Aleppo – die jongste berugte, beleërde stad

aleppo-in-sirië

Aleppo in Sirië in Oktober 2012. Die omstandighede in die stad het nie juis verbeter in vier jaar nie. Foto: Soschristiansinsyria.wordpress.com

In die 1980’s was dit Beiroet (in Libanon). Daarna het ons in die 1990’s gehoor van Sarajevo (in Bosnië) en in die 2000’s – tot onlangs nog – Falluja (Irak). Die jongste stad wat hom voeg by hierdie berugte groepie is Aleppo in Sirië.

Beleërde stede

In Beiroet het almal teen mekaar baklei, Christen teen Moslem, Soenniete teen Sjiïete en les bes die Israeli’s teen die Palestyne. Ná jare se oorlog en chaos het die Israeli’s vir Jasser Arafat se Palestyne Bevrydingsbeweging (PBO) in Beiroet vasgekeer en die stad met lugaanvalle bestook, asook ’n Christen milisie gehelp om teen hul Moslem-opponente oorlog te maak. Ná hewige aanvalle wat die stad bykans verwoes het, is ’n internasionale vredesooreenkoms bereik en die PBO en Israel het later uit Beiroet onttrek. Die burgeroorlog sou egter 15 jaar lank (1975-1990) duur.

Sarajevo is bekend vir die langste beleg van ’n stad in moderne oorlogstyd. Bosniese Serwe, wat nie deel van ʼn Bosniese Moslemstaat wou wees nie, het Bosniese Moslem-troepe en burgerlikes vir byna vier jaar vasgekeer in die stad. Wie sal ooit die TV-beelde van skerpskutters in Sarajevo se strate vergeet? Ná heelwat oorlogsmisdade deur albei kante het Navo-lugaanvalle uiteindelik die stad ontset. Die oorlog het geduur van 1992 tot 1995.

Falluja, daardie bastion van radikale Soenniete Moslems, het berugtheid verwerf nadat Soennitiese milisies die stad oorgeneem het in 2004, net maande ná die Tweede Golfoorlog. Amerikaanse troepe het die stad met bomme bestook om die Soennies tot oorgawe te dwing. Volgens oorlewering was Operasie “Phantom Fury” die ergste gevegte waarin die Amerikaanse mariniers betrokke was sedert die Tweede Wêreldoorlog se ikoniese Iwo Jima-veldslag en die Huế-veldslag in Viëtnam.

Daarna het die Sjiïtiese Irakse regering in 2007 in Falluja oorlog gemaak teen meer radikale Soennitiese milisies en les bes, in 2014, het die Islamitiese Staat (IS), of Isis, beheer oorgeneem. Ná lang gevegte is Isis uiteindelik uitgeboender vroeër hierdie jaar.

Aleppo is die jongste stad op hierdie lysie. Ons hoor byna elke dag van die beleg van Aleppo deur Siriese troepe ondersteun deur Russiese lugaanvalle. Aan die ander kant van die geweerloop is ʼn klomp Siriese bewegings wat verskillende ideologieë aanhang – vanaf rebelle wat Westerse demokrasie ondersteun tot Isis-radikale. Hulle word militêr ondersteun deur die VSA, Frankryk, Turkye, Saoedi-Arabië en Katar. O ja, moenie vergeet van die Koerde wat ook nog ʼn stuk van Aleppo beheer nie. Dis nie eintlike duidelik teen wie of saam met wie hulle baklei nie. Een ding wat seker is, ʼn Koerd skram nie sommer weg van ’n bloedige geveg nie.

In Suid-Afrika word ons nuusdienste oor internasionale aangeleenthede meestal oorheers deur Westerse nuusmedia, wat ongelukkig maar bra eenogig is en ons sien dat hulle die beleg van Aleppo as eenvoudig voorhou: die “goeie ouens” is blykbaar vasgekeer in Aleppo. Hulle is demokrate wat veg vir vrye verkiesings in Sirië en die outoritêre regime van Bashar al-Assad omver wil werp. Die VSA onder pres. Barack Obama steun hulle. Snaakse bedmaats is egter die Saoedi’s, wat weer radikale Moslems in die rebelle soos Isis ondersteun, maar jou vyand se vyand is mos jou vriend?

Die “goeie ouens” word aangeval deur die “slegte ouens” – die nare Siriese regeringstroepe ondersteun deur nog slegter ouens, die Russe en dan ook die Irannese.

Eintlik eenvoudig, sou ʼn mens sê.

