Ai tog, president Zuma… jy los ons in die vreemde

Pres. Jacob Zuma. Foto: GCIS

Pres. Jacob Zuma. Foto: GCIS

As ʼn mens met ʼn toergroep in die middel van Turkye reis en daar kom ʼn SMS deur na die Turkse toergids van vriende uit Suid-Afrika dat die konstitusionele hof pres. Zuma skuldig bevind het aan ʼn oortreding van die grondwet en ‘n Turkse toergids moet dié nuus met jou deel en ʼn hele bussie toeriste, komende van verskillende plekke in Suid-Afrika, klap spontaan hande omdat jou president skuldig bevind is, dan besef ʼn mens iets vreemds is aan die gang in ons land. Eintlik weet ons almal dit lankal, dit is net nou duideliker. Onthou tog, ons praat nie van ʼn tussenverkiesing waar een party bo die ander uitgestyg het nie, ons praat van ʼn  land se president wat die grondwet oortree het!

Nog vreemder word dit as jy kinders by die skool hoor speel en een vang ʼn dom ding aan en die ander roep na hom: “Jy is ʼn regte Zuma,” en jy besef dit is hoe die kinders met mekaar oor die president praat! Ja, hoor jy, die kinders het die term “blonde oomblik” (verwysende na iets snaaks wat gedoen word) spontaan verander na ʼn “Zuma-oomblik”. Vra ʼn bietjie enige tiener wat is ʼn Zuma-oomblik en hulle sal jou presies antwoord.

As jy in een week 15 spotprente oor die land se president raaklees, baie artikels en rubrieke en ʼn paar honderd negatiewe Facebook-inskrywings van heinde en verre beleef oor die land se president, dan verdiep die vreemdheid waarin jy jou bevind.

As jy skielik hoor politieke ontleders begin twyfel en wonder. As hulle begin sê nou weet ons nie meer nie.

As dominees skielik ewe vroom begin vra kom ons bid eerder as skinder en kla, maar jy hoor die twyfel in die opkom vir ʼn verkeerde man en saak… Laat my dink aan die evangelis Moody wat op ʼn brandende skip was toe die bemanning gevra het hy moet vir hulle bid. Sy antwoord was, bid julle ek begin solank die vuur doodgooi.

Met al hierdie asse moet ons op ʼn punt kom dat ons sê: “Ai tog pres. Zuma… jy los ons in die vreemde.” Dit is nou nie asof van ons nie nugter dink nie. Van ons besef tog maar altyd duidelik dat ʼn land maar die leier kry wat hy verdien. Ons moet maar so ʼn bietjie eerlik wees, met die val van pres. Zuma kan die rand dalk ʼn dag of twee sterker wees en daar kan dalk hier en daar ʼn ding verander, maar die vreemde waarin ons gelos word gaan nie oornag verander nie. Ons leef en beleef ʼn konteks waarin baie meer as net Zuma verkeerd is. Om alles te laat val gaan nie noodwendig iets en iemand help nie en tog terwyl Zuma daar is gaan iets moeilik gebou word en niks juis bewaar bly nie. Sjoe, wat ʼn negatiewe paragraaf? Nee, glad nie – inteendeel ons kom nie uit geslagte wat gaan lê en wonder het nie. Ons kom wel uit voorgeslagte wat nugter dink en eerlik evalueer. Die beste tyd is nou. Nou moet ons bou. Nou moet ons vorentoe gaan. Nou moet ons nuut dink, konsolideer, beplan, werk en behou.

Natuurlik los ons president ons in die vreemde, hy voel ook nie juis veel daarvoor nie. Natuurlik ondersteun sy party hom en natuurlik vou sy vriende om hom toe. Maar hoekom pla dit ons. Kom ons werk. Kom ons bou. Ons is in Suid-Afrika, ons is van Afrika. Leiers kom en gaan. Politieke partye kom en gaan. Leiers en politiek gaan nie vir ons ʼn toekoms bou nie. Leiers en politiek gaan nie ons kinders grootmaak nie. Leiers en politiek gaan nie vir ons ʼn toekoms skep nie. Leiers en politiek gaan nie ons roepingsbewus maak nie. Of jy nou daarvan hou of nie, ons sal maar ʼn bietjie moet self inspring en werk. Die president los ons in die vreemde en sy opvolger gaan waarskynlik ook. En die party waaruit hy kom gaan ook en die party wat hulle iewers in die volgende duisend jaar gaan opvolg gaan ons ook maar in die vreemde los. So as jy saam met my in ʼn toekoms in Suid-Afrika glo, laat ons bid en werk, glo en hoop, bou en beplan. Daar is nie ʼn plan B nie. Ek verwag nie vir De la Rey ná Zuma nie. So, terwyl baie wag dat Zuma val, hier in die vreemde, laat ons in die vreemde vir ons die bekende bou. Ek begin solank werk.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Hannes Noëth

