Akkerland se grondeise het talle interessante dimensies

akkerland_hofbevel

Die hofbevel wat uitgereik is. Foto: Twitter

Deur dr. Theuns Eloff

Die beslissing van die grondeisehof verlede week dat Akkerland-Boerdery weer die eienaar is van die twee plase waaruit die boerdery bestaan, het amper ongemerk verbygegaan. Die ministeriële onteieningskennisgewing van 29 Maart – ingevolge waarvan die eienaars sewe dae gehad het om die plase te ontruim en te verlaat – is met koste opsygesit. Blykbaar het die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming (die berugte Maite Nkoana-Mashabane) erken haar departement het ʼn fout gemaak deur die onteieningskennisgewing uit te reik.

Hierdie saak het ʼn hele aantal interessante dimensies. Die eerste is dat Akkerland-Boerdery reeds in 2014 in ʼn hofgeding met Coal Africa was oor toegang tot een van die plase vir steenkoolprospektering – waar hulle ʼn bevel teen hulle gekry het en gelas is om toegang vir prospektering aan Coal Africa te gee. Nou het ʼn hele aantal organisasies wat Akkerland-Boerdery ondersteun, gesê die ware rede vir die onteiening eintlik die verkryging van die steenkoolbronne op die plase is – vir die aangekondigde Chinese belegging naby Musina en Makhado (Louis Trichardt). Mediaberigte lui dat die Chinese regering aangebied het om in hierdie omgewing ʼn nywerheidstad te bou – maar dat hulle ʼn betroubare bron van elektrisiteit nodig het, vandaar die steenkoolgedrewe kragsentrale.

Die tweede dimensie is dat waar die eerste onteieningsbevel gemaak is nadat die plaaseienaars en die regering nie konsensus kon bereik oor die grondprys ingevolge ʼn grondeis nie, daar nou ʼn tweede grondeis (van ʼn ander stam) is. Die Kuvule-gemeenskap (wat hierdie tweede eis ingedien het) het interessant genoeg saam met Akkerland-Boerdery die onteieningsbevel teengestaan. Dit maak die saak nog meer ingewikkeld.

Die derde dimensie is dat Akkerland-Boerdery een van die plase op die “geheime lys” is van geteikende onteienings sonder vergoeding wat AfriForum vroeër vanjaar bekendgemaak het. Dit het die gebruiklike ontkenning van die regering se kant af gehad, maar AfriForum het by die integriteit van hul (vertroulike) bron gestaan.

Die hele saak sal nou van vooraf deur die grondeisekomitee ondersoek en die tweede grondeis aangehoor moet word.

Uit ʼn makro- en grondwetlike perspektief is daar vier kwessies wat kommerwekkend is.

Eerstens: Terwyl die proses om artikel 25 van die Grondwet te probeer verander om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, het die minister reeds in Mei aangekondig dat die regering ʼn aantal toetssake oor onteiening sonder vergoeding gaan doen. Dit word gedoen ingevolge die Wet op die Herstel van Grondregte (22 van 1994), soos gewysig. Hierdie is klaarblyklik die eerste van die toetssake. Maar dit is duidelik dat die regering nie hul huiswerk gedoen het nie en volgens hul eie getuienis, grondliggende foute gemaak het. Die vinger wys in die eerste plek na die bevoegdheid (of gebrek daaraan) van die amptenare in die departement. Dit strook ongelukkig met die bevindinge van die verslag van die hoëvlakpaneel, onder leiding van die voormalige president Kgalema Motlanthe – dat een van die hoofredes vir ʼn gebrek aan vordering met grondhervorming die gebrek aan kapasiteit onder departementele amptenare is.

Die probleem is, tweedens, dat die wet (en selfs die wetsontwerp) nie spesifiek vir onteiening sonder vergoeding voorsiening maak nie. As die minister dit as toetssaak wou gebruik, moes sy ingevolge die onteieningsbevel ʼn verklarende bevel van die hof gevra het, of ten minste Akker-Boerdery toegelaat het om die onteieningsbevel in die hof te betwis. Maar die sewe dae tyd vir ontruiming het nie daarvoor voorsiening gemaak nie.

