Amerika: droom of nagmerrie?

Die tienjarige Robbie Ramirez hou vas aan sy pa, Robert Ramirez, ná afloop van ʼn skietery wat in Julie op die Gilroy-knoffelfees in Kalifornië, VSA, plaasgevind het. Drie mense is tydens die skietery dood. (Foto: Noah Berger, AP)

Twee skietmassamoorde in minder as 24 uur op 3 Augustus is meer as tragies vir ʼn nasie wat vreesbevange geraak het vir massaskietery in openbare plekke. Dit is natuurlik erger vir die oorlewendes, familielede en vir enigeen in ʼn gesagsposisie. Met 31 wat dood is en 51 gewond, wonder ʼn mens hoe enige land ná sulke onbeskryflike brutaliteit kan herstel.

Terwyl lyke nog op die “slagtingsplekke” gesaai gelê het, het die Demokratiese presidensiële kandidate gewetenloos tot die stryd toegetree en pres. Donald Trump die sondebok van die dodelike slagting gemaak. Dit terwyl hulle besig was om hul veldtog uit die skietery te befonds. Opruiende woorde soos heerssugtige, rassis en fanatikus is rond en bont geslinger om die president met die aanvallers te verbind.

Hul kruiperige gevolmagtigdes in die media en Hollywood het ook nie teruggestaan nie en het met venynigheid deelgeneem om Trump se naam te beswadder.

Ongelukkig is dit so dat dieselfde mense wat respek afdwing, geen fatsoenlikheid toon wanneer hulle oordeel en veroordeel nie. Familielede van die slagoffers het die politici wat Trump aan die kaak gestel het, verketter – sommige van hulle het selfs met trots langs Trump gestaan toe hy die plekke van die slagtings en hospitale besoek het.

Dit maak egter geen verskil of Trump die moorde veroordeel of niks daaraan doen nie – hy word in ieder geval as aandadig beskou en skuldig bevind.

Midde-in die woede sedert die skietery het mediakenners en politici laat blyk dat Trump se beweerde rassisme, sy voorliefde vir vuurwapens en sy politieke ideologieë die redes agter die massaskietery was. Min het egter krities gekyk na die rol en invloed van dodelike videospeletjies, geestesversteuring en die maklike beskikbaarheid van vuurwapens op jongmense. En bitter min van die linkses het swak kinderopvoeding, studieskuld, ouerverantwoordelikheid of die negatiewe uitwerking wat die MeToo-beweging op jong mans het, blameer.

Baie aanvallers staan bekend as incels (gedwonge selibate). Dit is ʼn lywige term wat impliseer dat hulle verloorders is, papbroekig, en seksueel onkapabel. Binne die donker web van die internet skep “medekamerade” ʼn soort gemeenskap vir vrouehaters in ʼn sosiokulturele konteks waar hulle voel hulle word gemarginaliseer en as antisosiaal beskou.

Met al die gedragskodes wat vryheid van spraak, seksuele teistering, regstellende aksie en diversiteit reguleer, het jong mans die slegste daarvan afgekom met werk- en kollegebeleide wat direk ʼn emaskulerende en vervreemdingseffek op hulle (die jong mans) gehad het. Hofmakery en konsensuele seksuele verhoudings is nie meer wat dit was nie – dit het ʼn mynveld vir jong mense geword wat suutjies moet trap op die gebied van seksuele verhoudings wat deur die polities korrekte-brigade gepolisieer word.

Jong vroue wat werklik seksuele geweld ervaar het, eis dat hulle geglo word terwyl dit dikwels moeilik is om seksuele mishandeling tussen twee mense sonder ʼn getuie te bewys. Om dieselfde rede wanneer die MeToo-beweging en gesaghebbendes uitroep “Glo alle vroue, ongeag”, is vroue geneig om wraaksugtige eise in te stel met die doel om geld te maak in ʼn samelewing wat geweldig pleitsiek is. Om die moontlikheid van geweld op alle mans te plaas, ongeag die veronderstelling dat hulle onskuldig is totdat hulle skuldig bevind word, veroorsaak dat mans hulle onttrek en dit besoedel die aanvang van seksuele verhoudings.

Die talle en verskeie vals bewerings van die Duke Lacrosse-insident tot die smeerveldtog van regter Kavanaugh het mans so versigtig gemaak dat hulle nie meer ernstige verhoudings met vroue wil aangaan nie. Die wêreld ken teen hierdie tyd die gemene Demokratiese Party se pogings om Kavanaugh se benoeming vir die hooggeregshof te pootjie met ongegronde aantygings van verkragting, bendeverkragting en seksuele geweld, ondanks ʼn uitnemende loopbaan as regsgeleerde en as ʼn toegewyde eggenoot en pa.

