Almal wen met Helpende Hand se ‘Ons Winkels’

hannes-noeth-hh

Hannes Noëth is die uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand. Foto: Verskaf.

Dinsdag 3 September 2019 het Solidariteit Helpende Hand in Polokwane (Pietersburg) sy 50ste Ons Winkels oopgemaak. ’n Besondere mylpaal wat bereik is.

In die meeste Europese lande, Amerikaanse state en lande soos Australië en Nieu-Seeland is die gedagte van welsynswinkels lankal nie meer nuut of vreemd nie. Ook nie in Suid-Afrika nie. Oor die jare is daar reeds welsynswinkels en winkels wat toegeskryf word aan bepaalde behoeftes.

Solidariteit Helpende Hand is vir byna reeds tien jaar besig met die konsep van Ons Winkels. Ons het ’n fase betree waar ons hierdie winkels radikaal uitbrei, standaardiseer en ’n baie spesifieke plek in die samelewing gee.

Die wen-wen van Ons Winkels is na vyf kante: Die skenker, koper, verkoper, begunstigde en dan natuurlik Helpende Hand.

Skenkers

Om te deel wat ’n mens het, is een van die grootste voorregte wat daar is. As ’n mens uit jou oorvloed kan deel en dit wat oortollig is, sinvol kan versprei, is dit des te meer so besonders. Daarom is die skenkers aan Ons Winkels deel van die wen-wen situasie.

Hulle skenk (meestal uit absolute oorvloed) dit wat oortollig is of geraak het, maar weet ook dat dit omgesit word in kapitaal vir baie spesifieke geoormerkte produkte. Een van die skenkers het tereg opgemerk: “Ek skenk nie net meer my oorvloed nie, ek skenk sommer my bure en my vriende en my familie se oorvloed, maar ek weet vandag word óns oorvloed ’n gawe aan ’n ander.

Ons Winkels kan nie bestaan sonder skenkers met opregte harte nie. En ja, Ons Winkels ontvang enige vorm van skenking en verwerk en verkoop dit.

Kopers

Ons kopers is wenners, want hulle kry goeie kwaliteitprodukte teen baie bekostigbare pryse en elke rand koop dubbeld so veel en kan verder gebruik word.

Besparing bring vreugde en besparing bring moontlikhede. Met die opening van die 50ste winkel in Polokwane vertel een koper: “Ek het een keer betaal en twee keer gekry. Dit is die bedoeling: bekostigbare produkte en middele om hulle wat koop te ondersteun in die besparing van hul rande.

Kontrakteurs

As die verkopers wen, wen die kontrakteurs natuurlik ook. Hulle ontvang die skenkings, verwerk dit, verkoop dit.

Aan die einde van Augustus 2019 het Ons Winkels reeds 125 permanente werksgeleenthede geskep en 59 tydelike poste. Die kontrakteur neem verantwoordelikheid vir sy/haar winkel op daardie plek, maar is ook ’n verlengstuk in die projek van verligting, verbreking en voorkoming van armoede. Ons is dankbaar vir die kontrakteurs van al vyftig van Ons Winkels.

Helpende Hand

Helpende Hand het natuurlik die winkels baie nodig – die skenkers, kopers en verkopers – sodat ons ons doel kan bereik en armoede kan bestry.

Ons doen dit gestruktureerd, georganiseerd en met baie fyn kontrole en beplanning. Hoe meer effektief ons Ons Winkels bestuur en beheer, hoe meer kapasiteit en fondse is daar vir ons doel. Die vreugde van winkels wat groei en uitbrei, maak ons moontlikhede meer en stel ons in staat om soveel meer te doen. As voorbeeld, kan genoem word dat vanuit hierdie winkels kon twee streke (Mpumalanga en die Wes-Kaap) reeds maatskaplike werkers aanstel.

