Agteruitgang van sosiaal-demokratiese partye in Europa: Deel 2

stembus-stem-stemmery

Foto: The-declaration.org

Die redes

In die eerste deel van die artikel is die historiese opkoms en die meer onlangse, deels dramatiese agteruitgang van die sosiaal-demokratiese partye aan die hand van verskeie verkiesings beskryf. Ons kan by die tendens nog die Italiaanse verkiesing van 3 Maart voeg, waar die Demokratiese Party, wat sentrum-links of sosiaal-demokraties is, ook aansienlik steun verloor het en nou op onder 20% staan.

Wat is die redes vir die verval van die sosiaal-demokratiese partye in Europa? Daar is veral drie hoofredes:

Slagoffer van hulle eie sukses

Meeste state in Europa het intussen feitlik alle eise van die sosiaal-demokrate geïmplementeer, ongeag of dit onder ʼn sosiaal-demokratiese of Christen-demokratiese regering was. Orals is werksomstandighede drasties beter as vroeër, is state sterk welsynsgerig en bestaan daar veel groter gelykheid op alle vlakke as in die verlede. Dit beteken dat die vraagstukke wat die sosiaal-demokrate gedryf het in meeste gevalle aangespreek is en mense intussen ander sorge het wat die sosiaal-demokrate nie kan of wil aanspreek nie. Die swak vertoning van die SPD in die Duitse verkiesing in 2017 was ʼn voorbeeld: die vlugtelingstrome en groeiende misdaad was van die dringendste probleme vir talle kiesers, terwyl die SPD ʼn veldtog vir “sosiale geregtigheid” gevoer het asof Duitsland in die laat 19de eeu se kapitalisme vasgevang was. Daar waar sosiaal-demokrate vir baie jare regeer het, byvoorbeeld in Swede, het ook ʼn groot skuldlas opgebou en is belasting baie hoog en die burgers moes besef dat die onbeheerde welsynstaat nie die oplossing vir alle probleme kan wees nie. Sentrum-regse partye het nie die welsynstaat afgeskaf nie, maar dit meer vaartbelyn gemaak.

Nuwe kompetisie van links

Die sosiaal-demokrate kon hulle suksesvol onderskei van die kommuniste en ander verlinkses en het die spektrum van die middel tot links beset. Met die opkoms van die pasifistiese en omgewingsgerigte Groenpartye, gedra deur jong akademici en linkse burgerlikes het die sosiaal-demokrate die tendens lank geïgnoreer en dan probeer om die Groenpartye na te aap. Niemand kies ʼn namaaksel bo die oorspronklike nie, maar die sosiaal-demokrate se getroue ondersteuners wat meer oor werksekerheid en die ekonomie as oor die wêreldklimaat en wêreldvrede gepla was, het hulle rug op die sosiaal-demokrate begin draai. Selfs regse partye soos Front National in Frankryk en AfD in Duitsland spreek dikwels die vrese van die gewone mense beter aan as die sosiaal-demokrate, wat intussen snobisties oor hulle tradisionele ondersteuners geword het. Dit is reeds ʼn bewese tendens dat voorheen “linkse” arbeiders en kleinburgerlikes nou eerder vir regse partye stem.

Veranderende samelewing

Die tyd van die fabriek- en mynwerkers is verby en daarmee saam ook die houvas op die massas van werknemers wat sosiaal-demokrate in die verlede gehad het. Die vakbonde as belangrike bondgenote van die sosiaal-demokrate wat werkers as kiesers kon mobiliseer, het ook baie van hulle mag verloor soos wat die massawerker verdwyn. Tradisie en die opbouende rol van die sosiaal-demokrate in die verlede is nie meer genoeg om kiesers te mobiliseer nie. (En die ANC kan hiervan kennis neem. Suid-Afrika is nie Europa nie en die ekonomie is nog meer op massa-arbeid gerig, maar ook hier is minder en minder mobiliseerbare “proletariërs”. Cosatu, byvoorbeeld, verteenwoordig intussen blykbaar meer staatsdienswerkers as mynwerkers en fabriekwerkers). Die sosiaal-demokrate het ook nie meer antwoorde op verskynsels soos die multi-kulturele samelewing nie (behalwe om dit onkrities te omhels en kritici as “verregs” uit te kryt), op digitalisering, individualisering en vorming van nuwe substrukture en identiteite nie.

Die moontlike einde van die sosiaal-demokrate beteken nie die einde van linkse politiek nie. In meeste Europese lande is daar breedweg ʼn gelyke verdeling tussen links en regs van die middel en regerings wissel mekaar gedurig af, soos wat burgers genoeg van die een het en weer meer van die ander soek. Daar is egter veral op die linkerkant ʼn tendens tot versplintering en die opkoms van nuwe, postmoderne links-populistiese partye, wat minder diepte as die ou sosiaal-demokratiese partye het en dikwels so vinnig verdwyn soos wat hulle opgekom het (ʼn goeie voorbeeld is die Pirateparty in Swede en Duitsland).

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

JC ·

Baie dankie Sebastiaan.
Wat ek egter wil byvoeg is dat die vervreemding en ontheemding van die afgelope paar dekades na die einde van die 2de wereldoorlog; wat “gewen” is deur die Sosialiste; en tot die verstikkende vorm van individualis gesentreerde sosiale demokrasie gelei het, wat naderhand in ‘n vorm van tiranniese polities korrekte onderdrukking ontaard het; “die mense” uiteindelik keelvol gemaak het synde dat hulle agtergekom het dat hulle die wurggreep van wat professor Malan noem die verskynsel van “indiversiteit”-as ek reg onthou (synde die resultaat te wees van die ekstreme opvatting en samevoeging van humanisme en individualisme); wil afwerp.

In kort, “die mense” hunker na en wil weer terugneem (met mag!) hul identiteit, nasionale- en streekskarakter, en sin van gemeenskap; as synde nie net ‘n individualis te wees met “nuttelose” universele individualis en humanisme gebaseerde gesentreerde “regte” nie; maar deel van ‘n gemeenskap!

Dit hang nouliks saam met die verskynsel dat die nasionale soewereiniteit van state (wat die afgelope paar jare deeglik daarin geslaag het om aan te pas by die welsynstaat en humanistiese paradigma van state) en soewereiniteit van streke; – sien die gebeure rondom Korsika se onafhanklikheidsstrewe en ook Katalonie -wat in my opinie internasionale erkenning as onafhanklike staat moet verkry- en hier is die wat nie wil saamspeel nie o.a. die VSA ; weer vooropstaan. In hierdie opsig is die nuwe verskynsel van identitere groepe ook baie wesentlik.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.