‘Amerika Eerste’, ʼn klap vir die wêreld

donald-trump-inhuldiging

Pres. Donald Trump tydens sy toespraak. Foto: ‘n Skermskoot uit ABC News se regstreekse uitsending van die geleentheid.

“Van hierdie dag af verder sal ’n nuwe visie ons land regeer. Van hierdie oomblik af verder gaan dit Amerika Eerste wees. Amerika Éérste!”

Pres. Donald Trump se inhuldigingstoespraak verlede Vrydag het ’n goeie 20 minute geduur, maar hierdie sinne het die absolute hart van die rede bevat. Hy het dit baie duidelik gemaak dat dit geen gewone demokratiese magsoordrag van een party aan ’n ander was nie, maar ’n revolusie – sy dit een binne die grense van die wet.

Amerika Eerste – dis amper soos ouma se heerlike appeltert. Wie op aarde kan daarteen wees?

Die woorde weerklink bowendien in elke Afrikaner se ore. ’n Eeu gelede was dit ook die leuse van een van óns helde, genl. J.B.M. Hertzog: “Suid-Afrika Eerste!” Ook Hertzog wou nie ons land se belange ondergeskik stel aan dié van ander nie, maar dit eerste laat kom.

En tog is dit, soos alle dinge in die lewe, nie heeltemal só eenvoudig nie.

By Hertzog het dit veral om twee dinge gegaan: Suid-Afrika as onderhorige onderdeel van die magtige Britse Ryk, en die vestiging van ’n stewige politieke, ekonomiese en kulturele grondslag vir die oorlewing van die Afrikanervolk teenoor die enorme druk van die Engelse opmars op alle lewensterreine.

Saam met pres. M.T. Steyn het Hertzog dan ook ’n reusagtige rol gespeel om die Afrikaners van hulself en hul eie plek in die wêreld bewus te laat word.

Hy het destyds kwaai koppe gestamp met genl. Jan Smuts, wat die saak vanuit ’n ander perspektief beskou het. Uit Smuts se korrespondensie is dit duidelik dat hy soveel moontlik van die ou Boererepublieke se vryheid wou herwin deur Suid-Afrika ’n waardevolle bydrae aan Brittanje se sy in die Eerste Wêreldoorlog te laat speel.

Dié doel het hy by die ondertekening van die Vredesverdrag van Versailles in 1919 bereik, toe sy en genl. Louis Botha se handtekeninge naas dié van ander wêreldleiers onderaan die dokument gepryk het. Hertzog het volkeregtelik beslag hieraan gegee met die Balfour-Deklarasie (1926) en die Statuut van Westminster (1931), toe Brittanje sy voormalige kolonies se status formeel as gelyk aan sy eie erken het.

Van dié punt aan het Hertzog aansienlik vriendskapliker met die Britte omgegaan, ofskoon hy ook in 1939 nie aan hul kant wou veg nie.

Vir Smuts self was Afrikaans en die oorlewing van die Afrikanerkultuur nie juis belangrik nie. Sy filosofie was holisties, ook op geopolitieke vlak – die swak Suid-Afrika kon volgens hom slegs ’n belangrike rol speel as deel van die sterk Britse Ryk, maar nie op sy eie nie.

Dit was – en hier kom weer ’n woord wat deesdae baie weerklink – in ’n tyd (voor 1914 dus) dat die wêreld besig was met ’n eerste ronde van die globaliseringsproses. Internasionale handel het enorm toegeneem, grense het effens begin vervaag om die handel te vergemaklik, en kulturele kruisbestuiwing oor die grense heen het gegroei.

Die Eerste Wêreldoorlog het dit wreed onderbreek. Nie alleen is die globaliseringsproses in sy spore gestuit nie; regerings het steeds meer proteksionisties geword en hul eie ekonomieë ten koste van ander probeer beskerm. My land eerste, was die wekroep wat jy gereeld kon hoor.

Die gevolg was dat internasionale handel kwaai afgeneem het. En as jy êrens ’n ysere ekonomiese wet kan ontdek, is dit dat handel een van die vernaamste voorwaardes vir welvaart is.

Die onderbreking van die globaliseringsproses en gepaardgaande proteksionisme was een van die bydraende faktore tot die Depressie van die jare dertig en onregstreeks ook die Tweede Wêreldoorlog.

Wat kan ’n mens alles hieruit leer?

Ten eerste dat dit alles goed en wel is om jou eie land eerste te stel, maar dat jy geen absolute wet van Mede en Perse daarvan moet maak nie. Dink bietjie verder as wat jou neus lank is.

Trump het iets beet as hy sê Amerika se bondgenote in Europa en elders het te lank gemaksugtig agter die breë Amerikaanse rug weggekruip en niks vir hul eie verdediging gedoen nie. Dis ook begryplik dat hy hom daarteen verset dat ryk kapitaliste werkgeleenthede uit die Midde-Weste na Mexiko of waar ook al verskuif, bloot om nóg ryker te word as wat hulle al is.

Maar jy moet versigtig wees. Of jy daarvan hou of nie, die wêreld is nou eenmaal geglobaliseer. Die wêreldekonomie is grotendeels geïntegreer. Wat in China gebeur, het gevolge in Brittanje, en ontwikkelinge in Duitsland het invloed op dié in Amerika.

(Om van Suid-Afrika nie eens te praat nie!)

Talle van die beloftes wat Trump in sy verkiesingsveldtog en sy inhuldigingstoespraak gemaak het, al die goue berge wat hy in die vooruitsig gestel het, is eenvoudig onuitvoerbaar sonder om Amerika in groot mate van die res van die wêreld af te sny. Dit gaan die hele wêreld – Amerika inkluis – ’n kwaai klap gee.