Dié hele “konsert” het nie so lank terug nie op TV afgespeel, en mans laat wonder oor wat die toekoms vir hul kan inhou in ʼn samelewing waar die regsorde vinnig aan die verdwyn is.

Minder bekend is die Duke Lacrosse-insident van 2006. Drie lacrosse-spanspelers is vals beskuldig van die verkragting van ʼn swart vroulike student van die North Carolina Central University. ʼn Mens kan jou voorstel hoe die media, studente, fakulteitgroepe en die breë gemeenskap hul oordeel gevel het nog voordat die saak in die hof verskyn het. Volgens Wikipedia het Roy Cooper, die volgende prokureur-generaal, alle aanklagte teruggetrek en verklaar dat die drie lacrosse-spelers “onskuldig” en “slagoffers van ʼn heksejag” was.

Nifong, Durham se distriksprokureur, wat aanvanklik die saak ondersoek het, is natuurlik van die rol geskrap en aangekla van etiekskending en het sy kantoor verlaat met die etiket van “skelm aanklaer” wat oor sy kop hang.

Hiermee word daar nie gesê dat mans meer as vroue skuldig is aan seksuele teistering en seksuele geweld nie. Dit beteken wel dat sulke misdade baie maklik as wapen teen mans wat magsposisies beklee, gebruik kan word om hulle te ondermyn. In meer ernstige gevalle word dit gebruik deur vroue wat wil wraak neem in ʼn samelewing waar die politiek van identiteit regeer, en waar etikette – soos manipulerende manlikheid, wit bevoorregting en wit heerskappy – mans as sodanig afskryf.

ʼn Voormalige FBI-agent (Amerikaanse Federale Buro van Ondersoek) wat die modus operandi van massaskieters nagevors het, het onomwonde gepraat oor die behoefte aan opvoeding, ouerlike verantwoordelikheid, die maklike bekombaarheid van vuurwapens, die dwelm- en opioïed-epidemie, individuele verantwoordelikheid en die faal van wetstoepassing.

ʼn Deeglike studie van die profiele van die skieters El Paso (Texas) en Dayton (Ohio) is nogal onthullend. Hulle is beide antisosiale alleenlopers, werkloos, en bring hul naweke op die donker web van die internet deur om “helde” vir hul “suksesse” (sterftes weens massaskietery) te loof. Hierdie alleenlopers is incels wat die gedrag van vorige massamoordenaars bestudeer het, sommige as helde bestempel het en ure in die internet se donker portale deurgebring het waar hulle ʼn gevoel van samehorigheid, bevestiging en heroïsme, albeit nihilisme ervaar het.

Volgens speurders het die El Paso-aanvaller gesê dat Trump hom nie geïnspireer het nie en dat dit wat hy glo, Trump voorafgegaan het. Sy politieke sieninge was onsamehangend en het gestrek van wit heerskappy tot radikale omgewingsdeterminisme (geïnspireer deur die Demokrate se groen nuwe ooreenkoms). Hy was teen immigrante en verbruikersdruk wat, volgens hom, die aarde vernietig – daarom sy behoefte om die aantal mense op aarde te verminder deur hulle dood te skiet.

Die Dayton Ohio-skieter het aan erge Trump Derangement Syndrome (ʼn soort waansin) gely, was ʼn ondersteuner van sosialisme, The Squad (vier radikale eerstejaarkongresvroue), kandidate Elizabeth Warren en Kamala Harris, die Antifa-beweging (die Demokrate se wetlose weerstandsvleuel) en was heftig gekant teen ICA-grensbeheerbeamptes (Immigrasie en Kontrolepunt Owerheid).

Die kern van die saak is die volgende: Amerika het ʼn Tweede Wysigingswet wat burgers die reg gee om vuurwapens te besit. Daar is meer vuurwapens in die VSA as sy bevolking van 320 miljoen. Om ʼn vergelyking te tref – en ek hou nie daarvan om dit te noem nie – is massaskietery wat getalle betref, eintlik “gering”. Tog is die doodmaak van slegs een persoon in ʼn menseslagting steeds onaanvaarbaar. Terselfdertyd het die maklike bekombaarheid van vuurwapens (wettig en onwettig) ʼn uitdaging vir die federale regering geword. Vuurwapenbeheermaatreëls, vuurwapenvrye sones en toevlugsoorde het niks aan die situasie verander nie.

Geestesversteurdheid en dwelmverslawing is beslis die twee gruwels waaraan ouers, skole en die regering nie genoeg aandag skenk nie. Die ekonomiese, politieke en sosiale marginalisasie van jong mans is ʼn tikkende tydbom. Met ander woorde, die kultuur van ontmagtiging is veelvlakkig.

