Almal hou asem op vir die groot Zuma-val

Pres. Jacob Zuma. Foto: Flickr/Governmentza/GCIS

Pres. Jacob Zuma. Foto: Flickr/Governmentza/GCIS

Die prima facie-getuienis dat pres. Jacob Zuma ’n korrupte politikus is, dat hy toegelaat het dat die familie Gupta die Suid-Afrikaanse staat vir alle praktiese doeleindes kaap, word al dringender. Wat hiermee saamhang, is hoe dié getuienis die magsverhoudinge in die leiding van die ANC beïnvloed.

Enige poging om ’n antwoord hierop te verskaf, moet onderhewig wees aan die voorbehoud dat enige bewering oor Zuma se skuld – positief of negatief – in ’n ope hof bewys moet word. En dat die reg vereis dat hy, tot sy skuld bo alle redelike twyfel bewys word, geag word onskuldig te wees.

Dis waar dat bewerings oor korrupsie deur Zuma nie nuut is nie, en dat hy nog nooit in ’n hof skuldig daaraan bevind is nie. Maar die bewerings is al tydens die wapenskandaal gemaak, en toe het regter Hillary Squires in sy uitspraak teen die sakeman Schabir Shaik wel deeglik ’n bevinding gemaak.

In punt 1 van sy uitspraak het die regter op 31 Mei 2005 só bevind:

“Since all the accused companies were used at one time or another to pay sums of money to Jacob Zuma in contravention of section 1(1)(a)(I) or (ii) of the Corruption Act and accused No 1 directed them to that end or made payments himself, all the accused are found GUILTY on the main charge on count 1.”

Natuurlik was dit Shaik en sy maatskappye wat in die beskuldigdebank gestaan het. Aangesien Zuma nie self daar gestaan het nie, kon Squires hom ook nie formeel skuldig bevind nie.

Maar sy bevinding was wel dat altesame R1 340 078 tussen Oktober 1995 en 30 September 2002 in 238 verskillende bedrae deur Shaik en/of sy maatskappye aan Zuma betaal is. As dít die geval is, gebied die logika die gevolgtrekking dat Zuma dié bedrae van Shaik ontváng het. En die regter het dié betalings vierkant in die konteks van Zuma se beweerde invloed op die destyds so omstrede wapentransaksie geplaas.

ʼn Redelike mens kan dus stel dat Zuma in Squires se bevinding in die Shaik-saak in ʼn korrupte daglig afgeskilder word.

Dié bevinding het destyds ʼn yslike gefladder in die hoenderhok veroorsaak. Die aandrang dat Zuma formeel aangekla moet word, het gegroei. Dit het grootliks bygedra tot die feit dat pres. Thabo Mbeki Zuma as adjunkpresident afgedank het.

Maar Mbeki het indertyd sy eie mag oorskat. Hy het vergeet hoe leiers hul posisies behou, naamlik om voortdurend kontak te behou met sleutelfigure in die partytakke en -strukture, mense na aan voetsoolvlak. Inteendeel, hy het hom ná sy verkiesing as staatshoof in 1999 toenemend in ʼn geïsoleerde ivoortoring teruggetrek en hom met ʼn groep ja-broers omring wat hom vertel het wat hulle vermoed het hy wóú hoor, nie wat hy móés hoor nie.

Dit was van dié gaping dat die afgedankte Zuma handig gebruik gemaak het deur Mbeki einde 2007 as partyleier – en ʼn paar maande later ook as president – van sy troon te stoot.

Hiermee was die dreigende korrupsieklagte wat bo Zuma se kop gehang het, formeel nog nie weg nie. Maar Zuma is ʼn meesterlike, sy dit gewetenlose taktikus. Hy het blitsvinnig beweeg om beheer oor die kantoor van die Openbare Vervolger deur sy eie aanstellings te verkry, en toe Suid-Afrikaners hul oë uitvee, is ʼn gaping gevind om die ondersoek na die nuwe president se beweerde korrupsie te staak.

Volgens sommige berigte is daar êrens ʼn lêer met verdoemende getuienis oor Zuma se beweerde korrupsie. Presies wat daarin staan, is nie bekend nie, maar as dit waar is, moet verwag word dat Zuma ʼn yslike geveg gaan voer om aan sy amp vas te klou. Solank hy president is, kan hy tot op sekere hoogte gunste en gawes uitdeel en enige poging om hom te vervolg te bemoeilik.

Trouens, sedert sy bewindsaanvaarding het Zuma en sy kornuite ʼn aanslag soos min op alle sleutelelemente van die staatsmasjinerie gevoer. Die weermag, die polisie, die vervolgingsgesag, die SAUK, dele van die media (Times Media se koerante, New Age, die televisiesender ANN7), is almal onder sy of sy bondgenote se beheer. Daar is selfs bewerings dat hy deur regter John Hlophe die regterlike gesag probeer kaap het, al kon hy nie daarin slaag nie.

Dit is teen dié agtergrond dat die bewerings oor pogings van die Gupta-familie om die Suid-Afrikaanse staat te kaap ekstra brisant is. Steeds meer geloofwaardig klinkende bewerings kom na buite dat die Guptas hooggeplaaste ANC-politici “ontbied” en kabinetsposte aanbied in ruil vir politieke gunste.