En as al die mense wat so vol entoesiasme vir Trump gestem het, deur sy benadering nog verder in die ellende wegsink, gaan hulle dan nog juig?

As ’n mens Trump se toesprake tydens die verkiesing en sy inhuldiging ernstig moet opneem, gaan hy die tradisionele Amerikaanse beleid van alle agtereenvolgende regerings sedert 1945 op die kop omkeer. Dan gaan die Atlantiese Oseaan van ’n brug in ’n grag omgeskep word, en gaan Amerika ’n vesting word wat hom binne sy mure terugtrek.

En ja, natuurlik het Amerika hom veels te veel militêr in die res van die wêreld ingemeng, en in die proses groot skade berokken. Maar moet een uiterste met ’n ander vervang word?

Een van Trump se prominentste ondersteuners in Amerika, oud-speaker Newt Gingrich, het op ’n keer gesê Trump se aanhangers neem hom nie letterlik op nie, maar wel ernstig, terwyl sy teenstanders hom wel letterlik opneem, maar nie ernstig nie. Dalk is dit waar.

Dalk verras Trump ons almal. Dalk styg hy uit bo die platvloerse beledigings wat hy so kwistig rondgestrooi het. Meer as vier dekades in die joernalistiek het my wel sinies gemaak oor enige politikus, maar ’n mens weet nooit.

Maar dan sal hy sy land nie van die res van die aarde moet skei nie. Vergeet die ideologie van etnisiteit en volksnasionalisme as enigste saligmakende idee onder die hemel. Dink prakties. Die grootste ellende in die afgelope 150 jaar is deur starre ideoloë – links én regs – meegebring.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

74 Kommentare

Herman ·

Leopold,
Wat ís die “dink prakties” oplossing wat jy aanbied? Is dit die anti-Christelike nuwe wêreldorde wat jy tussen die lyne bepleit? Is die sedelose en konflikgeteisterde moeras as gevolg van liberalisme en globalisering waarin die wêreld verval het sedert die sestigerjare nie juis genoegsame bewys van die “grootste ellende” nie? Neem ‘n bietjie die anti-Trump galblasers van die afgelope naweek se rolmodelle onder die loep. Dis mense soos Charlize Theron, Madonna, Robert De Niro, Lady Ga Ga ensovoorts. Het jy gelet na die “waardes” wat hierdie mense uitstraal? En dís jou oplossing? Jammer, maar ek verskil van jou. Ons moet terugkeer na die lewende God en die riglyne van Sy Woord. Dis al manier hoe hierdie siek wêreld weer gesond sal word, nié deur globalisering nie. En dis nie ‘n ideologie nie, dis die enigste oplossing…

Leopold Scholtz ·

Beste Herman, met alle respek – jy lees darem nou ‘n klomp lelike dinge in my artikel wat glad nie daar staan nie en ook nie bedoel word nie.

Loeis ·

Ek bespeur ook so geurtjie van die propaganda voor 1992 se referendum in die artikel naamlik dat lande nie self oor hul sake moet besluit nie maar ter wille van globale vooruitgang die knie behoort te buig voor ‘n ander ideologie.

Wat beteken jou stemreg dan? Het ons enige inset oor ons eie sake anders as op baie plaaslike vlak? Wat keer dat die globabale beweging in alles die laaste se het?

Dalk is dit tyd vir jou, net soos vir soveel ander joernaliste uit jou tyd, om af te tree, Leopold.

Herman ·

Leopold, miskien moet jy dan meer op die man af jou punt stel sodat daar nie ruimte vir misverstande is nie. Jy sê: “Vergeet die ideologie van etnisiteit en volksnasionalisme as enigste saligmakende idee onder die hemel. Dink prakties.” – Wat bied jy dan aan as oplossing? Die teenpool van wat jy sê is globalisering, hoe lees ek dan nou ‘n “klomp lelike dinge” in jou artikel? Is globalisme die antwoord volgens jou, of nie?

Vaalseun ·

Herman, en jou punt? Trump het nie gesê, “Christus eerste” nie.

Herman ·

Vaalseun, ek dink my punt is duidelik genoeg. Ek het gesê ons moet terugkeer na God toe, Hy is die oplossing – nie globalisering nie. En het ek gesê dat Trump gesê het Christus eerste? Jammer, maar ek dink jy mis die hele punt…

Johann ·

Wat is daarmee fout om te se “Amerika Eerste”?
Soos gese is in die artikel, Amerika meng orals in ten koste van die Amerikaners.
Daar is ‘n spreukwoord wat se:”Charity starts at home”

Pietman ·

Moenie ‘n verandering in ‘n handelsooreenkoms met geen handel verwar nie. Die arme joernaliste dink dieselfde nonsens oor Brexit. Dit gaan oor nuwe ooreenkomste nie die afskaffing van buitelandse handel nie.

Leopold Scholtz ·

Beste Pietman, ek het nerens verwys na die “afskaffing” van handel nie. Maar enigiemand met ‘n gesonde verstand sal kan sien dat die onttrekking aan verskeie vryhandelsones – TPP, TTP, Nafta – die Amerikaanse en dus internasionale handel gaan kortwiek.

