Akademia bied studente ’n uitnemende toekoms – tienvoudig!

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, met die bekendstelling van Akademia se kampus in Centurion. (Foto: Verskaf.)

Akademia het hierdie week aangekondig dat ’n nuwe voltydse kampusmodel in 2021 (dis sommer volgende jaar) vir eerstejaars by ’n pragtige nuwe kampus aangebied gaan word. Ek wil tien kort opmerkings daaroor maak:

1) Dit is histories. Waar ander universiteite Afrikaans uitfaseer, brei Akademia sy aanbod uit. Om ’n universiteit – en spesifiek ’n voltydse kampus – neer te sit, is ’n harde boodskap van “Ons gaan nêrens heen nie”.

2) Dit gaan nie net oor Afrikaans nie. Taal is belangrik, maar dit gaan ook oor ’n groter waarde- en kultuuroordrag. Sukses in die werkplek hang nie net van kennis af nie, maar die waardestelsel waarbinne die kennis toegepas word. Akademia het ’n Christelike grondslag en ons dra waardes soos roeping, werksetiek en verantwoordelikheid oor.

3) Daar is mense wat sê die wêreld is Engels en daarom moet ek in Engels studeer. Die geskiedenis wys dat mense wat in Afrikaans studeer, gemaklik in ʼn Engelse wêreld inskakel omdat hulle goed opgelei is. Wat jou suksesvol maak, en wat ʼn skaars kommoditeit in die wêreld is, is werksetiek. By Akademia vind die oordrag van hierdie etiek plaas. Jy kry goeie onderrig en goeie waardes. Dis die suksesresep vir die wêreld daarbuite.

4) Covid-19 het ons geleer dat die nuwe normaal nie sonder tegnologie gaan wees nie. Dit het ons egter ook geleer dat dit nie sonder mekaar kan wees nie. Zoom het nie asem nie. Hoë tegnologie is goed, maar interaksie met mekaar is steeds nodig.

5) Behalwe die interaksie met mekaar op die kampus, staan Akademia in verhouding met ’n groter gemeenskap wat gaan help met werkplasing, internskappe en mentorskappe.

6) Die kampus gaan veilig en gesond wees. In vandag se konteks in Suid-Afrika is veiligheid nie vanselfsprekend nie. In die Covid-19-konteks is gesondheid ook nie vanselfsprekend nie. Weens die hoëtegnologiekarakter van Akademia kan die huidige studente, sonder onderbreking, voortgaan met wêreldklas onderrig, te midde van die Korona-krisis.

7) Die kampus gaan ook vriendelik en vol pret wees. Ons verstaan baie goed dat ’n groot deel van die leerervaring studentelewe en -tradisie insluit. By Akademia sien ons ’n gesonde studentelewe sommer as deel van ons kurrikulum. Dis nie bloot net iets wat buitemuurs plaasvind nie, dit is deel van ons. Hierdie eerstejaars gaan baanbrekers wees in die grondlegging van Akademia se nuwe studentetradisies. Dit gaan vanuit die studente wees.

8) Akademia het reeds ’n geskiedenis van kwaliteit met ’n aanbod aan sowat 1 300 studente met net die beste tegnologie. Hierdie kampus gaan ook wêreldklas wees met verhoudinge met top ander privaat universiteite in die wêreld. Die Akademia-grade het presies dieselfde akkreditasie en selfs ’n beter standaard as enige van die beste universiteite in Suid-Afrika. Akademia se susterorganisasie, Sol-Tech, het gewys hoe hoë standaard-onderrig en -opvoeding lei tot ʼn waglys van werkgewers waar studente geplaas kan word.

9) Hierdie is die begin. Tientalle meer grade gaan geakkrediteer word en ’n nuwe kampus wat 5 000 voorgraadse studente en 1 000 nauurse studente kan huisves, gaan gebou word.

10) Die krag van Akademia is dat hy vanuit die gemeenskap gebou is. Hoe bevrydend om te dink dat ʼn gemeenskap, vry van die staat, ʼn instelling kan bou. ʼn Taal en ʼn gemeenskap wat hierdie vryheid kan aangryp, gaan nêrens heen nie.

Ons sien uit om die honderde nuwe eerstejaars op die kampus te verwelkom.

Die toekoms begin hier…

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Michael 1 ·

Die beste ding wat gebeur het na 94 met afrikaanssprekende kinders.

Mauritz ·

Ek het die voorreg gehad om al my onderrig, skool en universiteit, in Afrikaans te ontvang. Ek het nie destyds besef hoe groot die voorreg was nie, maar ek besef dit nou temidde van die aanslag op my geliefde taal. Akademia, gaan so voort!

Michael 1 ·

Met die president van suid afrika wat so pas bekend gemaak het wat hy van wit minderhede dink sal ons toenemend na onself moet begin kyk.

Alexander ·

Dis wonderlike nuus. Lank lewe Afrikaans as wetenskapstaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.