ʼn Verdere probleem is dat die minister se aanvanklike rede wat gegee is hoekom die bevel uitgereik is – naamlik dat daar ʼn dooiepunt in ʼn grondeis bereik is (in hierdie geval hoofsaaklik oor die prys: R20 miljoen deur die staat aangebied en R200 miljoen deur die eienaars gevra), nie onmiddellik tot ʼn onteieningsbevel kan lei nie, omdat artikel 25(2)(b) spesifiek noem dat die vergoedingsbedrag by onteiening ten laaste deur ʼn hof beslis moet word. Die regering se skep van die pos van waardeerder-generaal (wat die waarde van vergoeding vir grondeise moet bepaal), maak nie hierdie artikel van die grondwet tot niet nie en neem dus nie die howe se oorsigrol in die onteieningsproses weg nie.

Hierdie geval laat dit duidelik blyk dat nóg die amptenare, nóg die minister hul vakgebied ken en/of hul voorbereiding gedoen het. Dit laat mens wonder wat hierdie minister in hierdie portefeulje doen. Dit laat mens ook ys oor wat die gevolge sal wees vir implementering, selfs al word daar tot ʼn politieke vergelyk gekom met die verandering van artikel 25 en ʼn versnelde grondhervormingsproses.

Maar vierdens is die grootste bekommernis wat uit hierdie gebeure voortspruit, die klaarblyklike minagting wat regeringsamptenare en politici vir die Grondwet en spesifiek die oppergesag van die reg het – veral waar dit oor grondhervorming en restitusie gaan. Die Grondwet maak duidelik voorsiening dat Suid-Afrikaners wie se grond sedert 1913 deur die apartheidswetgewing en regulasies van hulle afgeneem is, dit deur restitusie kan terugkry. Maar daar word ook voorsiening gemaak dat billike prosesse gevolg moet word en dat (ten minste vir die huidige) billike vergoeding betaal moet word aan die huidige eienaars van die grond – wat dit op wettige maniere bekom en daarvoor betaal het.

Dit blyk dat nie een van hierdie twee beginsels in die geval van die Akkerland-Boerdery gevolg is nie.  Die eisers sit sonder grond as gevolg van ʼn gebrekkige proses, en die regte van die eienaars is ook aangetas.

Suid-Afrika en sy mense verdien beter.

  • Dr. Theuns Eloff is uitvoerende direkteur van die FW de Klerk Stigting

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Gemaskerde Sopbeen

Shame Dr Eloff…..”Suid Afrika en sy mense verdien beter”? Suid Afrika en sy mense verdien presies wat hulle het…..self gemaak, ten spyte van talle waarskuwings en besware…..net voort geploeter sonder om te dink…..

Stropers

S A is besig om ‘n kolonie van Sjina te word – dit is duidelik. S A het geld by die Sjinese geleen en die terugbetaling daarvan is seker dat hulle ons land kaal kan stroop met ontginning en die regerings is ok daarmee. Dit was seker die onderhandeling gewees. Dit gaan hier nie oor grond vir die armes om te boer nie – geensins nie – dit gaan hier oor wat die lot mee kan wegloop en vir die boer met die skade laat sit. Die Sjinese betaal geen vat of tax nie – waarom nie? Kan Maroela dit… Lees meer »

geen vat of tax

Kan iemand vir my se waarom die duisende Chinese in ons land nie vat of tax betraal nie?
Is ek dalk verkeerd?

Geweeg en te lig bevind

Dis juis ons grootste fout, om te glo die regering is onbevoegd, terwyl hulle sirkels om ons hardloop. Indien nie, sou ons nou ‘n kommisie van ondersoek na staats kaping moes deurwerk wat vir jare onder ons neuse aan die gang was, met geweldige verliese vir SA?

Hulle stel dit dan so duidelik “Ons toets”. Wie en wat toets hulle? Ons leiers se kennis, vaardigheid, wil en bevoegdheid om hul te stuit. En die uitslag van die eerste toets? Vol punte vir Afriforum en Solidariteit, Nul vir al die ‘ja broers’ wat net kan praat.

Aasvoels

Hierdie grond was duidelik geoormerk vir die plunder daarvan deur of die S A regering of die Sjinese regering.