Algerië en Suid-Afrika: Watter taal om te kies vir ʼn diverse land?

algerië

Algerië stoei ook met ‘n taalkwessie 30 jaar na sy bevryding. Foto: Jorisamonen/Pixabay.com

Algerië sukkel net soos Suid-Afrika met ʼn stryd oor watter taal die dominante een moet wees in ʼn diverse, post-koloniale land. Ideologie, die praktiese en die emosionele speel alles ʼn rol daarby.

Algerië was ʼn Franse kolonie vir sowat 130 jaar, tot en met onafhanklikheid in 1962 ná ʼn bloedige anti-Franse stryd deur ʼn sosialistiese bevrydingsbeweging (die FLN of te wel die Nasionale Bevrydingsfront). Ná die magsoorname deur die FNL het Arabies die amptelike taal geword om te wys dat met die koloniale verlede gebreek word en die inheemse taal nou eerste kom. Dit was ook ʼn reaksie op die Franse se onderdrukking van en neerkyk op Arabies en die poging om Algerië ten volle te verfrans.

Die probleem daarmee was en is egter dat Arabies nie werklik ʼn inheemse taal is nie. Arabies kom oorspronklik uit die gebied van die huidige Saoedi-Arabië en is die taal van die veroweraar, wat die inheemse volke van die hele Midde-Ooste en Noord-Afrika onderwerp het. Die verheffing van Arabies tot amptelike taal is meer gedryf deur wraak op Frans as die taal van die verdrukker, as wat dit ʼn weloorwoë, praktiese besluit was. Na die uitdrywing van Franse amptenare uit die staatsdiens moes hulle plekke gevul word met Arabiessprekende persone. Omdat Algerië nie genoeg eie opgeleide mense vir die poste gehad het nie, is persone uit die Arabiessprekende buurlande dikwels aangestel, wat weer tot nydigheid onder Algeryne gelei het.

Om dinge verder te kompliseer praat slegs ʼn minderheid in Algerië werklik standaard-Arabies en is daar ten minste ses dialekte van Arabies wat in die land gepraat word. Standaard-Arabies word veral as geskrewe taal en as die taal van die moskees gebruik. Berber, die taal van die oorspronklike, inheemse Berbervolk, word deur sowat ʼn kwart van die bevolking gepraat en is verlede jaar ná ʼn lang tyd van onderdrukking as een van Algerië se nasionale tale deur die staat erken. Die meerderheid Algeryne praat egter Darija, ʼn mengeltaal uit Arabies, Frans en Berber.

Die Algerynse minister van opvoeding wil selfs hê dat ook Darija as nasionale taal erken word, aangesien dit die mees algemene taal is. Die elite van Algerië praat egter nog steeds Frans, wat as gekultiveerd en as skakel met die buitewêreld gesien word. Hulle wys ook tereg daarop dat ʼn mooi en ten volle ontwikkelde taal soos Frans nie gestraf behoort te word vir die sondes van Franse amptenare en setlaars nie. Daar is selfs ʼn klein groep wat Engels as “die wêreldtaal” sterker wil bevorder.

Opvoedkundiges is bekommerd oor die regte taalkeuse vir opvoeding. Hulle is ook besorg dat kinders geen taal meer behoorlik kan praat nie, maar ʼn mengelmoes van tale.

Daar is heelwat parallelle met Suid-Afrika. Ná die aanbreek van die demokratiese bedeling was (en is) die amptelike taal van die voormalige regeerders, Afrikaans, in die spervuur. Vreemd genoeg het dit nie vir die ander amptelike taal, eweneens van die “onderdrukkers”, naamlik Engels, gegeld nie.

Omdat daar egter nie konsensus oor ʼn plaasvervanger was nie, is alle tale tot amptelike tale verhef, hoewel Engels de facto die amptelike taal geword het. Dit het so ver gegaan dat met regstellende aksie plek-plek Engelssprekende swart buitelanders in Suid-Afrika se staatsdiens aangestel is om die leemtes van wit amptenare te vul. Net soos met Arabies in Algerië word egter selde standaard-Engels in Suid-Afrika gepraat. Daar is seker ook ten minste vyf of ses weergawes van Engels: die standaard-Engels (wat deur wit Engelssprekendes gepraat word), die Engels wat Indiërs praat, en dan die Engels wat die swart mense, bruin mense en Afrikaners onderskeidelik praat, elkeen met sy eie woordskeppings, sintaksis en leenwoorde uit ander tale.

Voeg daarby Afrikaans met sy standaardvorm asook sy slengweergawe onder veral jong stedelike Afrikaners asook bruin mense onderskeidelik, met talle Engelse woorde ingemeng. Gee nog 20 of 30 jaar en dalk ontstaan daar iets soos Darija in Algerië ook in Suid-Afrika, ʼn nie-gestandaardiseerde mengelmoes-spreektaal.

Terwyl in Algerië, ná ʼn tydperk van anti-Franse reaksie, deur middel van Arabies nou meer onlangs ʼn stryd vir die erkenning van inheemse tale soos Berber aan die gang is, is die waardering van swart mense vir hulle eie inheemse tale en aandrang op hulle uitbou nog baie gering. Dit kan wel ook in die toekoms verander. Algerië is Suid-Afrika al 30 jaar voor met sy bevryding en alles wat daarop gevolg het, maar die taalkwessie is nog lank nie beslis nie.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

JC ·

Baie dankie!
Maar Algerie, bevryding, ja. Suid-Afrika, geen “bevryding” as sulks en “oorwinning” nie, maar ‘n “onderhandelde skikking” waaroor niemand tevrede is nie. Daar is parallelle, maar die twee lande se situasie is nie werklik vergelykbaar nie, aangesien almal in ons land nou al (blankes, swartes, bruines en asiate (persone van Indiese afkoms en andere) nou al gereken kan word as inheems, selfs die Britse setlaars van 1820(byna 200 jaar terug), waarvan sommiges ook opgeneem is in Afrikaner geledere.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.