JC ·

Dankie Pietman, uitstekend!! Hulle (hoofstroom elite) is kwaai verwar, en begryp nie mooi wat aangaan nie! Die fokus gaan nou eerder wees op BILATERALE HANDELSVERHOUDINGE in pleks van die siekmakende en verfoeilike multilaterale ooreenkomste wat die doodsteek is vir identiteite, oorlewing, die samelewing en kultuur!
Dank die Here vir President Donald Trump!! Die praktiese gevolge hiervan? Jy (regerings) ondersteun handel met lande wie se waardesisteem, kulturele en morele grondslag ooreenkom met joune, synde die wonderlike verhoudinge tans tussen die VK en die VSA in teenstelling met die Obama era en sy beheptheid met sosiale demokrasie en immigrasie d.i. om almal te probeer gelyk MAAK terwyl die ‘n onmoontlikheid is DIS AL!!!

Nico K ·

Ek glo steeds dat Trump ‘n politikus is wat baie dinge sê om verkies te word, maar ek dink hy self weet dat dit in die praktyk nie so maklik is om dinge te verander nie. Toe Obama aanbewind gekom het, het ‘n sekere groep mense gejuig, maar niks het regtig verander in Amerika nie. Trump sal nie veel kan verander in 4 jaar nie. En of hy nog ‘n termyn sal dien is glad nie gewaarborg nie.

Jannie ·

Die Marxiste het beweer dat hulle idees anti-ideologies is. Soos dit blyk uit die outeur se laaste paragraaf (en ook Amerikaanse politieke teorieë sedert Dewey) ly die pragmatisme aan dieselfde kwaal.

Theuns ·

Beste Leopoldt, Jy is een van die paar ouens, wat jy op jou hand kan tel, wat nog die Suid Afrikaanse en Wereld Geskiedenis ken! Gobalisme het ‘n slegte naam gekry asv swak leierskap in die wereld (en moet nie eers van Afrika leiers praat nie!) Die gevolg van die swak leierskap is verwaarlosing van plaaslike ekonomie, gepaardgaande verarming, korrupsie en onderdrukking van totale inheemse bevolkings van lande en lande se minderhede! Die resultate is die opswaai van regse sentiment en verkiesings wat deur persone soos Trump gewen word. Gevaarlike leiers kan dan aan bewind kom. Die voorstanders van Globalisme het die bus gemis ! Dit smaak my dis hulle eie skuld! Wat is jou mening hieroor? Ek geniet jou kommentaar! Dankie.

Therese van Schalkwyk ·

President Trump sélf is tydens die verkiesingsproses en word steeds onophoudelik gebombardeer met “platvloerse beledigings” uit alle uithoeke van die wêreld. Die sogenaamde Demokrate (wêreldwyd) en hul betogende, slagspreuk-skreeuende ondersteuners gaan klaarblyklik nie ophou geraas maak nie . Die nuwe President gaan hare op sy tande óók nodig hê.

Die wêreld mag wel “geglobaliseer” wees, maar dalk is so ‘n tikkie ‘onglobalisering’ nét wat nodig is om die massas werkloses in elke land te red van Made in China-produkte. Chinese is tog sekerlik nie die enigste aanspraakmakers op ‘n eerlike werk elke dag nie.

Ek wens Trump alle sukses toe, maar net soos met die Afrikaanse Taal, kom sy grootste vyande uit eie geledere. Tragies.

Therese ·

Dankie, Anna!

“de-globalisasie” klink egter beter as “onglobalisering” :-)

Niks teen die Chinese nie, maar China se ekonomie groei astronomies ten koste van die res van die wêreld.

Herman ·

MM, ek sien julle weier om my kommentaar te plaas? Is dit oor ek na Jesus Christus verwys as die enigste oplossing vir hierdie gebroke wêreld se probleme? Of is daar ‘n ander rede?

Landi Slatter ·

Dagsê Herman

Dankie vir jou navraag. Jou kommentaar verskyn inderdaad.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

F C Boot ·

Jammer om te sê Leopoldt maar dit is tyd vir ‘n ‘reality check’.In 2012 het Amerika bykans
’12 billion USD’ in ontwikkelingsfondse in Afrika gestort.Daar is 9 nulle in die Amerikaanse biljoen.Dus teen die huidige wisselkoers ten tye van kommentaar.R160 538 188 222 !

En tog sien ‘n mens feitlik geen verbetering op die Afrika-kontinent nie.Die besteding sou oor ‘n tydperk van 10 jaar gelyk wees aan die totale uitgawe begroting van Suid Afrika vir die huidige boekjaar.

Geen wonder Trump wil die nuttelose besteding inkort nie.

.

Leopold Scholtz ·

Beste FC, ontwikkelingshulp en handel is twee heel verskillende dinge. Jy verwar die twee.

F C Boot ·

Jammer Leopoldt maar jy is die een wat verwar is.Trump het elke sent nodig om die vervalle Amerikaanse infrastruktuur op te knap en om vervaardigingssektor weer op die been te bring en talle werksgeleenthede wat verlore gegaan het terug te bring.

Soos hy sê dit gaan oor ‘fair trade’ en nie ‘free trade’ nie. Dit is die sg. ‘free trade’ wat tot die ondergang van talle vervaardigingssektor hier en Amerika gelei het. Ons mark word bv oorstroom deur goedkoop klere uit Sjina en het ‘n eens welvarende klerebedryf plaaslik,verwoes.

Aloma ·

Ek wens ons President wil se SA eerste i.p.v. sy beursie eerste!

HEVW ·

Ek lees in Leopold se skrywe n tipiese liberale moedswilligheid.Trump se stelling word totaal uit verband geruk. Ek glo nie hy is besig Amerika te verabsoloteer nie deur Amerika van die res van die wereld te isoleer nie, Of om Amerika verhewe bo ander volkere te stel nie. Dit is eenvoudig waar Amerika is in die huidige globaliseringsproses ernstig misbruik en is noodsaaklik om sy stand in die wereld te herstel.

Leopold Scholtz ·

Beste HEVW, dis jou reg om Trump te vertrou. Ek wens jou alle sukses daarby toe. Wat myself betref, ‘n joernalistieke loopbaan van 42 jaar het my geleer om sinies te wees.

Pieter ·

Trump se verkiesing (en Brexit) het as ‘n ongelooflike skok gekom vir die klomp liberale in die wereld van absolute onbetroubare media soos CNN ea. Die joernaliste wat vir die klompie werk is al so geindoktrieer dat hulle heeltemal van realiteit en waarheid afgeskei is en hulle het die liberale samelewing saam afgetrek en dan kry ons die kwaliteit kommentare soos die van popster Madonna, joernalis Leopold en duisende ander. Nie die moeite werd om ernstig op te neem nie.

vermeende ·

Leopold n boom word geken aan die vrug wat hy dra. Smuts is n baie swak voorbeeld om te gebruik aangesien dit ook hy was wat die weermag los gelaat het op die stakemde blanke myners wat die Britte bevoordeel het.
Smuts en de klerk is van dieselfde lap gesny, hulle het nooit die wil van hulle eie mense volbring nie maar hulle mag misbruik vir eie gewin en hulle verskuilde agendas.

As Clinton verkies was dan het die wereld n kern oorlog in die gesig gestaar wat Trump se beleid n welkome gesig sou gemaak het.

Daar gaan binne die volgende 5jaar n 80% korreksie in die markte kom volgens die ekonoom James Rickards en Trump sal as die skuldige uit gewys word.

Amerika se skuld is $20 triljoen en buite beheer, so Trump het n siek ekonomie geerf in n ekonomiese siek wereld, hoe herstel jy dit. Jy genees die siekes by jou eerste om te help die ander genees

Trump is geen politiekus nie hy is n sakeman wat weet jy kan nie meer spamdeer as wat jou inkomste is nie en die wereld hou nie daarvan nie.

Leopold Scholtz ·

Beste Vermeende, Jy is heeltemal reg wat die Amerikaanse staatskuld betref. Dit het in die tyd van Reagan sterk begin toeneem, en het handuit geruk onder Bush jr. en Obama. Nou sien ek Trump wil yslike projekte aanpak om die infrastruktuur te herstel (begryplik), hy wil verdedigingsuitgawes drasties verhoog. Terselfdertyd wil hy belasting verlaag. Ek is te dom om agter te kom waar die logika hiervan is. Lekker dag vir jou!

Boerseun ·

Obama het in sy termyne meer staatskuld gemaak as al die presidente voor hom tesame! Intussen sien ons hoe die skape in die VSA se strate betoog sonder dat hulle weet vir wie en wat hulle dit regtig doen. Smuts was, naas De Klerk, die grootste Boereverraaier wat nog ons land bewandel het. Hy het byv, Duits-Suidwes van die Duitsers gesteel ten einde die pas-ontdekte ryk diamantvelde aan die Oppenheimers te kon gee. Raai wie het hom aangemoedig tot die stigting van die SA Reserwebank? Ja, nog ‘n uitverkorene…

Twakkies ·

Ek stem nie saam met hierdie skrywe nie. Hierdie joernalis word deur ‘n mediahuis betaal wat niks kon doen om ons Afrikaanse skole en universiteite te beveilig nie. Die hoofstroommedia is wêreldwyd in groot moeilikheid. Ook hier.

Leopold Scholtz ·

Beste Twakkies, ek is afgetree en werk vryskut. Ek word per artikel betaal. Ook deur Maroela Media. Dit lyk my in elk geval jy lees my nooit, want jy weet niks van hoe ek deur die jare vir Afrikaans in my artikels geveg het nie. Ek sou graag meer oor jou wou kwytraak, maar ek moet myself bedwing.

Thuunda ·

Twakkies, die slaapwandelende mediastyne gaan nog met ‘n skok wakker gemaak word deur die moeg-vir-julle-propaganda-en-leuens man-op-die-straat. Soos begin gesien kan word met al die ‘shots’ wat Leopold hier moet vat. Die liberale denkers is eintlik in die minderheid, hulle het net tot nou harder geskreeu. Sommige mense noem hulle die ‘lunatic fringe groups’. Nou toe nou, 2017 gaan baie veranderings in verhoudings sien.

Pieter ·

Twakkies, Anders as wat jou naam wil aandui is jy absoluut korrek, want enigiemand wat nog af en toe vir die grootste “Afrikaanse” persgroep artikels skryf is saam skuldig aan die groep se doelwitte van geen Afrikaans in skole en universiteite.

Leopold Scholtz ·

Beste Loeis, ek neem kennis van jou belediging. Dit rol af. Globalisering, soos ek dit verstaan, beteken nie dat lande hul soewereiniteit opgee nie. Dit beteken wel dat hulle internasionaal steeds meer afhanklik van mekaar word. China staan byvoorbeeld nou ekonomies al so sterk dat sy ekonomie ‘n groot bydrae gelewer het tot Europa se ekonomiese oorlewing in die krisis van 2008-2009. En of ons daarvan hou of nie, dis nou eenmaal wat gebeur!

Loeis ·

Beste Leopold, jy beaam eintlik wat ek se. “En of ons daarvan hou of nie, dis nou eenmaal wat gebeur”.

Dit kom daarop neer dat regerings en kiesers van hul keuse ontneem word. Om soewenrein te wees, maar om steeds na ander se pype te dans, beteken nie veel nie. Presies wat ek gese het.

Ek is bly jy neem van my voorstel (nie belediging nie, slegs ‘n feitlike stelling) kennis. Dan hoef jy ook nie so wal te gooi soos wat jy hierbo op taamlike skaal doen nie.

Vic ·

Dankie tog – iewers in die wapad brand n liggie. Dankie vir die realistiese uitkyk, Leopold. Wat is jou mening oor Trump se houding teenoor/verhouding met die pers?

Leopold Scholtz ·

Beste Vic, Dit lyk my Trump en die grootste deel van die pers het oorlog teen mekaar verklaar. Trump dink hy kan per Twitter regstreeks met die kiesers kommunikeer en die pers omseil. ‘n Deel van die pers dink hulle kan hom breek; die ver-regse deel dink hulle kan hom red. Ek dink hulle gaan almal verloor, tensy hulle ‘n wapenstilstand kan sluit. Maar nou ja, ek is seker Trump of die Amerikaanse koerantredakteurs lees nie my kommentaar hier nie!

Vic ·

Dankie Leopold. Ja nee, ek twyfel of hulle in ons opinies belangstel. N groter bekommernis as enige van Trump se politieke sienings, is sy persoonlikheid. Hy is n arrogante, impulsiewe en aggressiewe mens, met min respek vir ander. Hy moet altyd reg wees, moet altyd wen en moet oorheers. N ramp wat wag om te gebeur.

Leopold Scholtz ·

Vir Herman: Jy vra of ek reken globalisme is die antwoord. Dit hang af hoe jy die begrip definieer. Definieer jy dit as een wereldregering – dan is dit absoluut nie die antwoord nie. Definieer jy dit as internasionale samewerking oor grense heen, dan is dit beslis die antwoord. Om elkeen by wyse van spreke op sy eie eiland te leef, het die geskiedenis al male sonder tal gewys, lei tot oorlog en verarming. In elk geval is dit nie juis van belang wat ek as die antwoord sien nie; ek het geen mag nie. Ek is ‘n politieke analis, en ek probeer (a) vertel wat gebeur, (b) hoekom dit gebeur, en (c) waartoe dit kan lei en wat dit beteken. Natuurlik doen ek dit vanuit ‘n bepaalde lewens- en wereldbeskouing, wat in my geval sterk deur my geloof en my kennis van die geskiedenis beinvloed is. Hoop jy verstaan nou my posisie beter.

Louis ·

In daardie geval stel ek voor jy bedank as politieke analis want, jou analiserings raamwerk is heeltemal eensydig en skeef. Voorbeeld: Jy het gese Trump gaan so ver verloor dat dit geskiedenis gaan maak, so wat analiseer jy? Die lugenpresse of jou eie idees en gevolgtrekkings? Lyk my jy “copy/paste” net die #MSM, of soos ek jou sal noem, ‘n agterna jagter.

Herman ·

Leopold,
Ek erken en respekteer jou reg om te glo wat jy glo en ook hoekom jy so glo. Persoonlik vir my, het gebeure in die liberale wêreld veral sedert die sestigers tot nou toe, tot die gevolgtrekking gebring dat globalisme hoofsaaklik net ellende meegebring het. Of jy dit definieer na die een of die ander kant toe, die feit is dat volke hul soewereiniteit en selfs kultuur in elk geval inboet daardeur. Ek glo dat goeie grense goeie buurmanskap in die hand werk, dit beteken egter nie dat elkeen op sy eie eiland sit en homself onttrek van enige samewerking nie. Dit beteken bloot dat samewerking vir almal tot voordeel moet strek sonder benadeling van jou eie. Dit maak geen sin om jou eie te offer sodat jou vyande die voordeel kry nie. Gebeure in Europa is genoeg bewys van die doodloopstraat van globalisme… Jy is egter reg oor een ding, ek en jy is onmagtig om te keer wat gebeur. Daar is nie menslike oplossings vir die wêreld se vraagstukke nie. Slegs God kan dit oplos, maar dan sal die mensdom hul moet bekeer tot die lewende God. Dis my opinie en dis wat ek glo. Ek hoop inderdaad dat jy my ook nou beter verstaan.

lynny ·

Leopold moet ophou antwoord op mense se kommentaar. Dit is onprofessioneel. Sy antwoord gaan nie ons siening verander nie. Dit is mense se reg om te reageer op artikels. Dit is waarom daar ‘n kommentaar gedeelte is.

Henry ·

Lynny
Ek dink dat Leopold se repliek is van veel groter nut as wat kommentare links en regs in die snippermandjie beland.

Gjorg ·

Lynny, ek dink hy moet juis reply want dis sy artikel en mens moet weet hoe hy daaroor gedink het. Veral as dit deur sy reaksie duidelik is hoeveel bog die mense wat reageer op sy artikel kan kwytraak. Dis vir my redelik duidelik die helfte het geen benul van politieke, geskiedenis of die ware Trump mentaliteit en persoonlikheid nie. Hulle hou van die IDEE van Trump maar is blind vir die WERKLIKHEID wat Trump vir die wêreld beteken. Goeie artikel Leopold

