Agt stellings wat mense dalk kwaad maak, maar nie rassisties kan wees nie

rassisme mnn_com

Grafika: Mnn.com

Deur Morné Malan

Binne die hedendaagse konteks waar postmoderne idees en teorieë hoogty vier, veral binne die Suid-Afrikaanse onderriginstellings, is dit dikwels ʼn uitdaging om te bepaal wat enigiets beteken en hoe om selfs skynbaar eenvoudige konsepte te verduidelik. Een van die mees omstrede begrippe wat hieronder ly, is dié van rassisme.

Voorheen, en dalk steeds onder die algemene publiek, was rassisme verstaan as iets soos “om te diskrimineer teen ʼn individu(e) op grond van die rassegroep waaraan dié persoon (persone) hoort.” (Bygesê, dit is ook die definisie wat jy in enige standaard woordeboek sal vind.) Hierdie definisie sluit die moontlikheid van rassisme deur enige rassegroep in.

Tog hoor ons dikwels vandag dat rassisme bestaan uit “vooroordeel plus mag”. Dit wil sê dat slegs groepe wat relatief tot ander groepe in ʼn magsposisie is, kan rassisties wees. Eenvoudig gestel, in lande soos die VSA word minderhede as onderdruk beskou omdat hulle nie oor dieselfde politieke mag by die stembus beskik as die meerderheid nie. Natuurlik het ons in Suid-Afrika die eienaardige geval waar minderhede beskou word as die “magtiges” weens beweerde ekonomiese ongelykheid. Die lengte van hierdie artikel laat my ongelukkig nie toe om verder uit te brei oor die tekortkominge en onjuisthede betrokke by só ʼn postmoderne (dalk eerder postlogika), marxistiese definisie in Suid-Afrika nie. Ek wil egter net agt stellings maak wat dalk op die oog af aanstootlik mag lyk vir diegene wat met “maatskaplike geregtigheid” gemoeid is, en verduidelik dat hierdie stellings onder geen omstandighede, ongeag jou teoretiese begronding, deur enige redelike persoon as rassisties beskou kan word nie. Hier is hulle:

  1. Rassisme is nie ʼn ernstige probleem in Suid-Afrika nie.
  2. Ongelykheid is nie die gevolg van rassisme nie.
  3. Meer SEB, regstellende aksie en grondhervorming sal nie mense se lewens verbeter nie.
  4. Rasseverhoudinge het nie vererger sedert 1994 nie.
  5. Die beste persoon, ongeag ras, behoort aangestel te word.
  6. Regstellende aksie help nie om arm swart mense se lewens te verbeter nie.
  7. Politici misbruik konsepte soos rassisme en kolonialisme as verskonings vir hul eie mislukkings.
  8. Beter onderrig en meer werkskepping sal die verskille tussen rassegroepe vanself laat verdwyn.

Nou goed, hoe kan ek beweer dat hierdie standpunte nie as rassisties beskou kan word nie? Mense word immers dikwels van rassisme beskuldig wanneer hulle kritiek teen SEB, grondhervorming en talle ander beleide openbaar.

Eerstens, die eenvoudige feit is dat meeste van hierdie menings geensins aan ras gekoppel is nie en dat hulle eintlik geldige punte vir debat is waaroor daar empiriese vrae (nie morele of ideologiese vrae nie) gevra kan word.

Tweedens, en dalk meer belangrik, dit verteenwoordig die mening van swart mense in Suid-Afrika. Volgens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) se 2018-opname word bykans al hierdie punte oorweldigend deur swart mense binne Suid-Afrika gesteun. My basiese vertrekpunt is dus dat dit onder geen omstandighede enigsins as rassisties beskou kan word om dieselfde mening te huldig as die oorweldigende meerderheid van swart mense in Suid-Afrika nie. Kom ek ontleed bietjie die SAIRV se resultate.

