Agri Limpopo: Hou nou volhoubaarheid in landbou voor oë

kalf-bees-plaas-landbou

Foto: Pixabay.com

Daar gaan stemme in landbou op wat in die huidige omstandighede van verset en oproerigheid ʼn saak wil uitmaak dat boere nié met die regering behoort saam te werk aan landbouhervorming nie, alvorens dit nie op ons afgedwing word nie. Agri Limpopo glo dat samewerking in sake wat almal se belang dien, die deur oophou vir gesprek oor beleidskwessies wat nie die landbou se beste belang dien nie.

Suid-Afrika beleef uiters onstuimige tye. Onsekerheid ten opsigte van die ekonomie asook regeringsbeleid was waarskynlik nog nooit voorheen gelyktydig op so ʼn laagtepunt soos wat dit tans is nie. Die gemoedere van gewone landsburgers is opgewerk tot op die punt waar politieke verskille geïgnoreer word en saam in die strate gedemonstreer word. Gefrustreerde publieke mening word wyd op alle mediaplatforms gedeel.

Genoemde gebeure bou saam aan ʼn weerstandigheid teen ʼn persoon en ʼn politieke party, maar spoel gewis ook oor na burgers se emosionele toestand. “Die frustrasie met korrupsie en algemene onbeholpenheid in die hantering van landsake laat al meer mense regverdiging vind daarvoor dat die regering en al sy instellings asook sy wette geïgnoreer behoort te word,” het Leon Borcherds, president van Agri Limpopo, gesê. “Hierdie siening is onverantwoordelik en sal beslis teenproduktief wees in die langtermyn. Dit is moreel onaanvaarbaar, net soos wat die omstandighede wat tot so ʼn siening aanleiding gee, moreel onregverdigbaar is. Feit is dat nie een van die twee volhoubaarheid bevorder nie,” het Borcherds bygevoeg.

“Landbou staan voor twee keuses. Landbou kan ʼn toeskouer langs die veld wees waar beleid tot nadeel van die landbou ontwikkel word, of landbou kan ʼn speler op daardie veld wees. Om ’n wedstryd te verloor nadat jy jou beste gegee het op die veld is altyd beter as ʼn nederlaag omdat jy nié daar was waar jy moontlik ’n verskil kon maak nie!” Dit is die mening van Piet Engelbrecht, visepresident van Agri Limpopo.

“Die stem van redelikheid is nou meer as ooit nodig in elke debat oor landboukwessies. Diepliggende benaderingsverskille tussen beleidmakers en landbouers roep die landbousektor om in verantwoordelikheid insette te lewer ongeag of daardie insette altyd die verlangde resultate lewer. Versetlandbou is ʼn opsie wat nog nêrens in Afrika die gewenste resultate vir landbouers gelewer het nie. As hoogsontwikkelde sektor in Suid-Afrika moet landbouleiers met verantwoordelikheid hul woorde kies as beroepe gedoen word op hul volgelinge om ‘stille verset’ as opsie te oorweeg. ʼn Dwarslêer is net nuttig as hy ʼn spoorlyn ondersteun wat die ekonomie help uitbou,” het Borcherds gesê.

Agri Limpopo volg ’n benadering van konstruktiewe betrokkenheid. In hierdie benadering is geen plek vir slaafse navolging omdat dit die politiek korrekte ding is om te doen nie. Agri Limpopo glo in diepgaande debat, beginselvaste dialoog en streef deurgaans na ʼn uitkoms wat landbouers beter daaraan toe laat as wat ʼn toeskouerhouding sou meebring.

“Wanneer ons saam met die regering dink oor moontlikhede om grondhervorming te laat slaag, is dit nie omdat ons glo boere het politieke skuld om te betaal nie. Beslis nie! Wat ons wel mee rekening hou, is dat die regering van die dag grondhervorming as prominente agendapunt dryf. Landbou mag nie tru staan in hierdie proses nie. Landbou kan nie bekostig om te wag totdat hy gedwing word om wette te implementeer wat tot sy nadeel is nie. Verantwoordelike leierskap vereis juis dat beding sal word vir ʼn bedeling wat winsgewendheid en volhoubaarheid van landbou in stand sal hou,” is die mening van dr. Theo de Jager, voorsitter van Agri Limpopo se Landbou-ontwikkelingskomitee.

“Zimbabwiese boere het geglo hulle sal ʼn ongewenste bedeling voorkom deur prosesse te laat sloer, samewerking te weerhou en om die verantwoordelikheid vir planne maak aan die regering alleen oor te laat. Die gevolge is welbekend,” het De Jager bygevoeg.

“Agri Limpopo het ʼn verantwoordelikheid teenoor sy lede om hul belange te beskerm en winsgewendheid en volhoubaarheid te bevorder. Ons is oortuig dat die plan vir grondhervorming in hoofstuk 6 van die nasionale ontwikkelingsplan, soos aangepas deur die nasionale beplanningskommissie, hierdie doelwit kan verwesentlik. Deur loodsprojekte wil ons ons lede, en uiteindelik alle boere in Suid-Afrika, bewyse van sukses lewer en die geleentheid gee om op vrywillige basis hul eie strewe na beter winsgewendheid en volhoubaarheid te dien, terwyl die doelwitte van grondhervorming terselfdertyd verwesentlik word. Daar is in hierdie plan geen sprake van grond afgee nie. Dit gee juis die geleentheid om skaalvoordele te benut en so winsgewendheid en volhoubaarheid van ’n bestaande boerdery te verbeter.”

Geen grondeienaar het sy grond gesteel nie! Elke grondeienaar verdien beskerming van sy belegging in sy grond en die ekonomie van Suid-Afrika. Agri Limpopo sal aanhou om alles te doen wat nodig is om hierdie reg van landbouers te beskerm.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Produksie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

dirk L ·

As daar iemand is wat baie swaarkry, is dit ons boere. Dit is droogtes, onsekerhede en veiligheid om maar n paar te noem. Hulle dra ons, ek haal my hoed af vir elkeen . Om n boer te wees is ‘n besonderse roeping en hulle dra kennis wat ek nog altyd bewonder het. Hulle ingesteldheid ten spyte van alles is waarlik besonders en ‘n voorbeeld. Sterkte aan Agri Limpopo, en al die instansies wat hul belange dra.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.