Maar dit is natuurlik nooit so eenvoudig nie. ’n Waar sêding, is dat daar drie kante aan die saak is, joune, myne en die waarheid.

Dis kompleks … en deurmekaar

Terug by Aleppo. Die oorlog het in 2011 begin toe Arabiese leiers gekonfronteer is deur die sogenaamde Arabiese Lente. Oproer het teen Bashar al-Assad, die diktator van Sirië, se bewind uitgebreek, maar Aleppo se mense het hom grootliks bly ondersteun.

In 2012 het die Vrye Siriese Weermag (eintlik drostergroepe uit die Siriese leër) Aleppo binnegeval. Hulle is amper onmiddellik deur ʼn verskeidenheid Moslem- ekstremiste groepe, voorgangers van Isis, ondersteun. ’n Groot groep Moslem djihadi’s, vegters met ekstreme wêreldbeskouings, wat vroeër in einste Falluja hul tande geslyp het, het nou in Aleppo teen die Siriese troepe geveg. Sommige woongebiede is deur die drosterrebelle en ander deur die Islamitiese ekstremiste oorgeneem.

Terselfdertyd het Christen milisies die Siriese troepe ondersteun. In ’n bisarre ommeswaai het Koerdiese milisies eers die rebelle en later die Siriese troepe ondersteun, veral nadat Turkye by die oorlog betrokke geraak het.

Gevegte het etlike maande voortgeduur. Die oostelike deel van Aleppo is deur die rebelle oorgeneem en later het die regeringstroepe die ooste weer afgesny en vergeefs probeer binneval. Iewers tussenin het die Amerikaners, Franse en hul Arabiese en Turkse bondgenote militêr betrokke geraak deur lugaanvalle, verskaffing van wapentuig aan die rebelle, ensovoorts. Isis het nou ook verskeie areas in Aleppo ingeneem.

Hierna (in 2015) het Rusland betrokke geraak deur middel van Russiese bomwerpers en Iran deur middel van troepe en Sjiïtiese militêre eenhede uit Libanon (radikale Hezbollah-vegters). Die skaal het nou weer begin swaai in die rigting van die regeringsmagte.

As jy as leser verward is, is jy nie alleen nie. Kortliks opgesom: Aan die een kant veg die Siriese rebelle / drosters / Isis / die VSA / Frankryk / Saoedi’s en die Turke. Teen die Siriese regeringsmagte / Irannese / Christene / Koerde / Hezbollah en die Russe!

Elkeen het natuurlik sy eie strategiese redes om deel te neem aan die oorlog, hetsy om die Siriese regime omver te werp, die Siriese regering te beskerm, die Sjiïtiese Siriese regering te hulp te snel, die Sjiïtiese Siriese regering omver te werp, ’n Islamitiese kalifaat uit te roep, Soenniete Moslems te beskerm, godsdiensstrewes of onafhanklikheidstrewes.

Sien, ek mos gesê dis nie so eenvoudig nie.

Tans lyk dit of die regeringstroepe met die hulp van Russiese vegvliegtuie die rebelle begin uitdryf. Dit is onder andere weens Obama se weifeling om hardhandig in te gryp tydens die Amerikaanse verkiesing en nou, ná Donald Trump se verkiesing, om solank moontlik die status quo te behou totdat Trump moet besluit wat die VSA se strategie is.

Die Russe vs. die Amerikaners

Weens die moontlike eskalasie tussen die VSA en Rusland in Sirië, in veral Aleppo, het ons tydens die VSA se verkiesing baie keer gehoor dat ʼn oorlog dreig tussen die VSA en Rusland. Baie waarnemers het aangedui dat Hillary Clinton as president ’n meer aggressiewe veldtog in Sirië sou voer en dit tot openlike konflik met die Russe sou lei.

Die verkiesing van Trump kan dalk so ’n konfrontasie verhoed. Maar dis moeilik om te voorspel wat Trump se beleid in Sirië gaan wees. Hy was beslis gekant teen groter Amerikaanse deelname aan die Siriese oorlog, maar kan dalk gedwing word om voort te gaan met die VSA se militêre rol aangesien onttrekking deur die VSA as ʼn strategiese oorwinning vir die Russe beskou kan word. Nietemin lyk dit in hierdie stadium of Trump en Poetin nog op goeie voet is.

Daar is maar baie asse en ons sal eers moet sien wat die nuwe jaar en nuwe administrasie van Trump bring. Dan is daar natuurlik ook nog die Amerikaanse “bondgenote” soos die Saoedi’s en die Turke wat nou nie juis Trump vreeslik opgewonde maak nie.

