Agter die skerms tydens Solidariteit se besoek aan die VN

V.l.n.r. Renate Barnard, Dirk Hermann (bestuurshoof van Solidariteit) en Johan Kruger (adjunkhoofsekretaris van Solidariteit) tydens die VN-perskonferensie op 28 Oktober 2014 Foto: Reint Dykema, Solidariteit

V.l.n.r. Renate Barnard, Dirk Hermann (bestuurshoof van Solidariteit) en Johan Kruger (adjunkhoofsekretaris van Solidariteit) tydens die VN-perskonferensie op 28 Oktober 2014 Foto: Reint Dykema, Solidariteit

Ons is verstom. Renate Barnard het haar saak in die konstitusionele hof verloor. Dít het ons nie verwag nie. Kan sulke growwe rassediskriminasie toegelaat word? Ons stap van die hof na die lokaal waar die mediakonferensie gaan plaasvind. Johan Kruger, adjunkhoof van Solidariteit, fluister vir my: “Die geskiedenis gaan hierdie uitspraak verkeerd bewys.”

Die enigste manier hoe ons kon seker maak dat die geskiedenis die uitspraak verkeerd gaan bewys, was om die geskiedenis te skryf. Ons kon dus nie die saak daar laat nie. Só het die idee beslag gekry om ’n klag teen die Suid-Afrikaanse regering oor sy rassekwotas by die Verenigde Nasies (VN) te gaan lê.

Die roete wat ons gekies het, het die vorm van ’n skaduverslag aangeneem. Suid-Afrika is ’n ondertekenaar van die konvensie vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie. Die VN se komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie, of algemeen bekend as die CERD, moet toesien dat die konvensie uitgevoer word. As ondertekenaar van die konvensie moet die Suid-Afrikaanse regering dit ook onderskryf en onderneem dat dit in sy wetgewing neerslag vind.

Lidlande moet elke twee jaar verslag doen aan die CERD. Burgerlike organisasies kan dan deur middel van ’n skaduverslag gebreke in die regering se verslag aantoon. Ons begin toe navraag doen oor die Suid-Afrikaanse regering se verslag en vind uit dat die regering reeds agt jaar laat was met die indiening van sy verslag. Ons eerste stap was dus om die regering te vermaan om die verslag in te dien en daarna het ons ’n prosedurele klag by die CERD gelê oor die nienakoming van prosedures. Die uitkoms was dat die regering toe wel sy verslag ingedien het.

Ons kon daarna met die hulp van ’n uitstekende regspan ’n klag, in die vorm van ’n skaduverslag, teen die Suid-Afrikaanse regering oor sy beleid van rassekwotas indien. Hoe verder ons op die saak ingegaan het, hoe meer het ons agtergekom dat die regering se rassebeleid nie ooreenkomstig internasionale vereistes is nie.

In September 2015 is ons Genève toe om ons verslag oor Suid-Afrika se beleid oor rassekwotas in te dien. Ons het verskeie VN-amptenare ontmoet. Een ontmoeting was met ’n senior amptenaar van die VN se menseregtekommissie. Sy is ’n swart vrou van Kanada. Ek het ons betoog begin deur te sê dat ek besef wit Suid-Afrikaners is ’n gediskrediteerde minderheid. Sy het my onmiddellik stilgemaak en gesê ons moet meer selfvertoue kry. Ons moet onsself nie laat bind deur die geskiedenis nie. By die VN word gekyk na vergrype en die verlede kan nooit as regverdiging daarvoor dien nie.

Ná ’n lang wagtydperk wat gevolg het op die indiening van ons verslag, het ons uiteindelik verneem dat die Suid-Afrikaanse regering se verslag, asook ons skaduverslag, op 9 en 10 Augustus 2016 aangehoor sou word. Intussen het Solidariteit en AfriForum ’n aanvullende verslag oor sportkwotas ook ingedien.

Ons was onseker oor wat die proses sou behels en oor die ontvangs wat ons te beurt sou val. Ons het almal verwag om die koue skouer te kry. Ons het steeds gedink die geskiedenis van Suid-Afrika tel teen ons.

Ek en Johan Kruger is ’n week vroeër Genève toe om seker te maak ons verstaan die proses. Brittanje en Griekeland se verslae is gedurende dié week aangehoor. Ons het ook toegang gehad tot die verslae van burgerlike organisasies van verskeie ander lande. Al die verslae het oor minderhede gehandel. Dít wat ons in Suid-Afrika meen abnormaal is, is normaal in die res van die wêreld.