  • Slegs 3,9% van swart mense in Suid-Afrika meen dat rassisme die ernstigste probleem in Suid-Afrika is.
  • Op die vraag van ongelykheid meen net 8,1% van swart mense dat dit ʼn gevolg van rassisme is.
  • Gevra wat die belangrikste ding is wat die regering kan doen om mense se lewens te verbeter, het slegs 51% van swart mense aangedui dat meer SEB en regstellende aksie nodig is, en ʼn skrale 2,1% het meer grondhervorming as antwoord gekies (dit laat ʼn mens nogal wonder oor die sogenaamde “honger na grond” wat blykbaar in Suid-Afrika aan die orde van die dag is).
  • Wat baie interessant is, is dat 82,6% van swart mense meen dat rasseverhoudinge sedert 1994 verbeter het, terwyl slegs 52,3% van wit mense dieselfde mening huldig.
  • ʼn Verstommende 84,7% van swart mense binne Suid-Afrika meen die beste persoon, ongeag ras, behoort in ʼn werk aangestel te word.
  • Die volgende stelling is die enigste een wat nie groot ondersteuning geniet nie. 53,6% van swart mense meen dat regstellende aksie inderdaad arm swart mense help. Tog, selfs hier kan ʼn mens ten ergste sê dat swart mense verdeeld is oor die onderwerp. Enige standpunt kan dus verdedig word sonder om enigsins omstrede te wees.
  • Slegs 25,1% van swart mense verskil uitdruklik met die stelling dat politici konsepte soos rassisme en kolonialisme misbruik as verskonings vir hul eie mislukkings. Die res is onseker (16%), stem saam (36%) of stem sterk saam (22,8%).
  • Laastens, net 7,1% van swart Suid-Afrikaners meen dat beter onderrig en meer werkskepping nie die huidige verskille tussen rassegroepe sal uitwis nie. Die res is onseker (9,9%), stem saam (37,9%) of stem sterk saam (44,9%).

Wat kan ons dus uit hierdie data aflei? Eerstens, dat baie van die meer linksgesinde wit individue wat hulself as die verteenwoordigers van swart mense voorhou, se mening eintlik geheel en al uit voeling is met wat swart mense werklik oor sake dink. Trouens, soos hier aangedui, is die meeste swart Suid-Afrikaners oorweldigend gekant teen die radikale ingrepe wat baie van die “elite” namens hulle besluit het, vir hulle noodsaaklik is.

Ten slotte moet ek net ter klaarheid verduidelik dat identiteitspolitiek eintlik geheel en al boos is. ʼn Mens hoef eintlik nie te kyk na wat sekere groepe dink voordat ʼn mens die geldigheid van jou mening kan bepaal nie. Trouens, om enigsins aan mense te dink ten opsigte van groepe in plaas van individue, is by uitstek ʼn ernstige morele misdryf. So ook kan ons elkeen aanvoel dat dit onregverdig is om kollektief skuldig gehou te word vir die sondes van sekere individue in ons groep of selfs in die verlede, terwyl ons as individue nooit aandadig daaraan was nie. Dit is maar net aangenaam wanneer dit duidelik word dat selfs binne die raamwerk van die onregverdige en ongeregtige reëls wat postmoderne denkers skep, daar steeds geen regverdiging is vir hul standpunte nie. Nog meer, as ons werklik ag geslaan het op die mening van swart Suid-Afrikaners, dan sou ons ʼn totaal ander morele, wetlike en ekonomiese werklikheid binne Suid-Afrika gesien het.

Daar is dus nie reuse-onenigheid onder die meeste Suid-Afrikaners nie. Ons kom op voetsoolvlak redelik goed oor die weg. Dit is slegs in die gedagtes van die politieke elite en hul na-apers in die media waar daar groot verdeeldheid in die land is.

“Racism is not dead, but it is on life support – kept alive by politicians, race hustlers and people who get a sense of superiority by denouncing others as racists.” – Thomas Sowell

  • Malan is ʼn navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

Vals Nuus ·

Verdeeldheid is nou erger as wat dit ooit voorheen was en dit gaan nog vererger.
So moenie vals nuus versprei nie.