Wat in dié verband veral belangrik is, is dat die ANC-beginsel van omerta (die Italiaanse woord wat gebruik word om Mafia-lede se stilswye aan te dui) eindelik deurbreek word. Prominente lede soos Fytjie Mentor, Mcebisi Jonas, Zola Tsotsi en Themba Maseko het vertel hoe die Guptas hulle probeer manipuleer het, terwyl ander – ʼn mens dink aan Raymond Suttner, Derek Hanekom, Rob Davies, Solly Mapaila en Gwede Mantashe – hulle openlik of by implikasie teen Zuma keer.

Dit in skerp teenstelling met die ANC-kultuur om tot elke prys agter die party en sy leier te staan, ongeag die waarheid.

Hoe moet ʼn mens nou die uitslag van die naweek se vergadering van die ANC se hoogste besluitnemende orgaan, die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK), vertolk? Immers, in die verklaring ná afloop spreek die NUK sy “volle vertroue” in Zuma uit.

Wel, dis net naïewe mense wat verwag het dat Zuma in die naweek sou val. Zuma se voorsorgmaatreëls – die aanstel van sy ondersteuners in die NUK – het gesorg vir sy oorlewing. Immers, dis mense wat dikwels vir hul finansiële welsyn van Zuma afhanklik is.

Tog kan die barste in die damwal nie meer toegesmeer word nie. Zuma het sy eie val voorkom, maar dit maak hom nie die groot wenner nie.

Inteendeel, die groot wenner is Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal. Dis Mantashe wat nou ondersoek moet instel na die rol wat die Guptas speel. En aangesien dit bekend is dat hy uiters krities teenoor Zuma staan, kan Zuma nie alte gerus voel oor dié ondersoek nie.

Zuma het nie in die naweek geval nie, maar sy greep op die party is weer verswak. En dit maak sake vorentoe uiters vloeibaar. Verwag dat die spreekwoordelike bloed gaan vloei. Die uitslag kan alkante toe.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Johan Steyn ·

Indien enige persoon nog glo dat howe en die regstelsel in Suid-Afrika enigsins onpartydig en regverdig optree dan verdien hulle om te glo Zuma is onskuldig totdat die teendeel bewys word.

Die totale regering is van bo-af tot by sy voetsole vrot. Dit stink iets verskriklik.

Pieter.v ·

Regter David Rozen van Israel het die voormalige eerste minister
Ehud Ormerts wat omgekoop was n verraaier genoem toe hy hom gevonnis het.

Riette ·

Hy sal nie val nie. Om hom te laat val moet die ANC erken hulle was verkeerd om hom aan te stel. Om dit nou te erken sal nie goed lyk nie. Hulle sal agter hom staan en hom ondersteun.

Veritas ·

Leopold moet hom nie blindstaar teen Gwede se kritiek op Oom Jacob nie. Dit is soos ‘n klein hondjie se gekef. Net lastig maar geensins gevaarlik nie. Gwede is ook slim genoeg om te weet dat die ANC se ondersteunersbasis aan die kwyn is en dat ‘n magstryd, binne die ANC, die party verder kan verdeel. Dit sal sy droom, om eendag president van Suid-Afrika te word, ‘n nekslag toedien. Dit is te sê as hy lank genoeg kan uithou. Oom Jakob laat nie met hom mors nie en deur die Guptas te ondersoek, is net so goed hy ondersoek No.1.

Theo ·

Sal my glad nie verbaas as Gwede homself beywer vir die presidents pos nie.

Maria van Dieweeck ·

Afrika leiers dink almal hulle is konings. God stel konings aan en af. God hou ook nie van hoogmoed of van mense wat armes en wesies benadeel nie. AS ONS BID glo ek ons kan vertrou dat hulle almal sal kry wat hul toekom. BID vir n president wat omgee

Chris ·

Maria met alle respek. Ek dink ons mense het nou al genoeg gebid en dit het nie gehelp nie. Of dalk moet ons nee as n antwoord aanvaar.

Marius JL Knipe ·

Ek glo absoluut dat God in beheer is – ons moet binne die wet doen wat ons kan (stem vir die regte party wat ‘n verskil KAN maak) as landsburgers & kyk hoe die ANC homself vernietig. Op Sy tyd sal J Zuma en sy geliefde ANC tot ‘n val kom, net soos die magtige Romeinse Ryk…………
Vriendelike groete.
M.

WF ·

Zuma sal nie val voor sy termyn oor is nie…hy is in beheer daar , nie die ANC nie…

John ·

Die outeur is byna soos die VSA: het die enigste en ware insig. Hy skryf vir al die Afrikaanse publikasies en wil sy opinie as die regte opsomming van wereldgebeure en plaaslik op ons afdwing. Hoekom oorheers hy alle kommentaar op gebeure. Almal kan dink. Snaaks genoeg, ander Afrikaners ook.

Pietertjie ·

Nes almal al vir meer as dertig jaar lank asem ophou dat Mugabe tot ‘n val kom. Sover het hy net oor sy eie voete geval.

Louis ·

As Pres. Zuma lag laat hy my dink aan ‘n persoon wat moontlik n “siniese” karakter het.

Wat impliseer bogenoemde?.

Is daar miskien n psigiater of kenner wat kan help met ‘n antwoord. Is daar moontlik ander persoonseienskappe waaraan ‘n siniese persoon uitgeken kan word, behalwe sy gelag”?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.