inperk nie. Grense hou immers ook die chaotiese en die sinlose op ’n afstand. So maak grense dit moontlik dat die sinvolle onder ons kan gebeur.

Grense is ’n onontsnapbare feit van die lewe. Dit is ironies genoeg ook van toepassing op diegene wat so hard teen die grense van Afrikaans raas! Hulle voorspraak vir ’n wêreld anderkant Afrikaans beteken in die praktyk niks anders as om binne ander grense – in hierdie geval van die Engelssprekende wêreld – opgeneem te word nie.

Blootstelling aan ander taalgemeenskappe geskied nie wanneer ons van ons eie taal afskeid neem nie. Blootstelling geskied eerder in en deur ons eie taal. Ons kan immers slegs die ander tale werklik na waarde skat omdat ons deur ons eie taal aangegryp en geboei word.

Het ons professor nie die verantwoordelikheid om hierdie insig aan die studente op UP oor te dra nie?

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Danie Goosen

Meer oor die skrywer: Danie Goosen

Danie Goosen is voorsitter van die FAK en professor in Godsdienswetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae