‘Amerika Eerste’, ʼn klap vir die wêreld

donald-trump-inhuldiging

Pres. Donald Trump tydens sy toespraak. Foto: ‘n Skermskoot uit ABC News se regstreekse uitsending van die geleentheid.

“Van hierdie dag af verder sal ’n nuwe visie ons land regeer. Van hierdie oomblik af verder gaan dit Amerika Eerste wees. Amerika Éérste!”

Pres. Donald Trump se inhuldigingstoespraak verlede Vrydag het ’n goeie 20 minute geduur, maar hierdie sinne het die absolute hart van die rede bevat. Hy het dit baie duidelik gemaak dat dit geen gewone demokratiese magsoordrag van een party aan ’n ander was nie, maar ’n revolusie – sy dit een binne die grense van die wet.

Amerika Eerste – dis amper soos ouma se heerlike appeltert. Wie op aarde kan daarteen wees?

Die woorde weerklink bowendien in elke Afrikaner se ore. ’n Eeu gelede was dit ook die leuse van een van óns helde, genl. J.B.M. Hertzog: “Suid-Afrika Eerste!” Ook Hertzog wou nie ons land se belange ondergeskik stel aan dié van ander nie, maar dit eerste laat kom.

En tog is dit, soos alle dinge in die lewe, nie heeltemal só eenvoudig nie.

By Hertzog het dit veral om twee dinge gegaan: Suid-Afrika as onderhorige onderdeel van die magtige Britse Ryk, en die vestiging van ’n stewige politieke, ekonomiese en kulturele grondslag vir die oorlewing van die Afrikanervolk teenoor die enorme druk van die Engelse opmars op alle lewensterreine.

Saam met pres. M.T. Steyn het Hertzog dan ook ’n reusagtige rol gespeel om die Afrikaners van hulself en hul eie plek in die wêreld bewus te laat word.

Hy het destyds kwaai koppe gestamp met genl. Jan Smuts, wat die saak vanuit ’n ander perspektief beskou het. Uit Smuts se korrespondensie is dit duidelik dat hy soveel moontlik van die ou Boererepublieke se vryheid wou herwin deur Suid-Afrika ’n waardevolle bydrae aan Brittanje se sy in die Eerste Wêreldoorlog te laat speel.

Dié doel het hy by die ondertekening van die Vredesverdrag van Versailles in 1919 bereik, toe sy en genl. Louis Botha se handtekeninge naas dié van ander wêreldleiers onderaan die dokument gepryk het. Hertzog het volkeregtelik beslag hieraan gegee met die Balfour-Deklarasie (1926) en die Statuut van Westminster (1931), toe Brittanje sy voormalige kolonies se status formeel as gelyk aan sy eie erken het.

Van dié punt aan het Hertzog aansienlik vriendskapliker met die Britte omgegaan, ofskoon hy ook in 1939 nie aan hul kant wou veg nie.

Vir Smuts self was Afrikaans en die oorlewing van die Afrikanerkultuur nie juis belangrik nie. Sy filosofie was holisties, ook op geopolitieke vlak – die swak Suid-Afrika kon volgens hom slegs ’n belangrike rol speel as deel van die sterk Britse Ryk, maar nie op sy eie nie.

Dit was – en hier kom weer ’n woord wat deesdae baie weerklink – in ’n tyd (voor 1914 dus) dat die wêreld besig was met ’n eerste ronde van die globaliseringsproses. Internasionale handel het enorm toegeneem, grense het effens begin vervaag om die handel te vergemaklik, en kulturele kruisbestuiwing oor die grense heen het gegroei.

Die Eerste Wêreldoorlog het dit wreed onderbreek. Nie alleen is die globaliseringsproses in sy spore gestuit nie; regerings het steeds meer proteksionisties geword en hul eie ekonomieë ten koste van ander probeer beskerm. My land eerste, was die wekroep wat jy gereeld kon hoor.

Die gevolg was dat internasionale handel kwaai afgeneem het. En as jy êrens ’n ysere ekonomiese wet kan ontdek, is dit dat handel een van die vernaamste voorwaardes vir welvaart is.

Die onderbreking van die globaliseringsproses en gepaardgaande proteksionisme was een van die bydraende faktore tot die Depressie van die jare dertig en onregstreeks ook die Tweede Wêreldoorlog.

Wat kan ’n mens alles hieruit leer?

Ten eerste dat dit alles goed en wel is om jou eie land eerste te stel, maar dat jy geen absolute wet van Mede en Perse daarvan moet maak nie. Dink bietjie verder as wat jou neus lank is.

