All Blacks, Bokke is simptome van hul lande

Springbokke-vs-AllBlacks-4Okt-Ellispark-vooraf-en-opwarming-AllBlacks-Haka-009-GB-Jordaan

Foto: GB Jordaan

Terwyl ek die Springbokke se grootste nederlaag tot nog toe teen die All Blacks Saterdagaand gesit en aanskou het, het een grondwaarheid my tussen die oë getref: Wenlande lewer wenspanne op.

Dink bietjie aan die groot oes medaljes wat Groot-Brittanje en die VSA by die onlangse Olimpiese Spele opgeraap het. Dink aan Duitsland wat die laaste Sokker-wêreldbekertoernooi gewen het. Draai dit om en dink aan wanneer laas (indien ooit) Zimbabwe, Suid-Soedan of Venezuela iets op sportgebied verower het of selfs net skaflik presteer het.

Die Springbokke se lyftaal en gemoed na afloop van die wedstryd was tekenend van hoe miljoene Suid-Afrikaners elke dag voel: verslaan, verneder, verslae, verfomfaai, verpot en verraai. Maar om hierdie treurmare in perspektief te stel, kom ons kyk na die huidige en historiese stand en ontwikkeling van onderskeidelik Nieu-Seeland en Suid-Afrika.

Nieu-Seeland vernuwe homself

Slegs 40 jaar gelede was Nieu-Seeland die siek man van die Westerse wêreld. Die gesaghebbende Economic Freedom of the World- (EFW-) indeks (wat eienskappe soos die beskerming van eiendomsregte en die gemak van sake doen meet) het dit in 1975 ’n telling van 5,60 gegee. In vandag se terme is dit dieselfde as waar die outokratiese Ethiopië vandag is en selfs slegter as die hedendaagse Oekraïne en Pakistan.

In 1982 het die Wêreldbank beraam dat Nieu-Seeland die laagste per capita-inkomste in die ontwikkelde wêreld gehad het. In 1984 was die land se per capita-inkomste gelykstaande aan dié van Portugal en Turkye. Die werkloosheidskoers was bykans 12%, hulle het 23 jaar van agtereenvolgende begrotingstekorte beleef en hul kredietgraderings is pal afgegradeer. Regeringsbesteding was 44% van die bruto binnelandse produk en staatsbeheer het die totale ekonomie gesmoor. Daar was prysbeheer op alle goedere en dienste en perke op salarisse. Onmededingende staatsbeheerde ondernemings is deur middel van yslike subsidies aan die lewe gehou.

Klink dit als net so effe bekend?

Toe begin die groot markgeoriënteerde hervormings plaasvind en daar was ’n totale ommekeer in die ekonomie en samelewing. Volgens Maurice McTigue, ’n Nieu-Seelandse LP wat ook in verskeie ministeriële hoedanighede gedien het, het hulle die departement van vervoer se werkerskorps van 5 600 na 53 verlaag en die departement van bosbou van 17 000 na 17. Hy korswel dat hy later die enigste werknemer van die departement van openbare werke was nadat hulle aanvanklik ’n geswolle burokrasie van 28 000 gehad het. Onder meer is die staatsbeheerde telekommunikasie- en lugvaartbedrywe sowel as spoorweë, banke en busdienste aan private beleggers verkoop.

Die aanvraag vir dié werk het nie afgeneem bloot omdat die werkers nie meer vir die staat gewerk het nie – inteendeel. Volgens hom het hy die bosbouwerkers etlike maande later gaan besoek en hulle was uiters ingenome omdat hulle toe sowat drie keer soveel verdien het ná die privatisering van hul bedryf en ook 60% meer kon doen omdat private innovering en tegnologie hulle meer doeltreffend gemaak het. “In the main, when we sold those things off, their productivity went up and the cost of their services went down, translating into major gains for the economy,” aldus McTigue.

Kapitaalwinsbelasting en eiendomsbelasting is opgehef en inkomstebelasting vir alle inkomstegroepe is aansienlik afgebring. Die ekonomie is in wese verander van ’n selfbehepte, bang en proteksionistiese een na ’n oop, selfversekerde en geliberaliseerde een wat onweerstaanbaar is vir buitelandse beleggers en belowende immigrante. Auckland het byvoorbeeld tans die warmste stedelike eiendomsmark ter wêreld soos wat beleggers (veral uit China) groot groei daar soek en dit ’n trekpleister vir innoverende immigrante vanuit ander lande geword het.

