Akademia: Kom ons maak ’n wêreldklas- Afrikaanse universiteit

akademia

Bekendstelling van Akademia op 25 November 2014 Foto: Reint Dykema, Solidariteit

Die RAU het in 1991 ’n eredoktorsgraad aan die voormalige Britse premier, Margaret Thatcher, toegeken. By die plegtigheid op 20 Mei 1991 het sy in Afrikaans die volgende gesê: “Afrikaners is met reg geheg aan hul godsdiens, hul kultuur en hul taal. Dit is ’n taal wat uit Suid-Afrika se geskiedenis gegroei het. Dit is ’n belangrike kommentaar op dié geskiedenis dat Afrikaans die eerste taal van so baie wit mense, bruin mense en swart mense is. Laat Afrikaanstalige universiteite floreer. Laat hulle van krag tot krag gaan en laat hulle oop wees vir almal.”

Die Britse “Ystervrou” het hier met reg die belangrikheid van Afrikaanse universiteite beklemtoon, maar die lot van Afrikaans by dieselfde universiteit, is tekenend van die druk op Afrikaans wat by al die openbare universiteite ervaar word.

Prof. Hermann Giliomee het gesê dat “die groei van Afrikaans as volle funksionele taal een van die merkwaardigste kulturele verskynsels van Suid-Afrika is”. Die waarheid van sy stelling word onderstreep deur die Duitse taalkundige Heinz Kloss. Hy meen dat Afrikaans die enigste nie-Europese, nie-Asiatiese taal is wat in die vorige eeu volle universiteitstatus verwerf het en wat in al die vertakkinge van die lewe en die akademie gebruik word. Die Frans-Kanadese taalkenner Jean Laponce sê dat Afrikaans een van net vier tale is wat in die twintigste eeu ten volle gemoderniseer het. Daarmee saam het navorsing van Galloway bevind dat Afrikaans in die 1990’s die sterkste literêre taal in die land was indien produksie in Suid-Afrika as maatstaf gebruik is.

Nieteenstaande hierdie prestasies, het Afrikaans se posisie daarna begin verswak, en het hierdie afdraand ná 1994 begin versnel. Dit is algemene kennis dat Afrikaans onder druk is, en dat daar hard gedink en gewerk sal moet word om te verseker dat Afrikaans as ’n volledige funksionele taal voortbestaan. ’n Taal kan net oorleef as dit voluit leef, met ander woorde, ten volle funksioneel is in al sy taalfunksies, veral die hoër funksies soos in die akademie.

Professor Lawrence Schlemmer het hierdie waarheid treffend saamgevat: “Die grootste gevaar vir Afrikaans is dat as dit as universiteitstaal verswak of verdwyn, dit die ondergang sou beteken van Afrikaans as wetenskapstaal, as vaktaal, as taal van intellektuele omgang, en ook as letterkundige taal. Baie tale het al op grondvlak oorleef, maar kon nie voluit leef in al hul taalfunksies nie. Daar is min twyfel dat Afrikaans in sportstadions, kafees, kroeë, en sit- en slaapkamers gaan oorleef. Maar wie gaan dit ernstig opneem as dit nie op intellektuele en professionele vlak oorleef nie? Soos die meeste ander inheemse Afrikatale sal Afrikaans in so ’n geval onthoof wees.”

Professor Jakes Gerwel het in die 2001-verslag van die Gerwel-kommissie ook bevind dat Afrikaans sonder twee universiteite met ’n spesiale verantwoordelikheid om Afrikaans te ontwikkel, op die duur nie staande sal kan bly nie. Lina Spies het dit reguit gestel: “Is ons werklik so naïef om te glo dat Afrikaans, verdryf uit sy historiese opvoedkundige inrigtings, ’n lewende en belangrike taal sal bly?”

Prof. Giliomee het ook gewaarsku dat die verengelsing van eertydse Afrikaanse universiteite vir Afrikaans rampspoedig kan wees. Hy meen dat sonder Afrikaanse universiteite, wat ’n Afrikaanse kultuurkarakter dra, daar nie veel kans is dat Afrikaans as ’n taal met hoër funksies kan voortbestaan nie. Dit sal lei tot die verengelsing van die Afrikaner-elite. Dit is insiggewend dat mnr. Nelson Mandela in 1996 by geleentheid van die toekenning van ’n eregraad in Stellenbosch, gesê het dat “… [dit] in ’n stelsel van meer as twintig universiteite beslis moontlik moet wees om ’n ooreenkoms te bereik dat daar ten minste een universiteit moet wees waarvan die belangrikste taak behoort te wees om die volgehoue ontwikkeling van Afrikaans as akademiese medium te bevorder”.