Die res van ons afvaardiging het op 6 Augustus by ons aangesluit. Freddie Engelbrecht, wat as vaderfiguur opgetree het vir die bruin applikante in die DKD-saak, en Renate Barnard was deel van die span. Ons het geweet gesigte vertel beter stories as groot politieke argumente.

Maandag 7 Augustus, die groot dag, het aangebreek, die dag waarop ons ’n aanbieding aan ’n VN-komitee, bestaande uit verteenwoordigers van 18 lande, sou doen. Ons het ure bestee aan die aanbieding. Ons het seker gemaak dat dit reg genuanseer is en dat die CERD se spesifieke idioom in ag geneem word. Die gesonde balans tussen storie en feite is gehandhaaf. ’n Volledige skaduverslag was deel van ons pakkie. Die verslag is male sonder tal oorgeskryf – eers is dit deur ons regspan opgestel; daarna is openbare insette bekom en die verslag is daarvolgens bygewerk; toe is die insette van twee konferensies waaraan kenners deelgeneem het, bekom; en daarna het talle interne insette gevolg.

Die voorsitter van die komitee het in haar opening verduidelik watter belangrike rol die ANC in sy struggle-jare gespeel het om die konvensie aanvaar te kry. Dit was ironies dat Solidariteit nou die regering aankla oor ras ingevolge die konvensie wat die regerende party help skryf het teen rassediskriminasie.

Dit is ’n intimiderende omgewing. Jou aanbieding word in vyf tale vertaal.

Elke komiteelid is verantwoordelik vir een land en staan bekend as ’n rapporteur. Suid-Afrika se rapporteur is me. Fatimata-Binta Dah van Burkina Faso. Sy begin deur Solidariteit te komplimenteer met sy voorbereiding. Ons voel verlig; ons is die eerste hekkie oor.

Die komiteelede se vrae was sinvol en op die man af; party was krities, maar die toon was nie aanvallend nie. Het die regering met ons gekonsulteer oor sy verslag? Watter alternatiewe stel ons voor? Het ons hoop vir Suid-Afrika?

Ons kon al die vrae deeglik en goed beantwoord. Renate Barnard kom aan die beurt en gee ’n stem aan die gewone mens. Terwyl sy praat, kon ’n mens ’n speld hoor val. Ná dag een voel ons goed.

Dag twee het ons ’n private ontmoeting met lede van die komitee gehad. Dit verloop uitstekend. Hulle luister na alles en is verstom oor dit waaraan ons al gewoond geraak het as normaal. Freddie Engelbrecht en Renate Barnard se persoonlike stories maak ’n geweldige impak. Dit gee ’n gesig aan die statistieke.

“Leef die gees van Mandela nog?” vra een komiteelid. Hy het Mandela ontmoet en vertel hoe die stem van Mandela nog in sy ore weerklink. Ons kom agter die komiteelede verlang na die Suid-Afrika van Mandela en is bekommerd oor die Suid-Afrika van Zuma. “Suid-Afrika is ’n simbool van hoop – nie net vir Afrika nie, maar vir die wêreld. Die land moet werk,” sê nog ’n komiteelid en ek tel ’n sweem van desperaatheid op.

Dinsdag 8 Augustus breek aan en so kom die Suid-Afrikaanse regering toe aan die beurt om sy verslag aan te bied. Die adjunkminister van justisie en grondwetlike ontwikkeling, John Jeffery, doen die aanbieding. Hy verwys weer na apartheid; regverdig rassediskriminasie; voer aan daar is nie kwotas nie; lê klem op die regering se sukses wat met die bekamping van armoede behaal word en herhaal oudpresident Thabo Mbeki se teorie oor twee nasies – die een wit en ryk en die ander swart en arm. Hy dramatiseer alles. Dit het nie gewerk nie.

Die komitee het hom oor die kole gehaal omdat die regering se verslag so laat ingedien is en het inligting aangevra wat nie by die verslag ingesluit was nie. Toe begin die vrae en opmerkings oor Suid-Afrika se beleid van rassekwotas. Dit is te rigied; dit herinner aan ou-apartheid; regstellende aksie moet ’n datum hê waarteen dit afgeskaf gaan word; die beleid is nie belyn met die konvensie nie; en die opmerking is gemaak dat daar nie so iets soos goeie en slegte diskriminasie is nie. Die fokus moet eerder op behoefte en skole val. Nie ons of die regering het dié reaksie verwag nie.

Die sessie verdaag en die Suid-Afrikaanse regering moet op Woensdag 9 Augustus repliek lewer. Ons voel die spanning aan. Die twee spanne stap saam uit. “Julle praat mos nie die waarheid nie,” sê Freddie Engelbrecht. Die adjunkminister is aggressief. “Waar praat ek nie die waarheid nie? Kan Solidariteit nou sê waar ek nie die waarheid praat nie?” Hy is duidelik onder druk. Ons kom ooreen dat ons sy Pinocchio-oomblikke in ’n verslag sal aandui.

9 Augustus breek aan. Ons gesels met amptenare van die Suid-Afrikaanse regering. Hulle lyk bleek en vertel hulle moes deur die nag werk om al die inligting wat aangevra is, te kry. “Kry julle lekker omdat ons op die vingers geraps is?” vra die een. Ek kry dit reg om nie ’n gesigspier te trek nie, maar kry tog lekker.

Die minister begin sy repliek. Hy bestee baie tyd aan regstellende aksie. Hy voer selfs aan dat een van die redes waarom die regering so stadig vorder met transformasie toe te skryf is aan al die hofsake wat Solidariteit teen die staat aanhangig maak en gebrekkige vordering word ook gewyt aan hierdie klag wat voor die VN gebring is. Dit voel vir my soos nog ’n kompliment.

Die adjunkminister maak toe ’n fout en delf dieper in die historiese kapitaal van die ANC. Die geskiedenis van ’n bloedbloed wat deur wit kolonialisasie gelaat is, is histories slordig en oordrewe vertel. Boere wat te min betaal, is die rede vir vreemdelinghaat; die potloottoets is weer opgerakel; daar is verwys na die veiligheidspolisie wat by vensters inloer om die Ontugwet toe te pas; en diskriminasie teen bruin mense is geregverdig omdat hulle in die driekamerparlement verteenwoordig was en kon stem. Talle ander ou koeie is opgehaal.

Die komitee wou weet wat in die héde gebeur en het nie belanggestel in historiese regverdigings nie. Ons is besonder tevrede met die verloop van sake. Ons saak is deur ’n internasionale forum aangehoor en daar is na ons geluister. Die regering sal moet besef dat die land se glans as die wêreld se liefling verdof het. Die regering gaan al hoe meer gemeet word aan wie hulle is en wat hulle doen.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Johann ·

Ek wil net graag weet. Wat nou?
Ons het al gesien dat die regering maak nes hy wil.

Hennie Hugo ·

Ek is ‘n mens wat glo soos daar by Solidariteit geglo word. As jy ‘n saak het, en daardie saak is waar en regverdig, dan moet jy jou saak gaan stel. Iewers sal daar ‘n eerlike en regverdige mens wees wat sal luister.
Doen so voort!

Paul ·

Hierdie dinge gebeur nie oornag nie. Ons was deur die wêreld gehaat. Nou het hulle na ons geluister. IS ‘N REUSE MYLPAAL!!!! GROTER as wat mense kan droom.
Daar is reuse Kontrasterende elemente uitgewys en waarneem.
Die eerste deur is oopgemaak.

Andrea ·

Baie dankie vir die inligting EN die harde werk. Ek wil egter graag weet wat die uiteinde van hierdie proses is. Kan die regering gedwing word om regstellende aksie en kwotas af te skaf?

Johan ·

Wat hier bereik is, is van geweldige belang. Ek wil nou nie op die Grondwet self ingaan nie want dit is te gedaileerd vir die kommentaar.
Art 39, UITLEG VAN DIE HANDVES VAN REGTE bevat allerlei bepalings oor die uitleg binne die internasionale konteks. Die handves moet uitgelê word ooreenkomstig onder andere internasionale konvensies.
Solidariteit het met hulle optrede, indien die feite in die verslag vervat sal word as bevindings, vorentoe in die SA Howe vir die regering net hoofpyne besorg. Solidariteit het vir hulself ‘n lekker dik knopkierie uit die ANC se boom gesny.
Hou ook in gedagte dat a 9 van die Handves die hele kwessie van menswaardigheid hanteer. Solidariteit het nog nie eers, so kom dit vir my voor, aan daardie aspek geraak nie.
Daar lê vir die ANC en enige opvolgende regering net probleme vorentoe – totdat die diskriminasie uitgeskakel is.
Hierdie diskriminasie is nie net teen die minderheidsgroepe nie. Kyk maar na jou elektrisiteitsrekening en na hoe fondse op munisipale vlak gespandeer word. Gaan na enige plattelandse munisipaliteit se kantore en indien daar 2% blanke klerke is, is dit frieken uitsonderlik.

Ada ·

Baie baie dankie vir al julle werk hiraan – ek is soooo trots op julle. Dit gaan 2 jaar neem om die verskil te begin sien.Eerder twee jaar as 2000 jaar.
Dankie weer-eens!

Anthonie Van Bosch ·

Rassediskriminasie kan nooit geregverdig word nie. Daar moet ‘n beter oplossing wees.

JC ·

Baie dankie Dirk, julle is awesome!
En ons weet julle is ‘n organisasie wat nie net praat nie, maar doen!!

WA ·

Baie geluk en baie dankie vir alles wat julle vir ons almal doen.
Hou so aan en sterkte vorentoe.

JC ·

Dankie Johan, intelligente kommentaar soos joune word waardeer!
Artikel 39 (2)- internasionale reg MOET in ag geneem word!
Wat ‘n reuse oorwinning vir Afrikaners en al die mense van Suid-Afrika!

Johan ·

Dankie JC. Die skrywers oor die Administratiefreg skryf al hoe meer oor die ooreenkomste tussen die Handves van Regte van SA en soos dit veral in Kanada, Australië en die VSA toepassing vind. Soos jy sê, “MOET” toegepas word, nie as die hof wil nie.
Die interresante is dat die gerapporteerde sake al hoe meer die standpunte begin eggo.
‘n Ander aspek wat mens nie moet vergeet nie is dat die Wet op die Toegang tot Inligting, 2000 en die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid, 2000 al hoe meer gebruik word deur die publiek. Soos hierdie regte deel word van die algemene kenniswêreld van Jan en Jana Publiek, gaan die owerheid al hoe meer teenspoed kry.
Hierdie tipe artikels (soos hierbo) maak mense al hoe meer bewus van hulle regte. Dit gaan al hoe moeiliker word vir die owerheid om diskriminasie toe te pas.

Kaufman ·

Baie dankie Herman en jou span! Ongelykheid kan slegs opgelos word deur om kinders van alle rasse n goeie opvoeding te gee en om n stabiele ekonomiese omgewing daar te stel wat werk of geleenthede skep.

Basson ·

As mens ‘n tree terug neem en objektief na die situasie kyk is dit totaal bizar tot watter mate daar al teen ons gediskrimineer word op alle vlakke.

(Terloops – ek verneem Afrikaanse dosente word alreeds die trekpas gegee by UP :( )

[email protected] ·

Laat die wat draf vir Afrikaans en akademie onder hierdie dosente by Akademia inval. Laat hulle wêreldklas kursusse ontwikkel en aanbied, dalk met die hulp van goed gekwalifiseerde vrywilligers in die werkplek en afgetrede dosente.

Jeanne ·

UP het van die beste dosente in die land/wereld. Maar hulle het ook TEEN Afrikaans by UP gestem, lyk my nie dit kon hulle almal se basse red nie. Sluit maar aan by Akademia, hulle is ongelukkig nog nie in full swing nie, bied nog nie al die kursusse aan nie, maar brei elke jaar uit, sou wou sien dat dit vinniger gaan met die toenemende behoefte aan Afrikaanse opleiding so ook dosente wat nou sonder werk gaan sit, wat nog baie vir die land en sy jeug kan beteken.

Azuni ·

Baie geluk manne en dames. Julle maak nie net vir Afrikaanser trots nie, maar ook vir die hele Suid Afrika, deur om rasisme teen wit mense te beveg. Julle doen die regte ding.

Otter ·

Ja, dankie, julle. Ons het nou die morele hoë grond in die oë van die VN. Die ANC word ontmasker vir qat hy nog altyd was: leuenagtig, onregverdig, haatdraend. Sal tyd vat, maar SA landsburgers sal nog genees word van ANC se valse doktrine.

Dirk Breytenbach ·

Welgedaan Solidariteit! Sonder julle intervensies sou meer mense van minderheidsgroepe lankal in armoede op die ekonomiese kantlyn gesit het. Dis wat die huidige regering doen, straf ons tot daar niks van ons oor is nie. Die haat en vergeldingsdrang word ook oorgedra aan die nuwe geslagte en gevolglik voel ons onnodig dat ons nou minderes moet wees omdat ons leiers en verteenwoordigers in die verlede erg gefouteer het. Gelukkig het Solidariteit die stroom gedraai en word die veragtelike manier hoe transformasie bedryf word stelselmatig as onwettig en kontra produktief ontmasker. Die Afrikaanse blankes word beskuldig dat ons steeds deur bevoordeling nie dieselfde mate van armoede en werkloosheid na 21 jaar as die massas ervaar nie. Ek vermoed dis omdat daar ‘n gees van uitnemendheid en ondernemerskap vaardig is ons onder ons, daarom presteer ons steeds bo die gemiddelde ten spyte van al die kunsmatige BBBEE en EE struikelblokke wat voor ons geplaas word.

