Akademia: Lesse van Baylor in die VSA

akademia-baylor-01

Baylor Universiteit in die VSA se nuwe sakeskool se ontwerp pas esteties by die klassieke, maar binne is ʼn hipermoderne ontwerp volgens die “google”-styl – baie glas en oop ruimtes met helderkleurige stoele waar studente kan saamwerk. Foto: Verskaf.

In die wêreld van universiteite is Akademia nog ʼn baba, ʼn nuweling in ʼn ryk tradisie van honderde jare. Akademia is ʼn privaat Afrikaanse gemeenskapsuniversiteit wat op Christelike beginsels gefundeer is. Kan die konsep van wêreldformaat wees?

ʼn Afvaardiging van die Solidariteit Beweging het na die VSA gereis om verskeie suksesvolle universiteite te besoek. Al die universiteite is Christelik, gestig uit ʼn bepaalde gemeenskap en privaat.

Ons eerste halte was in Waco, Texas, by die Baylor Universiteit. Baylor is in 1845 gestig, het sowat 17 000 studente en word in die VSA as ʼn middelgrootte universiteit geag.

Die universiteit is uitgesproke Christelik en staan sterk in die Baptiste-tradisie en hul slagspreuk is “Vir kerk en Texas”.

Terwyl ons op die kampus stap, lui die kerkklokke stiptelik elke uur. Daar is ʼn kapel en eerstejaars is verplig om kapeldienste by te woon.

Die argitektuur is klassiek, die tuine skep ʼn oop gevoel en die talle roostuine verleen ʼn sagte gevoel. Daar is ʼn atmosfeer van gewydheid op die kampus.

Tog is die jong mense op die kampus gewone, moderne jong mense met oorfone in die selfone. Die nuwe sakeskool se ontwerp pas esteties by die klassieke, maar binne is ʼn hipermoderne ontwerp volgens die “google”-styl – baie glas en oop ruimtes met helderkleurige stoele waar studente kan saamwerk.

Dit is nie ontwerp vir die individu nie; inteendeel, daar is talle plekke waar die studente juis kan sosialiseer. Oral sit studente gemaklik en besig met spanwerk. Daar is ʼn geruis van studentestemme in die gebou. Die klassieke en die moderne het met mekaar versmelt.

Maar is daar plek vir Christelike norme in ʼn vinnige en gespesialiseerde sekulêre wêreld? Jim Benninghof, die vise-provoos (adjunk- akademiese hoof), verduidelik dat die Christelike klassieke opvoeding (“liberal arts” oftewel klassieke letterkunde en geskiedenis) eintlik onderliggend was aan die stigting van die meeste Amerikaanse universiteite. Opvoeding is die volle ontwikkeling van die mens wat meer as opleiding of selfs afrigting vir ’n spesifieke beroep behels. Volgens Benninghof ontwikkel Baylor die studente se geestelike en intellektuele kompas sodat hulle hul op wêreldpad kan navigeer. Die inligtingsera het tot gevolg dat ou beroepe verdwyn en nuwe beroepe verskyn. Mense beklee nie meer lewenslank een beroep nie en verander selfs totaal van loopbaanrigting. “Indien die kennis waarmee ons studente toerus dalk in die toekoms uitgedien raak, het ons hom of haar toegerus om in die lewe te navigeer. Dit is belangriker as bloot die beroepskennis wat ons oorgedra het.”

By die sakeskool word vertel dat hul mededingende voordeel juis die etiek is wat hulle in hul kursusse oordra. Goeie etiese waardes het ʼn skaars kommoditeit geword en werkgewers sal ʼn premie daarvoor betaal. Die onderliggende Christelike grondslag van Baylor maak die studente méér “bemarkbaar”, nie minder nie.

Op die kampus van Baylor Universiteit is daar oral historiese bakens. Die kerkklokke lui stiptelik elke uur. Daar is ʼn kapel en eerstejaars is verplig om kapeldienste by te woon. Foto: Verskaf.

Op die kampus is oral historiese bakens. Trotse tradisie word heeltyd in herinnering geroep. Op plaatjies op die bome word studente wat in oorloë gesterf het, gedenk. Die studente leer dat jy nie los van jou verlede vir die toekoms voorberei kan word nie.