Daar is nou 25 openbare universiteite met 36 kampusse in die land. Tog is Afrikaans oral onder druk omdat ideologie nie logika het nie. Dit is ongelukkig nie net ons taal wat onder druk is nie. Die ideoloë is nie bloot anti-Afrikaanse taalstryders nie. Dit sou ’n verkeerde opsomming van die volle aard en omvang van die probleem wees. Sommige universiteitsbesture wil nie net minder Afrikaans op kampus hoor nie, hulle wil minder Afrikaners op kampus sien. Rassistiese wolwe in demokratiese skaapsklere is ongelukkig ’n werklikheid. Het Langenhoven vandag geleef, sou hy weer met reg kon vra: “Waarom is ons politiek altyd rassisme, en julle rassisme altyd politiek?”

’n Taal met ’n toekoms – ’n lewende taal – is ’n taal wat ’n volledige funksionele taal is, en wat op al sy funksionele silinders loop. Hoe meer funksies ’n taal verloor, hoe vinniger gaan die taal se gebruikswaarde agteruit; hoe kleiner krimp sy taalwêreld; en hoe makliker verskuif sy taalgemeenskap na ’n ander, meer bruikbare taal.

Opsommend: Afrikaans is ’n moderne wêreldklastaal, en sy sprekers het in Afrikaans wêreldklasprestasies behaal, vanaf die splyting van die atoom tot die uitvoering van hartoorplantings; vanaf die opbou van wêreldklassakeryke tot ’n nóg ryker letterkunde.

Oplossingsgerig
Maar ek wil nie vandag praat oor die probleem nie – ons weet almal presies wat en hoe groot dit is. Ek wil ook nie vandag Afrikaans by die bestaande universiteite afskryf nie – daar is nog baie veg in ons oor om die demokratiese Afrikaanse ruimtes wat nog bestaan, te behou. Daarom fokus die Solidariteit Beweging se twaalfpuntplan vir Afrikaans op universiteitsvlak baie sterk op Afrikaans by die huidige universiteite. Dit is mos nie ’n guns wat ons vra nie, dis ons demokratiese en grondwetlike reg. Ons belastinggeld praat immers ook Afrikaans.

Terselfdertyd kan ons egter nie die toekoms van Afrikaans as universiteitstaal net aan die bestaande openbare universiteite oorlaat nie. Dit sou roekeloos onverantwoordelik wees, want dit is mos nou al helder duidelik in watter rigting die geskiedenis beweeg. Maar al is daar nie by my twyfel dat hierdie geveg nog nie oor is nie, en dat daar nog lank Afrikaanse taalruimtes sal bestaan, is dit ’n feit dat hierdie ruimtes dramaties verskraal sal wees en dat dit permanent onder druk sal bly. Daarom sal daar steeds ’n behoefte aan ’n private Afrikaanse universiteit wees – al bly daar nog ’n kampus of twee oor waar daar plek is vir Afrikaans.

Gegee en gemaak
Mens hoor soms vandag die versugting na sogenaamde “leiers” wat ons in hierdie tyd kan lei. Tog het Van Wyk Louw dekades gelede al gesê dat ons nie na die dinamiese leier moet soek nie, maar eerder na die daad. In plaas daarvan om op die mitiese “De la Rey” te wag om ons te kom lei, moet ons eerder ons besluiteloosheid afskud en begin doen wat ons almal weet nodig is om die toekoms van ons taal en sy sprekers te verseker.
’n Taal en sy mense se voortbestaan berus immers nie op abstrakte regte nie, maar op praktiese dade waarmee hy daagliks sy bestaansreg bevestig – aldus Hermann Giliomee.

Prof. Jaap Steyn se biografie van Afrikaans, Ons gaan ’n taal maak, ontleen sy titel aan die woorde van ’n vroeë taalstryder, Izak van Heerden, wat hierdie leuse in 1905 bo-aan ’n brief aan Gustav Preller geskryf het – en hét daardie geslag toe nie inderdaad ’n taal gemaak nie!
Ons geslag het nie die taal gemaak nie; ons het Afrikaans gekry – of soos Van Wyk Louw dit in ’n radiopraatjie oor die “Wonder van Afrikaans” gestel het: “Afrikaans is aan ons gegee”. Daarom, kom laat ons – soos prof. Nic Grové gesê het – nie weggee wat nie ons s’n is om weg te gee nie. Ons het dit immers verniet gekry.

Daarom is dit ons reg, ons plig en ons voorreg om ’n wêreldklas- Afrikaanse gemeenskapsuniversiteit te “maak” – in Van Heerden se woorde soos wat dit in die titel van prof. Steyn se boek verewig is.

Net soos Afrikaans nie aan ’n bepaalde groep behoort nie, maar almal s’n is wat lief is vir ons taal, wil ons ook nie Akademia net vir die Solidariteit Beweging hê nie. Dit is die breinkind van professore Giliomee en Schlemmer; dit is ons baba, maar ons wil dit aanbied as ’n kind vir die hele Afrikaanse taalgemeenskap.