Teen 2007 was die werkloosheidskoers ’n rekordlae 3,4% en is nou slegs 5,6% ten spyte van die wêreldwye ekonomiese malaise waarin die wêreld hom bevind.

Nieu-Seeland bevind hom tans in uitgelese geselskap op feitlik elke gesaghebbende indeks. Dit is derde beste in 2016 op die Heritage Foundation se indeks oor ekonomiese vryheid en pal in die top-5 in die Menslike Ontwikkelingsindeks. In 2015 het die Wêreldbank beslis dat Kiwi-land die maklikste plek op aarde is om ’n besigheid te begin en die ekonomie groei die vinnigste van enige van die ontwikkelde lande (teen sowat 3% per jaar).

Suid-Afrika neig suid

In teenstelling hiermee is dit in soveel opsigte (al weer) 5 voor 12 in Suid-Afrika. Ons kampusse, strate en townships brand en ons regering se leiding is feitlik heeltemal afwesig. Jammer om dit so rondborstig te erken, maar myns insiens is ons weer terug waar ons in die weerspannige 1980’s was.

In 1975 was Suid-Afrika die 17de grootste ekonomie ter wêreld en ten spyte van die groeiende boikotte en embargo’s wou die ryk lande steeds met ons sake doen. Die rand het in 1978 teen R0,6 jeens die dollar verhandel. Selfs met Suid-Afrika se apartheid-ekonomie op sy broosste in die 1980’s was die wisselkoers R2,2 per dollar en die reëele BBP-groei was 6,6% in 1980.

In die eerste dekade nadat Suid-Afrika demokraties geword het, het die ekonomie goed gevaar en veral tussen 2000 en 2007 stewige groei getoon en die gepaargaande aanwysers – soos die eiendomsmark – het ook ’n hoogkonjunktuur beleef. Dit was ’n soort wittebrood. Toe gebeur die wêreldwye resessie in 2008 en die golf trek terug net om te wys dat Suid-Afrika kaal geswem het. En saam met hierdie ekonomiese inkrimping en gepaargaande werksverliese het die ANC meer populisties en wantrouig geraak teenoor almal wat die land uit sy insinking kan help: die private sektor, buitelandse beleggers en veral die wittes.

Die antwoord was nie, à la Nieu-Seeland, om die ekonomie oper en meer ontvanklik vir besigheid te maak nie maar om dit juis meer rasbehep, ondoeltreffend en xenofobies te maak. Korrupsie en ondeursigtigheid is maar net sommige van die neweprodukte hiervan. Die resultate is daar vir almal om te sien: ’n Swak presterende ekonomie met groot werksverliese, sosio-politieke onrus, rassespanning (aangeblaas deur die regerende party!) en ’n algehele mismoedigheid onder die bevolking om maar net enkeles te noem.

Die rand staan vandag op enigiets tussen R14 en R17 teenoor die dollar. In 1980 was die Suid-Afrikaanse ekonomie 32ste op die Economic Freedom of the World-indeks; vandag is ons in die 105de posisie terwyl ons nog 71ste in 2005 was. Volgens die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) gaan ons ekonomie teen slegs 0,9% vanjaar groei, maar dit kan steeds heelwat laer teen die einde van die jaar wees. Hul raming in April was 1,7%. Ons werkloosheidskoers is pal iewers rondom 26%.

Anders as in Nieu-Seeland, klou die Zumakrasie verbete vas aan die staatsbeheerde ondernemings om hulle nog verder leeg te suig en kornuite daar aan te stel om sodoende beheer van die bevelhoogtes te behou terwyl belastinggeld kwistig verspil word. En terwyl Nieu-Seeland oor ’n volwasse geletterdheidskoers van 99% beskik en meer as die helfte van die bevolking tussen 15 en 29 oor ’n tersiêre kwalifikasie beskik, is 80% van ons staatskole wanfunksioneel.

Strafskoppe en gratis drieë

Nes drieë en groot seges basies die produkte van goeie spel en spanbestuur is, is goeie sportprestasies en ander voordele die produkte van goeie landsbestuur en ’n groeiende, oop ekonomie. Met die regte beleide is enigiets moontlik. Nes die ANC, Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) en Allister Coetzee nie enige buitehulp – in terme van spelers asook afrigting – wil aanvaar om Springbokrugby reg te ruk nie, word buitelandse beleggers en ander vennote ook verwerp sodat meriete vir ras as maatstaf plek kan maak.