Eddie de Jager ·

Die regering sal eenvoudig moet transformeer van ‘n voormalige “struggle beweging” na ‘n volwaardige politieke party om enigsins relevant te bly in die politieke klimaat wat tans heers. In dieselfde asem ook ander partye wat vir iets “veg.” Wat volg op ekonomiese vryheid of selfbeskikking? Die internasionale wêreld is iets vreemd vir my, maar ek kyk maar na hoe die Duitsers in die Europese konteks funksioneer. Die WOII met al die gebeure daarmee saam word nooit opgehaal as die kole warm raak vir ‘n ander land nie, niemand redeneer so nie. Ja, ons moet en kan uit die geskiedenis leer, maar om met dit te argumenteer is drog. Dit het reeds gebeur, ‘n herhaling daarvan of ‘n verdraaide weergawe ondersteun agendas en nie inklusiewe oplossings nie.

Belegging-in-die toekoms ·

Dit is alles so opwindend om nuwe hoop te lees in die ondehandelinge! Laat ons dan nou begin om meer kinders te kry sodat ons die afrikaanse banke kan volsit wanneer die Afrikaanse skole en universiteite op dreef is en nie beskaamd hoef te staan met geen kinders om die toekoms in te stuur nie. Kom mense, ons almal het werk om te doen.

Welmay ·

Baie dankie vir die inligting en ek bid en glo dat dit gaan slaag. Ek het nou nog n vraag. Wat doen mens in die geval van mense (sogenaamde professionals ) wat posted beklee en nie geregistreer is by hulle unies (Councils , bv. N dokter of prokureur op ‘n “rol”) nie, maar hulle kry die salaris vir die pos?

Alfonso ·

n Mens wonder of Solidariteit darem ondersteuning gekry het van die De Klerk Stigting?

Otter ·

De Klerk Stigting is seker nog op soek na die wigte en teenwigte.

neelsie ·

Solidariteit/Afriforum , ons is trots op julle .
Dis die manier om dinge te doen.
Almal behoort hulle te ondersteun, sluit aan , dit gaan jou nie n arm en been kos nie.
Al wat ons gewone mense kan doen!

lettie ·

Robinson Regstreeks was gisteraand weer n voorbeeld dat die Adjunk-Minister aan die verlede vasklou met belaglike redenasies. Apartheidswette het ongeveer 45 jr bestaan, tog is ons nou al in die helfte van die sogenaamde strafraamwerk met regstellende aksie. Die regering behaal telkemale in n jaar sy teiken. Met indiensneming, onregverdige bevorderings, selfs met die gevriesde poste van die SAPD wat losgekom het van die DKD beslissing, is 98% swart bevorder! Vrouens is al 44jr terug in SAPD verwelkom nog lank voor Apartheid verby was en van die jong anderskleurige vroue was alreeds sersante en adjudante pre 1994. Solidariteit gaan voort ons ondersteun jul. Rasseteikens is al jare terug bereik, want die meerderheidsgroep swart is dit onmoontlik dat almal kan base raak omdat hul so baie is. Die BEE begunstigdes doen ook niks om hul gemeenskappr op te hef nie, laat die arm werklose gevalle oor aan die Staat om te help en die Staat blameer weer die wit ras.

Andre ·

Baie dankie aan Solidariteit vir die stryd wat hulle stry. Mens sal net wen as internasionale mening jou steun.

Jakkalas ·

Nou indien die regering 8jaar laat was met hul verslag wat sal hulle verhoed om weer hulle voete te sleep in die geval? Ons sien hoe minag hulle die howe. Gelukkig sal Solidariteit en Afriforum hulle herriner op daai verslag en ook die VN se geheue verfris na twee jaar verby is.

Henry ·

Dit is weliswaar mosterd na die maal, maar wat ‘n wonderlike maal was dit nie!!!
Baie dankie aan julle spul ysters van Solidariteit, Afriforum.
Ek’s diep in ‘n bos met baie sporadiese internet toegang. Vandaar die laat dankie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.