JC ·

Hierdie is definitief ‘n opiniestuk met internasionalistiese en liberale denke as verwysingsraamwerk wat rondskarrel soos ‘n afkophoender net soos die res van die internasionaliste wat globalisasie aanhang en wat nie ‘n idee het hoe om die patriotiese en nasionalistiese golf te hanteer nie, wat gevare inhou vir hul gemaksugtige en bederfde maar onverdiende lewenstyl. Weg met globalisasie!! Weg met internasionalisme, die dief van siele en identiteite, weg met liberale demokrasie. Hoera vir die son wat weer gaan skyn oor die westerse samelewing en die opkomende westerse renaissance. Lank genoeg is net stilgesit en niks gedoen terwyl daar gepoog is om die prestasies van die westerse wereld te reduseer.
Wat nie verstaan word nie, is dat die verval van die Westerse wereld juis agv faktore soos demokratiese liberalisme lank voorspel is en dat die opkoms en oorheersing van China en die Ooste voorspel is juis agv die swakheid van die Weste. Nie meer nie. Hierdie is ‘n doelbewuste poging tot ‘n Westerse Renaissance wat absoluut prysenswaardig is en gelei word deur President Trump. Wat die liberaliste nou mee besig is is “scaremongering” propaganda oor WW1 en WW2 ten einde die momentum van die regs konserwatiewe beweging te probeer stuit. Ek het slegte nuus: dit gaan NIE werk nie!! “THE GIANT HAS AWAKEN”

Vaalseun ·

JC, jy sal ‘n “skip” vullisbak of twee voor jou huis moet laat aflaai, want jy moet nou vir ons die voorbeeld stel en van al die “internasionale” en “globalistiese” produkte in jou en jou familie se huise ontslae raak: telefone, selfone, TV’s, broodroosters, stowe, mikrogolfoonde, ketels, yskaste, vrieskaste, wasmasjiene, tuimeldroërs, grassnyers, motorkarre, bakkies, haardroërs, waaiers, elektriese handgereedskap, ens. Jy is mos nie ‘n gemaklike man nie, nê? Ook nie jou vrou en kinders nie. So, wys ons!

JC ·

Vaalseun, ek besit nie ‘n TV nie. EK LEES!! ! Ek besit nie ‘n telefoon nie ens. Ek verag selfone en besit die tipe een waarvoor mense hul neuse optrek. Jy verstaan egter nie mooi die argumente nie, jy verwar duidelik “verwestering” met “modernisme”. Ek gee toe dat modernisme en ontwikkeling op verbuikersvlak ‘n wereldwye, globale verskynsel is, maar as ons hier praat van globalisasie dan praat ons van die kulturele skade wat dit aanrig met die uitwissing van unieke en besondere kulture en nie soseer verbuikersitems en -patrone en modernisasie nie. Jy sal opmerk dat selfs die tradisionele kulture wat “verwesters” het op hul eiesoortige wyse, dit juis gedoen het as skans teen westerse oorheersing-sien Penguin History of the World. Wat jy hier mee te doen het is ook nie verregsing in ontwikkelde lande nie maar ook by ontwikkelende lande wat besig is om westerse waardes te verwerp. Jy het dus hier te doen met ‘n “globale” omverwerping van die status quo en ‘n terugkeer na tradisionele waardes en norme soos wat dit gegeld het vir elke streek ongeveer omtrent die einde van die 19de eeu (let wel nie voor die verligting, “philosophes”, sosialisme, marxisme, nasionalisme, en die romantiese beweging nie. My raad, gaan lees meer:-)

Pieter ·

JC,
Jou kommentaar is beslis die beste en akkuraatste wat hier verskyn.

Steyn ·

Soos die engelsman se “charity begins at home”. Net tyd sal leer of Trump gaan slaag of druip. Ons leiers is meer bekommerd oor status in buiteland as oor die sorge van ons mense. Europa word ingedring deur miljoene onwettige persone, Suid Afrika sit met derduisende, Amerika het seker twee keer soveel as almal saam. Kyk net hoe sukkel ons kinders om werk te kry, want alles gaan oor goedkoop arbeid en minagting van wette.

Marius Viviers ·

Ek stem. Dankie. Menigte mense reken Trump gaan die beste president ooit word. Tyd sal leer……

DewaldS ·

As, as, as. As is verbrande hout. Dit wys na iets wat dalk nog kan gebeur.

Wat reeds gebeur het en wat nou feite is, is dat die liberale, multikulturele moderne staat (of poging daartoe) misluk het. Nie net agv swak leierskap nie, maar agv die doodgeborenheid van ‘n beleid waar een persoon/gesin gedissiplineerd werk met hul inkomste en bronne en voortdurend goeie besluite neem en ‘n ander persoon/gesin doen dit nie, maar wil dieselfde voordele hê.

En dan verkoop politici dit as moontlik, terwyl hulle weet hulle gaan die eerste persoon se geld moet steel om vir die tweede een te gee. Maar hule doen dit steeds en kry selfs nog groter voordele vir hulle-self uit hierdie gewettigde roof.

Kan nooit werk nie en sal nooit werk nie.

Nel ·

Miskien lees sy kritici ‘America First verkeerd’.

In ‘n onderhoud met The New York Times het hy gese; “Not isolationist. I am not isiolationist, but I am ‘America First.’ So I like the expression.”

En vir ‘n slaggewer van The Times het hy verduidelik dat hy nie die slagspreuk in dieselfde sin as wat Lindbergh dit destyds gebruik het bedoel nie; “It was used as a brand-new, very modern term” he said. “Meaning we are going to take care of this country before we worry about everybody else in the world.”