Op die plaveistene is honderde name van alumni en ondersteuners wat geld aan Baylor geskenk het. By geboue word erkenning gegee aan individue wat skenkings gemaak het om die gebou te bou. Selfs die roostuine is deur skenkers moontlik gemaak.

Baylor is privaat en aanvaar nie staatsubsidies nie. Hulle wil vry wees van die staat. Hierdie vryheid kan op die kampus aangevoel word. Vry van die staat vra ook ʼn stuk idealisme en ʼn gemeenskap wat daarin deel. Baylor het ʼn skenkingsfonds (“endowment fund”) van meer as R1 miljard. ʼn Gemeenskapsuniversiteit kan nie sonder die gemeenskap nie.

Kaylee en Grant is twee finalejaarstudente wat ons op ʼn kampustoer vergesel het. Hulle vertel van meer as 300 studenteorganisasies wat elke student op ʼn unieke manier vorm. Sport is belangrik by Baylor en studente presteer in van watersport tot Amerikaanse voetbal.

Kaylee vertel hoe sy uit ʼn ontwrigte gesin weer sekuriteit op Baylor gekry het. Hulle praat spontaan oor hul Christenskap sonder dat hulle weet wie ons is. “My geloof is hier versterk. Ek het myself hier gevind,” vertel Grant.

Kan ʼn Christelike privaat gemeenskapsuniversiteit uitnemend wees? Grant verduidelik verder: “Ek bly in Dallas en ry verby verskeie universiteite om na Baylor te kom. In die VSA is die gemiddelde kans om ná jou graadstudie toelating tot ʼn mediese skool te kry 25%. By Baylor is die gemiddeld 70%.”

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Dirk Hermann

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

21 Kommentare

John ·

Baie indrukwekkend. Groot geld is nodig vir groot vertoon. Watter kursusse word doseer en wat van akkreditasie?

Disselboom ·

Wat is die beheptheid met “akkreditasie”? Bes moontlik het ‘n universiteit wat al van 1845 af aan die gang is, ‘n reputasie dat sy studente wat afstudeer iets weet sonder dat een of ander staatsamptenaar ‘n stempel op die kwalifikasie hoef te sit.

DP ·

Akademia het die nodige akkreditasie, maar ons lewe in n land wat daar teen ons kinders gediskrimineer word. Daar sal ook moontlik teen hulle akademiese kwalifikasie ook gediskrimineer word as dit by Akademia verwerf is. Daarom sal dit goed wees vir Akademia en ons kinders om onder die vaandel van n erkende oorseese universiteit te dien totdat Akademia se studente hulleself bewys het.

Israel ·

sukses word nie gekweek nie , ek wens die kamstige afrikaner leiers wil dit tussen hulle ore inkry

Disselboom ·

Maar harde werk en opbou van geleenthede is ook nie ‘n sonde nie.

Israel ·

Disselboom daar stem ek met jou saam , maar aan wie word die geleenthede gegun ? aan die wat dit sal kan gebruik om hulself en die wereld te verbeter of aan die wie se ryk pappie’s dit kan bekostig maar dit eintlik nie verdien nie en in elk geval dit nie ten volle gaan benut nie

Disselboom ·

Aan die wat nie dink die wêreld skuld hulle iets nie, en nie op sosialistiese vernietigende wyse net wil eis nie. Natuurlik moet daar simpatie wees met diegene wat armer is, maar dit beteken nie alles en almal moet afgetrek word net omdat daar ‘n wêreldgees heers dat almal gelyk is nie. Daar moet ook vooruitstrewende instelings in ‘n land wees. Die vinger vir gebrek aan geleentheid moet nie na die instelling wat daargestel is, gewys word nie, maar na die gemeenskap vanwaar die student kom, wat hom in staat moet stel om – as sy talente so is – die potensiaal daar in die opwaartse spiraal te gaan ontgin.

Therese van Schalkwyk ·

Israel

‘n Verduideliking van wat bedoel word met “kamtige afrikaner leiers” sal help?