As buitestaander ontstel die kultuur van “vrye teuels”- en die “geen grense”-opvoeding van kinders in Amerika my geweldig. Die langtermynuitwerking daarvan is kommerwekkend, en wanneer jy faal, kan die Amerikaanse droom maklik in ʼn Amerikaans nagmerrie vir almal verander.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Rhoda Kadalie

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Die rubriekskrywer Rhoda Kadalie is afgetree en woon tans in die VSA. Sy is die voormalige direkteur van Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en akademikus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

13 Kommentare

Stephan de S ·

Ek sê ook dankie dal MM hierdie artikels plaas wat die lig laat val op die anderkant vd verhaal……wonderlik dat Rhoda as vrou die vooroordeel teen mans uitlig. Mag ons manne dit waardig wees.

J ·

EK bly nou al 17 jaar hier, en dit is n wonderlike land! Sal nie wegtrek hier nie, nié tot ek aftree in PortaRico nie. Kannie eens dit meet teen daai ou SA nie

Jerry ·

Uitstekende navorsing Rhoda. Die donker web van die internet wat die El Paso skieter wie homself oorgegee het besoek het en wat massaslagtings teen immigrante aanmoedig soos jy tereg aandui, staan bekend as die “White Power Movement” wat onder verskillende skuilname op die web verskyn. Direk na die skietery rugbaar geraak het was die skuilname van die web verwyder.

Leon ·

Ons moet nie die Amerikaanse optredes vergeet nie. Hulle val onskuldige lande in om die olie en diamante te roof. Dink hulle nou vir een oomblik dat die optrede nie sal deursyfer na die publiek toe nie. die boodskap aan die publiek is dat jy kan vat en doen wat jy wil. Lieg net in die openbaar en vertel vir almal jy tree op teen menseregte skendings. Die arme skieters glo hulle en hulle dink hulle tree op teen mense regte skenders as hulle skiet.
Die vis vrek van sy kop af en ongelukkig is die kop nie Trump nie maar organisasies soos die CIA en “Homeland Security” wat doen net wat hulle wil. Die outjies volg maar net hulle voorbeeld.

Rupert Ashford ·

Dankie Rhoda, jy raak so baie goed aan met hierdie skrywe dat mens nie weet waar om te begin nie. Dankie ook aan MM wat dit publiseer, want dit is verseker nie hoofstroom en populer nie.

Ronnie ·

As ‘n “buitestaander” is jou sentimente darem baie na aan die van Breitbart. En terloops, wat sou jy dink is die rede dat Breitbart 70% van sy aanhang verloor het? Hulle was tog nommer twee naas Fox News… Gelukkig vir jou en jou familie is daar nog finansiële ondersteuning van regse super rykes. En hoekom sou jy dink is Trump so ontsteld oor Fox News deesdae. Hy voel hulle laat hom in die steek. Enige idees oor die Mooch se uitlatinge? Dit klink of hy meen Trump is onstabiel?
Wonder jy nie ook hoekom Trump so baklei teen die onthulling van sy finansies en veral sy belastingopgawes nie? ‘n Eerlike man soos hy met onbesproke karakter het tog niks om weg te steek nie of hoe?
Ek verstaan nie hoekom hy eers so seker was dat baie streng agtergrond ondersoeke gedoen moet word tov wapen aankope nie en dan maak hy ‘n 180 grade ommekeer net ‘n dag of wat later. Dalk kan jy dit verduidelik.
Hy en sy vrou het poseer vir fotos met die wesie na die El Paso slagting. Hoekom die breë glimlag en “thumbs-up” van Trump? Vir my lyk dit onvanpas maar dalk is daar iets wat ek nie verstaan nie. Nietemin, hy het niks veel te sê gehad nie, behalwe om homself gunstig met Beto O’Rourke te vergelyk. Baie spoggerig oor die bywoning by sy byeenkomste.
In die lig van die tragiese gebeure is die soort optrede vir my baie vreemd. Hoe voel jy daaroor?

Merkur ·

Human? Ek dink Rhoda Kadalie het beter dinge om te doen as op Ron and Jerry se manewales te reageer. Soos bv informatiewe artikels uit ´n ander perspektief te skryf.

De la Rey ·

Weereens ‘n uistekende artikel Rhoda!

Die post modernistiese kultuur hou ‘n groot bedreiging in vir die voortbestaan van die Weste soos ons dit ken. Alhoewel die liberales en die linkses dit nooit sal erken nie was die konserwatiewe kultuur die rede vir die opkoms van die Weste en is linkse ideologie die rede vir die agteruitgang.

Mense emigreer ter wille van hulle kinders, maar o wee, die aanslag teen hulle kinders in die Weste is geweldig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.