Nietemin blyk dit of Aleppo dalk eersdaags weer byna volkome in Siriese troepe se hande gaan wees. Dit gaan uiteraard gepaard met haglike omstandighede, dood van burgerlikes, ontwrigting van buitelandse hulpverlening en ellende soos net tydens ’n oorlog kan gebeur. Hierdie aspek van die oorlog sien ons daagliks op ons TV-skerms. Dan praat ons nie eers van die honderdduisende Siriërs wat Europa as vlugtelinge letterlik binneval nie.

Hoewel dit nie altyd duidelik is hoeveel nie, is daar beslis ʼn groot deel van die beleërde bevolking in Aleppo wat die vertrek van Isis en die rebelle sal vier. Daar is klaarblyklik steeds heelwat steun vir Assad in die stad.

Die rebelle en Islamitiese ekstremiste is egter geensins verslaan nie. Hulle sal hergroepeer en sekerlik op ander fronte aanval. Ons het dus nog glad nie die einde van die Siriese burgeroorlog gesien nie – die Siriese burgeroorlog wat nou in ’n ernstige streekskonflik ontaard het.

Dalk het Trump die sleutel om die kruitvat te ontlont, maar moet nie jou asem ophou nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Frans ·

Uitstekend gestel. Dit bly ‘n verwarrende spul. Waar gaan dit eindig?

Ludwig ·

Is ‘n stad wat onder beleg is, dan nie ‘n beleërde stad nie? Nog nooit die voltooide verlede van “beleg” as “belegde” gehoor nie!

Landi Slatter ·

Dagsê Ludwig

Baie dankie vir jou terugvoer. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

hanno visagie ·

‘n Bybelse Christus-perspektief ontbreek. Lees ook prof Johan Malan se Bybelgegronde artikels op die werwerf Bible Guidance onder Eskatologie : Profesiee oor die Eindtyd

brenda ·

Dele vd land wat net so lyk….kyk maar na Hillbrow en JOZI…..

Michelle ·

Nee o aarde – wat ‘n ingewikkelde spul.
Ek het hierdie berig nou al 2 keer aandagdig gelees en sowaar ek bly nogsteeds deurmekaar.
Not for me.

Therese van Schalkwyk ·

Uitmergelende verhaal van wanhoop en vaal, voosgebomde puinhoop stede.

‘n Ongenaakbare godsdiens, verskeie veglustige groepe ‘godsdienstige’ fanatici, tesame met ‘n inmengerige en taamlik onbeholpe VSA en sy oorywerige bondgenote is ‘n resep vir rampspoed.

Die warboel is onderstreep toe Putin by die onlangse G20 beraad vir Turnbull, die Australiese Premier sê: “I’m fighting for the legitimate Government of Syria. Who are you fighting for”?
Goeie vraag!

Mag aangewese President Trump sommer vroeg volgende jaar aankondig of “tweet” dat die VSA voortaan ‘n buitelandse beleid van nie-inmenging t.o.v. die Midde-Ooste gaan volg. Beter vir almal so.

DewaldS ·

Die hele situasie in Sirië maak baie meer sin as dit teen die agtergrond van die twee olie- en gaspyplyne wat in verskillende stadiums oorweeg is, verduidelik word. President Assad het die een gekies wat Iran, Irak en Sirië sal bevoordeel, terwyl die een wat Turkeye, Saudi-Arabië en Kwatar sou bevoordeel (en deur die VSA ondersteun word) nie gebou is nie. Dit verklaar die ondersteuning van ISIS deur laasgenoemde rolspelers nadat hulle eerste plan van ‘gematigde rebelle’ nie gewerk het nie. Maar hulle was dom genoeg om die idee van die ISIS-bedreiging aan die wêreld te verkoop (wat die VSA en hulle Westerse bondgennote ‘n rede sou gee om bomwepers in te stuur en Siriese infrastruktuur onder die voorwendsel van ISIS-bombardement te vernietig) en Rusland was slim genoeg om ISIS teen hulle te gebruik.

John ·

Dis ongelooflik hoeveel skade aangerig is. Al sou die inwoners weer uit Europa wou terugkeer is daar feitlik net murasies oor. Die Weste gaan hierdie vernietiging nog berou wanneer die Moslems uit die’ deel hul kulturele en godsdientige eise begin stel. Europa gaan homself oor ‘n klompie jare nie herken nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.