Die All Blacks en Springbokke is op soveel vlakke ’n metafoor vir die onderskeie lande se paaie. Die een is oop vir nuwe idees, hou aan innoveer en werk ontsaglik hard om die beste te wees en te bly, asook hul beste spelers te behou. Die Kiwi’s sal nooit durf waag om spelers of afrigters op grond van ras vir enige rede te kies nie en hulle loop oor van selfvertroue.

Die Bokke het verstok geraak met ou idees en personeel-tekortkominge terwyl ras belangriker as wen geword het. Hulle speel net om nie te verloor nie en dis nooit genoeg nie. Dan kan jy strafskoppe teen jou verwag (soos kredietafgraderings, dalende sakevertroue en verminderde buitelandse belegging) terwyl die ander lande jou foute gaan uitbuit en drieë druk as jy die bal laat val. Suid-Afrika, sowel as die Springbokke, sal op feitlik elke vlak hulself moet vernuwe en verbeter. Dit kan gedoen word.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers, Rugby

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

16 Kommentare

Henry ·

Skitterende en gefundeerde werkstuk Dr Brink!
G’n wonder dat Solidariteit soveel sukses behaal nie.

CF ·

Hulle het nie kwotas wat in hul keelgatte afgedruk word nie. Enige mens sal belangstelling in sy “werk” verloor met die verdomde kwotasstelsel.

CF ·

Dis omdat hulle nie kwotas het wat in hulle keelgatte afgedruk word nie.

zahn ·

Nou verstaan ek die vele rugby reëls ook beter. Wil die dr nie meer gereeld skryf nie, asb?

Mauritz ·

Uitstekende artikel. Kan dit nie in Engels vertaal word sodat ons dit met ons oorsese vriende kan deel nie?

Marius J L Knipe ·

BRILJANT & uiters goed gefundeer!!
Maroela Media, Stuur ASB hierdie skrywe aan Mnre Coetsee [Afrigter] & Roux van SARU en elke bestuurslid van SARU & ALMAL wat belang het by Rugby in RSA!
Doe so voort!!

Niek Zwart ·

Is dit enigsinds moontlik dat ons n persoon in hierdie land het wat daarin kan slaag om hierdie feitelike boodskap aan die owerhede oor te dra? Wolraad woltemade?

Pieter ·

My kinders woon nou in NZ. Het net lof vir die deursigtige manier waarmee belastingbetalers se geld daar aangewend word. Hierdie is ‘n uitstekende werkstuk wat op feite gebaseer is.
Sou graag dit aan my kinders wou oordra.

Rynhardt ·

Brink, ek het reeds op 30Mei 2016 vir Maroela media op rekord gese dat die All Blacks albei hul wedstryde gaan wen teen die bokke, en dat die Wallabies een van hul wedstryde gaan wen teen die bokke.Ek was ak my opponente ver voor! All blacks glo nie in transformasie en polities korrekheid nie!

Lance ·

Hierdie is die artikel van die jaar en ek wens dit kan vertaal word en beskikbaar wees vir ander mense om te lees …BAIE goeie samevatting en 100 % raakgevat vir wat in SA gebeur !

Johann Marx ·

Dit kan nie anders nie. Die land word regeer deur ‘n “struggle organisation” ….Jy struggle om gebore te word, struggle om te oorleef, struggle om in ‘n skool te kom, struggle om met 30% te slaag, struggle om jou bestuurslisensie te kry, struggle om ‘n ID te bekom, struggle om te studeer, struggle om jou graad te kry, struggle om ‘n werk te kry, struggle om bevorder te word, struggle om goeie diens te lewer, struggle om nie te steel en te verneuk nie…….en 9 uit 10 keer verloor jy die struggle. Wat anders het ons verwag?

Frans C ·

My vraag die week.
Is daar enige sg bevrydingsorganisasies wêreldwyd wat suksesvolle regerings geword het?

Mornez ·

Puik artikel. Ek bly in NZ al vir 10 jaar. Geniet dit baie hier. Haat dit nogsteeds as die bokke teen die ABs verloor. My bloed bly groen en mis SA baie, my kinders sal ergter geen idee he nie. Netso het ons geen idee gehad wat ons voorvaders deurgegaan het toe hulle SA toe getrek het nie. Die antwoord is egter om rus in die Here te vind. In Sy hande maak dit nie regtig saak waar ons woon nie en sal ons ‘n toekoms he. Ook nie watse span ons ondersteun nie, nog minder hoe die ekonomie lyk nie. Ons gebede is met almal in SA – elke dag!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.