Studiegeleenthede word geskep vir mede-Afrikaners deur voortreflike Afrikaners wat die leiding neem. Verdienstelike persone word gehelp d.m.v. beurse.

Jou kommentaar is daarom duister?

Verder: Baylor Universiteit klink na die soort plek wat die Universiteit van Stellenbosch kón wees as dit uit die staanspoor, vanaf Jan S. Marais se skenking, streng privaat befonds was.
‘n Verlore geleentheid.

Dirk Breytenbach ·

Interessante debat! Eerstens is dit nie ‘n vereiste dat net ‘n universiteit wat met staatsgeld werk akkreditasie kry nie. Akademia is ten volle geakkrediteer. Waar ek in ‘n gewone Afrikaner huis grootgeword het, kon jy ‘n terugbetaalbare beurs kry indien jou prestasie voldoende was. Indien nie het jy nog ‘n kans gehad om kwalifikasies te verwerf deur buitemuurse studie waarvoor jy self moes betaal (geen beurse nie). As jy nie een van die twee kon doen nie aanvaar jy jou lot, brand nie af nie en vloek en skree nie op die wat het nie. Hierdie gees van toeiening is dwaas, dis niemand se plig om te sorg dat almal universiteit toe gaan nie, dis die student en sy ouers se plig. Die staat en privaatsektor skep die infrastruktuur en studente neem deel indien hulle kan betaal EN presteer. Almal is nie gelyk nie en almal kwalifiseer ook nie noodwendig om universiteit toe te gaan nie al het jou “pappie” genoeg geld. Mense word gebore met verskillende IKs, kultuur, aanleg en omgewing wat bepaal wat jy moontlik kan bereik. Die kwaliteit van jou matriek en universiteit resultate bepaal jou toekomstige geleenthede. Ongelukkiges behoort die regering van die dag aan te spreek vir die chaos waarin ons onderwys verval het. Op daardie vlak word massas reeds uitgesluit van vooruitgang.

Israel ·

Dirk , net sodat ons almal op dieselfde bladsy bly ,ek verwys na arm blanke kinders in blanke informele nedersettings wat die staat en sekere ander “blanke” organisasies n blinde oog op draai , want wie het die reg om hulle n toekoms te weier net omdat hulle ouers “opgeslip” het ?

Israel ·

want laat ek nou nie doekies omdraai hier nie , die “afriforum elite” is onder die vals indruk dat hulle vanuit hulle hoe muur omringde kastele in pretoria, die land gaan regeer deur n “privaat parallele regering” en dit is n “pipe dream”
hulle dink as hulle die “common platelandse arm blanke op die altaar gooi gaan die “voorouers” hulle met rus laat en hulle sal gelukkig voorleef in hulle spogbuurte en duur shopping malls ! tyd sal ons die waarheid wys maar enigiemand met n gesonde verstand sal jou se dat n volk wat toelaat dat van sy eie mense tot niet gaan net omdat hulle nie lekker inpas by die utopiese prentjie nie , baie gou deur God op hulle plek gesit word

Frits ·

‘Israel’, die mense van wie jy skinder gee daagliks 5000 Afrikaanse kinders landswyd kos, help 1500 verdienstelike studente met studiekoste, steun 500 Afrikaanse skole, het buurtwagte in sowat 80 plattelandse dorpe, verbeter munisipale dienste in 100+ kleiner dorpe, het ‘n Kollege begin en lei 1200 Afrikaanse vakmanne daar op, help sowat 40 Afrikaanse radiostasies, bevorder die onafhanklike Afrikaanse media, help talle arm kinders in Afrikaanse plakkerskampe met kos, skoolbenodighede, studiegeleenthede ens. As niksdoen, skimp en skinder ‘n siekte is, was die ‘volk Israel’ al deur die epidemie uitgewis.