Hannes Noëth is die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. Hy is ook die skrywer van die boek Depressie: Struikelblok of uitdaging? en skryf dikwels rubrieke vir verskeie publikasies.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Theresa ·

U klink baie positief en optimisties. Ek wil ook graag so dink en voel, maar deesdae sukkel ek om dit reg te kry omdat ons mense so daagliks uitgewis of seergemaak word. Ons eiendom wat eerlik gekoop is, word vernietig, gesteel of verniel. (Ons tweede motor in ‘n jaar se tyd verniel omdat sotte dit wou steel. Mens se hartklop is gedurig vining omdat daar hopeloos te veel niksdoenendes oral sit en staan en toegelaat word om ‘n ordentlike samelewing af te rem. Ons betaal ons belasting en als vir die metro, maar steeds bly sommige straatligte afgeskakel. Dit belemmer sig as mens saans ry en is in elk geval ‘n uitnodiging vir die steellastiges. Ensovoorts, ensovoorts, ensovoorts. Maar, skryf weer – dalk kan ‘n paar van ons ook met goeie idees vorendag kom om ‘n “nuwe” lewe in ons voortbestaan te blaas.

André ·

Hannes
Dis ‘n baie goeie meningstuk en als wat jy sê dra tog water. Maar kom ek sê jou hoekom pla dit ons. Want als kan nie net geregverdig word deur ‘n hofuitspraak wat jou Staats President skuldig bevind en hy moet net die ou geldjies terug betaal nie. Dit is frustrerend om te sien waarmee “hulle” wegkom. En as ek sê “hulle”, dan bedoel ek alle korrupte amptenare wat jou en my swaar vrediende belasting geld STEEL.

Otter ·

Is waar dat politieke partye kom en gaan. Kyk selfs hoe lank het die Unie van Suid Afrika gehou, en die Republiek is ook nie so oud nie. Dinge verander vinnig. Goed om te werk aan goed wat nie afhanklik is van politieke partye nie.

Paul. Hoogendyk ·

Deur te se dat die weste teen hom n komplot smee hoop hy julle sal julle oog van die bal af to vat en Dan sal hy se julle werk en komplot saam met die weste I

Henry ·

Terwyl daar so aan’t werk gespring word…onthou tog dat die ongeveer 5 miljoen wittes – optimistiese syfer – wat onsself in die suide van Afrika bevind, bittermin inspraak op die regering van hierdie land met sy 50 miljoen inwoners het.
Nou en vorentoe.
Soos die wittes en andere in die res van hierdie donker vasteland, sal ons altyd ‘n baie klein minderheid verteenwoordig, wat by hoë uitsondering die vertroue van Sub Sahara se regimes sal geniet. Dat daar talle van ons is wat hoevele geslagte lank in die droewe land woon, tel geen punte vir die onderskeie regime’s nie. As ‘kolonialiste’, ‘apartheidsondersteuners’, ‘in-kommers’ ‘rassiste’ ens ens ens sal ons bowendien en altoos aan die kortste end trek.
Daarom sal ons deurentyd moet werk dat die biesies aan’t trille gaan om op burgerlike vlak so sterk en selfonderhoudend te raak, dat enige regime en/of hul leiers nie ons voortbestaan of goeie orde kan vernietig nie.
Is maar hoe dit is.

John ·

Ds, ja, ja, Kom met ‘n opvolg en gee ons idees hoe om te werk te gaan. Almal, ook al die dominees, se hierdie dinge oor en oor, en dan loop die broers en susters positief by die kerk uit en vind daar is by hul motors ingebreek of by hul huise of nog erger ta le hulle voor by die plaashek. Ons Afrikaners se ondersteuning aan mekaar le so naby of so ver as ‘n stywe sms of ‘n whatsapp-standaardversie. Dominees doen nie meer huisbesoek nie en verkies om van daarbo af te kyk op die arme gepeupel, of nog erger, ‘n tv-diens met baaaie instrumente in die agtergrond om ds se ‘with it’-beeld uit te dra. ‘Vat hande broers en susters ….’

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.