Joy ·

Ek het dieselfde agter gekom op sosiale media. Mnr Malan se skrywe is in die lol! Net soos wat ons onder swart die groepie kry wat rassisme vir alles skree, kry ons on gelukkig die blankes wat maar altyd “vals nuus” sal skree omdat hulle nie wil sien dat SA kan werk indien ons almal ons kant bring nie! Tragies dat ons alles in ons vermoeë doen on SA te help skink

Eish ·

Watter kant suster?
Die onderkant of die bokant?
Die sykant of die skerpkant?
Die kleurkant of die feitekant?
Die loskant of die vaskant?
Die liberale kant of konserwatiewe kant?
Die humanistiese kant of die Bybelse kant?
Watter kant ookal jy bewerk en beskou, daar is altyd die ander kant en die meerderheids kant.
Ons dobbelsteen het n swaar kant en n ligter kant, daarom val dit altyd met dié kant na bo, ongeag jou insette om dit te wil maak werk.

Liberaal ·

Ek wou ook dit se Joy maar ek kan nie aan konkrete voorbeelde dink nie, watse voorbeelde het jy?

Mandjie ·

Die mandjie insident bewys dat sassismebeskuldigings nou werklik op die absurdste vlak ooit is.

Skyn ·

Tog kry ons die petroljoggie en die landloopdorinkies gevalle die week.
Ek weet van baie ander “goeie” stories wat nie in media verskyn nie.
As ons ingestel is om die “goeie” ook raak te sien, is dit makliker om die ras-skreeuers te verdra.

dejager ·

Ek wil weer díe stelling maak:
Rassisme gaan ons altyd hê.Rassisme tussen individue is doodnormaal.Mense is mense en nie engeltjies nie.
Daar is egter een tipe rassisme wat teen alle menseregte indruis:
Staatsrassisme teen die individu.
Hier het ons ń ongelyke speelveld met die staat baie magtiger as die individu.
Rassisme op die wetboek wat mense hanteer op grond van ras is giftig vir enige samelewing.Punt.
Al noem jy dit mooi en vroomklinkinde naampies soos SEB en ‘Regstellende Aksie’ bly dit Staatsrassisme en kan op geen rassionele manier regverdig word nie.Daarom altyd die emosionele uitbarstings as mens op die rassistiese aard daarvan wys.
Suid Afrika is terminaal siek van SEB vergiftiging.

Frans C ·

Eenvoudig vraag-sou die begrip rassisme ooit ontwikkel het tot wat dit vandag is,as daar nie rasse was nie.Aangesien twee stilstaande voorwerpe nie kan bots nie, is ‘spoed’
daarom die oorsaak van botsings?

marco polo ·

Nee Frans, onbevoegde bestuurders is die oorsaak van botsings.

Jerry ·

Joy, jy is n dame so na my hart. Hou aan om ook die goeie raak te sien in ander mense en ook swart mense. Daar is meer goeies as slegtes. Die slegtes is n klein groepie rassiste onder wit en swart!

Jurie ·

Verwys tog net eerder na politieke “elite” as politieke oeste. Dis immers baie meer akkuraat.

Cornelia ·

Rassisme as ‘n begrip is myns insiens ‘n woord wat nie sy ontstaan of bestaan kan definieer nie omdat dit ‘n fyn denkspel motiveer om volke en groepe teen mekaar op te sweep. Kyk gerus hoe die woordjie ‘n magsbasis geword het wat soos ‘n swaard funksioneer. Dit inspireer dreigemente, klagstate en mensgesentreerdheid tot daar waar ‘n eerbare teregwysing, gekelder word deur die woord in te span. Die artikel gaan nie oor goeie nie-rassiste of slegte rassiste nie. Die breë politieke front word deur regerings bepaal. Die regerings word in Demokrasieë deur kieserskorps aangestel by die stembus. En aan bewind gehou ongeag. Niemand is so blind om nie die goeie werke te erken uit al die bevolkingsgroepe in Suid Afrika nie. Dit is ‘n God gegewe.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.