Ons weet hoe moeilik dit gaan wees om Akademia vanaf ’n klein begin tot ’n wêreldklas-universiteit uit te bou. Maar ons weet ook dat dit moontlik is, want ons voorouers het dit mos al bewys – in veel moeiliker omstandighede as vandag. As hulle dit kon doen, kan ons ook, daar is mos nie iets fout met ons nie. Ons het veel meer om mee te werk; ons begin nie van voor af nie; ons het ’n hoogs ontwikkelde taal gekry. Ons hoef dus nie weer ’n taal te maak nie, ons moet net ’n universiteit maak. En die resep is mos daar, ons moet dit bloot moderniseer en weer gebruik– sonder om dinge so te vereenvoudig dat ou suksesresepte net herhaal kan word.

Ons gaan suksesvol wees, want ons het ’n geheime wapen. Daardie wapen is dat ons nie ’n alternatief het nie. Dit is ons wapen. Dis ons taal, dis ons toekoms. Daarom wil ons vandag die hele Afrikaanse gemeenskap uitnooi om te kom deel word van Akademia. Kom laat ons almal – soos Van Wyk Louw dit so onvergeetlik stel – die skat van Afrikaans saam veilig deur die skare dra.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Alice Hendriks-Boshoff ·

Ek woon in Engeland en is ‘n VK-burger, maar my hart sal nooit anders as Afrikaans klop nie. Mag die Afrikaanse Universiteit nie net ‘n droom of ‘n gedagte bly nie, maar ‘n reusesukses word.

Theresa Papenfus ·

Baie geluk! En baie dankie vir wat julle vir Afrikaans doen. Ek praat Afrikaans, Engels, Duits, en leer nou ook Frans. Maar in geen taal is ek so eg myself as in Afrikaans nie. Dis deel van ons menswees waarvoor julle julle beywer. En julle praat nie net nie, julle doen. Vat vyf.

Dr. Danie Coetzee ·

My bloed is Afrikaans, huis is Afrikaans, my taal is Afrikaans. Dis tyd dat ons die volle waarde van ons taal besef en so voort bou. Ek is heel gemaklik om my kinders en kleinkinders Afrikaans te sien grootword, onderrig te word en in Afrikaans te leef. My volle ondersteuning vir ons Afrikaanse universiteite, Dis nie eers ‘n vraag nie.

Frederick J Smith ·

Baie,baie geluk! Hierdie is n stap in die regte rigting om ons pragtige taal te laat oorleef.Waak net asseblief teen die verpolitisering wat die groei van die instansie kan kniehalter.Ons moedertaal strek oor n magdom kulturele grense….laat ons taal seevier en oorleef en nie kleur,geloof of ander politieke onderstrominge nie. Mag hierdie poging groei en die suksesvlakke bereik waarvoor dit bestem is ter oorlewing van die siel van ons mense, ons moedertaal…XXX

Jakes ·

Dit is voorwaar ‘n ideaal om na te strewe. Ek is egter van mening dat geen Universiteit tot sy volle reg sal kom as ‘n afstand-gebasseerde instansie nie. (Soos Unisa) Daar moet ‘n kampus wees waar studente voltyds kan studeer. Hoe anders kan studente hul kultuur, taal en tradisies uitleef en bou? Hoe anders kan wêreldklas navorsing gedoen word in Afrikaans? Die studeer-terwyl-jy-werk model is goed vir blote onderrig en lesgewing, maar dit dra min by tot die uitbou van taal en kultuur. ‘n Wêreldklas Afrikaanse universiteit, op ‘n wêreldklas kampus! Wat ‘n waardige droom om na te jaag!

Henry ·

Groot plesier om die volgende waarheid uit Flip Buys se pen raak te lees:

“….Mens hoor soms vandag die versugting na sogenaamde “leiers” wat ons in hierdie tyd kan lei. Tog het Van Wyk Louw dekades gelede al gesê dat ons nie na die dinamiese leier moet soek nie, maar eerder na die daad…”

Vergeet gerus van al die mitiese “De la Rey’s” en doen die dinge wat werklik saak maak, soos die stigting van ‘n selfversorgende Afrikaanse Universiteit.

‘n Universiteit wat geleentheid vir Afrikaners bied om in hul eie wonderlike taal, hulself te bekwaam vir al die uitdagings en geleenthede wat die toekoms in ‘n alhoe kleinerwordende wêreld vereis. Ons Taal wat deur die toewyding en energie van ons voorvaders en temidde van groot struikelblokke steeds behoue gebly het.

Dit is ons opdrag om daardie voorbeeld wat oor dekades heen gestel is, uit te voer. ‘n Volbloed Afrikaanse Universiteit is ‘n uitstekende DAAD.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.