All Blacks het beker dalk reeds verloor

Die Wêreldbeker vorder fluks en ek wonder of die All Blacks nie die Wêreldbeker verlede Saterdag met hul skitterende oorwinning teen die Franse verloor het nie.

Paradoksaal sal sommiges seker sê maar kom ons kyk ʼn bietjie na die permutasies. (Ek weet die laaste rondte van die uitspeelwedstryde moet nog plaasvind en enigiets is moontlik)

Soos sake nou staan moet Frankryk teen Engeland speel en die All Blacks teen Argentinië. Frankryk en die All Blacks dring deur.

Suid-Afrika speel teen Australië en Ierland teen Wallis. Wallis het ook ʼn nuwe benadering en kan dalk breed in die Iere se pad staan om ook vir die volgende ronde te kwalifiseer.

Suid Afrika en Ierland/Wallis dring deur. Nou is dit die Bokke teen die All Blacks en die Franse teen die Iere.

Die finaal tussen die Bokke en Frankryk is dus nie so vergesog nie. Gestel die Bokke verloor, dan is dit die Franse en die All Blacks in ʼn eindstryd – dit sal die tone laat omkrul van lekkerte. Kan jy jou nou indink watter druk op die All Blacks sal wees. Die Franse is die span wat hulle nagmerries laat kry juis vanweë die rugby-geskiedenis tussen die twee lande.

Ek dink die Franse het takties korrek gespeel om makliker in die finaal te kom. Dis maar my beskeie mening en die tyd sal leer of my bespiegelinge sal waar word.

Die Curriebeker begin ook nou einde se kant toe staan en die dinge begin ook nou interessant raak. Die Bulle het aanvanklik swak begin, maar het nou weer op die spoor gekom. As die Bulle kwalifiseer vir die uitspeelwedstryde kan nie een ander span gerus slaap nie. (Veral nie die Sharks nie, want hulle spelpeil het verseker die kreeftegang gegaan.)

Die Bulle weet wat van hulle verwag word onder sulke omstandighede. Al is dit ʼn jong span, loop die tradisie van baie bekers en baie titels soos ʼn goue draad deur die gange van Loftus en dit het die neiging om af te gee, selfs op jongelinge.

Ten spyte van al die “groot” rugby moet ʼn mens nie die ander Suid-Afrikaanse kompetisies vergeet of ignoreer nie. Gelukwense aan die Pukke met die wen van die klubkampioenskapstoernooi. In die proses moes hulle met die Maties en UJ afreken om die kampioen te kon word.

Rugbygroete.

Bloubul

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.