Israel ·

Frits net vir jou informasie , ek is n lid van afriforum en ek is n baie ou lid en ek is n vegter vir afrikaner regte nog lank voor afriforum op die toneel verskyn het , ek weet ook van hulle buurtwagte my maat ek is toevallig leier van een buurtwag , dus het ek meer insig oor wat aangaan as wat jy dink , ek sou jou aanraai om weer baie mooi na die prentjie in die land te gaan kyk en te kyk na wat afriforum se leierskap se toekoms visie is , as jy in die platteland bly gaan jy nie veel daarvan hou nie dit kan ek jou waarborg

André Buys ·

Israel, nou praat jy loutere snert! Suur druiwe! Afriforum en Solidariteit doen baie goeie werk. Hou op wag vir andre om jou lewe beter te maak en raak betrokke! Om te sit en gal braak gaan jou niks help nie…

Eish ·

Ek dink ons moet baie fyn luister wat Israel hier sê, en nie net hom kruisig sonder om agter die kap van die byl te kom nie. Dis is reeds bekend dat daar meer as 600 000 arm blankes is en dat die syfers groei met 7500 per jaar. Dit is ook n feit dat dit ons geneigdheid is om ander pad te kyk vir ons eie mense se nood. Ek sê dit sonder om afbreek te doen aan aksies wat tans geloods word deur die Burgerregte groep. Wat Israel bepleit indien ek reg verstaan, is laaste hoop om met waardigheid te kan verarm. Dit pappie, is waar die tyre die teer slaan. Myns insiens, n soort van n blanke plakkerskamp wat kan dien as vangnet tot tyd en wyl n mens weer uitkoms het. Diegene wat deurgeloop het onder BEE, die gevolge van die vernietiging van die ekonomiese wanbestuur ensovoorts kan nêrens heen nie. Dit, is n probleem wat aangespreek moet word, afgesien van enige ander aksies. Oorlewing in die helhool het baie van ons gedwing tot selfsug ten einde ons uitkoms te verbeter. Dalk tyd vir vooraadopname.

Dirk Breytenbach ·

Hoekom die negatiewe manier van verwys na suksesvolle mense of leiers asook die wat gestruikel het? Wees trots op iemand wat iets bereik het of nog positief oor ‘n beter toekoms, sien dit eerder as ‘n baken van hoop wat navolgingswaardig is. Moet die sg. elite nou in plakkerskampe gaan bly om geloofwaardigheid te kry. Amal werk aan die uitdagings van die dag maar ‘n verbitterde uitkyk sal nie vir die wat hopeloos voel nuwe hoop gee nie. Ons gaan nie met waardigheid verarm nie, ons gaan binnekort weer opstaan en bou aan ‘n nasie om op trots te wees.

Eish ·

Ons is baie dankbaar dat Solidariteit in sy strewe na die beste, dan ook van die beste voorbeelde kan leer tot ons voordeel.
Ek is seker dat die uitnemendheid van die instelling, ons wat dieselfde waardes deel, grootliks sal baat.
Mag jul nalatenskap baie, baie lank staan en n baken van hoop wees vir ons, gewone mense.

Vat So! ·

Twee goed moet onmiddellik gebeur:

1. Die name van die Afrikaner-skelms op Stellenbosch moet bekend gemaak word.
2. Alle skenkersgeld, wat die Het Jan Marais Nationale Fonds insluit, moet met rente terugbetaal word. Gerugte doen die rondte dat dié geld nie vir die bevordering van Afrikaans aangewend is nie.

Spoed voort Akademia!

Johan Neuteman ·

Ek het ‘n paar vrae na aanleiding van wat mense sê, en wat Afriforum en die ouens doen: lyk of die korttermyndoen as goed en nodig beskou word, maar of daar vraagtekens oor die langtermyn-plan? En onsekerheid of dit ‘n Afrikaner-organisasie is of nie? Dalk eerder ‘n breë burgerregte-saak, maar dan wonder mens of dit volhoubare krag het as dit nie ‘n volksaak is wat met so bindende faktor gedryf word nie? Jammer vir die meer vrae as antwoorde. Dalk is daar mense wat die dinge kan duideliker maak.

Pro-Afrikaans ·

Wel vriend, nie een van die staatsbeheerde universiteite kan en gaan enige iets vir die Afrikaner of Afrikaanse taal doen nie. Raak meer positief en begeesterd!

Johan Neuteman ·

Die bouwerk vir die Afrikaner is goed. Dis ook goed om entoesiasties te wees, maar daar moet beredeneerdheid ook wees.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.