Dus, kry eers jou eie huis in orde…

HEVW ·

Leopold slaan die bal heel mis. globalisme het nie net betrekking op internasionale samewerkink. an Wereldwyd getuig daarvan. SA in eie geledere is n onuitwisbare bewys wat ons daagliks beleef. Dit staan in stryd met nasionalisme.en le beslag op die wese van n volk. Sy kultuur, taal, godsdiens en ekonomie, ens. Plunder die eiendomlike van n volk met sy sentimente en trots en hy is eksploiteerbaar. Ek vertolk Trump as sakeman dat hy deeglik daarvan bewus is dat internasionle betrekkinge en samewerkinge noodsaakliklik is, maar in die bestuur van eie ekonomie is daar vele gate en dit moet tot orde kom en in belang van Amerika wees. Om Amerika weer groot te maak le nie net op ekonomiese vlak nie maar op die totale wese van die volk. Soos die morele, sedelike religieuse en volksbesef.

Biliam se donkie ·

Oom Leopold,ek is 48jr in die sakewêreld,en die eerste reel op die pad van herstel,as jy in die moeilikheid is,soos Ameriks tans is,dan konsolideer jy,trektrug,en begin weer by die basiese resep wat jou aanvanklik,suksesvol gemaak het”Amerika first”kry eers weer dinge onderbeheer,en dit verstaan hy baie duidelik as sakeman.Daar is n gesegte”You cant shoot a cannon from a cano” Die feit dat sy steun geval het na”40%” maak my opgewonde,n goeie leier is nooit populêr nie,maar hou maar die “scorebord”dop

gatiep ·

Wat die media nie besef is dat hoe meer hulle teen Trump uitvaar hoe meer steun kry hy, mense begin deur media sien.
Ek het dan gedog die hollywood stere gaan padgee uit US as Trump inkom.Nou strike hollywood eerder op strate met madona in die voorkoor.
Wie dink die hollywood is hulle voor wie die ander helfte van die USA ook moet buig.
Hulle loop vir allerande gevoelens wat nou seermaak en goed maar wat van die ander helfte van die mense se gevoelens wat nie soos hulle voel nie.8 jaar lank moes hulle oubama se gemors opeet sonder pm te kla.
Dinge gaan baie vinnig nou verander in wereld sit gordels aan rowwe pad voor.
Trump speel nie hy is ernstig.

Henk Schalekamp ·

Trump se verlede laat my skepties oor sy vermoë om enigsens oor homself te kom en werklik dienend tot die Amerikaanse publiek te staan.

Hy kan werk skep deur staatsprojekte en beleid wat handel en produksie reguleer. Dit sal net lei tot verdere verdriet oor tyd.

Is sy ondersteuners werklik bereid om te doen wat nodig is om die land volhoubaar op te bou? Harder te leer, harder te werk en vrede te maak met sy gunsteling sin “you are fired”.

Ek stem die pendulum het te vêr deur geswaai en dit kan baie negatiewe gevolge inhou vir Amerika en die Wêreld.

Laastens hou ek nie van sy populisme nie, want as ek daarvan hou moet ek vrede maak met Malema s’n.

JC ·

Hey Henk, die twee situasies is duidelik onderskeibaar. Terloops, snaaks dat DEMOKRASIE nou ewe skielik ontaard het in wat die hoofstroom media nou as populisme brandmerk terwyl dit bloot die wil v/d mense verteenwoordig…die hippokrasie van die liberales word weereens blootgele in dat indien dinge nie verloop soos hul hoop nie hulle teen die einste instrumente en beginsels draai waarvan hul kamptig die propageerders van is. Terloops, hierdie “liberalisme” is nie klassieke liberalisme nie, maar veel eeerder wat genoem kan word ‘n vorm van gesagsomverwerping gemeng met ‘n skewe interpretasie en toepassing van humanisme en ‘n goeie dosis veeleisende, allesvernietigende sosialisme, anargie en terrorisme.
Vir ‘n begin; die verskil in aanhang. President Trump bv. geniet wye steun terwyl ou malematjie se partytjie nie eers kon verbeter op sy vorige poging nie.
Sy pogings en die werklike en praktiese inslag wat hul werklik kan he is duidelik doodgebore en smag hy net na media aandag wat hul hom slaafs gee waarsonder hy niks is. Weereens is die twee Nie eers naby vergelykbaar nie en is hu net ‘n moeilikheidmaker.

Henk ·

Jy kan ook Malema met Zuma vervang. Populisme is vir my gelyk aan onverantwoordelike uitlatings om steun te werf of te hou. Hierdie uitlatings raak dade en die dade is skadelik vir andersdenkendes. Ek steun die Republikeine en die meer behoudende konserwatiewe waardes, maar ek hou glad nie van Trump nie. Ek glo hy gaan dit waarvoor ek staan en steun meer skade as goed doen.

Vaalseun ·

JC, as jy lees is ons op dieselfde golflengte. Twee boeke wat my gehelp het om die problematiek van kulture en die globalisering van ekonomië en die politiek beter te verstaan is twee boeke met toevallig amper dieselfde titels: 1) Arthur Koestler se, The Sleepwalkers: A History of Man’s Changing Vision of the Universe; en 2) Christopher Clark se boek, The Sleepwalkers: How Europe went to War in 1914. Voorspoed.

Leopold Scholtz ·

Vir alle vriende kan ek die twee boeke aanbeveel wat Vaalseun noem. Albei op sy eie manier briljant. Lees dit gerus.

Leopold Scholtz ·

Beste Daan, moet vir niemand meedeel nie – uiters vertroulik net vir jou – $100 miljoen. Vertel my nou ook: Hoeveel het Trump jou betaal vir jou antwoord? Jollie patrollie, man!

Frans C ·

Het globalisering voordele. Ja dit het maar dit het ook talle nadele,want dit word tog duidelik in die “Principles of managerial Finance’ gestel dat:”that the goal of the financial manager is to maximize the owners wealth rather than to maximize profits.”