Trump het iets beet as hy sê Amerika se bondgenote in Europa en elders het te lank gemaksugtig agter die breë Amerikaanse rug weggekruip en niks vir hul eie verdediging gedoen nie. Dis ook begryplik dat hy hom daarteen verset dat ryk kapitaliste werkgeleenthede uit die Midde-Weste na Mexiko of waar ook al verskuif, bloot om nóg ryker te word as wat hulle al is.

Maar jy moet versigtig wees. Of jy daarvan hou of nie, die wêreld is nou eenmaal geglobaliseer. Die wêreldekonomie is grotendeels geïntegreer. Wat in China gebeur, het gevolge in Brittanje, en ontwikkelinge in Duitsland het invloed op dié in Amerika.

(Om van Suid-Afrika nie eens te praat nie!)

Talle van die beloftes wat Trump in sy verkiesingsveldtog en sy inhuldigingstoespraak gemaak het, al die goue berge wat hy in die vooruitsig gestel het, is eenvoudig onuitvoerbaar sonder om Amerika in groot mate van die res van die wêreld af te sny. Dit gaan die hele wêreld – Amerika inkluis – ’n kwaai klap gee.

En as al die mense wat so vol entoesiasme vir Trump gestem het, deur sy benadering nog verder in die ellende wegsink, gaan hulle dan nog juig?

As ’n mens Trump se toesprake tydens die verkiesing en sy inhuldiging ernstig moet opneem, gaan hy die tradisionele Amerikaanse beleid van alle agtereenvolgende regerings sedert 1945 op die kop omkeer. Dan gaan die Atlantiese Oseaan van ’n brug in ’n grag omgeskep word, en gaan Amerika ’n vesting word wat hom binne sy mure terugtrek.

En ja, natuurlik het Amerika hom veels te veel militêr in die res van die wêreld ingemeng, en in die proses groot skade berokken. Maar moet een uiterste met ’n ander vervang word?

Een van Trump se prominentste ondersteuners in Amerika, oud-speaker Newt Gingrich, het op ’n keer gesê Trump se aanhangers neem hom nie letterlik op nie, maar wel ernstig, terwyl sy teenstanders hom wel letterlik opneem, maar nie ernstig nie. Dalk is dit waar.

Dalk verras Trump ons almal. Dalk styg hy uit bo die platvloerse beledigings wat hy so kwistig rondgestrooi het. Meer as vier dekades in die joernalistiek het my wel sinies gemaak oor enige politikus, maar ’n mens weet nooit.

Maar dan sal hy sy land nie van die res van die aarde moet skei nie. Vergeet die ideologie van etnisiteit en volksnasionalisme as enigste saligmakende idee onder die hemel. Dink prakties. Die grootste ellende in die afgelope 150 jaar is deur starre ideoloë – links én regs – meegebring.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

74 Kommentare

jongste oudste gewildste
Herman

Leopold, Wat ís die “dink prakties” oplossing wat jy aanbied? Is dit die anti-Christelike nuwe wêreldorde wat jy tussen die lyne bepleit? Is die sedelose en konflikgeteisterde moeras as gevolg van liberalisme en globalisering waarin die wêreld verval het sedert die sestigerjare nie juis genoegsame bewys van die “grootste ellende” nie? Neem ‘n bietjie die anti-Trump galblasers van die afgelope naweek se rolmodelle onder die loep. Dis mense soos Charlize Theron, Madonna, Robert De Niro, Lady Ga Ga ensovoorts. Het jy gelet na die “waardes” wat hierdie mense uitstraal? En dís jou oplossing? Jammer, maar ek verskil van jou. Ons… Lees meer »

Johann

Wat is daarmee fout om te se “Amerika Eerste”?
Soos gese is in die artikel, Amerika meng orals in ten koste van die Amerikaners.
Daar is ‘n spreukwoord wat se:”Charity starts at home”

Pietman

Moenie ‘n verandering in ‘n handelsooreenkoms met geen handel verwar nie. Die arme joernaliste dink dieselfde nonsens oor Brexit. Dit gaan oor nuwe ooreenkomste nie die afskaffing van buitelandse handel nie.

Nico K

Ek glo steeds dat Trump ‘n politikus is wat baie dinge sê om verkies te word, maar ek dink hy self weet dat dit in die praktyk nie so maklik is om dinge te verander nie. Toe Obama aanbewind gekom het, het ‘n sekere groep mense gejuig, maar niks het regtig verander in Amerika nie. Trump sal nie veel kan verander in 4 jaar nie. En of hy nog ‘n termyn sal dien is glad nie gewaarborg nie.

Jannie

Die Marxiste het beweer dat hulle idees anti-ideologies is. Soos dit blyk uit die outeur se laaste paragraaf (en ook Amerikaanse politieke teorieë sedert Dewey) ly die pragmatisme aan dieselfde kwaal.