Hoe sterker Ons Winkels, hoe sterker is Helpende Hand in die uitvoering van ons roeping. Ons bind skenker, koper en verkoper aan mekaar, maar ons pluk die vrug van moontlikhede, drome en georganiseerde verskil in die lewens van mense.

hh-ons-winkels

Agter is Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand. Voor van links na regs is Alet Robbeson, hoof van Ons Winkels, Tania de Lange, rekenmeester, Lizanne Coetzee, adjunk-uitvoerende hoof van finansies, Marianthie van der Walt, streeksorganiseerder van Limpopo, Zilla Ferns, eienaar van Ons Winkel Polokwane, en Johan Nel, Helpende Hand se adjunk-uitvoerende hoof van operasionele dienste. Foto: Verskaf.

Begunstigdes

Die begunstigdes is natuurlik die grootste wenners van Ons Winkels. Dit is óns streke wat maatskaplike werkers kan aanstel, óns studente wat studielenings daaruit kry, sentrums wat kinders in die middae versorg en oppas, takke wat projekte kan aanpak, streke wat streekprojekte kan uitrol, kosblikkies wat gepak kan word, en tassies wat aangekoop kan word.

Op soveel terreine en op soveel plekke… My oortollige goed word omgesit in kontant en hierdie kontant gebruik ons daar waar ʼn behoefte is. ’n Absolute vreugde en voorreg.

Daarom is die oopmaak van ons vyftigste winkel in Polokwane nie sommerso nie. Dit is ’n geloofstree, ’n genade-oomblik, ’n nederige prestasie. Hiervandaan gaan ons slegs vorentoe, want die nood is groot en die behoeftes baie.

Ons Winkels bring ’n geleentheid vir almal om by te dra tot die nood van ons mense, die voorsiening in behoeftes en om ’n sinvolle bydrae te maak in die hantering van armoede.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Hannes Noëth

Hannes Noëth is die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. Hy is ook die skrywer van die boek Depressie: Struikelblok of uitdaging? en skryf dikwels rubrieke vir verskeie publikasies.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

wonder ·

Helpende hand se hulle help jong mense wat will studeer, wonder hoekom sukkel ek dan al van 2014 af om hulp van hulle af te kry??????

Phillip ·

Dagsê Wonder

Stuur asseblief ‘n e-pos met jou besonderhede na [email protected] dan stel ons verder ondersoek in.

Groete
Phillip Bruwer, nms. Helpende Hand

Frederick ·

Ek sal nooit weer skenk aan sulke plekke wat winkels het nie,ek ken so welsyns plek in pretoria,het ook vir hul gewerk,hul gee al die stukkende klere ens vir armes,dan wotd goeie goed in hul wikels verkoop vir eie gewin.hul is kamtig nie winsgewend,maar word lekker ryk.ek skenk dierek aan mense wat sukkel

Phillip ·

Dagsê Frederick

Alle Ons Winkels word deur Helpende Hand bestuur. Ware en klere wat geskenk word, word omskep in geld wat onder meer vir Helpende Hand se Studiefonds benut word. Die Studiefonds bied rentevrye studielenings aan studente wat kwalifiseer om verder te gaan studeer, maar nie die nodige fondse het om dit te doen nie. Die opbrengste word ook aangewend vir verskeie ander projekte van Helpende Hand wat poog om Afrikaner-armoede te verlig, te verbreek en te voorkom. Ons Winkels dien ook as werkskepping vir die persone wat die winkel bestuur en vir personeel wat in die winkels werk. Vir enige verdere navrae e-pos by [email protected]

Groete
Phillip Bruwer, nms Helpende Hand

My mening ·

Ja, Frederick, dit is ongelukkig waar dat baie welsynsorganisasies korrup is en dat die hulp en skenkings nooit by die mense in nood uitkom nie. Ek gee ook eerder direk aan mense as wat ek deur n organisasie werk. Maar gelukkig is daar ook organisasies wat werklik help en daarvoor is mens dankbaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.