Met dit in gedagte is duidelik dat alle verskuiwings daarop gemik is om die met laags moontlike insette die hoogste moontlike winsgrense te bereik. Want hoe beter die maatskappy presteer, hoe hoër styg die aandeelprys en hoe groter word die welvaart van die eienaars .

Die verskuiwings in die soeke na laags moontlike insetkoste geskiet gewoonlik ten koste
van die plaaslike arbeid wat dan dikwels in armoedige omstandighede agtergelaat word.
Google gerus Detroit City en kyk hoe lyk dit daar. Dat rykes ryker word en armes armer is ook duidelik in Suid Afrika waar voorheen benadeeldes oornag miljoeners geword het.

Globalisering het ook gelei tot grootskaalse beweging van arbeid, veral in die Eurosone en ook uit Afrika na Suid Afrika.Dit is dan ook skokkend dat die Ambassadeur van Malawi nie eens weet hoeveel van haar mense hier is nie en die getal tussen 3 en 5 miljoen beraam het!

Dit is dus te verstane dat trump ‘n einde aan dit in Amerika wil maak en vir die agtergeblewe Amerikaners nuwe werksgeleenthede wil skep.

Francois ·

Geagte Henk en Dr. Leoplod

Stem saam met Henk, maar glo dat Trump bo verwagting sal goed vaar. Hy is n baie rykman en het maar die verlede van n rykman. Kyk op U-tube, hy al dekades terug sy visier op die withuis gestel. Hy het toe reeds sy planne gevorm om Amerika reg te ruk. Hy toon tans goeie familie waardes. Hyt die verkiesing gewen, deur soos n straatvegter te baklei. Hy is nie n politikus nie en wat hy vermag het is om die hele “establishment” op sy kop te keer en te kon wen. Dr. Leopold, ekonomie groei waar besigheid gestimuleer word. Lae belasting, goeie infrastruktuur, min burokrasie en minder patetiese siek welsynprogramme en regeringsbeleide vir mense wat moet werk! Dan kan ons ure verder redeneer rondom internasionale handel ens, dit sal egter goed wees om die Midde-ooste en China op die agtervoet te kry, hulle wat geen respek het vir ware liberalisme nie. Om af te sluit, Reagan was besonders ongewild toe hy die presidentskap oorgeneem het, maar daai cowboy het kommunisme se rug gebreek. Ek is versigtig optimisties oor Trump. Die liberales (neo-sosialiste) skreeu moord, want hulle weet wat kom vir hulle. Trump en BREXIT het die wereld op n beter koers geplaas. Amper enigiets is beter as Obama, Hillary Crooked en die EU.

Andre ·

Glo nie mens moet globalisering blameer vir al die probleme in die wêreld nie. Met of sonder dit sal daar maar winners en losers wees. As mens na die klereindustrie in SA kyk was ons definitief die loser. Maar glo ook SA het voordeel te trek. My opinie is dit is streng liberale denke wat die veroorsaak het. Die wêreld wiel draai, ons gaan nou weer komserwatiewe fase in. Wel ten minste in die westerse wêreld.

Chris ·

Leopold, skrik wakker. Sean Spicer doen elke dag die White House Media Briefing. Trump kommunikeer dus nie per Twitter nie. Dis ook onsin dat Trump teen DIE media oorlog maak; wel net teen die eensydige liberales wat n propaganda-oorlog teen als wat Westers en nasionalisties is, voer. En oppas tog maar: jyself suig al so lank aan die liberale spene, dat jy lankal nie meer daarvan bewus is dat jy in in jou geslote liberale kokon opgesluit is nie.

Chris ·

Leopold, skrik wakker. Dis ook bog dat Trump se verkiesingsbeloftes vergete is. Inteendeel, kommentators op Wolf Blitser se program op CNN (nie pro-Trump nie) is eens dat hy juis konsekwent sy beloftes gestand doen: Presidensiële dekrete oor immigrante, oliepypleiding. Meksiko-muur….. Hoe mis jy dan al die goed Leopold?

Louis ·

Mnr Lugenpold het ook gese President Trump gaan groot verloor, hier is ‘n onlangse RT(enigste internasionale nuus agentskap wat waarheid praat) artikel oor Amerika se toekomstige handels vennoot: http://www.rt.com/business/375130-brexit-trump-uk-malloch

Uittreksel: “Malloch added that Washington and London could clinch a free trade deal within 90 days of the UK triggering Ariticle 50 to leave the EU”

Uittreksel: “Once the UK is out of the single market, it could bypass the bureaucrats in Brussels and sign a free trade treaty with the US, Malloch said.”

Ek dink jou idees rondom globalisering is oud modies en miskien moet jy jou oe oopmaak vir iets beter en groter as die liberale kokon waarin jy en jou globale maatjies in leef. Die nuwe orde of jy nou wil weet of nie gaan gebeur en gaan oor etnieseteit, kultuur en volknasionalisme. Hier is raad vir jou en jou globale maatjies, “Wake up and smell the coffee”, soos die Engelse so se.

Leopold Scholtz ·

Beste Louis, ek gaan nie antwoord op jou belediging nie; dit wys eenvoudig dat jy nie maniere geleer het nie. Wat RT se betroubaarheid betref, hy is volledig onder die Russiese regering se beheer. Hy is net so betroubaar soos die SAUK. Lekker dag verder.

Leopold Scholtz ·

Louis, het nog iets vergeet. Help my gou: Waar en wanneer het ek geskryf Trump gaan “groot verloor”? Gee sommer die datum en verwysing sodat ons almal kan gaan kyk wat ek presies geskryf het en of jou weergawe korrek is. Dankie vir die moeite.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.